Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Skaduwees van gister

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 8 Julie 2019 Aantal woorde: 610 96 Kere gelees 2

Hoeveel keer moet ‘n mens wegkruip?
Hoeveel keer jou kop laat sak in skaamte, die skouers optrek in ‘n radelose weet-nie gebaar?
Hoeveel keer gaan die skaduwees jou rond jaag en in ‘n hoek vaskeer?
Ons verlede gooi skaduwees maak nie saak die oorwinnings of deurbrake wat ons beleef nie. Dit is hierdie skaduwees wat ons op en wakker hou. Dit veroorsaak dat ons aan die hare opgetrek word en weer probeer. Daardie, totdat waarvan die Bybel praat… ‘n toekomsblik waar die skaduwees en die hede verstrengel sal raak en ons sal seëvier. Die gisters gooi lang skaduwees oor ons dag, die invloed so groot dat ons dit eerder vermy. Dit jaag ons rond, soms in angs en benoudheid.
Skaduwees van ‘nie goed genoeg nie’. Van loop in donkerte, van honger mae, van kinders afsien omdat jy nie meer vir hulle kan sorg nie. Dit put jou uit, daardie heeltyd se wegkruip. Die vrees om ‘n foon te antwoord. Want, maak nie saak wat jy doen om dit te omseil nie dit haal jou weer in. Hulle kry weer jou nommer. Al wat hulle ken is nommers. Nommers wat jou slapelose nagte gee. Syfers wat jou dryf tot raserny. Naderhand is jy net ‘n nommer. Die menslike element verlore agter burokrasie en “red tape”. Ongeag die probeer en leë beloftes kom dit weer soos ‘n kat terug. Dit vind altyd jou adres.
“Die kat kom weer want hy wil nie langer wag, die kat kom weer net die volgende dag. Die kat kom weer, glo vir my dis waar, die anderdag more was die kat weer daar” – Jan Wilson had ‘n kat!
Wanneer dit jou vir die eerste keer gevind het, dink jy, jy kan net die deur toemaak en hy sal verdwyn. Maar hy bly opdaag, elke keer wanneer jy op jou swakste is. Voos geslaan en moeg van worstel, dan staan hy by die deur. Met geen oplossing om voort te gaan nie, is hy daar. ‘n Getroue waghond met ‘n lewe van sy eie wat jou sonder asem laat. Leeg soos ‘n dop. Sy kloue monsteragtig weet hy presies waar om jou te haak en mee te sleur.
Vandag nog jaag die skadus my rond. Maak nie saak hoe hard ek werk of hoeveel ure ek insit nie. Dit koggel my aanhoudend, die donkerte net anderkant die flikkerende lig. Dit bly wink, dit bly herinner aan daardie dae wat warm water skaars was. Aan die koudste dae met geen hitte. Die ure op die knieë rondkruip om die gras respektabel te hou. Die vrees vir winkels.
Glo dit of nie: maar winkels kan ook skaduwees gooi. Hul ware so uitgestal laat jou vreesbevange en vasgedruk en wil jy net weg hardloop. Die vrees vir keuses. Dit oorweldig jou en laat jou wees. Jy vermy dit heeltemal. Die informasie en bombardering te veel om te hanteer. Wat kan ek doen dat hy my adres verloor?
Afgesonderd, eenkant, weggesteek hou hy my in ‘n donker kokon. My toekoms verskans agter skadumure. Op die oog af lyk als goed. Vasgevang in sy grepe dwaal ek soos ‘n blinde op my eie Damaskus pad. Waar iemand my daagliks rondlei. Wat besluite neem namens my. Wanneer ek eet, wat ek eet. Waarheen om te gaan. Vasgevang op een plek. Totdat die skille afval en ek weer kan sien.
Wanneer sal die Lig my lei na Reguitstraat?
Die enigste manier om daar te kom is op my knieë. Dit is my enigste behoud. Om sodoende die skaduwees van gister altyd in die verlede te los. Daar waar ek weer duidelik kan sien en die skadus van gister vir altyd hul houvas verloor.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 55
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 41 gaste aanlyn

Bydrae Totale