Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Sandloper

Deur Ronnie
Datum gepubliseer: 8 Februarie 2019 Aantal woorde: 4596 303 Kere gelees 2

Juliemaand in die bosveld. Skoolvakansie. Laat lê, rondlê, niks-doen-dae – wat ʼn wonderlike vooruitsig vir ʼn moeë tiener siel, maar Pa het ander planne.

“Hallo Pa” groet ek wanneer ek met my skooltas en koshuiskoffer die kombuis instrompel.
Hy lag en gooi sy arms wyd oop vir ʼn stywe druk soos net hy kan gee.
“Hallo Patrys”. Hy ruik na doringbome, son en veld. Ek hoor sy hart klop ritmies op die plek waar ek die veiligste in die wêreld voel – in sy arms, styf teen sy bors.
“Hoe lyk die rapport?” Pa vra altyd, maar behalwe as ek dop, wat nog nooit gebeur het nie, stel hy nie regtig belang nie.
“Deur is deur, vir wat moet die kind nou A’s en B’s kry?” is sy reaksie as ander begin vra oor persentasies en prestasies.
“Okay. Ek is deur, Pa” mompel ek teen sy bors.

“Ons moet more vroeg roer. Die dae is kort en ons het baie loop om te doen.”
“Hoekom?” vra ek verslae. My eksamen moeë brein delf diep, soos ʼn langafstand atleet oor die laaste honderd meter. Dit moet seker die jaarlikse skuif van die beeste wees. Elke winter jaag ek en Pa die beeste vyf-en-twintig kilometer na Oom Byeboer se plot wanneer ons eie plot se weiding uitgetrap is.
Oom Byeboer het nie beeste nie, ook nie bye nie en hy boer nie rêrig nie. Hy en pa werk saam op die myn. Oom Byeboer is een van daai mense vir wie tyd ʼn mite is. Hy gebruik nie ʼn horlosie nie, hy gebruik ʼn almanak. Dis nou weer my pa met sy byname vir almal wat met Byeboer begin het. “Jan,” dis sy regte naam, “maak nou heuning” vertel Pa vir die myners in die werkswinkel “maar julle moet julle bestelling vroegtydig plaas, daar is ʼn lang waglys want hy het net een by.” Oom Byeboer lag saam. Almal ken my pa, die man met die skerp sin vir humor, die kort humeur wat gou weer goed word en die groot hart: “Hy sal sy laaste flenter onderbroek weggee vir ʼn ander” kla Ma gereeld.
“Gaan ons nou weer beeste jaag?” vra ek. Dis nie só bad nie, dis net een dag se vroeg roer. Ek kan dít doen al is ek nie lus vir die ver stap in die son nie, dink ek.
“Nee, ons gaan rieme brei”
Pa drink behaaglik diep uit die koffiebeker, oë toe van lekkerkry. Ek weet nou hoe voel ʼn ballon wat met ʼn naald gesteek word en bars.

‘Paaaa!” kerm-kreun ek. “Dis vakansie!”
“Ek weet”
“Daar is net twee weke van vakansie en volgende week moet ek op die hokkietoer gaan!”
“Ek weet”
“Ek het net één week van regtig vakansie!”
“Ek weet”
“Rieme brei is ʼn week se werk!”
“Ek weet”
“Hoekom kan Jack pa nie help nie?”
“Hy het nie vakansie soos ek en jy nie.”
Jack werk saam met Pa op die myn maar bly by ons op die plot. Sy vrou werk vir Ma in die huis en hy doen tuinwerk Saterdae. Niemand werk op ʼn Sondag op hierdie werf nie.
Ek probeer nog ʼn keer uitwurm. “Pa ek het by Wilma die nuutste James Brown boek geleen en moet hom volgende week terug gee. Wanneer gaan ek tyd kry om hom te lees? Komaan Pa, ek kry nooit tyd in die kwartaal nie, dis net skool en sport en koor, heeldag lank en dan naweke is daar altyd sportbyeenkomste.”

