Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Spitsverkeer deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 3 Augustus 2019 Aantal woorde: 949 88 Kere gelees 2

Spitsverkeer is refleksie tyd, veral wanneer jy wag om jou eindbestemming te bereik. Dit is die tyd wat jy werklik luister, hetsy na musiek, die dag se nuus of in gebed met die Hemelse Vader. Ander kere kan dit ‘n heerlike kuier tyd wees. Juis omdat jy en jou reisgenoot afhanklik is van mekaar se geselskap. Dan is julle ontspanne, luister en lag en voer ‘n samehorigheid op daardie oomblik wat julle nie andersins sou gedeel het nie.
Spitsverkeer is normaalweg vroeg in die oggend of laat middag, enige tyd van 4:30 n.m. af. Dit is die tye wanneer die meeste werkende mense op pad is om hul daaglikse brood te gaan verdien. Maar wanneer daar ‘n ongeluk of gebreekte voertuig betrokke is, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Met normale spitsverkeer beweeg die verkeer, wel teen ‘n slakkepas maar jy kom by jou eindbestemming uit. Omdat jy daarvoor beplan ry jy vroeër en is dus betyds by die werk of vergadering sonder daardie pap-in-jou-gesig-gevoel. Of is dit nou die rooi-in-die-gesig-gevoel. Hoe ook al, dit kan nogal ‘n verleentheid wees wanneer jy laat is.
Maar die onbeplande verkeersgebeure is die gebeure wat die wêreld in skakerings van blou, pers en swart verf. Jou dag verander van rustigheid tot orkaan sterkte in sekondes. Dit is daardie kere wat jy juis laat weg gespring het omdat Pietie nie vertel het van die taak wat daardie oggend moet in wees nie. Of jy verslaap het en nie die wekker gehoor het nie. Die oomblik wat jy die eerste blokkasie kry, weet jy bo alle twyfel dat jy laat gaan wees. Maak nie saak hoe vinnig jy dan ry nie, jy is laat. Punt. Ondervind julle dit ook?
Net so is dit met ons lewe. Jy kry die beplande spitsverkeer en die onbeplande afdraai paaie. Dit is juis hierdie ‘onbeplande’ verkeer wat jou lewe in ‘n draai spin gooi. Dit sou dan beter gewees het om by die huis te bly. Want hoe verder die dag vorder hoe skuinser die helling. Alles loop net eenvoudig verkeerd. Van die robot wat nie werk nie, tot die krag wat afgaan, die gesukkel om koffiewater warm te kry, want jy moet jou eerste koppie in kry. Die pen se ink wat onklaar raak wanneer die klient wag. Die persoon wat jou laat wag, die ongeluk wat jy, dank Vader, net sien en nie deel van is nie. Die glas water wat op jou skootrekenaar se sleutelbord uitval en jy jou werk verloor. Ken ons skrywers dit nie al te goed nie?
Die lys kan nogal baie lank word en in hitte graad groei. Vir baie verander dit hul hele lewe. Net daardie sekonde van onnadenkendheid, of nie oplet nie of bloot net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek wees. Skielik is jou spitsverkeer ‘n permanente blokkasie wat jy oor en oor beleef. Soos ‘n refrein herhaal dit homself sonder dat jy vra, sonder dat jy dink. Op die mees ongeleë tye. Jy vra nie daarvoor nie. Nooit nie. Maar dit gebeur.
Vir baie word daardie blok dan ‘n stoplyn en jou lewe hou op. Vir baie ander is dit die wegspringblok om weer deel van die verkeer te word. Om so weer hul menswees terug te kry.
Vir die wat voel dit is die einde van hul bestaan is dit ‘n hartseer dag. ‘n Dag permanent ingebrand in hul tydlyn. ‘n Dag wat homself herhaal, welliswaar in die kop. Maar nog net so tasbaar lewendig asof dit sopas gebeur het.
Vir die wat die verstopping as ‘n wegspringblok gebruik is daar weer vreugde en geluk op hul pad. Hulle leef om weer die eb en vloei van die lewe te ervaar. En, alhoewel die gebeure van tyd tot tyd gesig wys, bepaal dit nie hulle loop nie. Hulle gebruik dit juis as aansporing om met vaste tred die spitsverkeer te hanteer, elkeen op sy eie meriete.
Ons leer almal van hierdie tye. Hetsy om ‘n tweede wekker te stel. Seker te maak dat die kinders se toebroodjies gepak is. Of dat die kar genoeg brandstof in het sodat jy nie gaan staan nie. Jy leer om aan te beweeg en die beste te maak van die slegte tye. Jy leer om saam te vloei en elke stop as ‘n geleentheid te sien. ‘n Geleentheid wat jy dan omsit in ‘n monument van vervulling.
Die grootste gedagte wat ek hier wil laat is dit: Jou blokkasie defineer jou nie. Jou Spitsverkeerstorie kan ‘n geleentheid word wat ander aanspoor. Die verrykkende gevolge kan jou oplig.
Ja, daar is versperrings wat ons permanent kan kniehalter, soos dood of molestering, of daardie onverwagse kaping, diefstal, moord, of aanval. Die diefstal wat jou alles kos. Dit laat sy letsels, soos tattoos op jou gemoed. Permanent geink op jou wese. Maar wanneer jy daardie merke dra as ‘n waardige kenteken van oorwinning dan wen jy. Dit gaan oor jou benadering.
Ek is Lynelle Clark, nie ‘n armoedige, werklose blanke mens nie. Ek is ‘n vrou wat haar plek volstaan te midde van die finansiële tekortkominge. Asook al die ander hekkies wat ek moes oorkom. Ek het my dae waar ek teen die grond is met al die vrae maar dan kyk ek op. Net soos ‘n sonneblom. Want my krag kom nie van uit myself nie maar van Bo.
My onbeplande spitsverkeerstorie is nie die kenteken wat my definiëer nie. Ek het die besluit gemaak dat dit die wegspringblok sal wees van die persoon wat ek wil wees. Dit is net die begin. Hoe dit gaan eindig weet ek nie, maar dat groen ligte in my onmiddelike toekoms is, is gewis.
Kopiereg Lynelle Clark 2019




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 65
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 97 gaste aanlyn

Bydrae Totale