Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Stemtoetse

Deur Pannetjie
Datum gepubliseer: 7 Mei 2019 Aantal woorde: 479 200 Kere gelees 4

Stemtoetse

In ons standard ses jaar op skool was dit soort van verpligtend om stemtoetse te doen. Elkeen moes ’n beurt kry om so ’n stukkie solo te sing sodat die sangjuffrou kon bepaal waar jou stem inval op die toonleer en seker ook om sommer dieselfde tyd te bepaal of jy enige sangtalente het. Hulle was mos nie verniet altyd op soek na koorlede nie.

Hierdie spulletjie was vir my maar ’n redelike senutergende storie. Nie net moes ek die woorde van ’n bekende lied memoriseer nie maar ek moes ook by die wysie kon hou. Nou kyk die enigste nootvas wat ek geken het was om as jy gelukkig genoeg was om iewers beloon te word met ’n noot jy die noot in die bank loop vassit het.

Die gewraagte dag in die sangklas het die juffrou sommer hier van links-voor gewerk. Die meeste het ’n kortstondige besoek alleen saam met juffrou afgelê. Die klas was klankdig en ons wat net buite die klas gesit het kon nie eens hoor hoe die ander vaar nie. Ek het, soos heelwat ander, probeer om so ver as moontlik aan regs-agter te skuif met die hoop dat die klok ons sal red van die singery, wat heellaas nie gebeur het nie.

Toe daar nie meer te skuif was nie het ek maar my weg in die sangklas in gevind. Die juffrou het verneem wat ek wil sing en ingeval met die klavier waarop ek gevolg het met my ou bewerige stemmetjie. Sy het nog lank nadat ek al by die einde van my woorde was gespeel, ek neem aan in die hoop dat ek darem verderaan nog ’n paar woorde van die liedjie sal onthou – wat nie gebeur het nie.

Nadat sy opgehou speel het het sy stip voor haar gesit en kyk en so stadig na my kant toe gedraai met die woorde: “Ek dink ons moet weer probeer” wat soos ’n doodsvonnis op my neergedaal het. Maar goed soos ons grootgemaak is was daar nie geredekawel nie. Juffrou het weer ingeval met die klavier en ek moes maar teen wil en dank volg. Dieselfde storie het hom herhaal waar die juffrou nog rustig voort gespeel het en ek al lankal met stommigheid geslaan was.

Weereens het sy stip voor haar gesit en kyk en ek kon sien daar word nou diep planne in daai kop gemaak. Sy draai na my kant toe en kyk my stip in die oë met die woorde: “Vir jou stem het hulle nog nie ’n naam nie.”

Sy volg dit op met die advies om tog nooit ’n sangloopbaan te probeer nie, want dit sou volgens haar oordeel, kattestrofies wees. Verder het sy versoek dat ek as ons in die sangklas sing bietjie harder moet sing want as sy my hoor sing dan klink die ander klomp sommer baie goed vir haar.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Riaan Palmer

    7 Mei 2019

    Haha! Oulik! 🙂

  2. Ano

    17 Mei 2019

    Aijaijai! Dink daai liewe juffrou sou eerder betaal het as om my te hoor sing. En ja, party kan sing, ander kan dans, ons kan skryf. :-)))

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 143 gaste aanlyn

Bydrae Totale