Pa se rieme bind styf. “Jy het die hele aand om te lees. Ek belowe ons sal jou nie pla nie. Ek sal nie een maal vra vir koffie nie. Die jagseisoen het begin en die manne gaan nuwe velle bring. Ek sit nog met ʼn hoop velle van laas jaar. Ek wil nie te ver agter raak nie. Die ouens wag vir hulle rieme.”
“Kan ons dan nie in die Desembervakansie rieme brei nie? Ek sal Pa help al vat dit drie weke. Dan brei ons laasjaar se velle en sommer die jaar sʼn ook.”
“Kom nou Patrys, jy weet Desembermaand is helmaand. Ons kan nie van sonop tot sononder rieme brei nie, die son sal mens wragtig doodbrand.”
Ek weet wanneer om handdoek in te gooi.

“Gaan bêre jou tasse in jou kamer” sê Ma terwyl sy haar handsak met een hand op die kombuiskas neersit en met die ander die stoofplaat aanskakel. Sy doen altyd tien goed gelyk. Ek word sommer moeg as ek net saam met haar in dieselfde vertrek is.
Dit kon erger gewees het, besef ek. Ma kon besluit het ek moet haar eerder help huis skoonmaak, ma-style. Ek sou heeldag kaste pak en mure was en afstof en meubels politoer. Dan eerder rieme brei saam met Pa in die veld.

Met Genis, ons hoenderhaan, se eerste kraai sit Pa die koppie koffie op my bedkassie neer. “Kom, Patrys, die morestond het goud in die mond.”
Hoe is hy so vroeg al so opgewek, wonder ek vies. Daar is sielkundig groot fout met mense wat so vol lewe is nog voor die son op is. Ek kreun saggies sodat hy kan hoor ek is soort van wakker.
“Ma bak al die eiers, die pap is klaar gemaak en die wors is gaar. Moenie te lank draai nie, anders is die eiers koud en dit proe soos ʼn klap op die bek”.
“Ek kom, Pa.” mompel ek onder my kussing uit.

Dis nog donker toe ek en Pa die voetpad vat deur die veld. Pa dra die bos ongebreide rieme oor sy skouer en die erdekannetjie varkvet. Ek strompel agterna met sy FMpie en die mandjie met koffie, water, bekers en koekies. Ma sal middagete bring.
“Kyk mooi voor jy jou voet neersit, Patrys. Nie alle slange slaap al nie,” kom die bekende waarskuwing van Pa. Vandat ek knee-high to a grasshopper was hoor ek hierdie woorde elke keer as ek my voet by die huis uitsit.
Boesman kom verby my geskuur in die nou voetpaadjie, stamp my amper om. Hy het ook gou sy ontbyt afgesluk.
“More Oubaas se honne,” groet Pa die boerboel toe hy sy groot lyf by Pa verbyskuur.
Ek sug. Ek is lief vir Boesman, maar hy kan die wêreld moeilik maak vir ʼn mens. Soos die keer toe hy die bosvark gestorm het en toe self gestorm is. Hy het oop-en-toe na my gehardloop vir beskerming en ek het hom net betyds opgeraap en in die boom geklim. Gelukkig was hy nog ʼn puppy, want nou sal ek nie eens sy voorpoot opgelig kry nie. Ons het vir twee ure in daai boom gesit terwyl die bosvark al om die boom geloop het en ons met wrede varkogies aangegluur het. Of daai keer toe hy die bobbejane bestorm het. Die mannetjies het omgedraai en vir hom gekom. Weer het hy my vleuels van beskerming kom opsoek. Gelukkig was die bobbejane se vrees daai dag groter vir die .22 skoot as hul woede vir Boesman.

ʼn Patrys skiet skielik skreeuend die lug in waar Boesman sy kop onder ʼn bos indruk, reg voor Pa. Die kosmandjie val en die blikbekers kletter soos R4 skote. Pa trap hoog van skrik. Hy weet nie waar die gevaar nou eintlik is nie … voor by die gedoente wat uit die bos bars of agter hom waar daar geskiet word.
“Bliksemse hond!” skree Pa toe die skrik gaan lê. Boesman draai om toe hy sy naam hoor en kyk trots na Pa. Dit lyk kompleet asof hy vra “het jy gesien wat het ek gekry?”
Ek probeer baie hard my lag sluk waar ek kop onderstebo die spyse en dranke weer in die mandjie pak. Pa hou nie daarvan dat mens vir hom lag nie. Dit kom uit sy kinderdae toe sy stiefpa en -boeties hom so genadeloos gespot en verpes het.
“Ja toe lag en kry klaar” brom hy en begin weer aanstryk. Ek wag totdat hy om die draai verdwyn waar die voetpad kronkel om die reuse hardekoolboom en gee stem aan my lag. Ek spoor die laaste blikbeker onder die marretlabos op en begin weer aanstap.

