Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Storietyd: Die parkbankie

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2020 Aantal woorde: 2476 53 Kere gelees 1

Hersiende storie

Nie alles in die lewe het ‘n storie nie. Nie die teesakkie wat jy uitvis uit ‘n skoenboks of die vergete, duidelik gebruikte sleutel nie. Haarknippe, sommige gevlek deur tyd, ou armbande: nou verrek en oudmodies. Lappies wat duidelik al lankal in die snippermandjie moes afgetree het, verskuil tussen ou handdoeke. Alles vind ‘n plek, sommige kan jy wel gebruik, of word oplaas weggegooi en ander word weer in ‘n laai gegooi om vergeet te word. Tot ‘n volgende keer.

Maar ‘n vergeelde foto gaan haal herinneringe vêr uit. Daar waar dit dalk beter was om in vergetelheid te bly. Soos die parkbankie foto. Agterop, in verbleikte bloupen, ‘n inskripsie wat jou koud laat. Tot op die been koud.

“Onthou hierdie dag, jy sal nog berou hê.”

“Wat maak ma?” Die diep stem van Jaco kom vanuit baie gisters aangesweef en voor my staan ‘n glimlaggende ses en twintig jarige man met swart hare, en lenige lyf. Sy groot hande en voete altyd opvallend wanneer hy ‘n vertrek binne kom. Maar die halfmaanvlek op die wang is altyd die begin van menigte gesprekke. Dit begin net onder die haarlyn bo die oor, om dan met ‘n mooi boog onder die oor in die nekhare te verdwyn. Dit is gesprekke wat sy liefs vermy. Die antwoorde onmoontlik om te verwoord.

Vinnig druk Riana die foto in die boks terug en kam met bewende vingers deur haar, nou grys hare. Op die dag van die foto was haar hare raafswart, golwend tot by haar heupe. Ouderdom nog net ‘n vae begrip waar oumense, afgeleef en oor die muur net vae begrippe is. Hoekom vandag, van alle dae, wonder sy?

Jaco draai weer sy gesig, net effens maar sy sien die halfmaan vingerwysend na haar staar. 26 jaar en 8 maande gelede is daardie verpeste foto geneem.

Toe het sy ‘n passie vir fotografie gehad. Maar daardie snedige aanmerking het haar gestop. Dit was haar laaste foto wat sy ooit geneem het. Nooit weer nie, het sy gesweer, toe sy die foto by die apteker gaan kry het. Die inskripsie ingeëts op die agterkant. Smalend het Pottie na haar gekyk, met duidelike haat op sy gesig.

Gewapen met die boks kameratjie het sy die dag tegemoet gegaan met ‘n beklemming in haar hart. Daardie beklemming sou altyd by haar bly. Selfs lank nadat Pottie begrawe is. Sy woorde altyd in haar agterkop wat haar sou jaag, elke dag van haar lewe. Nege duisend vierhonderd en negentig dae om presies te wees.

Dit is asof Pottie weer voor haar staan soos daardie dag toe sy moes opkyk na hom en sy huweliksaansoek van die hand wys. Pottie met die halfmaan op sy wang, identies aan die van sy seun. Pottie wat haar nooit sou vergewe vir die onreg wat sy aan hom gedoen het nie.

Hy wou nie rede verstaan nie. Wou niks hoor dat haar pa haar dwing om met Naas Fourie te trou nie. Naas, wat toe alreeds vyftien jaar haar senior was. Sy plaas en verbintenis sou deure kon oop maak vir Pa Serfaas Terblanche, so het hy geglo. Serfaas se planne het nie gerealiseer soos hy beplan het nie, daarvoor het die inbreker gesorg, drie jaar na haar troue met Naas.

Vasgevang tussen haar formidabele pa, Pottie se verwytende woorde en oë, en Naas se haatdraende kyk het die vrou wat die foto geneem het van die parkbankie verdwyn tot ‘n stilswyende vrou wat nie twee woorde kon praat sonder om te stotter nie. Haar negentienjarige brein vasgehaak in daardie tydvak van verlorenheid en geheime.

Die dag met die lees van Pottie se testament kon niemand verstaan hoekom haar Jaco, vernoem na Naas se pa, die apteek geërf het nie. Jaco was verstom maar ook baie bly. Die geleenthede het vir hom gewink. Hy was alreeds besig om as besigheidsman op te staan, en raadslid met ‘n kop wat politiek se kant toe staan. Die apteek en geldelike erfporsie het hom op die pad van sukses geplaas. Dit het deure oopgemaak vir hom, en nou vier jaar later is sy pad oop.

