Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SIGBARES IN DIE LETTERKUNDE

Deur Toom
Datum gepubliseer: 12 Maart 2019 Aantal woorde: 1553 100 Kere gelees 1

SIGBARES IN DIE LETTERKUNDE

[Hersiene weergawe]

Hier gaan dit om die skrif- of drukbeeld wat ‘n skrywer gebruik om sy lesers ‘n beter (interessanter?) idee te gee van wat hy wil sê, wat hy wil betoon, wat hy eintlik meen. Ás ek dit reg verstaan het uit die artikel (studie) van wyle Prof. T. T. Cloete (1924 – 2015), Visuele momente in die literatuur, wat INKMODERATOR op www.litterm.co.za vir ons gevind het en in ‘n gorrelstuk aangemoedig het om dit ook te lees.

ΞΞΞ

Alternatiewe feite. Wat is dit? Dis mos ‘n kielierige politiese begrip wat kan seermaak of mense in hoonlagsarsies laat uitbars. Versigtig, versigtig! Maar daar ís soiets. Heeltemal neutraal en nie onvriendelik nie. Dit betekern NIE ‘n vyandige houding teenoor die voorredenaar nie, maar slegs ‘n ander sigwyse op dieselfde teenstand: Van hieraf sien ek ‘n groen verkeerslig, jy, uit jou blikwinkel, ‘n rooie. Ons altwee erken ‘n padkruising. Wat ek nou te sê het, is nie as oorlogsverklaring aan te sien nie, eerder as slegs en alleenlik my eie mening wat onder omstandighede prof. Cloete s’n modifiseer — of dalk aanvul.

ΞΞΞ

Prof.Cloete gaan daarvan uit dat ons geletterd, literaat is, dat ons kan lees en skryf, dat ons waarskynlik goed en graag lees en skryf. Hy meen dat ons by tye ons geskrewe gedagtes en woorde mondeling wil voordra, en dat so ‘n voordrag nie alles kan weergee wat op papier geskryf staan nie. Sy insig is teenoor my insig, nie ongeldig nie, maar strydig.

Ék beweer mynersyds dat ons ons gedagtes en gevoelens wil uitspreek, dat ons geestige inhoude het wat ons wil uiter, dat by ons iets innerlik borrel wat wil uit. Ek gaan daarvan uit dat, of ons geletterd is oftenot, ons iets wil meedeel: Of ons ‘n baba is wat te kenne gee dat hy honger is en of ons ‘n seniele ou grys is wat beterweterig die jonges wil beleer. En alles wat daartussen lê.

Die kleinste babas leer langsamerhand om al hoe duideliker hulle bedurfnisse te uit. Die kaalvoetste oerwoudbewoners kom in die stede en leer, heel dikwels in kortste tyd, om die taal en gewoontes van hul brood- en werkgewers te ken en gebruik. En dit sonder boek, sonder om literaat te wees. Díe kar se wiele staan op die grond en die kar rol vorentoe.

Ék beweer dat die skriftekens daar is om die uitgesproke en nie-uitgesproke gedagtes, gevoelens en oorwegings vas te hou om anderdag weer uit te haal as dit nodig mag wees. En daarvoor het ek verskillende skriftekens en sondertekens nodig om moontlike onduidelikhede by my leser uit die weg te ruim, wat ek, wanneer ek praat, met betoning van woorde en woorddele, gesigsuitdruk, lyftaal en ander „nie-spraaklike” seine of tekens onophoudelik ondersteunend weergee. Op die webplatforms WOES en INK het ek reeds in ‘n ry „Taaltirades”(* hieroor gepraat – oeps: geskryf. (Dis vir my, soos ons sien, belangrik dat hierdie perd vóór hierdie kar gespan word.)

ΞΞΞ

Ja, maar: Ek, ek, ek!

