Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SÊ MY

Deur GhwarriegatQueen
Datum gepubliseer: 24 Mei 2019 Aantal woorde: 892 91 Kere gelees 2

SÊ MY…

Gewoonlik is my Sielsambok nie op haar ink geval nie en Graffiti haar ontembare passie teen die mure van Hemel; of Hel. Maar…. Maar vandag skram haar ink weg van die son se helder warmte buite; bondel in ‘n hoek – nes ‘n kakkerlak wat skuiling soek teen die blik Doom se dood!
Terwyl als binne-in my skeur – sommer net skeur en soos Skipskop-stukkies orals rondlê…. Regverdig?!
My goeie bliksem! Ek wil tot heel bo, op die top van die hoogste berg klim, en met my als skreeu: Hoe kan ‘n kind – een wat deel was van die eb en vloed van jou lyf en jou hart – sommer net deur daai doodsengel kom haal word? Dis wreed! Dit Houtspyker dwarsdeur jou siel – hammer-spyker. Hammer… Spyker; dis onmenslik om ‘n boom af te kap wat nog nie die kans gehad het om bloeisels te maak nie. Dis, God alleen weet, dis…. Maar…
Maar aan die ander kant – ‘n kind word nie gebore met ‘n vervaldatum-etiket om sy toon nie. Daai troetelbondeltjie kom nie met ‘n lewenslange (of selfs ‘n tien jaar) waarborg nie. ‘n Kind word net aan jou geleen – net vir ‘n tyd, ‘n halwe tyd; en per dalks nog ‘n halwe skeutjie se tyd.
Tog; die pyn – die kats-strieme los bloedrou wonde in jou wees. Monotone vrae vat jou bo van jou voete af klap.
Selfverwyt wat jou gulsig insluk, fynkou. Dan sommer net iewers gaan uitspoeg. Insluk. Fynkou. Uitspoeg…. Ja, per dalks was die mense tog reg – dis beter dat my kinders dood is, met ‘n ma soos jy: ‘n x-hoer, ‘n x-satanis; ‘n x-blêrrie als!
Soos die predikant se pruilmond analise van jou hartseer. Sien, die Here gee nie vir iemand ‘n Mercedes wat nie eers vertrou kan word met ‘n donkiekar nie! Overgesedsynde – ek is nie die naam ma werd nie….. Ek is seker nie; ek moes beter voorsorg getref het. Ek; ek moes harder probeer het dat hulle Wesley, dat ek…. EK MOES…. Maar Here, ek kon nie… Dis….
Uhm; en iewers reg in die middel van die gatkant van ‘n Sondagaand, staan jy voor ‘n keuse: Gaan jy toelaat dat al hierdie hulpelose vrae en redelose verwyte jou laat opeindig in een van daai wit baadjies wat lyk asof jy jouself ‘n drukkie gee, wat met sulke oulike bandjies agter jou rug vasgebind word; of… Of gaan jy die hero wees wat jou kinders altyd geglo het jy is.
En terwyl die winter-sonflenters warrelwind tot hier op die wit papier en my Sielsabok donker skadu’s maak bo-op die wit; toe kom die antwoord. Soos dit maar altyd kom – hier waar ek nou binne-in my wise-ass hart staan en kyk na die kiekies van my kinders wat hang teen die muur van my lyf se doef-doef.
Een.
Twee.
Drie.
Vier.
Ek mis my vier wakker-rakkers. Elke dag. Verskriklik-baie…. Laya met haar blouerste blou-oë en haar bruin krullebol – diepbruin, soos geil grond. Die dogtertjie (my dogtertjie) wat gebore is tydens daai waglike Satynlaken-dae; en wat ek na my bekering net vir vyf dae gesien het. ‘n Hele vyf dae wat ek kon ma-wees, dankie Here. En die dogtertjie wat kersnag in my arms dood is. Kersnag, met Stille Nag wat in die agtergrond speel. Dis waarom ek nie van Kersfees hou nie, omdat al wat ek soms kan onthou, is net…. Net hoe die paramedici gesukkel het om haar armpies om my nek los te kry; so asof sy my nie wou laat gaan nie! Dit; en die girts van die grys bodybag (skuus, die Afrikaans het my vir ‘n oomblik helemal verlaat) wat toegerits word. Laya, my feetjiekind.
My Monja – my meisiekind wat so lief was vir skryf, en dans – met haar hart altyd op haar mou; wat selfmoord gepleeg het omdat…… omdat en oordat; maak seker tog nie regtig saak nie, jy het haar nie geken nie.
Wesley; my klein hartebrekertjie met sy dimpel-glimlag. Wat so onsettend wreed vermoor is deur mense wat…. Ek wou keer – God weet ek wou, maar ek.. ek kon eers nie! My seunskind-mens met sy ondeunde glimlag en liefde vir roomys.
En my en Righ se klein wonderwerkie – Saron; wat binne-in my lyf doodgemaak is met ‘n Saline aborsie deur besorgde heiliges; want hulle kan tog nie die kind van die anti-chris (dis nou ekke) die wêreld laat inkom nie.
Hoe ookal. Ek is nie regtig ‘n hero nie (ek doen nie die masker-ding nie, en ‘n mantel doen dit nou weer nie vir my nie); ek is maar net ‘n ma. ‘n Ma wat elke keer as ek daai gesiggies sien, daai ogies wat Liewe Jesus binne-in my ingekleur het – elke liewe keer as my hart onthou…. Opstaan en die donker van verlies in sy maai stuur. En hulle kan maar daai oulike, wit baadjie gaan verbrand, want ek was my vier wakker-rakkers se hero EN my asemhaal sal ‘n lewende herinnering aan hulle wees.
Weet nie; ek dink dis maar wat hero-ma’s doen. Hulle het binne-in my lyf gegroei – en nou hang hulle fotos teen die muur van my hart. Hulle is nie rêrig weg nie; my asemhaling is steeds deel van daai lyfies wat nou op ‘n ander Plek kattekwaad aanvang.
Maar….
Maar per dalks weet jy, Bokkie my babie… Sê my; hoe word ‘n ma so bitter alleen?
© Liza Daniells




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 58
Kommentaar telling: 19

Vergun my net so n skeutjie se agtergrond; seblief - Ek sal dit kort hou. Ek was vir 26 jaar (van ouderdom 8 jaar) vasgevang in prostitusie, delms, satanisme; ens. Ek sal jou nie opsaal met die detail nie. Ek is nou al 21 jaar deur God se genade vrygemaak van daai boeie van die verlede; maar ek ervaar steeds baie vervolging en verwerping van kerk en Establishment. En - verloor om n laaang storie kort te maak, ek het net mooi ALS - letterlik en figuurlik verloor. Hoeveel maal in die winter moes ek fisies op straat slaap; enne is nou een keer gegangrape......nou sit ek met serviks kanker. Maar dis nie die punt nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek wil nie chemo of n hospitaalbed he nie. Ek wil weer die seesand onder my voete voel; die see sien. Ek is onherroeplik mal vir die see; vir mooi, ou Kaapland. Ek wil waag om te glo in die gebeur van n wonderwerk. Weer geluk vind; liefde. Ek wil LEWE!!!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 101 gaste aanlyn

Bydrae Totale