Ek sien skielik die mooi om my. Die oranje, pienk en grys lug waarteen die hoogste boomtakke swart silhoeëtte maak. Die voetpad wat witsand kronkel deur die vaal bosveldgras en doringbosse en ek ruik diep teue aan die soet geur van die veld. Ek wil dankie sê vir iemand vir die mooi, maar my jongmens hart, nog letselvry van die lewe se seer, kom nie dadelik op met Wie die mooi in die môre sit nie.

Pa is al doenig met die rieme en breiklip onder die geelhoutboom toe ek hom inhaal. Van Boesman is daar geen teken nie en ek hoop hy los die ratels, muishonde, bobbejane en goeters uit, ons het genoeg opwinding gehad vir vandag.
“Klim jy nou op en dan gooi ek vir jou die riem.” gee Pa sy eerste instruksie.
“Boomklim was in my prille jeug laas lekker, Pa.” merk ek droog op terwyl ek die kosmandjie langs die afgebreekte tak, ons bosstoel, neersit.
“Hou op slim wees en sit daai mandjie op die tak, die miere is netnou oral in alles in.”
“Op die tak of op die grond, die miere sal die kos uitruik en kom.”
“Jy’s weer baie bekkig vanmore. Onthou ʼn toebek is ʼn heelbek.”
Ek glimlag. So skerts ons met mekaar in die gesin. Mense wat ons nie goed ken nie dink ons is heeltyd aan’t bakleie.

Ek sit wydsbeen oor die dikkerige tak. Pa het die bos los rieme aanmekaar vasgebind sodat dit nou ʼn ellelange velslang is. Hy gooi die punt op, ek vang hom, gooi hom oor die tak en laat sak weer vir Pa. Hy druk hom deur die afgesaagde mik van ʼn knoppiesdoringboom wat hy aan ʼn groot klip met bloudraad vasgedraai het. Die mik staan regop op die klip sodat ʼn driehoek vorm. Dit laat my dink aan driehoeke in meetkunde en ek voel naar en wiskunde maak my siek. Om en om en om… gooi op … oor die tak … gooi af … deur die mik … gooi op…
“Hoeveel rieme het Pa hier beet?” vra ek ongeduldig. Taksit is nie gemakliksit nie en ek is elke keer bang ek verloor my balans as ek moet rek om die riem se punt te vang.
“Amper klaar” sê Pa en gooi weer die riem se punt vir my.

Terwyl ek afklim bind Pa die lang riemslang se begin en eindpunte aan mekaar en kom moeisaam orent. Sy rug is nie meer so soepel nie, hy word oud. Wórd oud? Hy ís stokoud. ʼn Volle sewe-en-vyftig jaar. In my vyftienjarige oë was Pa en Metusalem saam op skool.
“Nou ja toe, laat ons begin. Ek wil nog klaarmaak terwyl ek lewe.”
Pa druk die stok, wat hy sorgvuldig uitgesoek het net soos die mik en die breiklip, deur die driehoek en begin stap. Die riembrei sirkel is al mooi uitgetrap van elke jaar se stap. Pa sê hy skat ons stap maklik van Thabazimbi tot in Pretoria as ons ʼn bos rieme brei.

“Patrys, sit aan die draadloos, op RSG. Dis tyd vir die nuus, laat ek hoor wat jaag die Engelse nou weer aan. En skink vir my koffie, dan kom vat jy oor.”
Die Engelse, is in Pa se oë, vir alles wat verkeerdgaan verantwoordelik. As jongman, voor ons Republiek geword het, is Pa een aand in die fliek gearresteer omdat hy geweier het om op te staan vir God Save The Queen. Die grootste belediging wat Pa vir iemand kan gee is om hom ʼn joiner te noem. Ek dink nie Pa weet die Anglo-Boereoorlog is verby nie.

