Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Saphira en die Getoorde Skêre

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 15 Oktober 2016 Aantal woorde: 1799 685 Kere gelees 6

Saphira loop deur die woelige kasteelmuur. Die grond is goed platgetrap en geen gras kan meer daar gesien word nie. Net die klippaadjie wat van die kasteel na die biblioteek lei breek die bruin eentonigheid. Houtstalle is opgerig vir die perde wat saam met die krygers ingetrek het. Saphira kan die soet strooi ruik. Net die amper vrot reuk wat onder die tente uitkom waar leer gemaak word laat die Feetjie Hond haar neus optrek en vinniger loop.

Sy’s steeds verbaas hoe alles verander het na Eolande se troue. Nie net is daar meer Feë in die kasteel nie, maar daar is mense wat dolgelukkig saam met hulle woon. Dis in strak kontras met die handvol huiskabouters wat saam met haar en haar beskermling vroeër gewoon het.

Selfs Eolande het verander. Nie dat Saphira kla nie. Haar beskermling is soveel gelukkiger met Angus en al die chaos in haar lewe.

Kasteel Campbell, soos die kasteel in die berg nou genoem word, bars uit sy nate met lewe. Saphira kan haarself verbeel dat hulle soos enige ander kasteel in die berglande van Skotland is. Hulle het selfs kleinvee wat op die heide wei onder toesig van Feë.

Saphira staan op die muur wat oor die poort gaan. Van hier hoef sy nie als te ruik wat in die kasteelmuur aangaan nie, maar sy kan als nog dophou. Dis vreeslik interessant.

Sy weet dat in ‘n normale kasteel daar nie plek in die kasteelmuur sou wees vir so baie tuine, stalle, werkplekke en selfs ‘n gevegsplein nie. Maar dan, dis nie ‘n gewone groep wat hier woon nie. En hulle pas almal binne die kasteel wat sommer nuwe kamers vorm soos nodig.

Die groentetuin het vreeslik gegroei sedert daar soveel meer mae is om te voed. Gelukkig het die pixies die vrugteboord onder hande geneem. Die bome lyk sommer net gesonder onder hul sorg. Alhoewel sekere kabouters beter is met plante, het hierdie pixies vernuf. Dit gaan nie meer lank wees nie, dan’s al die bome toe onder die bloeisels.

In die groot groentetuin werk mens en Feë saam om voedsel uit die grond en op die tafel te kry. Dit verbaas Saphira steeds om almal so in harmonie te sien. Selfs in die vrugteboord waar die pixies woon.

Al wat haar vandag bekommerd het is die baie messe wat sy gewaar. Dis asof almal hulself gewapen het. Dit word skerp gemaak op leer bande wat op die Feetjie Hond se senuwees werk.

Sy weet dis omdat dit snoeiseisoen is. Al die bome moet ‘n bietjie aandag kry sodat hulle beter vrug sal dra. Van die kruie maak ook boompies wat bygedam moet word.

Dan is daar die skape wat geskeer moet word. Saphira hoop net dat daar nie ‘n ongeluk of twee gaan wees nie. Sy gee nie om om skaap vir aandete te hê nie, maar sy stel nie daarin belang om mens of Feë bredie te nuttig nie.

‘Is daar nie ‘n makliker manier nie?’ vra Eolande terwyl hulle kyk hoe moeisaam almal werk met messe wat na alles nie eintlik bedoel is vir die doel nie. ‘Net vanoggend het Maudé haar vingers oopgesny met ‘n mes toe sy garing wou sny.’ Sy skud haar kop moedeloos.

‘Daar is,’ sê ‘n pixie wat op die muur geland het. Die duimgrootte Feetjie pof sy bors belangrik uit. Saphira hoop net nie sy blou broek, wat gemaak is van linte wat aanmekaar vasgewerk is, val af nie. ‘Een van die mense het twee messe aanmekaar vasgemaak en ‘n ander pixie het toorkrag gebruik om dit te laat werk. Kyk,’ hy wys na die vrugteboord waar almal verbaas staar na die twee messe wat saamwerk. ‘Ons wil dit ‘n skêr noem. Dis so lekker om te sê. Skêr. Skêr. Skêr.’

