Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: So saag mens

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 24 April 2018 Aantal woorde: 2029 701 Kere gelees 2

So saag mens, deur Stephan Uys

Ek, Liefie en ons drie spruite kuier so ‘n paar jaar gelede by vriende van ons. Ons het mekaar by die skool én by die kerk leer ken, so ons is sommer dubbel vriendelik met mekaar. Ons sit so en broodpoeding eet toe Jan (name is verander ter wille van die kinders) begin vertel van die wonderlike tyd wat hy die vorige maand op ‘n Mighty Men kamp gehad het. Ek luister so half met die een oor terwyl ek met my hele hart begeer dat Liefie ook so kan broodpoeding bak. Ek mis Jan se eerste versoek, en die stilte wat in die lug hang maak dat ek meer aandag moet gee aan die gesprek as aan die kos. Ek blameer die hond se geblaf vir die feit dat ek nie die vraag kon hoor nie, en vra hom om die vraag te herhaal. Jan vra my of ek en my pa nie straks saam sal gaan kamp die volgende jaar nie. Daar word glo beplan om 30 000 manne op een plek bymekaar te jaag, en ek en pa is skynbaar manlik genoeg vir die vergadering. Ek weet Jan het ‘n netjiese karavaan, so daar sal darem redelike geriewe wees sou ek instem om te gaan. Ek voel ook half skuldig oor my vergryp aan sy vrou se poeding, so ek antwoord halfhartig “Ja, ons kan seker maar kyk.” Liefie is net besig om te gaan sit, maar sy is so verbaas sy sit die hele bank mis. Liefie ken my; ek is nie juis die kamp tipe nie. Ek soek my eie huis, met my eie huis se geriewe. Veral badkamers. Ek sal nog gaan waterafslaan in publieke badkamers, maar niks meer nie. As my maag hoor ons gaan weg vir ‘n naweek, gaan staan hy doodstil tot ek terug is by my huis. Ek help Liefie van die grond af en steel so in die verbygaan ‘n stukkie van haar broodpoeding. Ansie, dis nou Jan se wederhelfte, waarsku my dat Jan glo verskriklik snork – sy drink glo elke nag ‘n slaappil of ses net om die snorkery uit te doof. Ek stel haar gerus. Volgens Liefie is ek self ‘n man wat die kuns van snork al bemeester het. Sy beweer gereeld ek het die vorige aand weer ‘n klein plantasie ontbos. In die weermag het ek die barakke met twee pelletonne gedeel, en party van daai manne was bedrewe met ‘n kettingsaag. Sommige het egalig gesny, met hoë rewolusies. Dan was daar ook dié wat skynbaar bietjie sny, en dan eers ‘n paar sekondes terugstaan om hulle handewerk te betrag, voor hulle weer bietjie sny. Daar was ook verskillende soorte masjiene waarmee hulle gewerk het. Daar was die klein elektriese masjiene wat maklik aan gesit het en lekker egalig en ritmies die struike in plek gehou het. Dan was daar die petrol modelle waarmee die meeste bome afgesny was. Sommige van die modelle het gesukkel om te start, maar as hulle eers gevat het, het hulle nie gou weer opgehou nie. Ons het egter twee manne gehad wat op skoon diesel geloop het. Die opstart was soms moeilik, en ek is seker die skrywer van die woorde: “en hoor jy die magtige dreuning…” het ook sulke manne geken. Ansie sê beterweterig dat ek gewaarsku is, maar ek lag dit af.
So met die verloop van tyd raak mens besig, en ek vergeet heeltemal van Jan en sy Mighty Men versoek. Dis bedrywig by die werk, en dis bedrywig by die kerk. Een oggend lui my foon, en ek sien dis Jan wat bel. Hy verduidelik hy het reeds ons plek geboek en al die vervoer reëlings is ook reeds getref. Al wat ek en my pa moet saamvat is twee goed om op te slaap en twee kampstoele. O ja, en eie breekgoed, maar verkieslik iets uit plastiek of blik sodat dit darem nie te maklik breek nie. Hy sit die foon neer nog voor ek mooi tot verhaal kan kom, so asof hy weet wat in my gedagtes aangaan. Ek is sommer krapperig oor die hele oorslaap storie. Die middag stop ek by my pa en verwittig hom van wat gaan gebeur. Hy weet sweet blou niks van enige Mighty Men goete nie, en nou probeer ek hom verduidelik met die karige inligting wat ek het. Ek het daardie dag by Jan gesit en dink aan Ansie se broodpoeding, nie Mighty Men nie.