Is dit ‘n geldige, wetenskaplike basis vir ‘n taalteorie? Wetenskaplik miskien nie. Maar onthou, daar is agt-miljaard mense tans op die aarde (minstens). Die meeste kan nie lees of skryf nie, die allerminste kan Engels praat of eers skryf. Maar hulle kan lag en sing en dans – en baklei. Hulle komponeer – gedigte, liedere, danse – hulle bespreek ondermekaar dít waaroor hulle nagesin het, hulle deel hulle vrees en verwondering en aansigte aan andere mee en neem die mededelings van andere op. Hulle vertel vir ‘n gespande gehoor verhale. Dis hul mededelings, dis hul kultuur. Maar hulle is nie literaat nie. Dus geen literatuur nie. Dan kom die seun van die hoofman terug na sy studeertyd op Berkeley, of Liverpool of Sydney (of Bremen of waarokal) en skryf dit in Engels op (Soos bekend, sonder leessondertekens). Wat het die leser daarvan? „Komiese gebruike in ander wêrelddele, nè?” Die musikaliteit, die lewenslus, die vrees, die treur . . . Dis alles nie daaruit te lees nie.

ΞΞΞ

Nogmaals ek-ek-ek:

° Is die gevoel bekend? Wa’sêjy? Hnnh? Sê dit nogeens. Hoe spel jy dit? Ek verstaan niks nie. Daar’s teveel gedruis. . .” Dit ontspreek op ‘n manier die onvermoë van ‘n leser by ‘n „moeilike” teks, waarby hy nie die nuánces kan opvang nie.

° Ek moet so skryf dat die ontvanger dit verstaan, of liewer begryp. So ook as ek praat. Ek moet die regte woorde en konstruksies kies en ek moet dit reg betoon, bv:

Andries is ‘n swemstér, nie swémster nie, Beth is ‘n swémster én swemstér, Chrissie is ‘n swémster maar nie ‘n swemstér nie. (A, B en C is origins almal ook swemmers!)

° Vergelyk: Jul onderwyser se inspekteur is dom. met

Jul onderwyser,” sê inspekteur, „is dom!”

° Die deeltekens is by voorbeeld daar om aan te dui dat die klank van ‘n woord — ‘n geskrewe woord — verander word ofskoon die spelreëls dit anders voorskryf: Laag, laer (nie nodig nie); maar hoog? A, nee-a! Ek herhaal: My kleindogter sal in ‘n meisieshoërskool iets vir die lewe leer. Nêrens anders nie.

ΞΞΞ

Die digkuns gee die taal in verdigte vorm weer. Die diepste wortels stam eerder uit die musiek as uit die taal, die musiek wat uit sigself ‘n vorm van aanbeting was – en is. Die mooi klanke, byvoorbeeld die môregesang van voëls, kon saamgepraat of -gesing word: „Ons dank U Heer vir hierdie wonderlike dag.” Uit hierdie liriese oorsprong stam die digkuns. Aan voornemende digters word vandag nog altyd die raad gegee om hulle pogings hardop voor te lees: As dit göed klink en laat opsê, as dit glad oor die tong loop, dan kán dit goed wees. Nie as dit jou tong laat struikel nie.

En juis daar set ek aan: Om daai liriese wat ek wil uitspreek op papier te bring, het ek méér as die ses-en-twintig letters van die romeinse alfabet nodig, aldus die sondertekens daartoe. Dan het ek die reëls / strofes nodig om die leser te help om met daai swart kritsels op die papier klaar te kom. Ek het iets nodig om betoning, hoë en diep stem, hardop en sagkens aan te dui: Die musikaliteit. En veel meer.