Naas, of te wel Paps se plaas is oorhandig aan ‘n bestuurder, hy kom selde daar. Die plaaslewe het hom nog nooit aangestaan nie.

“Pak laaie reg,” antwoord sy ongeërg.

“Kom sit buite, dit is ‘n heerlike aand. Ek gaan nou die vuur aansteek,” dring hy aan.

“Laat ek net klaar regpak dan kom ek.”

“Moenie te lank draai nie, Elsa kom ook oor.” Jaco stap by die deur uit, fors en sterk, sy lewe in perfekte harmonie. Hy is onbewus van Riana se emosies; ‘n draaikolk wat dreig om haar af te trek. Hoe gaan sy hom vertel?

Elsa is haar aanstaande skoondogter. Hulle troudatum is volgende Saterdag. Haar pa, Fanus Ferreria van die landgoed Sonneblomoord, ‘n vername man wat die kontrei in die holte van die hand het. Haar pa se drome nou vergestalt in haar seun se lewe. Met die regte kontakte kan hy bo uitkom. Elke stap goed beplan om sy toekoms te verstewig.

Pottie se dood het als verander. Onbewustelik aan haar seun, sou sy bepalings ‘n stop sit aan Jaco se toekoms. Want Pottie en Fanus het ‘n lelike geskiedenis gedeel, gevul met baie venyn en haat. Elsa sal hom los soos ‘n warm patat. Daarvan is sy seker.

Pottie se testament het ‘n brief bevat wat aan haar gerig is. ‘n Brief waarin sy meegedeel is dat sy 26ste verjaarsdag die keerpunt sal wees. Sy moet Jaco vertel wie hy werklik is of hy verloor als. Sy prokureur was aangesê om die apteek te verkoop, een van Jaco se suksesvolste besighede. Die goue kredietkaart met geen limiet sou gekanselleer word en dan is hy op sy eie. Sy lewe sal plotseling verander as sy nie vir hom vertel wie hy is nie. Of sy praat of stilbly sal sy lewe in elk geval verander. Dit is net die graad van verandering wat sal verskil.

“Ek kan nie Pottie, pa dring daarop aan dat ek met Naas trou.” Onthou sy weer daardie woorde daar op die einste parkbankie wat sy afgeneem het net vyf minute voor die gesprek.

Dit was ‘n pragtige middag, gevul met lentegeure. Die park ‘n pragwerk van bloeisels wat die wandellaan skouspelagtig omraam het. Met ‘n beklemde hart moes sy vir Pottie vertel van haar pa se besluit.

Pa het vermoed sy is swanger nadat sy skielik siek geword het. Hy het aangedring sy moet die dokter gaan sien. Sy wou dit nie glo nie maar het nietemin gegaan.

Sy het Pottie gevra om haar by hul gunsteling plek te ontmoet. Daardie oggend het Dokter Viljoen haar meegedeel dat die toetse positief was. Haar pa en ma het verstar daar gesit en staar na die dokter. Haar pa het wasbleek geword. Sy was vier weke swanger met Pottie se kind. Sy was baie lief vir hom, ‘n liefde wat sy moes wegbêre daar waar niemand dit kon sien nie.

Op pad kar toe het haar pa haar vertel dat sy ‘n opperste tert is. Dat sy haarself goedkoop gemaak het. Hy het haar gemaak sweer om vir niemand daarvan te vertel nie. Nie eers vir Pottie nie. In doodse stilte het hulle terug gery. By die huis het hy in sy studeerkamer verdwyn. Vyftien minute later het hy aangekondig dat Naas hom gevra het vir haar hand. Hy het dit baie duidelik gemaak dat sy dit sal aanvaar.

Sy het Pottie als vertel, teen haar pa se bevele. Sy het hom die waarheid geskuld. Hy het kwaad weggestorm van haar af. Dit nadat hy probeer het om haar te oortuig dat als sal uitwerk. Sy moes net in hom glo. Maar sy het nie. Sy het lank alleen daar op die bankie gesit. Gehoop die aarde wil haar insluk sodat sy net kan verdwyn. Teen skemer, toe sy terug is by die huis het Naas se kar alreeds daar gestaan. Met bewende bene het sy ingestap in die voorhuis in en haar toekoms in die gesig gestaar. Naas het haar glimlaggend toegevou terwyl haar ouers toegekyk het. Haar pa se blik gevul met verskuilde veragting.

