Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Skewe Bakke

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 5 Junie 2019 Aantal woorde: 1657 148 Kere gelees 1

“Hierdie kaste moet reg gepak word.” Begin Naomi beslis. Vir ‘n tyd lank het sy haar geduld gehou rakende die onpraktiese kombuiskaste. Alles was in wanorde. Elke keer wat sy iets wil doen moet sy handeviervoet rondkrap in die kas om die bepaalde item te kry. Die meeste van die tyd ‘n vrugtelose gesukkel wat haar nat gesweet en met knie krampe laat.
Maar vandag sien Naomi rooi. Sy verstaan nie hoekom Werner bly vasklou aan die deurmekaar kombuiskaste nie. Immers is sy vrou al jare dood maar nogsteeds moet als dieselfde bly. Onprakties, vuil en deurmekaar. Geen vrou kan so leef nie.
Hoekom sy dit bly opvreet weet sy nie maar vandag is sy beslis. Die kaste moet reggepak word.
Elke valletjie en tierlantyntjie ‘n rede vir haar irritasie. Die skakerings van oranje gil uit verslete material om nuwe lewe. Hul dae lankal iets van die verlede.
Dit is nou al ses maande wat hulle mekaar ken. Ses maande wat sy geduldig terugstaan vir die oorlede Bets. Sy voel soos ‘n indringer in die huis. Werner het haar al gevra om haar hand en sy het ingestem. Sy het geglo dat dinge sal verander wanneer hulle verloof is.
“Jy los die kaste uit Naomi. Ek weet presies waar als is.” Weier hy volstrek.
“Die kaste is deurmekaar, en daar is baie goed wat lankal verby die vervaldatum is.” Hou sy vol, haar stem besig om ‘n oktaaf hoër te styg. “Die kaste is vol bakke wat geen doel dien nie.” verduidelik sy in die hoop dat hy haar punt sal sien.
“Natuurlik het dit ‘n doel. Kan jy nie sien dat als mooi bymekaar gegroepeer is nie.”
“Dit kan nog steeds gegroepeer word sonder die bakke. Dié is al verbleik, vol stof en so skeef getrek dat dit nie eers meer regop kan staan nie. Die kaste is onnet.” Beduie sy radeloos.
“Dan was ek dit, maar dit bly net soos wat dit is. Dit is my huis.” Werner se geduld is ook op, sy kan dit hoor aan sy stem. Maar hy sal moet bes gee. Sy is in elk geval moeg gekompeteer met oorlede Bets. In Werner se oë was sy ‘n model van ‘n vrou. Sy word gereeld herinner aan hoe wonderlik sy vroutjie was. En sy was seker, sy het geen kwade gevoelens vir die afgestorwene nie. Maar stofbelaaide, voos gebruikte bakke hou nie haar herinneringe vars nie. Inteendeel dit maak dit suur.
Naomi klap die kasdeur gefrustreerd toe en staar hom aan met absolute misnoeë. “Ek is heeltemal bewus daarvan dat dit jou en Bets se huis is. Maar Bets is dood en ek is lewend. Jy sal moet kies. Ek of Bets?” Naomi staar hom woedend aan. “Vandag moet jy besluit Werner Retief, want ek is op. Ek is my eie mens. Ek kan nie meer die ding doen nie.” en sonder om te wag vir ‘n antwoord stap sy die kombuis uit.
In die TV Kamer, waar hulle net ‘n uur terug nog saam gesit en fliek kyk het, kry sy haar handsak en karsleutels en stap by die sydeur uit.
“Naomi! Moet nie onredelik wees nie.” roep Werner agterna.
“Ek is nie onredelik nie,” gil sy terug en slaan die kardeur toe. Met ‘n vinnige beweging is die kar aangeskakel en in trurat. Teen die tyd wat Werner by die oprit kom is Naomi alreeds in die straat.
“Kom nou, Nooi.” roep hy uit. Maar Naomi is die keer ernstig, sy gaan nie weer terugstaan vir die spook nie.
By haar eie plek, nie so ruim soos Werner se vier slaapkamer huis met enorme kombuis nie, maak sy vir haar ‘n koppie koffie en gooi ‘n sopie whiskey in om haar senuwees te kalmeer. Sy dink nie sy is onredelik nie, stoom sy. Maar genoeg is genoeg. So kan dit nie aangaan nie.
Die man verstaan net nie dat sy ook haar eie behoeftes het nie. Sy is seker liewe Bets sou dit vir haar gegun het. Maar die man se obsessie met sy vrou kry haar onder. Sy het gehoop dat dit sou oorwaai na hul verlowing. Vandag se toets ‘n duidelike bewys dat hy nog vasklou aan die dooie. En sy wat Naomi is het nou genoeg gehad. Haar man is ook dood, en alhoewel sy baie lief was vir Piet het sy lankal sy goed weggegee, of verkoop. Maar nie Werner nie.
Dottie het ook gesê sy verstaan nie haar pa se houding nie. Net die anderdag het hulle twee gesels daaroor nadat sy haar hart bietjie skoongemaak het. Ansie het aangedring dat sy met hom moet praat maar sy het gewag vir die regte tyd. Wat net nooit kom nie, tot vandag toe.
Albei hul dogters het al met hom probeer praat maar hy is horende doof. Vanaf hul ontmoeting was sy geduldig met hom. Sy vrou is immers nog net twee jaar in die grond. Maar geduld het nie die gewenste uitwerking op hom gehad nie.
