Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Storietyd.

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 17 Julie 2019 Aantal woorde: 1886 389 Kere gelees Hou van

Soos elke ander Donderdag die afgelope agtien maande, hou ek stil voor die ouetehuis se hoofingang. Barbara sit op die smal rooi geverfde stoepie in die sonnetjie en rook. Sy waai vriendelik vir my. Sy wag vir my, want ek kom stories voorlees.

Tannie Nellie vertel op ’n dag, toe sy saam met my ry, dat die mense by die tehuis so verveeld is en lusteloos rondsit. Van etenstyd tot etenstyd tot slaaptyd. En elke dag presies weer so. Dis toe dat dié blink plan my beetpak. Ek soek hoeka ’n manier om iets vir iemand te beteken, om ’n verskil in iemand se lewe te maak. Sommer uit dankbaarheid vir die Here se genade en seën in my lewe.

Die volgende week, na ek by matrone Charmaine toestemming gekry het, begin ek vir hulle kort stories voorlees. Eers uit my eie boek. Toe uit Annalie Botes se kort stories en nou al sommer rubrieke wat ek uit ’n stapel ou Sarie tydskrifte geskeur het. Solank die storielyn nie te ingewikkeld is nie. Deesdae kuier en gesels ons land-en-sand oor watookal die onderwerp in die voorlesing was.

Aan die begin is mens mos maar vreemd vir mekaar, maar sommer gou leer ek my customers ken. Min of meer dieselfde ses tot tien Afrikaanse manne en vroue wat elke week aantree vir storietyd. ’n Uur waarin almal vergeet wie en waar hulle is. Almal, ek ingesluit, ontsnap van die werklikheid vir ’n uur. Of totdat die hand-klok in al die gange gelui word om aandete aan te kondig. Al is dit maar net vieruur.

Mettertyd raak ek gemaklik om te sê en te vra. ‘Hoekom eet julle vieruur smiddags al aandete?’ vra ek toe die klok weer lui. ‘Want die dagpersoneel wil tjaila. Nou moet jy weet, ons eet eers weer môreoggend agtuur. Teen daai tyd vrek ons amper van die honger en is die diabete so te sê in ’n koma van lae bloedsuiker,’ antwoord ’n vies Johan. Ai mens, daai is mos marteling!

Johan het elke middag as gevolg van iets wat ek gelees het, ’n grap of drie te vertel het. Sommige effe onder die belt, maar gelukkig vang almal nie altyd ’n grap nie. Johan het ’n jaar gelede sy seun verloor. Hy raak ontsettend hartseer as hy van hom praat. G’n ouer is geprogrammeer om langs die graf van sy kind te staan nie. Erger hartseer bestaan nie.

Johan self het diabetes, is byna blind en het beide sy bene verloor. Een, bokant die knie en die ander, in die middel van die kuit. Soms sit ons buite, as dit nie te warm, te koud en of te winderig is nie. Ek moet hom uitstoot oor ’n glasdeur se raam en hy sê elke keer: ‘stadig net. Jy moet weet ek het nie voete om uit te steek as ek vooroor val nie. Ek sal my hele bo-bek wegval.’ Intussen het ek Johan se begrafnis bygewoon.

Clint is ’n bruin man wat na ’n beroerte, in ’n rystoel leef. Gewoonlik kom haal ’n verpleegster hom kort voor aandete. Ek vra, vir niemand in besonder nie, hoekom hulle hom dan kom wegvat voor hy die storie klaar geluister het. Antwoord Mary: ‘vir sy nêppie change.’ Ek besef dat almal wat in rolstoele is of nie vinnig genoeg by die lewwie kan kom nie of inkontinent is, moet doek dra. Lewwie toe gaan – iets wat ek as vanselfsprekend aanvaar het, is deesdae ’n voorreg vir my.

Barbara is die gereeldste aanhanger van storietyd. Sy loop met haar viertrek (’n loopraam) teen die spoed van tien meter per minuut. As sy haastig is, dalk elf. Skuifel-skuifel. Ek reken as sy by die lewwie verbystap gaan sy in elk geval in, want wag tot op die nippertjie sal nie deug nie. Sy kry gereeld uitasem hoesbuie. Dan sê ek outomaties: ‘hande in die lug’, maar ai toggie. Daai boereraat werk nie vir ’n emfiseem bors nie. ’n Slukkie water help darem altoos ’n bietjie.

Dis sy wat altoos op die stoep lustig aan haar siegrêtjie suig. Sal mos ôk niks help om nou op te hou rook nie. Nou het sy darem nog dié plesiertjie. Ek verstaan dit, want dit was ook eens my plesiertjie en dit sal ’n groot lieg wees as ek sê ek kry nooit meer lus nie.

Ek maak gewoonlik ’n draai deur die eetsaal om storietyd aan te kondig. Dis daar waar die mense so lusteloos sit en staar na ’n TV wat te sag speel. Eleanor sit maar altyd langs die tafel. Daar kry ek haar met die onsekerheid in haar grys blou oë en sliertjies hare. Elke keer moet ek van vooraf verduidelik wat ek daar doen. Sy onthou eenvoudig nie van week tot week nie. Die groot vergeet-siekte.

Somtyds is sy verward en benoud, diep frons op haar voorkop. Op sulke dae ken sy niemand nie, sy weet nie waar sy is of wat sy daar doen nie. Baie maal vra sy: ‘Waar sal ek slaap vanaand?’ Stel jou voor die onsekerheid. My hart kramp sommer. Ek vat haar saggies aan die arm en belowe: ‘Ek sal hulle vra dat jy vanaand hier mag slaap,’ en sy sê: ‘ek weet nie of ek mag nie.’ Ek verseker haar weer: ‘ek sal seker maak, moenie bekommer nie.’ Ek lei haar saam saal toe om ook te mag ontsnap.

Sarah is Eleanor se beste vriendin en genoot van die vergeet-siekte. Vriendinne, ás hulle die dag onthou wie hulle is. Anders sit die twee soos twee vreemdelinge in ’n dokter se wagkamer. Sarah is ’n baie klein vroutjie en was op haar dag ’n onderwyseres. Iewers in die Swartland. Haar grys krulhaartjies staan maar soos dit staan. In baie rigtings.

Baie keer as ek haar vra hoe dit gaan is haar antwoord net: ‘sleg’ en as ek vra hoekom, sê sy sy’t vergeet. Sy het Maandag verjaar, maar toe Donderdag daar kom, onthou sy nie hoe oud sy is nie en ook nie wanneer sy gebore is nie. Ek vra maar altyd uit, want baie keer onthou hulle van lank terug, maar nie van gister nie.

As ek ’n gunsteling mag hê, sal dit Mary wees. Ek het hierdie vroutjie nog nooit ongelukkig gesien nie en dit gaan altoos ‘baie goed, baie dankie’ met haar. Oral waar sy stap neurie sy ’n kerk-liedjie. Haar gesig en glimlag spreek van algehele salige vrede. Ten spyte van die feit dat haar een oog wit-wasig is van blindheid en haar een oor horende doof is.

Sy moet aan my linkerkant sit, want die regteroor het darem ’n gehoorstuk in. ’n Tyd terug het sy dit laat val en kon nie sien waar nie. Toe trap sy dit per ongeluk flenters. Sy moes maar gedwee wag tot die staat dit vervang en kon nie eers storietyd bywoon nie. Nog het sy nie gekla nie en nog het sy voort geglimlag en gesing. Ek het haar een dag gevra hoe dit is dat sy nooit kla nie. Haar antwoord: ‘ek hét niks om oor te kla nie.’ Die naaste aan kla is ‘agge nee, is storietyd verby?’

Dan is daar Braam. Ook beroerte gehad en een been verloor as gevolg van diabetes. Ook in ’n rystoel en dra ook doek. Die beroerte het sy spraak erg affekteer, maar nie sy giggellag nie. Aan die begin was ek onseker of hy alles verstaan wat ek lees, maar op ’n dag lees ek een van my meer filosofiese rubrieke.