Ek neem die stok by Pa en gee my eerste tree vir die dag op die rondomtalie riembrei pad … om en om. So wen die rieme op en begin lyk soos ʼn reuse koeksister, terwyl die klip hoër lig. Nog so aan die begin kan ek maklik stap tot die rieme nie meer kan koeksister nie, maar hoe meer hulle uitrek, hoe hoër lig die klip, later gaan Pa die laaste sirkels moet loop want dan gaan ek nie meer bykom met die paal nie.
“Hokaai maar. Trek uit die stok en gee pad, daai klip gaan nou wyd slinger,” maan Pa van waar hy op die afgebreekte tak sit. Die nuus en koffie is klaar.
Ek trek en rem, maar kry nie die stok beweeg nie.
“Jy moet meer pap eet.” sê Pa en gee een pluk.

Die rieme ont-koeksister en die klip swaai wild en wyd. Ons staan en kyk … en wag. Dan begin die klip in die teenoorgestelde rigting draai en wen die rieme weer op. Pa hou dit fyn dop. Net voor die klip tot stilstand kom en weer begin afdraai, steek hy behendig die stok deur die mik en begin in die ander rigting stap … om en om… Ek neem oor by Pa na die derde rondte.
“Hoeveel ure het Pa al so rieme gebrei in Pa se lewe?”
“Baie. Ek brei al rieme vandat ek sewe jaar oud was. Ek en Tjabalang het altyd sy pa gehelp. Ou Maseko het my geleer.”
“En Pa se ander boeties, het hulle ook gehelp?”
“Nee. Ek wou ook nie hulle hulp gehad het nie. Riembrei is ʼn privaat ding, Patrys. Mens moet mooi dink met wie jy jou rieme brei.”

Pa het ‘n ver uitdrukking in sy oë en ʼn hartseer trek om sy mond. Ek weet hy praat nie graag oor sy grootwordjare nie. Dit was nie lekker onder sy stiefpa nie. Pa praat nooit sleg van hom nie, maar Ma het my al vertel hoe hy vir Pa op winteraande uit die huis gejaag het omdat die beeste nie water gehad het nie. Hoe Pa in die kraal tussen die koeie en kalwers geslaap het in sy kortbroek en kortmouhemp, styf teen die koei vir hitte. Hoe Ouma vir hom kos uitgesmokkel het. Ek het nooit vir Oupa Frans geken nie. Dis nie ʼn groot gemis in my lewe nie.
“Dit was lekker om rieme te brei langs die Matlabas so op my eie.” praat Pa aan: “In die begin het ek en Thabalang gespeel, geswem, in die veld gestap en ou Maseko het al die werk gedoen. Later, toe ons ouer word, het ons meer en meer gehelp, tot ek later alleen gebrei het.”