Die troue was binne ‘n week afgehandel en was sy Mev Fourie. Haar verhouding met haar ouers was nooit weer dieselfde nie; ‘n geforseerde en koue verhouding. Sy sou altyd die klad van ‘n tert dra, ongeag wat sy gedoen het. Die haatgevulde woorde van Pottie het dit onderstreep. ‘n Ego in haar hart toe sy Jaco vasgehou het vir die eerste keer, net na sy geboorte. Sy het al haar liefde op hom uitgestort en sy het hom beskerm teen als wat sleg was.

Selfs teen Naas wat haar nooit vergewe het nie. In die begin het hy geglo dat Jaco sy seun was. Maar eendag het hy in die huis ingestap, voor Jaco gestop en hom aangegluur. Jaco was toe pas ‘n jaar oud. Die geboortevlek duidelik sigbaar. In hul kamer het hy haar gedwing om te beken, wat sy wel gedoen het. Daardie nag het hy sy intrek in die gastekamer geneem, hulle sou nooit weer ‘n kamer deel nie. Maar die skyn was gehou ter wille van hul ouers en Jaco.

Nou het daardie woorde waar geword. Sy het berou. 26 jaar se berou opgehoop in besluiteloosheid, beswaardheid en vernedering. Haar sonde het haar uiteindelik ingehaal. Die skrif aan die muur. Nou sou haar seun ook weet dat sy ‘n goedkoop tert is. Die steek daarvan nogsteeds gevul met gif.

Sleepvoetend sluit sy aan by die groepie mense op die stoep. Die uitgestrekte vlaktes het ‘n weemoedigheid in die swewende grashalms wat haar eie weemoed besing. So asof hulle weet wat sy moet doen.

“Hello Tannie,” kom Elsa haar tegemoet en sy groet beleefd.

“Middag dogter. Jaco kan ons gesels asb.”

“Ek is net gou besig ma. Die vuur sukkel vanmiddag,” sê hy sonder om na haar te kyk en leuen vooroor om verder te blaas aan die flou vuur.

Die ander jongmense groet haar ook, mense wat saam met hom groot geword het. Hoe gaan hulle die nuus hanteer? Wonder sy in die stilligheid. Sy moet met Jaco praat. Die prokureur het klaar gebel. Haar uurglas se laaste sand is in die opening voor hy als stop.

Oppad uit haar kamer het haar selfoon gelui. Toe sy antwoord het Conradie sonder enige omhaal gevra of sy al die nuus oorgedra het. Sy het hom verseker dat sy dit nou gaan doen.

Die groeiende knop pynigende in haar bors. ‘Jy het net tyd tot ses uur toe.’ Het hy aangedring en die lyn het doodgegaan. Sy het 30 minute. Die pyn in haar bors is nou ‘n polsende klop en sy vryf oor haar hart. Sy voel benoud, kort van asem.

“Jaco, ek moet met jou praat,” herhaal sy kort asem.

Verergd draai hy om, “Ek is besig ma,” blaf hy, dan verstar hy, haar kompleksie moes wasbleek gewees het, sy is seker want hy hardloop na haar en omhels haar vuriglik. Sy kan voel hoe haar knieë swik onder die gewig. “Kom sit ma, wat is fout?”

“Jaco,” bewend vat sy aan sy gesig, haar vinger streel die vlek kenmerkend van die Potgieters in die kontrei. Vir ‘n vlietende oomblik is dit Pottie wat voor haar sit. Hul toekoms toe nog so mooi en duidelik voor hulle, voor als verander het. Sy sluk en laat sak dan haar oë. Haar sonde nou lewend, en sy weet sy gaan nie die aandster sien nie. Nie vanaand of enige ander aand nie. Sweet pêrel oor haar voorkop, haar mond kurkdroog maar sy druk deur.

“Jaco, jou pa is nie Naas Fourie nie maar Louis Potgieter.”

“Skuus ma, maar wat het jy gesê?” Vra hy verstom en staar haar aan asof sy ‘n vreemde taal praat.

“Pottie is jou pa my kind,” herhaal sy, sagter die keer. Haar hart se seer nou oorverdowend in haar ore. Die wêreld kantel om haar en dan syg sy op die koue sement neer.

Baie later daardie aand maak sy haar oë oop en bekommerde bruin kykers sweef bo oor haar. Die eentonige piep van masjiene druis deur die newels en word ‘n crescendo in haar kop. Sy kreun saggies en voel ‘n hand haar eie omvou.