Die groot dag breek aan, en met sonsopkoms is ons al lekker ver oppad. Ek voel effe benoud, want daar is geen karavaan wat saamgaan nie, net ‘n klein dome-tentjie waarin ek, Jan en my pa saam gaan slaap. Geen karavaan beteken geen privaat toilette nie, en ek voel al hoe trek my maag handrem op. Vroegmiddag nader ons die plaas se omgewing, en toe ons die rye karre sien, besef ons dat “middagete op die plaas” verseker “middagete oppad” gaan wees. So ‘n uur voor sonsak kry ons die blok waar ons ingedeel is.
Nou moet ek verduidelik, Jan se swaar en twee ander, het saam met ons gery. Hulle het egter hulle eie tent saamgebring. Hulle help ons om gou ‘n mooi staanplekkie te kry, en help ons gou opslaan. Hulle stap toe so vyftig tree weg, en begin hul eie tentjie opslaan. Ek wonder nou oor die vreemde gedrag, maar dog maar hulle val dalk onder ‘n ander sub-blok indeling of so iets. Tent opgeslaan en matrasse ingepak, loop soek ons spoeltoilette. Ek sien rye en rye van daardie groen 1m x 1m gevaartes wat jy by skoue en kerkbasaars ook soms raakloop. Verder is daar “piepie-pype” met gaas omheim. ‘n Piepie-pyp is ‘n groot, lang tregter wat halflyf in die grond begrawe word, en waarin manne dan waterafslaan. Ek sien die manne trek so streep-streep af na die mielielande toe gewapen met rolle toiletpapier. Ek sê vir my pa dat Angus daardie jaar nie hoef te bekommer oor kompos gooi nie, dit lyk my die gelowiges gaan sommer self die grond organies voed.
Ons het die aand ‘n wonderlike tyd daar in die kerktent. Dit is al redelik laat toe ons terugkom by ons tente. Ons maak ‘n koffietjie en drink dit rustig terwyl ons die diens oordenk. Later gee pa ‘n gaap en sê dis tyd om te gaan slaap. Ek en Jan volg hom na binne. Ek moet nou belei, tot en met hierdie tyd was ek nog net besorg oor die badkamer geriewe, ek het skoon vergeet van Ansie se waarskuwing. Jan spring in sy slaapsak, en nog voor ek of Pa behoorlik kan nagsê, start die man sy engine. Hy lê op sy rug, en ek hoor hoe hoes en proes die motor voor hy vat. Maar toe loop hy soos ‘n goed ge-oliede masjien! Eers is dit net ‘n rustige vibrato, maar spoedig is hy deur al die ratte en hy klink nes ‘n weghol stoomlokomotief. “Nee magtig Stephan, draai daai man op sy sy!” kommandeer Pa my nadat ons vir so vyf minute tevergeefs probeer het om aan die slaap te raak. Ek raak so effe hard aan Jan met die elmboog, nie te hard nie, maar so dat die man moet besef dis tyd om om te draai. Asof hy net vir die teken gewag het draai Jan, sonder enige ritme verbreking of volume verandering, op sy regter sy. Nou kyk hy weg van my en stoot hy sy geluide daar na die hoek van die koepeltent toe. Dit klink sommer onmiddelik beter vir my, want op sy rug het heelwat van die “downdraft-refleksie” teen my vasgedreun. Ek lê en hoop Ansie het nie vir hom iets met bone in gevoer nie, seinde sy ander werkende kant nou reg na my toe gerig is. Wat ek salig onbewus is van, maar wat Pa toe nou vinnig agterkom, is hoe daardie tent se vorm klank affekteer. Jy sien, klank is ‘n golf, so dit word gekanaliseer en gereflekteer. Met die dat Jan nou so in die hoek in snork, slaan die snork in die hoek vas en hardloop dan al met die koepel van die tent langs, totdat dit by pa se hoek weer rigting verander, reguit in Pa se oor in. Pa gaan sit vinnig