Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SKOENE VAN GRANATE

Deur Nico Schamrel
Datum gepubliseer: 10 Oktober 2019 Aantal woorde: 696 64 Kere gelees 1

Niks is uit sy plek nie. Die groenvyekonfyt staan netjies gepak; in ’n ry, etiket na voor, een agter die ander. Glashouers vol sagte suikerappelkose met rooi wange en swart niekkerbôlls staan ‘n vingerbreedte uitmekaar. Buite koer, kir en roekoek ’n paar duiwe in ’n groot koelteboom. In die blink vertoonkas weerkaats rakke vol ou koekblikke en ingelegde vrugte. Teen die swaar toonbank en op die houtvloer skitter die son verblindend helder. Sonbesies skril tussen ’n melkbos en ’n dor graspol.

Reuke van houtpolitoer, gedroogde laventelbos, rooibostee en leer-skoeisel hang liggies in die lug. ’n Ligte timmer vanuit ’n agterkamer is skaars hoorbaar. Skoenmaker se voorskoot is van sagte leer. Hy dra ’n oorpak, olyfgroen soos sy oë. Sy hande behendig en slank, sy fris lyf ruik na kruie.

Teen die padstalletjie se muur is ’n rak vol skoene – leer, met gespes en veters. Ander is van sy, satyn, kant en blink knope. Georden, elke paar – stofbruin, roetswart, kapokwit, ligroos-pienk, perskebloeisel, verbleikblom pers-en-wit, vaal karoogroen. Elke paar uniek.

Vir haar die mooiste, ’n skottel vars granate op ’n sytafel.
Vir hom die mooiste, ’n kaalvoet meisiekind in ’n rooi rok.

’n Klokkie lui tingeling toe sy die padstalletjie binnestap. Só netjies, so besonders het sy lanklaas gesien. Haar winkelskoene lyk uit plek; vaal, goedkoop, alledaags, tog duur daarvoor betaal. Sy draai om, terug motor toe, trek die sandale uit en kom kaalvoet terug. Die warm gebakte houtvloer teen die sole van haar voete. Haar oë bewonder elke paar skoene. Die veldskoene …

Haar eerste dag skool toe. Of sy loop kaalvoet of sy dra oupa se veldskoene; self gemaak, gesny volgens sy skoenlees, gestik met kort steke, plat hak vasgeplak. Die kinders gaan vir haar lag. As dit maar net swart was, maar die stofbruin staan uit soos ’n laaste vanielje beskuit in ’n blik gemmerkoekies. Die punte gestop met koerantpapier. Die kind se voete gaan groei. Hoe lank sal sy dit moet dra? wonder sy. Dit moet swart wees. Steenkool, ma se Zebo-politoer vir die koolstoof, ’n blikkie swart verf in die motorhuis. Daardie dag is sy skool toe – met die Zebo nog aan haar hande, swart onder haar naels, rooi en blou houe oor haar bene. Lang kouse maak nie die seer toe nie. Almal spot oor die rooi houe, maar niemand sien haar swart skoene raak nie. Die groot mense is blind vir alles. Net die troos dat haar skoene swart is.

Die bloedrooi granate glimlag in die emalje skottel. Ryp rooi, glas pitte waarin diamantjies skitter, wange wat wynrooi bloos. Die staanhorlosie se sekondewyser glip verby twaalf. Die lang gewigte en opwenkettings uit geelkoper. Die deuntjie speel, vier keer slaan die uurwerk. ’n Koekoekhorlosie se deur vlieg op ; koekoek,-koekoek. Die horlosie in sy donker houtkas het ’n fyn klank wat effens weergalm. ’n Harp in ’n hoek, streling oor koper pype, ’n bas ghong wat stadig brom. Elf horlosies sing saam. Tingeling lui die klokkie toe ’n hond binnekom. Hier kort net ’n kerkklok, dink sy.

Dit was juis die kerkklok wat haar laat besluit het om om te draai, weg te stap en die pad te neem. Gister, voor die kansel. Sy kon net nie. Hy is ’n wonderlike mens; goedhartig, liefdevol, ’n omgee-mens – maar diep binne haar wese was daar nie die gevoel wat sy gehoop het nie. Liefde is ’n warm gevoel, soos die houtvloer onder haar voetsole, groenvye wat jou mond laat water, granate wat bloos.

Interessante foto teen die muur. ’n Koerantuitknipsel van ’n skoenmaker. Aantreklik, dink sy.

“Middag, kan ek help?” vra die skoenmaker en vee sy hande aan ’n skoon lap af.

Sy skrik en gee ’n verleë glimlag. Hy het olyfgroen oë. “Middag, ek het net hier stilgehou en kom kyk na al hierdie …” sy sluk aan die knop in haar keel; swart veldskoene se knop, gister se kerkklok se knop.

“Ek is op soek na ’n paar skoene … granaatrooi veldskoene …” vra sy.

“Dan sal jy moet oorbly,” en hy neem haar aan die arm – sag, warm in haar wese, “want ’n rooi paar veldskoene neem lank om te maak.” Hy glimlag met olyfgroen oë.

Iewers hoor sy ’n kerkklok sing.

©Nico Schamrel




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 6
Kommentaar telling: 10

My werk wissel tussen fiksie, roman, komedie en erns. Verskeie van my kortverhale is gepubliseer in drie bundels - Vlerke, Ses Dae en Tydpalet - asook op verskeie platforms. Ek het ook 'n Croyez-benoeming ontvang vir 'n kortverhaal wat in 'n keurbundel verskyn.  Ek werk tans aan my eerste Afrikaanse kortverhaalbundel - Engela - asook 'n boek (komedie). http://pendit.co.za/

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 104 gaste aanlyn

Bydrae Totale