Jongste aktiwiteit:

Mariska Smit
vir

Mariska Smit

Lees meer bydraes deur Mariska Smit

BRONS KLAS

Teenstellings

1.Doka

Strale val subjektief
oorbelig op vers formaat
geprojekteer deur negatief
as bundels swart en wit
in die lens se objektief
om sigbaar vergroot te lê,
in die donker as ligsensitief

Gebeeld en gebad op papier,
fikseer ek grief en lief
wat ontwikkel as emosie
gehang en gedroog as brief

@ Mariska Smit

2.Tweestryd

As jy my entoesiasme
blus met antagonisme
mag ek jou dalk net
met entoesiasme
antagoniseer

@ Mariska Smit

Najaarsblom projek 

3. Sysoen

In die skemer van my somer
bloei ‘n najaarsblom soet,
ek ein haar gees as dromer
in die herfs van ons gemoed.

Haar saad skiet loot in lente
en die bloeisel bot soet,
sy dra haar kroon in segmente
as helder vere in haar hoed.

Ons beide ken die winter kou’
wanneer wortels diep groei,
om later kleur ryk oop te vou
sonder seisoene se bemoei

Bloei ‘n najaarsblom soet,
ek maak parfuum uit bloed

@ Mariska Smit

Projek Liefde vir Afrikaans

1.Penastrofie

Die taal wat my bors oop skeur
klief strategies en presies
om denke te dissekteer
met minimum ink verlies

Vasgespalt lê my hart
in frases wat allitereer
om sin te maak van smart
soos letters op lip vibreer

Rymende vers wat die hart ontsmet
rou rowe word in sinne droog
bloed stol gou as jy metrum het
anestese, fyn versteek in monoloog

Letsels word in boeke verband
vir jou met die pen in hand

@Mariska Smit

Junie – FAK projek

Eervolle vermelding
*Sing jy van Blomme

In ‘n Josefskleed aangetrek
kort na die eerste reën,
van Spektakelberg
tussen Springbok en Kleinzee
tot ver verby die Oranjerivier se draai,
slier jou blommetuin laatmiddag
heen en weer in die lentebries.

‘n Stofstreep lê agter die donkiekar
wat skud, skud sukkel oor die jakobjollie in die pad.
As jy ver kyk sien jy springbok,
of ‘n windpomp wat draai.
Kyk jy naby sien jy vlinders wat vrolik
in die oggendson tussen geel en pers
en rooi en pienk vir die werêld flikkers gooi.

Van Kammieskroon tot Garries,
regoor Kammiesbergpas. Net waar jy kyk,
soos Eden is jy in jou blommejas.
Ek wonder: Sing jy van blomme? Of sing jy oor haar,
daar waar sy sorgeloos in jou skoonheid baljaar?
Kaalvoet, stowwerig en sorgloos sing sy.

Sing jy oor die bloeisels in haar?

*FAK – Sing jy van blomme

@Mariska J Labuschagne

SILWERKLAS

September 2020 – Liefdesprojek

1.Losprys

Koop my
lyf met
jou hart
en dan
sal ek
be-sluit
of jou
lyf my
hart kan
be-kos-tig

Mariska Smit

3.Eva

Geskenk vir jou
uit jou geneem
‘n vrou gebou
uit eie been
in vlees geword
na wens voltooi
wat hart uitstort
in appels rooi
letter meng lip
tot soet fluister
ek is jou rib
verpak in pleister

Mariska Smit




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed