Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SWEEF SOOS ‘n AREND

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 14 Junie 2016 Aantal woorde: 1329 1071 Kere gelees 5

Suster en swarrie kom kuier hier in die Kaap. Hulle is avontuurlustig en natuur bewonderaars. My ystervrou dogter en haar man wil ook saam kuier. Hulle is ook avontuurlustig. Ek is alleen hier want Bokka is terug na die bos van Afrika, om ons brood te verdien. Ek is in die minderheid en het geen ander keuse as om ook avontuurlustig te raak nie.

Waar gaan ons heen? Ons gaan Elgin toe. Hoog op in die Hottentots-Holland Berge. Ons gaan Zip-Line ry. Om myself te troos vergelyk ek dit met ’n foefieslaaid, wat ons as kinders baie gery én oorleef het. Ek meen, hoe erg kan dit nou wees? Hoe het pa dan altoos gesê: ‘dooier as dood en doller as kop-af, kan dit nie.’ ’n Senuagtige opgewondenheid neem sy intrek in my binneste.

Agtuur die oggend val ons in die pad. Niemand is vanoggend laat nie. Adrenalien sorg daarvoor. Dis ’n wonderskone, glashelder herfsoggend. Die Kaap is pragtig. Ons spring op die N2, rigting Grabouw. Oorkant die Peregrine padstal draai ons af. Aan weerskante ontvou appel- en peerboorde. ’n Paar kilometer vêrder draai ons op die R321, rigting Villiersdorp/Franschhoek. Kort voor lank hou ons stil in die parkeerterrein van Cape Canopy Tours in die Elgin vallei, waar ons vriendelik welkom geheet word.

Ek slaak ’n sug van verligting toe ek twee mollige gryskop tantes gewaar, wat ook daar is vir die avontuur. ‘As hulle kan, kan ek. En gelukkig is ek nie die oudste deelnemer nie,’ dink ek. Na almal ’n draai in die lewwie gemaak het en ’n stomende koppie koffie afgesluk het, word ons aangetree om die inligtingsessie aan te hoor.

Sowaar as vet, die gryskoppe is toe nie in ons groep ingedeel nie. Dis ons vyf en drie jongmense uit Namibië. Ek is veertien jaar ouer as die tweede oudste in ons groep. Vandag sal ek moet uithaal en wys om by te bly. Voorwaar. ’n Benoudheid klou aan my keel.

Ek gee my volle aandag, want so by my kool, ek het nodig om te weet hoe om my spoed te beheer! Gelukkig beduie die twee gidse vir ons in detail hoe dinge gedoen word en wat ons te wagte kan wees. Ons word gewaarsku om die gids wat vooruit sal gaan by elke platform, fyn dop te hou. Hy sal met handseine beduie as ons moet briek met die leer handskoen op die staalkabel, anders loop ons gevaar om ’n Boesmantekening teen ’n rots te word. Onthou tog net om die duim in ’n ryloop posisie te hou.

Daar is dertien verhewe platforms en elf kabels, die kortste is negentig meter en die langste DRIEHONDERD en NOG TWINTIG meter! My agterent knibbel aan die houtstoel waarop ek sit. Glo is daar nog by die eerste en die tweede platform geleentheid om bangbroek te draai en terug te stap. Ek hoor van die negentigjarige dame wat onlangs die uitstappie voltooi het. Ek moét net.

Buite op die stoep word ieder in ’n harnas geprop, ’n haarnetjie vir higiëne en ’n mosdoppie-helm vir beskerming, op die kop. Aan my sy, word ’n kabel en katrol gehaak, waaraan ek sal hang. Darem nie om die nek nie en hopelik ook nie tot die dood nie. Die gidse ondersoek elke gespe aan elke harnas. Beveilig en gepantser word ons teen ’n houtleertjie op, tot bo-op die 4×4 wa gehelp. Nou moet ons diep die berg in en op, vanwaar die pret (of kastyding) sal afskop.

Die hoogtes van die skurwe berg uit, skud en pluk ons deur ’n fynbos tapisserie en protea skouspel. Ek sit teen die kant en my gehelmde kop kap aanhoudend teen die dakpaaltjies. Sowat van skommel en rammel het ek laas in die bos van Afrika beleef.

En toe is ons daar en my binneste bewe. Soos soldate marsjeer ons in ’n enkelry agter die gids aan met nog een wat die agterhoede dek. Seker vir ingeval ek ’n omkeer uitvoer en weghol. Toe ek weer kyk sien ek die eerste hout platformpie en ’n oneindige afgrond waaroor die staalkabel konkaaf hang. Die eerste gids gly geruisloos oor om elkeen wat lewend anderkant arriveer, af te haak.

Die laaste gids, Oscar, kyk my in die oë toe hy vra: ‘wie gaan eerste?’ ‘Beslis nie ek nie, maar ek wíl tweede gaan,’ onderhandel ek. Swarrie sê hy sal eerste gaan en dit pas my, want hopelik is hy bietjie swaarder as ek en as die kabel nou breek….wel dit sal jammer wees Swarrie. Gelukkig sal ek die versekering hê. Of so dink ek.