“Maar hoeveel ure, Pa? Hoeveel minute? Hoeveel sekondes? So baie soos die sand hier onder die boom?”
“Nee, nie soveel nie.”
“Soveel soos daar sand in ʼn uurglas is?”
Die rieme krul en draai soos ek dit opwen en lig die klip al hoër. Pa kom neem oor en ek gaan gooi vir my water in die blikbeker. Lekker soet water diep uit die bosveldgrond.
“Wat weet jy van ʼn uurglas?” vra Pa terwyl hy die stok uittrek en die breiklip tollend die rieme begin afdraai en uitrek.
“Ons het ʼn gedig gedoen daaroor.”
“Wat is daar nou te dig oor ʼn uurglas? Drink klaar en kom vat oor.”
Ek sluk vinnig en vat die stok by Pa. Ek begin weer my sirkelstap.
“So waaroor gaan die gedig?”
“Dit gaan oor die uurglas van liefde wat uitgeloop het vir ʼn man en vrou en nou gaan hulle skei.”
“Watse stront leer hulle julle op skool? Dis seker een van hierdie nuwerwetse goed. Die gedig rym seker ook nie eers nie. Dis mos nou kuns. Skryf ʼn klomp woorde neer en noem dit ʼn gedig. Gooi verf op ʼn doek en noem dit ʼn skildery. Wie het die ding geskryf?”
“Karel Boskriek, dis sy skryfnaam, ek kan nie onthou wat sy regte naam is nie.”
“Nou wat se naam is dit? Dig seker soos sy gat, as mens dit dig kan noem. Hoekom doen julle nie die verse van Langenhoven, of van Van Wyk Louw of Totius nie? Dis nou mense wat kón dig!” reageer Pa driftig.
Sy God, sy land, sy mense, sy taal, die Dopperkerk en die Bloubulle lê hom na aan die hart. Mens mors nie met daai goed waar Pa by is nie.
“Wat weet daai poepol van dig of liefde? Ek sal jou sê, hy weet boggerôl. Verbeel jou, die uurglas van liefde wat leegloop. Dis presies wat fout is met die wêreld, Patrys. Mense weet nie van liefde nie.”
“Seker so, Pa. In die een kortverhaal wat ons gedoen het, het die ou gesê liefde is aanhou beweeg en geraas maak. Ek dink hy weet ook boggerôl van liefde, behalwe as hy seks bedoel.”
Pa se kop ruk asof iemand hom geklap het en ek besef te laat seks is een van daai dinge waaroor Pa nie met my wil praat nie. Ek laat sak my kop en leun teen die stok op my sirkelstap op die bosveldsand.
“Nou my donner, daar het jy dit.” Pa skud sy kop en skyf reg op die afgebreekte tak. Ek ken daai skuif. Hier kom Pa se wyshede. Ek sug en kringstap voort.

“Patrys, liefde is nie daai vlinders in die maag en hart in die keel nie. Daai, my kind, is net hormone en emosies. Luister jy nou mooi vir jou pa vandag. Liefde is respek en vertroue. As daar nie respek en vertroue is nie, kan daar nie liefde wees nie. As ʼn man jou nie respekteer of vertrou nie, het hy jou nie lief nie en jy los vir hom net daar, en dit moet jy altyd onthou. Liefde het ook nie ʼn uurglas nie, dit hou nie op nie. Dit bly vir ewig en ewig. ʼn Mens het ʼn uurglas, en al loop hy uit en sit jy in die hel of die hemel, lief sal jy bly. God sê so in die Bybel. Liefde vergaan nooit. Hoor jy my, Patrys?”
Ek knik my kop en begin op my tone loop soos die rieme die klip hoër trek.
“Wanneer mense dink daai maag fladders en hartkloppings is liefde, dan trou hulle sommer holderstebolder, kort voor lank is die vlinders weg en begin hulle oë dwaal en dan kom daar ʼn ander een wat weer vlinders in die maag sit. Dis dan wat hulle mens vertel die liefde se uurglas het uitgeloop en gebruik hulle dit vir ʼn rede om te skei. Stront, man.”
“Ja, Pa.”

Pa staan op en kom vat aan die rieme. Ek sirkelstap voort op my tone.
“As hy nou afgedraai het moet ons vet smeer voor ons weer begin opwen. Het jy al ʼn uurglas gesien?”
Dis nou tipies Pa. Praat oor ʼn ding, dan oor iets anders en spring dan weer terug sonder waarskuwing na waar die gesprek netnou al begin het. Vir ʼn oomblik weet ek nie waarom hy my so vraag vra nie, dan onthou ek van die uurglas gedig.
“Net ʼn prentjie, Pa.”
Hy gaan sit weer op die gebreekte tak en skink ʼn koppie koffie.
“Jou Ma sal seker nou hier wees met die kos. Ek kan nie glo die stront wat Jan Bosluis kwytraak nie, sy brein is seker nie veel groter as die van ʼn bosluis sʼn nie.”
“Karel Boskriek, Pa, nie Jan Bosluis nie” help ek laggend reg.
“Bosluis, Boskriek wat is die verskil? Altwee is donnerse plae. Verbeel jou ʼn uurglas van liefde. Simpel donner.”

