Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: So onthou ek …

Deur Taai
Datum gepubliseer: 14 Desember 2019 Aantal woorde: 338 87 Kere gelees 3

Ek raak bewus van loeiende sirenes wat al nader kom. Skielik is daar ʼn dringende klop aan my deur. My eerste gedagte … Wat het die bure nou weer aangevang? Ek maak die deur op ʼn skrefie oop. ʼn Jong konstabel staan voor my.
“Mej. Roux?”
“Ja?” Ek kyk hom grootoog aan.
“U is onder arres vir diefstal.”
My asem stok in my keel. “Daar moet iewers ʼn fout wees!” protesteer ek. Sonder veel woorde word ek geboei en agter in die polisievangwa tuisgemaak. ʼn Duisend gedagtes jaag deur my arme kop. By die polisiestasie word ek ingeboek en na my sel gelei. Ek bekla my onskuld heelpad en al antwoord wat ek kry, is die gekras van die sleutel in die slot en die verdwynende voetval. Doodsbenoud luister ek na die versmorende stilte.
Ek gaan sit op die enkelbed, woedend! My hande kramp om die mooiste linne. Wat gaan hier aan? Stadigaan word ek bewus van die allerlekkerste kosreuk. Ek kyk rond en in die hoek sien ek die keurig gedekte tafel … Dronkgeslaan kyk ek met nuwe oë na my omgewing. Kos! ʼn Mooi bed! Word ek nou mal? Slaap ontwyk my tot in die vroeë oggendure.
Na die onrustige nag word ek wreed uit my slaap geruk deur die wag se bulderende stem. “Hier is ʼn besoeker vir jou!” ʼn Besoeker? Niemand weet ek is hier nie. Die volgende oomblik staan my strooimeisie voor my. Verbaas gaap ek haar aan.
“Toe, toe, kom nou. Ek het jou trourok hierso. Ons moet roer anders gaan jy laat wees.” Sy sien die verbystering op my gesig.
“Nico het besluit om jou ʼn poets te bak! As hý jou nie mag gesien het nie, mog niemand nie!” Skielik gaan daar ʼn lig vir my op. Die platjie!
Jare later staan ek by ʼn oop graf. My geliefde platjie-poetsbakker-polisieman word vandag begrawe na ʼn kort stryd met kanker. Tere gedagtes vul my hele wese. Hy laat my agter met die mooiste herinneringe, veral aan daardie dag toe hy my op my laaste aand van vryheid laat opsluit het in die polisieselle.

© Taai Bonthuys




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 1

Digter, Skrywer en professionele rekenmeester.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 52 gaste aanlyn

Bydrae Totale