Charleine Collins
Lees meer oor Charleine Collins
BRONS KLAS
Oktober 2018 Projek
1.Mensboom
(my skedel baar nog lewe)
in my droomwoud het my brein herbind
in volheid, sy heelheid teruggevind
ek kon toe elke akson, neuron en sinaps,
alle senuwees wat skiet laat konnekteer
met die stam van kennis en weer leer
onthou van vervloë wysheid tot die wasdom van nou
ek herskep my emosie met heling van woorde se bou
serebrum en serebellum in hul saadlob van ouds
met ‘n orakel wat steeds die koers kan hou
dus sal dendriete nogeens vars denke spruit
vertak en druppelhelder neologismes uit
Charleine Collins © 16 Oktober 2018
(Pastiche met apologie aan René Bohnen 2017)
November 2018
1.Moria
swart streep songololo
met kriewelpote rol
rol op en op en voort
want dis weer Paasfees
en almal wat ‘n badge het
reis nou noord
in taxis en in Putco
eet Kentucky en maak pap
vermenigvuldig brood
voed duisende
offer skape, hoenders, bees
met ‘n rookkolom na Bo
soos Abel van die Boek
dan slaap ons onder sterre
lyf teen lyf met God se kinders
by die Berg van die Here
by Moria
het ons gaan sit
toe ons wou sing
van Sion
in Suid-Afrika
© Charleine Collins
Desember 2018 projek
1.Klaar! – ‘n vlamoorlog in Boers
My hand skuif die muis
aangemeld oor die sleepmat –
met my wagwoord reeds in, waarom
moet die ding so lank draal!
Vanaand bliksem ek die sekuriteit
se danige vuurmuur plat
as ek my e-moer na die geselsgroep
in hierdie donderstryd stuur!
Ek is sat vir stelselindringers
strooipos, korrupsie, ’n virus
of as die stelsel omval
oor goggas wat in ‘n netwerk boer!
Jou kletsies wil ek veral vermoor!
Ek gaan jou van my e-poslys
met emotikons en al ontkies,
jou finaal in die asblik gooi!
Net vir oulaas skerms wissel
met die wipskakelaar
na die woerts-warts-gids –
dit staan daar van die smoorlys –
Hoe om dubbel doodseker te wees
ek kan nie per abuis
in ‘n oomblik van verfrissing
jou adres ontskrap of jou naam herwin.
© Charleine Collins
3.My laaste vir ‘n gryper
reg in die middel
van my kleine winkel
so tjok
en so blok
vol horribale goed
is my geen asseblief
net gryp goggadief
wat bloei
groot groei
met sy bek kaakwyd
dan styf vasgeklamp
terwyl kos
deur sy keel
verdamp
en ek moet
geheel
totaal
sonder speel
hom voed
slegs voed
en voe…
en vo…
© Charleine Collins
Eervolle vermelding:
Toe
‘n Slot is ‘n slot en die slot is die slot.
Die een maak toe, die ander is ‘n einde.
Met ‘n geenpoel riskant het dokter
die fabriek maar afgebrand,
en met die uitsny verseker
dat ons geen lote kry.
So as bloedjong vrou word ek
‘n sportmodel.
Almal terg my stuitig,
tog bly my kind al(een).
Al het ek soms gevoel ek is reggemaak
(verkeerd gedraai?)
om nie verder te kon teel,
of oor die sin van alles te bly wonder,
is ons almal die PMS gespaar
en vloei wat my kon bind
aan ‘n hart se lewensbloei.
© Charleine Collins
SILWERKLAS
Maart 2019 projek
1.Pop song
Ek is die pop, die plastiekpop,
die niks-meer-voel se opblaaspop.
Dood en op en leeg vol asem
blaas ek nog net koolsuurwasem
gee ek die supply en plekke
vir jou salige stuiptrekke
is ek verlengstuk lyf van jou,
soos die bakarm wat my klou.
Iewers by ‘n sykant naatjie
suisfluit pyn ‘n piepklein gaatjie,
en by ‘n skeurtjie langs haar nek
begin die poppie stadig lek…
© Charleine Collins 10 Maart 2019
Brongedig:
Lied van die lappop – Ingrid Jonker
Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat
Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof
My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf
Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop
en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedmoeds verbrand en daaroor lag.
Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.
Nuutskeppinge:
koolsuurwasem
suisfluit
Charleine Collins
April 2019 Humor projek
3.Black hole
Iewers diep blink Melkweg-silwer,
– of is dit sellofaan –
en verder in die atmosfeer
skyn sterrekrale, kopersente,
lyk iets soos Orion se belt,
die diereriem se sfeer!
Daar’s ‘n groot wit pil,
of is dit die maan.
Met kapsules in wentelbane,
frommels snesiewolke inforseer,
‘n appelplaneet
en kosmetiekkomeet.
In ‘n astronomies beknopte ruimte
groei konstellasie konsternasie!
By galaksies parallel op parallel
is daar kerne en spirale
waar elke liggaam wentel.