Aan die einde vra ek om verskoning dat dit ’n swaar stuk was en hy merk verbasend duidelik op: ‘baie mooi.’ Ek het so yslike knop in my keel gekry, dat ek eers ’n rukkie moes asemhaal, voor ek kon voortgaan. Hoe durf ek dink, omdat hy nie duidelik praat nie, hy is noodwendig intellektueel gestrem? Daarna vra ek gereeld vir hom ’n vraag en soms moet hy die antwoord drie maal herhaal, voor enige iemand dit uitmaak.

Op ’n dag hoor ek hoe Barbara sy naam deur haar tande sis. Drie maal. Ek kyk vir Braam om te bepaal of hy haar hoor en sien ek hoekom sy hom roep. Sy neus loop in ’n lang silwer straal en drup op sy skoot, maar hy weet van niks. Ek dink hy het dalk ingesluimer, maar uiteindelik hoor hy haar. Toe hy opkyk sê sy kortaf: ‘vee af jou neus man.’ Dit doen hy toe. Aan die mou van sy borriegeel kabel trui.

Donny is ook ’n bruin man. Hy is heelwat jonger as die ander mense. Sy bene is erg gebreklik en hy loop bitter swaar. Hy kom luister nie elke dag nie, want soms werk hy in iemand se tuin vir ’n ekstra geldjie. Met daai skewe beentjies en al, ry hy tog fiets. Sy eie helder bloue. Kort-kort word hy kafee toe gestuur. Gewoonlik vir sigarette. Al is hulle afhanklik van ’n karige staats-pensioentjie, waarvan die tehuis byna alles vir losies neem, rook baie steeds. Ek neem aan ou Donny kry darem ’n paar sente vir sy moeite.

Nog iemand wat baie jonger is as die res, is Shirley. Net vyftig. Sy ly aan epilepsie en kom bedags, maar saans en naweke woon sy by haar sussie. Sy het nie ’n kamer nie en lê sommer op een van die mankoliekige banke in die saal-kom-sitkamer, wanneer sy bietjie moeg raak.

Shirley is elke week besig met nog ’n nuwe brei of hekel projek. Elke week met ander wol. Vra ek oor die vorige een, antwoord sy net: ‘nee daai patroon het nie uitgewerk nie.’ Iets wat ek lees laat haar altoos aan liedjie dink. Deesdae sing ons sommer ook in storietyd. Ek het agtergekom die ander geniet die singery en sing nou saam.

Fransie is ’n klein mannetjie. Herinner my aan ’n nagapie. Elke keer as ek vra hoe dit dan gaan sê hy nes Sarah: ‘sleg’. Dan vertel hy my dat hy by Jimmy’s Trailer Hire werk en sy baas moes hom kom haal het vir werk, maar hy kom nie uit nie. Elke keer belowe ek dat ek die baas sal bel en hy ontspan. Mensig tog, om darem so benoud te lewe!

Sita is ook nog jonk. Beroerte het haar ouetehuis toe gestuur, waar sy in haar rystoel leef. Haar hande is spasties en dit neem intense konsentrasie om haar vingers om ’n artikel te vou. Ek maak biter min uit van haar woorde, maar haar oë en glimlag doen al die praatwerk.

Tannie Cathy, nog ’n rystoel-drywer, sukkel met stilsit. Haar verstand makeer niks. Toe sy op ’n dag vroetel en rondskuif, vra ek haar wat fout is. Sy antwoord: ‘ek sit van die môre tot die aand in hierdie stoel. Sien jy hoe maer is ek? Ek sit op vel en been, man!’ En sy is nie in staat om op te staan en bietjie rond te stap nie, haar bene is eenvoudig te swak. Op ’n dag is ouderdom die besprekingspunt. Sy verklaar hard en duidelik dat sy nie wil oud word nie. Verbaas wil ek weet: ‘hoe oud is jy nou?’ ‘Nege en tagtig.’ En sy wil nie oud word nie.

Kyk ek so na hierdie mense, dink ek ook: ‘ek wil nie oud word nie, asseblief tog Here.’




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    17 Julie 2019

    Kosbaar!!!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 49
Kommentaar telling: 568

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 79 gaste aanlyn

Bydrae Totale