Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Stormnimfe en Meerminne

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 24 Oktober 2016 Aantal woorde: 1328 1118 Kere gelees 9

Madelein kners op haar tande. Dis al hoe sy haar gevoelens kan inhou. Barry is so opgewonde soos ‘n kind om op die boot te klim. Sy, daarenteen, is al moeg vir die hele toer deur die Kaap. Dalk as hulle dit in kleiner sarsies aangepak het…

Sy kyk op na die lug. Die wolke is so donker soos haar gemoed. Dit, saam met die manier wat die water teen die boot klots, laat haar al minder lus voel om op die boot te klim. Hoekom kan hulle nie maar op land middagete nuttig nie?

Sy verbeel haar sy hoor ‘n Knysna loerie roep, maar besluit dat sy verkeerd moet wees. Wat sal ‘n loerie in elk geval in die besige hawe maak?

Sy volg Barry en die ander passasiers die boot binne.

 

‘So, wat dink jy? Moet ons die klein eiland besoek wanneer die boot daar anker, of moet ons sommer net aan boord bly en solank ons kos bestel?’ vra haar verloofde opgewonde toe hulle hul sitplekke inneem.

Madelein voel ingehok in die donkerhout dinee kajuit wat meeste van die boot op maak. Met al die tafeltjies so naby aan mekaar en met so baie mense, voel dit asof sy nie kan asemhaal nie.

‘Wat van ons gaan staan op die agterste dek? Dan voel dit asof ons regtig op ‘n boot is,’ sê sy met ‘n glimlag wat haar ongemak versteek.

Barry lyk heel gelukkig met haar voorstel en volg haar uit.

Buite is dit koel, amper koud. Maar die souterige bries is verfrissend. Sy sien dat hulle al ‘n hele ent van die land af is. Dit het nie naastenby gevoel asof die boot beweeg terwyl hulle in die kajuit was nie.

Barry oe en a heel opgewonde oor alles wat hy kan sien en afneem. Madelein glimlag en knik asof sy dit ook geniet.

Die waarheid is, sy sou as sy nie so bekommerd oor haar werk was nie. Sy mik vir ‘n bevordering, maar niemand wat wekelange vakansies vat gaan ooit meer as ‘n gewone joernalis by een van die top vrouetydskrifte in die land wees nie. ‘n Hoër pos beteken meer verantwoordelikheid. En meer vryheid om te skryf waaroor sy wil.

‘n Skielike klapgeluid en die enjins wat stil word laat haar op kyk.

‘Dit het seker gestol,’ sê Barry op sy lighartige manier.

Sy dink nie sy het hom al ooit in ‘n donkerbui of selfs bekommerd oor iets gesien nie. Hy’s altyd so vrolik. Partykeer wonder sy of daar iets fout met hom is: hy’s soos ‘n Disney prins. Hy lyk ook soos een.

Madelein sug. Dalk is sy ‘n bietjie fel omdat sy weer die draak ry. Wat beteken dat sy huilerig ook gaan wees. Sy laat sak haar kop in haar hande. Net wat sy nodig het.

‘Hey, dit gaan okay wees. Die ergste wat kan gebeur is dat ‘n ander boot ons terug moet sleep hawe toe.’

Weerlig slaan asof dit met sy woorde wil spot.

Hulle kyk op na die lug. Die grys wolke van vroeër het plek gemaak vir pers-swart wolke wat kolk en maal terwyl pers-silwer weerlig dit probeer skei.

‘Ons moet in gaan,’ sê Barry.

Maar Madelein bly gevries staan. Sy’s seker sy kan vrouens sien in die wolke wat die storm erger maak.

Die wind en die lagune stoot die boot al hoe nader aan die see. Drie groot rotse skei die see en baai. ‘n Verkeerde mik kan ‘n boot laat sink.

Madelein kyk verskrik na Barry. Hy swets toe hy die probleem gewaar.

‘Ek gaan kyk of ek kan help met die enjin. Gaan in die kajuit in,’ sê hy voordat hy haar op die voorkop soen en by die trappies af verdwyn in die boot se maag in.

Maar steeds kan sy nie beweeg nie. Hierdie keer omdat meerminne met reënboë in hul hare die boot probeer terug druk na die middel van die baai.

‘n Gekêkkel op die wind laat haar op kyk. Stormnimfe wat meer wolk as vrou is, vlieg rond en maak die storm nog erger.

Die twee groepe Feë wat so teen mekaar stry, laat Madelein aan haarself dink. Daar’s twee kante aan haar; twee onversoenbare dele wat permanent met mekaar kompeteer. Is sy ‘n beroepsvrou – waar haar werk altyd eerste sal kom? Of gaan sy op die ingewing van die oomblik rondreis saam met Barry en sy kamera en dalk nog in ‘n wit rok na hom toe loop?