“Mamma,” kom Jaco se stem nou by haar oor en sy knik. Verstom dat sy nog leef. “Ek is so jammer my kind,” glimlag sy flou.

“Waaroor Mamma?”

“Jou lewe, die leuen, als sal seker nou verander.”

Dan omvou ‘n tweede hand haar ander hand en Elsa se beeld kom in fokus. “Ek is nog hier my tannie. Ek gaan nêrens nie. Ek is lief vir Jaco, wie ook al sy pa is of was.”

“Ai my kind,” kry sy uit en raak weer aan die slaap.

Dae later sit Riana op die bankie, nog swak na die ligte hartaanval en dink terug aan daardie dag. Die dag toe haar lewe so vreeslik verander het. Die vergeelde foto het die keer saam gekom. Sy het vir Jaco en Elsa die hele verhaal vertel. Die twiste en haat wat aangegaan het terwyl hy groot geword het. Hy was onbewus van alles. Haar liefdelose huwelik wat geen oomblik se geluk geken het nie. Daarvoor het Naas gesorg.

Die prokureur het Jaco kom sien twee dae later en sy finale erfporsie aan hom oorhandig. Dit sluit in ‘n stukkie grond net buite die dorp, nog twee ander besighede in die naburige dorp en nog ‘n kontant bedrag wat eendag na sy kinders sou gaan, veilig in ‘n trust gebêre.

“My berou het gekom en gegaan Pottie. Die kinders is gelukkig. Die dag wat ek verwens het, het anders uitgedraai. Dit als te danke aan jou.” Riana trek die swart jas stywer om haar lyf. Die geniepsige koue wind dans om haar rond en krap haar hare rond. Die parkbankie se uitsig vaal maar binne haar lyk dit weer soos lente.

“Jammer dat ek ons liefde nooit ‘n kans gegee het nie. Ek is werklik jammer daaroor.” Sy pik ‘n traan weg. Haar lewe kon so anders gewees het, maar tog het dit goed uitgedraai. Verligting spoel deur haar en sy voel vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd vry.

“Jy sou trots gewees het op ons kind. Hy het jou ma nou die dag ontmoet. Ek wens jy kon dit sien. Dit was mooi. Ouma en kleinseun se ontmoeting het Jaco verander. Hy is ‘n ander mens. Vol lewenslus met ‘n goeie vrou aan sy sy. Ons foute sal nie herhaal word nie Pottie. Slaap rustig my geliefde. Tot ons weer ontmoet.”

‘n Sonstraal breek deur die triestige wolke en dans voor Riana se voete. Die vaalheid verander in goud om haar en sy glimlag sag. Die parkbankie weer haar gunsteling plek na soveel jare van verlatenheid.

©LynelleClark2020




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 73
Kommentaar telling: 17

Ek is 'n voltydse skrywer, blogger en help graag om ander se droom te verwesenlik. Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer, daarna het nog boeke gevolg. Ek hou nie daarvan om myself te beperk tot een genre nie, en skryf oor als wat my interesseer. Ek skryf meestal in Engels maar geniet ook om myself in Afrikaans uit te druk. Boeke uit my pen is 1. A Pirate's Wife, geskiedkundige romanse. 2. Bella's Choice, eietydse roman. 3. Blood Mines, toekomstige spanningsverhaal. 4. GedagteKringe, 'n Afrikaanse Bundel, gevul met artikels, korts stories en staaltjies uit my lewe. 5. Juweel van die Oosgrens sal eersdaags beskikbaar wees en is 'n historiese roman. 6. Love at War wat vroeg volgende jaar beskikbaar sal wees is 'n geestelike drama wat handel oor keuses en die nagevolge van die keuses. Ek het ook help skryf aan Worthy to be Loved - 'n Geestelike dagstuk boek saam met Driekie Grobler, Spore van Genade - 'n Liefdadigheidsprojek saam met Alta van Zyl en Kontreistories - in samewerking met SA Skrywers en Elsabe de Beer. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Om ander te help is vir my 'n voorreg en het ook Wordplay Writer's Community gestig waar skrywers die geleentheid het om hul werk te wys en vir hul liggaam, siel en gees ook sorg. Ek is 'n opgeleide lewensgids wat mense help op hul kreatiwiteit te ontdek en uit te leef. Om meer van my te leer besoek gerus my webwerf kreativcollectiv.com.  

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 28 gaste aanlyn

Bydrae Totale