Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ROND GENOEG.

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 21 Junie 2016 Aantal woorde: 516 882 Kere gelees 5

Saterdagoggend. Bokka is nie hier nie, maar om langs die see en al met die strand langs te stap, voel ek sy teenwoordigheid in die gees. In my kop gesels ek met hom. In my ore hoor ek hom antwoord. Agter my ooglede sien ek hom.

Daar is geen rede hoekom ek haastig moet raak om huis toe te gaan nie, want daar is niemand wat op my wag nie. Op ’n Saterdag wat dit mooiweer is, is die strande vroeg al ’n bedrywigheid van kindertjies wat jil en gil en weghol as die brandertjies uitrol. Van vrouens, buurvrouens, vriende of susters, wat sonder skroom of fluister, vertel en opvang met die week se gebeure. Manne wat boepens boontoe en hoed oor die oë, soos dassies in die son lê en bak.

Ek raak deel daarvan, terwyl ek ongesiens tussen almal deur sluip en afluister, met oë wat soek op die sand. Ek soek stukkies glas en skulpe. Nie sommer enige glas en skulpe nie. Baie spesifiek.

Toe ek weer my oë uitvee, het ek geselskap. Mede soekendes. Ek lyk soos die rottevanger van Hamelin, met ’n string nuuskierige kindertjies wat my volg.

‘Antie, het antie iets valoo? Wat soek antie soe?’ vra die voor op die wa boetatjie. Sussie en haar maatjie staan ook nader om te hoor wat ‘antie’ antwoord.

‘Nee,’ sê ek, ‘ek’t niks verloor nie, maar ek soek skulpies en stukkies glas.’ Die frons tussen sy twee kraal-ogies en die een wang wat hy so optrek, vertel vir my ek maak nou niks sin nie. Die hele strand lê besaai met die goed, vir wat moet ek dan so loop en soek? ‘Kom ek wys jou,’ sê ek ter verduideliking.

‘Sien jy hierdie koeëlronde skulpies? Dis hulle wat ek soek. En hierdie glasstukke wat so lekker glad en vaal geskuur is? Dis hulle wat ek soek.’

Sussie en haar maatjie weet sommer dadelik wat ek wil hê en kry sommer gou iets van elk. Boetatjie kom aangehol met ’n stuk skulp en vra:
‘Is hierdie ene rond genoeg, hê?’ Ek kan my lag nie hou nie, maar verduidelik maar weer hoe rond, rond is. Hy gee sommer gou moed op en stap verder net saam, met honderd-en-een vrae.

‘Het jy kinnes, hê antie?’
‘Ja, twee.’
‘Waa’s jou kinnes dan, hê?’
‘Hulle bly in die Kaap en in die Paarl.’
‘Nou hoekom bly hulle nie by jou nie, hê antie?’
‘Omdat hulle klaar groot is en by hulle eie huise moet bly.’
‘Hoevil is hulle dan?’ Ek weet eers nie wat hy bedoel nie, want ek het al gesê ek het twee kinders. Toe onthou ek hoe klein kindertjies soms praat en antwoord: ‘My dogter is amper vier en dertig en my seun is al twee en dertig.’

Nog voor ek klaar gepraat het, frommel daai gesiggie in die ene kreukels en ek hoor die afkerigheid in sy stemmetjie toe hy vra:
‘Nou hoevil is djý dan?’
Nog nooit, ooit, ooit, het ek só oud gevoel nie, maar toe onthou ek . . . hy weet ook nie hoe rond, rond is nie.




TEMAS
7 Kommentaar
  1. Anze

    21 Junie 2016

    hahahha.. die opregtheid van kinders!!! Heerlik gelees!!

  2. neels

    21 Junie 2016

    Wat n fees om saam met Lynette te kuier

  3. Koekekranka

    21 Junie 2016

    Pragtig! En wat ‘n uitklop slot!

  4. Arnold

    21 Junie 2016

    Al weet hierdie outjie nie so mooi hoe rond, rond is nie, glo ek dat hy tog dit reggekry het om die kinderlikheid in ons as volwassenes navore te bring en in herinnering te roep.

  5. Kiekies

    22 Junie 2016

    Baie dankie Elze, Koekekranka, Neels en Arnold vir die lees en saampraat!

  6. Viooltjie

    22 Junie 2016

    Pragtige storie, Kiekies. Dit kom my voor hy het gedink jy is sommer nog bloedjonk 🙂 Lekkerlees verhaaltie, dankie . . . ek het dit baie geniet

  7. Ronel Janse van Vuuren

    27 Junie 2016

    Oulik.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 49
Kommentaar telling: 568

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 105 gaste aanlyn

Bydrae Totale