<Genoeg!> bulder Saphira.

Die pixie vlieg verontwaardig weg.

‘Dit lyk of dit makliker gaan. Oe! Hulle begin nou hierdie skêr,’ Eolande proe die woord op haar tong, ‘orals te gebruik.’

Saphira sê niks. Sy’t ‘n voorgevoel dat dinge skeef gaan uitloop.

 

Sy was reg, natuurlik. Dit het nie lank gevat vir almal om te vra of dinge nie nog makliker gemaak kan word nie. Asof alles van haresny tot die snoeiery nie klaar vinniger is nie.

Al die skêre word op die grond in ‘n ry gesit. ‘n Pixie met ‘n groen lint rok aan, sprei haar hande uit oor die haarsnyskêre. Sy sê ‘n towerspreuk en al die haarsnyskêre vlieg in die lug op. Dadelik gaan hierdie getoorde skêre en sny hare. Almal klap hande. Die pixie buig teatraal en toor die snoeiskêre, skaapskeerskêre en al die ander skêre wat hulle uitgedink het. Dié skêre vlieg ook weg om hulle takies te verrig.

Al die inwoners van Kasteel Campbell gaan hul gewone gang, nie veel gepla oor die skêre wat tussen hulle vlieg nie. Vir Saphira lyk dit asof die skêre die wêreld vol vlieg en aan alles knip. Dit pla haar geweldig dat niemand – nie eens sy – genoeg verstand gehad het om te keer dat iets so gevaarlik lewe gegee is nie.

Eers het dit goed gegaan en almal was gelukkig. Maar toe almal ‘n haarsny – of twee – kry wat hulle nooit wou hê nie en skape rondhardloop met patrone in hul wol gesny, tóé besluit almal eers genoeg is genoeg.

Almal gaan kla by die pixie wat die skêre getoor het. Sy probeer hulle paai, maar al wat hulle wil hê is dat die skêre na normaal terugkeer. Met ‘n oordadige sug, lig sy haar hande en sê ‘n nuwe towerspreuk.

Niks gebeur nie.

Sy probeer toe ‘n towerspreuk op een skêr. Maar dit werk ook nie. Die ander Feë daar probeer ook om die skêre te stop. Maar die getoorde skêre het ‘n lewe van hul eie gekry.

Algehele chaos breek los.

‘Kan jy nie iets hieroor doen nie, Saphira?’ vra Eolande pleitend.

Mense en Feë hardloop weg van skêre wat hul hare wil sny. As die bome en bosse kon, het hulle ook gevlug voordat hulle in diervorms gesnoei is. Die skape het al lankal die berge in gevlug.

Saphira grom en loop weg.

 

Saphira loop doelgerig af op ‘n klomp skêre wat die kasteelhonde aanval. Dadelik ruk sy die getoorde skêre weg van die honde. Terwyl hulle wriemel in haar magiese greep, ruk sy die toorkrag uit wat hul lewe gee. Sy vat nie al die toorkrag weg nie: sy hou nogal van hierdie uitvindsel.

Mense en Feë hardloop skreeuend rond met hande oor hul koppe terwyl skêre hulle jaag.

Sy ignoreer hulle. Die skape wat veronderstel is om geskeer te word en dan rustig weer op die heide te wei, het as een by die poort uitgehardloop toe die inwoners van die kasteel ingegee het aan histerie. Sy gluur vir die getoorde skêre wat by die poort probeer uitvlieg en hulle val skadeloos op die grond.

‘Help!’ gil ‘n kryger terwyl hy agteruit hardloop en met sy swaard teen ‘n vasberade skêr veg wat sy hare wil beetkry.

Saphira ignoreer hom; hy kan homself nog beskerm. Sy laat elke skêr wat plante beetkry magteloos grond toe val soos sy verby hulle loop. Van die immergroen bome en bosse is kaal gestroop van hul takke en blare behalwe vir ‘n klossie heel bo. Meeste is gesnoei om die vorm van verskeie diere uit te beeld. Die Feetjie Hond weet nie watter lot is die ergste nie.