“Jy praat so voor Patrys, more praat sy agterna en sit jy ek en jy in die hoof se kantoor en luister na klagtes oor skeltaal van ons kind.” nie ek of Pa het vir Ma gesien aankom nie.
Pa glimlag breed en sy oë skitter as hy vir Ma ʼn stywe druk gee. Na baie jare se eg is hy en sy steeds lief vir mekaar, miskien weet Pa meer van liefde as die skrywers, besef ek.
“Watter Engelsman vloek jou Pa nou weer, Patrys? Los nou daai vrot rieme en kom eet eers.”
“Nee, Ma dis ʼn digter wat ʼn gedig geskryf het oor die liefde se uurglas wat leeg geloop het, dis nie ʼn Engelsman die keer nie.”
“Sy voorsate was seker almal joiners” sê Pa so om die hap boerbrood met koue vleis, kaas en tamatie.
“Moenie so met ʼn mondvol kos praat nie. Weet jy wat is ʼn ander woord vir uurglas, Patrys?”
Dis nou Ma, sy ly aan slaaploosheid en sit nagte om in die kombuis en vul blokkiesraaisels in. Sy het altyd ʼn ander woord vir iets.
“Nee, Ma”
“Sandloper.”
“As jy nou weer in die skool is dan sê jy vir daai onderwyser Piet Sandluis is ʼn dom drol jy wil eerder van Totuis leer.”
Ma gee Pa net een kyk. Daai kyk wat net sy kan kyk.
“Maar ek trek jou gat velle af as jy vloek” Pa besef te laat hy het weer gevloek. “My ou liefie dit was die lekkerste broodjie wat ek nog ooit geëet het, het jy iets anders gedoen toe jy hom gebak het?”
Ek staan op en stap tot agter die boom sodat Pa nie kan sien hoe ek lag nie. Ai die twee oumensies.

“Oubaas, vanaand pak jy daai gangkas reg. Ek en Nukuna maak huis skoon en daar is baie gemors in daai kas van jou. Of jy pak hom reg of ek doen.” Ma is ook dik van die lag, ek kan dit hoor in haar stem.
“Dis reg so my kwaai vroutjie, ek en Patrys sal dit doen. Vanaand nog.”
Ek loer geskok om die boom: “Pa het belowe die aande is vir my en ek hoef niks te doen nie.”
“Ag ou Patrysie, help nou net vanaand vir Pa, dan belowe ek, ek pla nie weer nie.”
Ek kan hom nie iets weier as hy so mooi vra nie. Ek besef weereens dat as dit nie vir Pa was nie, het ek nou kaste gepak, mure gewas en meubels gepolitoer.
“Ek kook vir sesuur, sien dat julle by die huis is. Julle moet bad voor julle aansit, ek wil nie die vrotgeit van rieme aan tafel ruik nie.” groet Ma oor haar skouer.
“Reg so my lief. Dankie, die kos was lekker.”

En begin weer die sirkelpad stap, my oë op die bosveldsand onder my voete. Dis anders as seesand, fyner. Strandloper by die see, dan seker sandloper in die bosveld, dink ek. Ek rol die nuwe woord wat Ma my geleer het rond op my tong. Ek is ʼn sandloper. Is ek dan ʼn uurglas? Ek wil vir Pa vra maar besluit daarteen. Hy sal dink ek is ook ʼn dom donner.

“So het Pa al soveel sekondes rieme gebrei as wat daar sand in ʼn uurglas is?” vra ek eerder.
“Hang af hoe groot die uurglas is en hoeveel sand daarin is en hoe fyn die sand is. Hoekom vra jy?”
“Ek wonder maar net of daar nie ʼn vinniger manier is nie. Hierdie ge-in-die-rondte-loop-vir-dae-aaneen is darem ʼn vreeslike mors van ʼn mens se tyd. Ek is seker Pa het al ʼn paar jaar van Pa se lewe so om-en-om omgeloop, en dit vir niks.”
“Riembrei is nooit tydmors nie, Patrys.”
“Ek is bly hulle het tou uitgevind, Pa. Dink net as ons nog net rieme gehad het om te gebruik soos in die ou tyd. Dis heelwat vinniger om ʼn tou te maak as om rieme te brei.”
Pa skuif reg op die tak, ek rol my oë.