In ‘n volmaak geskape stelsel
is alles in sy ruimte
en bly in sy ligjaar,
maar in die swart en donker
van my handsak
met ‘n heelal ingesluk,
vind ek eind’lik dankbaar
my beurs en, per geluk,
‘n sonstraal kwasar-kaart.
En dáár is my supernova-sleutel
wat my dag sal kan lanseer!
Charleine Collins © 9 April 2019
Junie 2019 Projek
2.Ek is winter
‘n weerkaatsing in kristal
teen die swart spieëlkaswand
sien my plooie in slierte
soos ek strak sit – staar
bo ‘n wit Dolly Varden-val
flits my oë leefloos ysblou –
die mooiste in die land
wyl my hart vriespunt sneeu
in diepnag se snerpende grou,
haat ek die lente –
warm weergeboorte,
vrees die somersmelt en dou,
want ek is beeldskoon dood,
koningin van nou
Charleine Collins©
2.Net ‘n Wintersprokie
Die Sneeukoningin is vlok bevlok –
hul sê dit val soos bye uit ‘n hok.
Sy vries die warm hart van Kai,
want sy is ysig kwaai.
So vang sy ook vir Racheltjie
en Klara Majola in die veld.
Die volk se trane bevrore
oor elke klein held.
Ons kinders kyk nog Heidi,
Dawie die Kabouter, trolle.
Moemin en Sneeuwitjie
ski en speel sneeubolle.
Maar als is net storietyd
en wie gee nog om.
Op ‘n groot skaal wêreldwyd
is dit net ysfronte wat kom.
Charleine Collins
3.Seisoenaal
Die wind gryp jou lag
wat dwarrel om ‘n boom
en sy drag oor ons strooi –
dis ‘n kwiltland
met blaar en bloeisels
getooi!
Jou lag wapper aan
met die punt van jou serp –
blinkoog,
kersieneus
en skielik somermooi!
Jy lag deur my gees
en besweer
soos menig ander keer
‘n herfshart se waan
en kille wintervrees…
Charleine Collins
Oktober 2019 – Kleur projek
2.Die kyk
Jou oë stol
modder
soos die borrel van die are
deur jou hart –
sonder die seën
van sagte reën
of die soet
van sjokolade
is daar geen sagvoel,
kalfie, bokkie
…of genade
Charleine Collins ©
November 2019 – Laat lente projek
2.Die Dopperkiaat
Na ‘n laat-lente, deurdag, deurnag,
noag-reën se nat,
het die lowerreus (al dig verskuil bebot),
na so ‘n heil’ge doop, spontaan in songeel
vreugdejubels uitgespat,
volmaak ons vroegsomer en snerpwinter ruiswind
oor ‘n doodgaan droë seisoen,
vol konfetti-spikkels, nuut, so mooi,
in ‘n skittergoue eg oor groen gestrooi,
verbind.
Maar die dopper is maar ook ‘n fopper.
Die blompies kwyn met songang
in die grasperk en verskyn
weer lukraak na ‘n bui –
sikleer my in sy pynverbond
totdat die einde kling-klang lui.
Charleine Collins ©
Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek
1.Sy dans
Die dekseltjie lig stadig, tergend
en wys skelmpies, asemrowend,
die tintelende geheimenis
van waar die fynste engel-feëtjie
skuil as sy weg van die wêreld is.
Die plaatjies begin een-een pluk
aan tandjies van die orreltjie
en saam met die wyer oop
neem Für Elise soos ‘n klokkie,
kristalklank, sy oorbekende loop.
Die kleinste, kleinste dansertjie
van goudfineer draai en draai
en swaai in ‘n spinnedraadrokkie,
‘n vergulde blommetjie wat fraai
skitterliggies uitflits soos die son.
Tower veredelde vlerkies
van eg verweefde filigraan
flonker ragfyn in die lig,
in die vervoering in haar oë –
die wonder op my kindjie se gesig.
Goud deur vuur geraffineer en rein,
is so louter soos háár hart se lied,
die smeltkroes van die aardse kruik
het haar broos en teer en skoon verfyn,
ook meesterlik, ‘n kunswerk, suiwer op musiek.
Charleine Collins ©
2.Danse macabre
Dans asof niemand sien nie?
Dit maak snedig geen
snars se skedelbeen
saak nie.
Of ek leef, of sweef,
of plat op my ruggraat
rus,
uitgewerwel skeef
in rigor mortis
en uit wans –
dit maak nul verskil nie,
raak nie ‘n siel nie,
traak jou niks.
So, in triplikaat
en dubbel ontken
kan ek nie, nie, nie
in my wals
se een, twee, drie,
tot ek blou in die gesig
en kisserig,
wag vir een omkyk
na my (en hoe ek) lyk.
Charleine Collins ©
Februarie 2020 – Limeriek projek
3.Karma
Pou Piet Pompies wil meisies vang,
So is elke vrou vir hom bang.
Hy kleim hy is kaas,
Maar brein byt die baas.
Nou’s Piet Verdriet sy droewe rang.
Charleine Collins ©