Haar foon vibreer binne haar handsak en sy weet sommer dadelik dat dit Werner moet wees en sug. Sy wil nie na sy redes luister nie. Genoeg is genoeg en sy druk die foon dood.
“Askies dat ek pla Tannie,” kom die WhatsApp boodskap minute later deur. Sy en Dottie het ‘n goeie verhouding en daarom antwoord sy haar, al weet sy waaroor dit sal gaan.
“Jy pla nie Dot, hoe gaan dit?” koop sy die tyd.
“Goed tannie. My pa het gebel.” Natuurlik het hy, dink sy agressief.
“Wat wil die man hê?” vra sy nietemin.
Nog ‘n boodskap kom deur, Ansie is nou ook afgevaardig, dink sy grimmig. Haar eie dogter.
“Is Mams okay?” vra Ansie.
“Ja my kind, maar ek is klaar. Ek kompeteer nie meer met ‘n spook nie.” skryf sy haar frustrasie uit.
“My pa vra groot omverskoning, maar vra vir meer tyd, tannie.” Skryf Dottie.
“Ek verstaan mamma.” Antwoord Ansie
“My geduld is op Dottie, jou pa klou vas aan die verlede terwyl ek wil aanbeweeg.” Antwoord sy haar amper-stief-dogter.
“Ek sal met my pa gesels. Tannie, moet asseblief nie opgee nie Tannie. Freek het gesê hy sal met pappa ook praat.” Nou is die hele familie betrek, dink Naomi. Kan die man nie sy eie goed uitwerk nie. Nou moet sy oudste seun ook betrek word. Die man is juis so besig. As dokter hou sy praktyk hom besig en om nou met sy pa te praat oor kaste is net nie reg nie. Maar miskien kry Freek iets reg. Maar sy wat Naomi is sal nie weer teruggaan voordat die man nie rede sien nie.
Vir lang minute staar sy na die eenvoudige verloofring aan haar vinger. Die simbool van hul gemeensaamheid en omgee. Op haar ouderdom het sy nie gedink sy sal weer iemand vind nie. Maar hoe baklei jy teen ‘n verlede wat net nie in die graf wil bly nie? wonder Naomi. Met ‘n moeë sug stap sy badkamer toe om ‘n welverdiende borrelbad te neem.
Naomi word wakker gemaak uit ‘n onrustige slaap drie dae later. Die afgelope paar dae het sy en Werner geen kommunikasie met mekaar gehad nie en sy het die verhouding onder die versoeklig gehad. Die dogters het bly gesels en vrae gevra wat sy geduldig probeer antwoord het. Maar die oomblik wat Werner gebel het of haar ‘n boodskap gestuur het, het sy dit geignoreer.
Die aanhoudende geskreeu van die klokkie dring uiteindelik deur haar slaapbenewelde brein deur en al strompelende stap sy na die interkom toe en antwoord dit.
“Naomi, maak oop asseblief.” Hoor sy Werner se bekommerde stem. Sonder om te antwoord druk sy die knoppie. Vroeër of later moet hulle gesels, dit weet sy. Maar sy sou rerig eers ‘n koppie koffie wou gehad het. Vinnig maak sy seker sy is darem respektabel toe sy die kloppie teen haar voordeur hoor en die deur oopmaak.
Verleë staan Werner Retief daar. Moegheid is duidelik op sy gesig te bespeur maar is andersins skoongeskeer en netjies aangetrek.
“Hoekom is jy hier, Werner?” vra sy en staan die deur vol. Lus vir nonsies is sy nie.
“Ek wil jou nooi vir ontbyt daar by ons huis Naomi. As jy wil natuurlik.” Sy stem vol afwagting. Ligblou oë staar haar aan en sy kan nie anders as om op sy te staan nie. Versigtig stap hy in terwyl sy wonder oor die uitnodiging. Hy kon mos gebel het.
Hy kug verleë en kyk haar dan waterpas aan. “Ek het verlang en wil hê jy moet by my kom kuier, asseblief Nooi. Dan kan ons ‘n bietjie gesels ook.” En hy glimlag skalks. Sekondes tik verby terwyl sy self besin oor haar eie gedrag. Die woordjie ‘ons’ slaan in haar kop vas. “Gee my ‘n paar minute om myself net skaflik te maak.”
“Gebruik al die tyd wat jy nodig het, ek sal solank die koffiewater aansit.”
Met die intrapslag in die kombuis lyk als vreemd. Naomi verkyk haar aan die onbekende plek. Nuwe gordyntjies wapper in die ligte briesie en sy kyk na Werner. Sy kan sweer hy bloos maar staan trots langs haar. Ans en Dot kom te voorskyn en groet haar joviaal.
“Wat dink jy?” vra Werner met ‘n kuggie. Kasdeure word oopgemaak en die binnekant word met trots vertoon. Geen bakke insig nie, als is presies soos wat sy dit sou wou gedoen het. Sy kyk weer na die meisies en weet hulle moes ‘n hand daaraan gehad het en glimlag wyd vir hulle.
“Dit is absoluut fantasties.” Antwoord sy en gee Werner ‘n druk en klapsoen.
“Jammer, Nooi,” fluister hy, “die kinders het my behoorlik voor stok gekry en gehelp.”
“Dit is baie mooi, dankie Werner.” Bokant die stoof hang daar ‘n bordjie, handgeverf met die woorde, Naomi se Kombuis en glimlag na al die omstanders. Vir die eerste keer voel sy welkom, hier is nou ‘n plek wat sy haar eie kan noem!
©KopieregLynelleClark2019




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 61
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 110 gaste aanlyn

Bydrae Totale