“En dit is presies wat verkeerd is met die wêreld, Patrys. Niemand wil meer tyd vat en rieme brei nie. Nee, dis woerts-warts en dan storm almal voort en knoop die goed vas met ʼn tou wat nie hou nie. Hoor jy nou vir my vandag. As mens die tyd neem en jou rieme brei, sal daai riem nooit as te nimmer breek nie. Maar jy moet vir hom reg brei. Brei jy hom vir te kort dan is daar nie buig in hom nie, kry jy niks behoorlik styf vasgebind nie, en dan kan jy hom maar weggooi. Brei jy vir hom te lank dan sit jy te veel rek in hom en kry jy vir hom nie nooit styf getrek sodat hy styf bly nie, en dan is hy ook niskwerd.”
“Nou hoe weet jy hoe lank moet jy hom brei?”
“Jy brei hom tot hy klaar gebrei is.”

Ek wil net weer vra van wanneer is klaar klaar toe Pa aanvaan: “Elke riem het sy eie tyd. Jy moet hom heeltyd kyk en voel en vet smeer. Jou breiklip moet ook nie te swaar of te lig wees nie, anders rek jy hom te veel of te min. Jou stok moet ook nie te lank of te kort wees nie, anders kry jy nie daai rieme styf genoeg gedraai nie of trek hy onverwags uit en slaan daai klip jou dat jy op jou gat sit. Vir riembrei het jy die regte goed nodig en moet jy nie haastig wees nie. Jy sal weet as jou riem reg is.”

Ek het nie daardie dag verstaan wat Pa bedoel het toe hy gesê het jy moet jou rieme brei tot hulle reg is nie, dat jy moet seker maak jy het die regte breiklip en stok nie en dat riembrei, al neem dit tyd, nooit ʼn mors van tyd is nie.

Pa se breiklip lê al amper agtien jaar vergete onder die geelhoutboom. Die laaste rieme het hy alleen gebrei, ek was in Johannesburg op universiteit. Ek wou die breiklip vir sy grafsteen gebruik, maar Ma en Sus en Boet het gesê ek moet nou nie kommen wees nie. Die granietsteen wat hulle opgesit het nie Pa nie, maar dit kon erger gewees het, dit kon ʼn engel of ding gewees het soos die monumente wat party mense op hul geliefdes se grafte bou.

Ek dink nie hulle weet dat liefde nie ʼn uurglas het nie en so probeer hulle vir oulaas met al daai engele en heilige pilare op die grafte sê hulle is nog lief vir die een wat daar lê. Ek dink hulle bou daai gedoentes want hulle het nooit geleer onder ʼn geelhoutboom van rieme bry met God, geliefdes en die lewe nie. Niemand het vir hulle verduidelik dat ‘n mens jou rieme moet klaar brei voor die uurglas leegloop nie.

Gelukkig het Pa my geleer. Ek het nie meer ʼn enkele riem gehad wat ongebreid was toe pa se laaste sandkorrel deurgetregter het nie. Daarom dat ek nie gehuil het nie … nie toe nie, ook nie nou nie. Ek kyk en luister so na die ander om my as hulle van Pa praat en ek kan hoor en sien van hulle het dalk tog nog ʼn riem of twee wat gebrei moes word met Pa, maar die uurglas is nou leeg.

Ek wonder of Pa nog nodig het om riem te brei daar in die hemel. Ek twyfel. ‘n Mens het mos nie meer sorge en kommer en vrae daar nie.
Hier op aarde brei ek nog elke dag rieme. Party is sommer gou klaar, maar steeds goed gebrei, nie afgejaag nie. Ander vat tyd …, om en om en om moet ek loop, soms vir jare, soos daai riem met my bestuurder by die werk … ek wen hom op en laat hom afdraai … ek rek hom en smeer hom vet …. voel hom en toets hom …. ek moet geduldig wees, ek sal weet as hy klaar gebrei is.