Want nes met die stormnimfe en meerminne kan net een wen.

Die boot ruk vreeslik met die wind en die meerminne wat sy koers probeer bestem. Die weerlig klap sommer die water en sy wonder of dit die meerminne gaan skok.

Madelein kyk na die pers-swart stormwolke en dan na die rotse waarop die stormnimfe hulle wil verongeluk. Dit laat haar besef dat sy moet kies watter lewe sy wil lei voordat sy ook op die rotse beland.

Wit en groen laat haar op kyk. ‘n Witbors kraai en ‘n Knysna loerie vlieg bo hulle verby. Die storm hou sumier op. Die stormnimfe verdwyn in die wolke in en die meerminne sak dieper in die water af totdat Madelein hulle nie meer kan sien nie.

Verbaas kyk sy hoe die wolke uitdun en ligter word totdat hulle skadelose wit wolkies is wat oor die helder blou lug sweef.

 

Van die ander passasiers het uitgekom op die dek. Niemand stel meer belang in die uitstappie nie. Dis asof die enjins wat nie meer werk nie hulle herinner dat hulle eintlik nie goeie swemmers is nie.

Madelein wil lag. Nie een van hulle het die storm soos sy bleef nie; nie een van hulle het die Feë gesien nie. Sy wonder wat hulle sou gesê het as hulle die waarheid geweet het.

Barry kom staan agter haar en hou haar vas terwyl hulle oor die water kyk hawe se kant toe. Onwillekeurig word haar liggaam styf van spanning. Sy weet nie wat sy gaan kies nie: Barry of haar werk?

Almal wag vir ‘n ander boot om hulle hawe toe te sleep. Madelein kan nog nie beweging by die ander bote sien nie. Sy’t ook nie ‘n idee wat om oor te praat nie. Sy weet Barry het ook die storm gesien vir wat dit was, maar sy wil nie hê die ander passasiers moet dink hulle praat onsin nie. Buitendien, dis nogal lekker as skrywer om na ander te luister.

Die paartjie langs hulle praat oor hoe hulle hul vakansie planne ‘n bietjie gaan verander sodat hulle nie weer op water gestrand is nie. ‘n Mens sou sweer hulle kan nie swem nie of dat die klein bootjie die Titanic is soos hulle aangaan.

Die ander passasiers op die dek praat oor blogs. Madelein volg nie heeltemal die gesprek nie; na alles is blogs net dagboeke vol persoonlike klaery en dalk resepte wat elke Jan Rap en sy maat met ‘n rekenaar en internet toegang kan gebruik.

‘Ek het gelees dat hiedie blog skrywer goeie geld maak,’ sê ‘n vrou.

‘Jy’s nie alleen nie. Sy blog word meer gelees as die gemiddelde tydskrif. Ek dink dit het iets daarmee te doen dat jy in die soekblokkie net jou belangstelling intik en dan kan jy lees waarvan jy hou,’ sê ‘n ander.

‘Waaroor skryf hy?’ vra een van die mans.

‘Ag, sommer oor alles. Dis soos die Oprah magazine.’

Almal lag.

Madelein word stil. Hierdie blog skrywer – as sy blog regtig soos die genoemde tydskrif is – skryf oor alles wat hom interesseer. Dit laat haar dink: eie temas, eie tyd, eie baas en dit word boonop meer gelees as tydskrife…

Dit voel asof ‘n swaar wolk wat nog die hele tyd oor haar hang weg vliet saam met die stormwolke van vroeër. Sy ontspan.

Sy kyk terug oor haar skouer na Barry wat haar steeds vashou. Net miskien kan sy alles hê…

 




TEMAS
4 Kommentaar
  1. neels

    24 Oktober 2016

    Soos altyd het ek jou storie baie geniet Ronel

  2. Anze

    27 Oktober 2016

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 100
Kommentaar telling: 265

Bekroonde Donker Fantasie skrywer Ronel Janse van Vuuren skryf oor gatskop heldinne, die dualiteit van menswees en is mal daaroor om volkskunde te gebruik om haar punt oor te dra. Sy is ‘n Rottweiler tropleier, hoender wrangler en perdekneg. Al haar boeke is te koop van meeste aanlyn winkels. In 2016 EN 2018 was sy Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Sy kan gevolg word op Twitter @miladyronel en op haar webtuiste https://www.ronelthemythmaker.com.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 102 gaste aanlyn

Bydraes – Argief