Die laaste van die bome is in die vrugteboord. Pixies veg met die getoorde skêre op elke manier wat hulle kan uitdink om hul bome te beskerm.

Van hulle gebruik hul bietjie toorkrag om die bome beskut te hou. Ander veg die getoorde skêre met takkies – wat vinnig korter word – en selfs messe.

Saphira rol haar oë. Al wat in die pixies se guns tel is dat die bome ongeskaad is. Anders het sy hulle gelos om met die skêre te veg. Sy knip haar oë en die skêre val skadeloos op die grond.

Sy draai weg en loop kasteel toe. Sy weet daar’s vlieënde skêre daarbinne wat raksies maak. Sy ignoreer die mense en Feë wat deur haarsnyskêre getreiter word. Sy loop die kasteel binne en stop die getoorde skêre wat tapisserië aanval – sy maak sommer die skade ook reg.

Toe sy seker is dat al die skêre – behalwe dié wat gretig hare wil sny – ongetoor is, loop sy deur die kasteel en maak die laaste getoorde skêre skadeloos terwyl sy mense en Feë geselskapsaal toe stuur.

Ongeneë om hul straf tot ‘n einde te bring, sug sy hard en maak al die getoorde skêre, wat so wild agter almal aanvlieg in die kasteelmuur, skadeloos.

<Toe, geselskapsaal toe met julle almal!> bulder sy en kyk met genot hoe hulle weghardloop.

 

Nadat al die skêre hul animasie-toorkrag kwyt is, blaas Saphira haar asem hard uit en hulle almal land netjies in ‘n ry in die kasteelmuur.

Sy loop deur die poort die berge in. Iemánd moet die skape gaan red voordat hulle in die donkerte by ‘n krans affoeter.

Dit het haar nie lank gevat om al die verskrikte skape en perde terug in die kasteelmuur in hul stalle te kry nie. Die perde het eintlik heel rustig langs Loch Ness gewei. Saphira is net bly die monster wat daarin woon het hulle nie geëet nie.

Soos sy loop na die geselskapsaal, gebruik sy haar toorkrag om die arme verrineweerde bome en bosse hulle waardigheid terug te gee. Nuwe takke en blare spruit volgroeid terug.

In die geselskapsaal is al die Feë en mense wat gedink het hulle is so slim. Hulle het almal nuwe haarstyle en meeste het ook wonde soos hulle die skêre probeer afveg het.

Saphira voel geen simpatie nie. Onnoselheid moet pynlik wees.

<Ek is bly julle almal kom so goed oor die weg,> sê Saphira vir al die inwoners van Kasteel Campbell waar hulle bymekaar in die geselskapsaal is. <Maar julle moet jul luiheid laat staan. Dis een ding om iets soos ‘n skêr te skep. Dis iets heel anders – en onverantwoordelik – om dit lewe te gee om jul werk vir julle te doen!>

‘Haal asem, Saphira,’ sê Eolande met lag in haar oë.

<As julle weer so-iets doen, gaan ek julle los om dit self uit te sorteer.>

‘Asof jy dít sal doen,’ sê Eolande sag.

Saphira maak asof sy haar nie hoor en loop uit die kasteel uit na waar dit stil is en sy weer alleen kan wees.




TEMAS
5 Kommentaar
  1. Ronel Janse van Vuuren

    10 Oktober 2016

    Ek hoop jy het Saphira se twaalfde avontuur geniet. Vele meer gaan volg. Ek waardeer altyd terugvoering, so voel vry om kommentaar te lewer.

  2. neels

    11 Oktober 2016

    ek geniet altyd Saphira se stories

    • Ronel Janse van Vuuren

      17 Oktober 2016

      Dankie, Neels 🙂 Ek geniet dit om Saphira se stories te skryf – dit vat altyd ‘n rigting wat ek nie eens verwag het nie.

  3. Anze

    15 Oktober 2016

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 94
Kommentaar telling: 265

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 79 gaste aanlyn

Bydrae Totale