Pa het my gehelp om die regte klip te kies – die Boek wat ek elke oggend oopslaan, en my stok is die verstaan van die woorde van daai Boek Die stok het al gegly en die klip het my al hard getref, sodat ek op my jack sit, maar so leer mens as jy sirkelstap en rieme brei.

Ek wil tog net nie eendag my kop neerlê terwyl daar nog ongebreide rieme rondlê nie. Geen mens weet mos wanneer daai laaste sandkorrel gaan val nie. Daarom brei ek maar die rieme soos hulle oor my pad kom … soos Pa my geleer het …. daar onder die geelhoutboom in die bosveld.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    9 Februarie 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2019 projek – TYD

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 17
Kommentaar telling: 8

My gesin skilder My ma kan skilder, kon skilder. Rumatiek het die hande krom en vingers dom gemaak. Ouderdom het die oë swak en kleure en lyne dof gemaak. Sy het laat in haar lewe begin drink uit haar kunsfontein, maar hoe het sy nie gedrink nie! Groot slukke wat my huis se mure versier in elke vertrek ... nie net mý huis nie, maar al drie ons kinders sʼn, en sommer baie ander mense sʼn ook. My man se fontein borrel ongebruik. Daar is mos altyd eendag ... wanneer die kinders uit die huis is ... wanneer ons op pensioen is ... wanneer ons ons pas begin vertraag. Ons begin ons pas vertraag ... die kinders is uit die huis ... tyd loop uit. Diabetes steel stukkie vir stukkie sy sig en ongemerk begin sy hande bewe, soos dié van sy oupa, sy ma en sy broer. Gaan sy fontein te vergeefs borrel, of gaan hy, soos my ma, en ek, diep skep, laat in ons lewens? My oudste dogter skep bekers vol uit haar fontein. Sy teken geboue en paaie op rekenaarprogramme en geniet die presisie en wiskundige berekenings wat vereis word. Die gebou moet kan staan tot die aarde vergaan, en in dié pad mag daar nooit ʼn sinkgat val nie. Sy begin versigtig, soekend drink uit al groter wordende houers en teken pragtige meubelprente in my huis. ʼn Ou tafel wat ‘n belediging vir ʼn ashoop is, word die pronkstuk in die eetkamer.   ʼn Pot wat vergete en nutteloos in ‘n kas staan, word die fokuspunt in die sitkamer. Weggooi t-hemde , vloerlappe sê my ma, kry ʼn tweede lewe as ‘n lappiesdeken op haar bed. My jongste drink klein slukkies uit ʼn soortgelyke fontein as haar ouma. Op tekenpapier, met kwas en potlood, kryt en pastel, teken sy die mooiste prente. Prente? Nee kunswerke. Teken? Nee, dis meer as teken, sy skilder. Daar is nog baie leë kolle op die mure in my huis. Die vertrekke wat ousus met ou tafels en potte en dinge mooi maak kort nog iets – iets unieks – iets besonders – soos daai tekening van die uil wat sy in Graad 10 se kunsklas gemaak het ... of daai skets van haar gesig gekombineer met haar indiaan-spirit-animal wat sy vir haar Graad 12 kunseksamen ingegee het ... of daai skilder wat nog sluimer in haar hande en kunstenaarsiel. Jy begin vroeg, jy het baie tyd, drink diep my kind. En ek? Ek teken met woorde, uitroeptekens, vraagtekens, koppeltekens, kommas en punte ... op leë Word Document bladsye, ...op my laptop se wit skerm. Vir die grootste deel van my lewe het ek net vaal korporatiewe prente geteken – advertensies, persvrystellings, toesprake, pamflette, brosjures, interne nuusblaaie ... Ek kon myself nie help nie en het telkens die vaalgeit probeer inkleur, maar in die koue, grys wêreld van harde besigheid in die finansierings industrie, is swart en rooi syfers al kleur wat geduld word ... en my siel het stukkie vir stukkie gesterf. Maar nou ... nou het ek tyd ... die kinders is uit die huis ... ek werk nie voltyds nie .... nou wil ek drink ... diep drink uit my eie borrelende fontein .... ek wil kleurvolle, woordprente skilder .... op die leë wit skerm ... in Word ... op my laptop.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 84 gaste aanlyn

Bydrae Totale