Swarrie trek daar weg met ’n roggel-gil diep uit sy binneste wat heen-en-weer- tussen die kranse en rotse eggo en weergalm. Voor hy anderkant land word ek nader gekrap en aangehaak. As ek ’n katoliek was, sou dit die oomblik wees wat ek die kruis moet nateken.

Oscar sê as ek reg is, kan ek laat waai. Ek vra hy moet net seker maak my hande is reg, al weet ek dit is. Ek knyp my oë toe, trap weg en daar sweef ek in duiselingwekkende, tintelende plesier oor eteriese skoonheid van klowe, valleie en watervalle. Bergpoele gevul met oker gekleurde water en seepgladde spoelklippe en boomvarings verdwerg vêr, baie vêr, onder my. So vêr dat my skaduwee verdwyn het.

Helemaal te vinnig sien ek die eerste landing en die gids wat aandui dat ek effe moet briek. Die volgende oom tref ek iets met ’n harde klapgeluid en my bloed stol en my hart versteen. Ek verwag die ergste. Alles in een splitsekonde en toe kry ek vastrapplek op die platform. Uitasem, oorstelp, verskrik en jubelend. ‘Dêmmit man,’ hyg ek, ‘julle kon my darem gewaarsku het oor daai klapgeluid. Hoe sal jy voel as ’n lyk hier land, hê?’

Vandaar is dit letterlik en figuurlik ‘plain sailing’. Ek stuur een na die ander selfoonfoto vir Bokka. ‘Nee, julle is nie een baie lekker nie,’ is die terugvoer wat ek kry.

By die derde platform skarrel ’n bloukopkoggelmander oor ’n klip en beloer ons nuuskierig vanuit die veiligheid daaragter. Mens kan net wonder wat dink hy van hierdie spulletjie. Hoog bo die kranse, amper teen die son, sweef twee Rooborsjakkalsvalke in weie draaie, met gespreide vlerke wat herinner aan die hooftooisels van die rooi Indiane wat die cowboys toeka moes afweer. In my siel is daar uitbundige vreugde in die wete dat ek vandag ook weet hoe dit voel om te sweef soos ’n arend.

Net toe ek dink daar is niks wat ek ooit weer sal vrees nie, moet ons oor ’n baie smal, baie bewerige, baie lendelam en baie hoog-bo-die-aarde hangbrug stap. Die klomp jonges om my is skoon laf en wikkel die brug heen-en-weer. Hoe banger iemand lyk hoe meer skud hulle. Ek kalkoentjies-trap-al-so met geknakte knieë so vinnig my bene my wil dra, tot anderkant. Vandag is my dag van oorwinnings.

Met die twee kilometer staalkabels oor Moeder natuur se heel beste om te wys, agter die rug, lê die een kilometer berg-op voor ons. Ons het mos nou af, af en af gegly en moet weer klim en klouter tot bo. Net as dit lyk of die ou dame, dis nou ekke, gaan beswyk aan suurstoftekort, dan stop die gidse ewe diplomaties om vir ons die een en ander van die plantegroei te vertel. Vroeër al het hulle my harnas uitgetrek en dra dit vir my.

Met verkwikte siel en blye gemoed pak ons die terugrit aan na waar daar ’n middagete van Springbokpastei, slaai en ystee wag. Salig en tevrede sit ons in die koelte van yslike bloekombome, om die honger te stil en dors te les. Almal babbel gelyk om te vertel hoe hulle hierdie jeuglike dag en aktiwiteite beleef het. Vier ure van uitspattige, oortollige genot en belewenis in die wonderskoon van die Here se handewerk.

‘Dankie Here,’ eggo in my gedagtes. In my ore hoor ek: ‘I believe I can fly!’




TEMAS
5 Kommentaar
  1. Viooltjie

    14 Junie 2016

    Kiekies, dit klink eintlik wonderlik. Dit is iets wat ek ook al wou doen, maar ek sukkel nog om die res van die gesin te oortuig 🙂 Dankie vir die lekker vertelling . . .

  2. neels

    14 Junie 2016

    Was dit nou nie weer lekker om n slag saam met Lynette te kuier nie. Jou vertellings is altyd so realisties

  3. Arnold

    15 Junie 2016

    Ons as plaasskool kinders het elke agtermiddag hierdie glydraad met ‘n pyp om getrotseer. Hierdie nuwe Zip-line ding vertrou ek nie so lekker nie. Ek sal liewers lees hoe braaf jy was. Ek kon dit in my verbeelding meelewe.

  4. Evelyn van der Merwe

    15 Junie 2016

    Ai Kiekies hoe lekker moet dit wees om nog al hierdie avonture te kan deel. Lekker gegiggel.

  5. Ronel Janse van Vuuren

    20 Junie 2016

    Wat ‘n belewenis! Ek’s so bly jy deel jou avonture op so ‘n manier dat dit voel asof ons ook daar was 😉 Baie goed geskryf.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 49
Kommentaar telling: 568

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 115 gaste aanlyn

Bydrae Totale