Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Stemdag

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 6 Mei 2019 Aantal woorde: 487 86 Kere gelees 4

Woensdag gaan ek stem.
Ek gaan my demokratiese reg uitoefen om ’n sê in die toekoms van hierdie land te mag hê.
Gaan dit ’n verskil maak?
Ek weet nie. Inteendeel, ek glo nie. Ek dink die korrupsie het al so ver en so diep ingesyfer dat ek selfs die uitslag van hierdie verkiesing nie vertrou nie.
Maar waarom dan probeer? As die uitslae reeds vooraf bepaal is en die ‘gekose’ politici se tande reeds geslyp is vir verdere wanbestuur en uitbuiting?
Want die Afrikaanse spreekwoord lui: Probeer is die beste geweer.
As ek gestem het, het ek die reg om my te kan verset. Dan ek het die reg om te mag verskil en het ek die reg om te mag aandring op reg en geregtigheid.
Waarvoor trek ék Woensdag my kruisie?
Vir regverdigheid en gelykheid. Vir bestaansreg. Vir erkenning. Vir ’n nasie wat nie soos bedorwe brokkies tekere kan gaan en aandring op dit waarvoor hulle nie gewerk het nie.
Ek stem vir ’n ordentlike onderwysstelsel. ’n Stelsel waar kinders die nodige stimulasie, ontwikkeling en sorg sal ontvang om hulle potensiaal optimaal te kan verwesenlik. ’n Stelsel wat bemagtig, ’n stelsel waar vaardighede dieselfde gewig as akademie sal dra sodat elke leerder en elke student die geleentheid het tot ’n suksesvolle toekoms.
Ek stem vir ’n land met gevolge. Waar beloning slegs toekom aan die wat daarvoor werk en dit verdien. ’n Land waar korrupsie en wettelose optrede vervolg word en waar tronkstraf nie met ’n luukse vakansie vergelyk kan word nie. ’n Land waar dit nie aanvaarbaar is om te moor en te steel en weg te neem van die wat het nie. ’n Land waar daar gepoog word om te bou sodat groei kan plaasvind en almal wat die stene help lê het in die opbrengs kan deel. ’n Land wat rekenskap kan gee oor sy doen en late en waar die neem van besluite logies en sistematies uitgelê kan word omdat dit langtermyn voordele inhou vir elke burger wat hier tuisgaan.
Ek stem vir vryheid. Om te mag kom en gaan soos ek wil. Om my geloof, oortuigings en kultuur te mag uitleef sonder inperking. Om trots te mag wees op my herkoms, my ras en simbole wat vir my van waarde is. Om my taal te mag praat en dit te mag aanwend in die akademie en in die kunste, om daarmee te mag rede voer en om daarmee te mag kritiseer indien nodig. Om fees te mag vier en om dit wat vir my van waarde is te mag herdenk. Ek stem sodat elke groep in hierdie land, hierdie reg mag uitoefen sonder dat dit deur enige ander groep ingeperk word.
Ek stem sodat ek mag nee sê en vir die reg om kapsie te maak wanneer my lewe of regverdigheid bedreig word. Om te kan aandring op herverkiesings en goeie dienste.
Ek stem sodat ek ’n stem kan hê.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. Ano

      Mei 11, 2019

      Jy het n stem en jy mag dit maar laat hoor.
      As ek die uitslae reg verstaan, het daardie individue se stemme beslis n verskil gemaak.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 13
    Kommentaar telling: 4

    Onderwyseres in Afrikaans

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 2,852 gaste aanlyn

    Bydrae Totale