regop en in die swak lig sien ek hoe gryp hy sy oor vas. Ek dog eers daar is dalk iets in sy oor. Hy sukkel sy foon se skerm aan, en in die flou lig van sy foon sien ek die afgryse op Pa se gesig: “Wat is die man se probleem? Wat gaan ons met hom maak?”, wil Pa by my weet met trane in sy oë en doodsbenoudheid in sy stem. Ek het net een plan, ons leopard-crawl met spoed uit die tent, slaapsak in die een hand, kussing in die ander. My en Pa se twee kampstoele, sowel as Jan se twee stoele staan voor die tent. Ons ryg die tentjie se ritsluiter tot bo om te kyk of ons die klank kan demp, maar dit help niks. Met ons lywe uit die tent kry Jan net meer resonansie uit die tentjie. Ek en Pa skuif die stoele so ‘n paar meter weg en gaan sit op hulle. Ons sit ons voete op Jan se stoele, en probeer so slaap, maar ons verloor die stryd. Ek en my gryse ou vader skuif links, dan regs, ons skuif op en af, maar wat ons nie doen nie – ons skuif nie terug in die tent in nie! Vroegoggend begin ons blase om te pla en ons gaan soek staanplek. Die eerste paar plekke akkodeer nie met my gestel nie, so ons loop al verder weg van ons tent af. Uiteindelik kry ons ‘n paar “lelies” (soos ons hulle in die army genoem het) wat my goedkeuring wegdra. Ons staan ons man en draai om, gereed om tent toe te stap… maar dis nag-donker, en ons is totaal verdwaal. Pa wil nog mor oor my fiemies, maar ek steek my hand op en maan hom tot stilte. Ons hoor ‘n paar magtige dreunings so oor die Natalse vlaktes aankom, ek verlang sommer net daar terug na my army dae. Ek spits my ore…verbeel ek my of is daar ‘n magtiger dreuning daar uit die Weste? Ek en Pa stap ‘n paar treë, dan luister ons eers, stap ‘n paar treë, en luister eers weer. So stap ons tot ons naderhand met mekaar kan gesels en steeds die dreuning kan hoor. Pa is bekommerd ons loop straks na Angus se kragopwekker toe, maar ek deel nie sy vrees nie. Ons stap sowaar as wat ek leef reguit na Jan se tent toe. Teen dié tyd is dit al amper vieruur. Ek pak vuur vir ‘n bietjie hitte, sit die ketel op en begin pap maak.
Hier teen vyf dertig skakel Jan sy masjien af, en vrede daal oor die Natalse landskap. Ek en Pa het elk ‘n stewige bord mieliepap agter die blad en is besig met ons vierde koppie koffie toe Jan so net voor ses sy kop by die tent uitsteek en ons vriendelik groet. Pa seg niks, maar ek groet hom vriendelik, ek meen dit is darem ‘n kerkkamp. Die diens begin eers’n paar uur later en ek en Pa kruip in die tent in en probeer opmaak vir verlore slaap. Dit is Jan se swaer wat ons later kom wakker maak. Hy lyk skuldig, en die feit dat hy nie vrae vra nie, spreek boekdele. Ons geniet die kerkdiens, maar bemerk dat die tent vanoggend heelwat leer lyk as die vorige aand. Toe die diens uit is, stap ons na waar ons tent staan – stok-siel alleen! Jy sien, terwyl Oom Angus gepreek het, het die diep christelike kampeerders rondom ons hul tentpenne verskuif; net soos die Woord leer. Daar is nou ‘n goeie vyftig treë tussen ons en hulle na alle kante toe. Pa kyk die spulletjie so half suur, half geamuseerd aan. “Jy weet ou Seun, jy kan hul nie rerig blameer nie. Jan is nie net ‘n man met ‘n kettingsaag nie, ek reken hy is produksiebestuurder by Sappi!”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 29 gaste aanlyn

Bydrae Totale