ΞΞΞ

My eie, persoonlike benadering aan die tema Skrifbeeld kom oor die medium drukpers. Ek het gesien hoe koerante verskillend-groot hooftrekke het, hoe die inleidingsparagraaf kursief gedruk word, hoe die illustrasies in tydskrifte geplaas word, hoe in die reklame verskeie fonts (druksoorte) aangewend word om ‘n besondere luim of gevoel by die leser (vermeentlike koper) te wek. Daaruit het ek begin om ‘n eie stelsel op te bou in die gebruik van letters en ander skriftekens, sondertekens, drukgrote, onderskeidelike fonts, plasing en spasiëring op die bladsy. . . Alles om dít oor te bring wat in my gemoed borrel. Dit alles, wat ek anders met die hulp van wenkbroue en mondwinkel, hand­bewegings, skouer-, heup- en kniebewegings, asem- en ander ritmiese bewegings en die modulasie van my stem sou wil oorbring.

Ek moet beken dat die meeste daarvan heeltemal onbewus afloop as ek praat. Maar as ek dit skrýf moet dit vir my volkome bewus wees:

Pieter,” sê sy ,„kom jy nou eet?” lyk en klink anders as:

Pie-tér!” se sy, „KÓM jy nou eet?”

Mens kan mos die dondergebrom in haar stem hoor, nè? En daardie „eindelik” wat saamklink ofskoon dit glad nie uitgespreek is nie? „of sal ek jou kom haal?

° Skuinsdruk / kursiv gebruik ek om iets te sê waar ek wil hê dat jy moet oplet: by

voorbeeld, die sleutelwoorde van ‘n tema, woorde in vreemde tale;

° Ek onderstreep boek-, gedig- of artikeltitels;

° Vetdruk gebruik ek wanneer iets of iemand hardop skree, of vir die titel en subtitels en die afsnitinleidings van my eie werkstuk;

° Die gekleurde letters en syfers is meestal om afdelings aan te dui, of vir die vignettes tussen die afdelings;

°

Ook ék vind dit

snaaks / mooi om die

teksliggaam so saam te

neem dat ‘n vorm soos

‘n blompot daaruit

kan ontstaan.

° Maar die spelery met die verskillende druksoorte fassineer my die meeste:

In my verhaal kom voorbeeldwyse ‘n plaashek voor:

|  PASOP  |

| VIR DIE |

|   BUL!    |

Of dominee skryf aan ‘n gemeentelidmaat:

Seer geëerde mevrou Dippenaar, liewe Tante Kobie,

‘n Koerantoorskrif:

Tuijnhuijs-Diefstal

Bende slaan in die nag toe

Verskeie drukgroottes en -soorte word tussen die vertelteks ingestrooi.

ΞΞΞ

Uit eie ervaring het ek geleer dat die hoor- en sigbare tekens wat ek ontvang heel dikwels belangriker is as wat gesê word. En dit kán nie op papier oorgeplaas word nie sonder om ‘n nuwe sin te bou waarin dit ekstra opgeteken word.

Dis nou uit die sig van ‘n beterweterige ou gr. . . (weetmos) wat alweer besig is om te pedagogiseer. Dis NÍE die allenige saligmakende waarheid nie, maar ek meen, dit behoort óók in betrag geneem te word.

ΞΞΞ

(* NASLAAN-ARTIKELS en -RUBRIEKE deur Toom op INK.org.za

ARTIKELS:

Leestekens: Mei 2017

Tekstuele Rewolusie; Mei 2017 (‘n Pleidooi met ‘n verwysing na Susan Grobler se gelyknamige uiteensetting oor die hedendaagse stand van die dinge.)

WIE skryf WAT, HOE maar veral HOEKOM?

RUBRIEKE: (Kategorieë) (Die meeste in 2017)

– Musiek en musikaliteit

– Skryf soos jy praat en praat soos. . ?

– Verskillenders, Snaakses: Aapstert

– Verskillendes, Snaakses: Swemster

– Woorde: Simbool of Sinjaal

– Verkeerde Woorde

©1e.Februarie2019_____…ooÖoo…___________________tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 188
    Kommentaar telling: 183

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 2,808 gaste aanlyn

    Bydrae Totale