Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Stem in die Woestyn

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 27 Augustus 2019 Aantal woorde: 567 109 Kere gelees 1

Ek kan met eerlikheid sê dat ek goeie jare geken het. ‘n Oase waarin ek versorg, beskut en genoeg gehad het. Hierdie tydperk het my baie geleer van myself. Maar dit was ook ‘n tydperk van agteroor sit en verwag sonder om werklik iets by te dra, afgesien van die grootmaak van my kinders.
My woestyn tydperk was die skaaf tydperk. Die tyd waar sandkorrel teen sandkorrel my rof gelaat het en ek weggesink het in die doolhof van vergetelheid en seer. Soos ‘n Israeliet van ouds het ek ook terugverlang na die kospotte van Egipte en gemurmureer oor die lot wat my te beurt geval het. Ek was vinnig om te noem dat ek dit nie verdien het nie. Daardie rebellie fase van onskuld.
In die begin het ek gedink dat ek nie 40 jaar deur die woestyn sou wandel nie. My gewese man het toe by die huis gekom met die eerste “retrenchment” brief by die huis. Toe was dit ‘n wow oomblik. God toets ons en ons sal Hom nie teleurstel oomblik. Jy weet, daardie hoogmoedigheid het sy kop mooi uitgesteek. Ek het gedink dat my geloof sal sweef bo die wieke van die wind en ek saggies neergelaat sal word. Heel en ongeskonde en ek net sou voortgaan op my groei pad. Sonder enige bloukolle en nerfaf plekke.
My naïwiteit het vinnig plek gemaak vir die harde werklikheid. Leë koskaste, meubels wat eers opgeskryf en toe later weggevat is. Die spogkar wat op die vragmotor se bak gelaai word se vernedering het begin deursyfer. Die stelselmatige afbreek van vrouwees en menswees tot daar later niks meer oor was nie.
Nou, jare later met bitter min besittings op my naam, het die Stem gekom en gegaan in verskillende grade van vaagheid. Sodra ek dink nou kan ek mooi en duidelik hoor dan verdwyn dit weer soos die skimme in die woestyn.
Die proses het my skugterheid, rebellie, woede en soveel meer male afgebreek dat net die beeld van ‘n diamant agtergebly het. Wel, ek hoop so, ek sê dit met die grootste nederigheid. Weg is die verlange na weleer. Die gisters weggebêre agter die skuiling van ‘n desperate oorlewingstryd.
Wanneer die stem in die woestyn duidelik en hoorbaar praat staan jy stil en luister. Ongeag die hitte van die dag of die tekorte. Een so geleentheid was ek redelik dronk toe die stem duidelik deur die Sparkie se kajuit gekom het. Op pad huis toe in ‘n beskonke toestand het trane oor my wange gestroom. Ek was so verlore en het soveel pyn gehad dat ek ineengekrimp het agter daardie stuurwiel. Soveel so dat ek moes stop. Ek kon nie verder sien nie. Net daar het God my geroep. So duidelik, so helder dat ek eintlik nugter geword het.
Die Sondag het ek besoek gaan aflê by ‘n gemeente en die boodskap van die predikant was: “die verlore seun kom huis toe”. ‘n Bevestiging dat ek nie gehallusineer het nie.
Van toe af is die stem ‘n konstante deel van my woestynlewe. Die hoekoms minder en die verlange na die gisters so ver verwyder dat ek eintlik min daarvan kan onthou. My bestaan het verander van die eie behoeftes na, hoe kan ek help.
My vermoëns gelouter en gepolitoer tot gladde sandkorrels wat nou teen ander skuur sodat hulle ook kan skitter.
Kopiereg voorbehou
Spore van Genade Bundel
Foto Theuns de Bruin




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 64
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 89 gaste aanlyn

Bydrae Totale