Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Sif van herinnering

Deur Gerda-Marié
Datum gepubliseer: 29 April 2019 Aantal woorde: 354 240 Kere gelees 3

Ek sien jou gesig, maar ek het jou naam vergeet. Ek ervaar wel ‘n emosie en daarvolgens weet ek hoe ons laaste ontmoeting was ( dalk was dit ons enigste een, my kop hou nie telling nie).

Uit ‘n paar foto’s probeer ek die verlede by mekaar trek, die leë gapings wat vir ewig verlore is, vul. In die prentjies sien ek my ewebeeld. Ek lag meestal daarop. Ek herinner myself aan enkele oomblikke uit vrees dat dit vir ewig verlore kan raak. Maar die hooftemas bly soos groot knoetse op die sif agter. My lyfbeeld, dit was altyd te groot, maar in foto’s merk ek tog ‘n glimlag wat maak dat oogkreukels langsaan my kykers verskyn – en ek weet ek was vir daardie oomblik werklik gelukkig, al ontbreek die detail my.

Ek herinner myself aan die oggend wat ek my lewe so byna vir Budda geoffer het, hoe ‘n vriendin my in gebed opgedra het en ek daardie aand my opnuut aan my Skepper gewy het omdat ek vas glo daar geen ander God is nie. Hy het hom dan immers keer op keer deur wonderwerke en stemme aan my openbaar.

Ek herroep die beeld van die rebel wat teen die kas in die Kovsie Hoofgebou gesit het en die aanloklikheid van die man met die motorfietshelmet se gesig. Ek ervaar dan opnuut die brandgevoel in my linkerringvinger – my antwoord dat hy my trouman is. Die geboortestories van my twee kinders, spruit uit suiwer genade. En dan is daar die een herinnering, wat ek soos ‘n luis aan my ouditiewe geheue bly klou. Daardie oproep. “Ja Mevrou, jou toetse dui aan dat jy MS het.” Oor die foon.

Eendag sal ek sterf met verborge herinneringe. ‘n Hardeskyf wat geformateer is. My naam sal soos sand van ‘n gladde oppervlak afgeblaas word. My spore het alreeds vervaag by my vorige adresse en dalk selfs in die geheue van my vorige kennisse. Ons lewe blyk ‘n oogwink te wees, en as jy gelukkig is, sal jy jou in jou lapppieskombers van herinneringe kan toevou voordat die laaste sand deur die uurglas loop.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Kiekies

    30 April 2019

    …en dan…. dan kom ewigheid!!! En iewers in iemand ( baie mense) se geheue en harte, sal jy voortleef.

  2. Ano

    11 Mei 2019

    Stem saam met Kiekies, die herinneringe leef voort. En moet nie die voetspore wat jy agterlaat ooit miskyk nie. Jammer oor die diagnose <3

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 12
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 73 gaste aanlyn

Bydrae Totale