Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 5

Deur neels
Datum gepubliseer: 19 Februarie 2017 Aantal woorde: 3275 386 Kere gelees 8

HOOFSTUK 5

Kwart voor nege groet Tiny sy kinders en vir Maureen om deur die agterdeur met sy kosblik te verdwyn om sy trein te gaan werk. Die strate is blink en nat onder die straatligte maar Tiny merk dit skaars op. Hy wou gehad het dat sy kinders verder gaan leer na skool en met die veranderende politieke omstandighede in die land verwag hy dat daar nog probleme gaan kom en die weermag sal moet help.

Op die kop nege uur teken Tiny saam met Jan Griesel aan wat saam met hom dubbelvoorspan werk. Die roosterkantoor is soos gewoonlik n miernes van bedrywighid en verneem Tiny van een van die inkomende drywers dat dit swaar gereën het Bloemfontein se kant toe.

Toe hy by 3205 kom wat blinkend onder die lig voor in die loods staan sien hy dat daar n 15F agterop gekoppel is. Tiny is dankbaar daarvoor want die 15F het met sy effens kleiner trekwiele bietjie meer trekkrag as die klas 23.

Kosie is soos gewoonlik op sy pos en nadat hulle gegroet het en die nodige ghries en oliewerk gedoen is gaan sit Tiny op sy sitplek. Oudergewoonte gly sy oog oor die meters en wag hy vir Jan se kort fluit van agter af om te sê hy is reg. Intussen knars die meganiese stoker om die kole in die vuurkis te voer en die injekteur roggel om water te pomp. Stoomdrukmeter staan op 200 kpa en dan kom Jan se fluit. Tiny erken, maak die remme los en die vakuummeters gaan staan op 17 dm. Die omsteller word vorentoe gestel en die regulateur word net so kwart oopgemaak. Sissend en blasend kom hulle in beweging om by die kontrolepunt tot stilstand te kom om uit te bel. Sinjale gaan op en haastig vertek hulle Gunhill-Suid toe om hulle vrag te gaan hak. Oor die brug merk Tiny op dat Valsrivier besig is om af te kom, dit moes dus swaar gereën het Bethlehem toe wat die rivier se opvangsgebied is.

Hulle teëspoed vir die nag begin net nadat hulle gekoppel het. Nadat die rangeerder die rempyp deurgesit het bly die vakuumnaalde op 7 dm. Dit is hopeloos te min, êrens moet n lek wees en word die ondersoekers met n paar kort fluite nadergeroep om te kom kyk wat fout is. Intussen is die trein afsender ook by om die walys aan Tiny te oorhandig want hulle is kondukteurloos vanaand, en loop die treinafsender agtertoe om die trein weg te sien.

Tiny sien dat die vrag 2242 vir 148 is, n swaar vrag.
Na n uur, met twee treine wat hulle verbygegaan het, begin die vakuummeter naalde uiteindelik klim na 16 dm toe, die fout is opgespoor en herstel.

Tiny fluit weg en die kontrolerangeerder gee hulle vir die seinhuis aan. Van agter af kom die treinafsender se groen lig, 4897 is reg vir die pad. Intussen het dit weer sag begin reën maar het Tiny en Jan voorsorg getref teen die gladde spoor. Met die terugstoot op die vrag om te koppel het hulle sand op die spoor gestrooi uit die sandkaste uit om die wiele te laat vastrap. Die sinjale gaan op en die kontrolepunt rangeerder gee hulle n groen lig.

Met omsteller vol vorentoe word die regulateurs eers half oopgetrek om vas te vat en kom hulle met sissende stoom deur die silinderkrane in beweging. Dit gaan stadig en hulle is skaars aan die beweeg of 3205 gaan aan die gly.

Tiny stoot dadelik toe om die gly uit te haal en trek dan weer oop. Dan hoor hy die 15F agter hom aan die gly gaan. Hy trek bietjie verder oop en die 15F agter hom raak n oomblik stil soos Jan toe stoot om die gly uit te haal. Toe die 15F agter hom begin blaf stoot Tiny effens toe om te keer dat 3205 aan die gly gaan. Die geblaf van die twee lokomoietwe begin sinchroniseer en blaffend en sissend gaan hulle oor die wissels hooflyn toe. Dit gaan maar stadig want die lokos wil net aan die gly gaan en verg dit spanwerk tussen die twee drywers om aan die loop te bly. Kort kort wil een van die lokos aan die gly gaan en moet daar sand gegooi word en toegestoot word vir n paar oomblikke om die gly uit te haal.

Intussen skeur die hemel oop en begin dit reën, en kry hulle Gunhill-Suid se groen vertreksinjale in sig. Die klim begin teen die bank uit begin in alle erns. Die koplig verlig die blinknat spore deur die vaal reëngordyn en begin die spoedmeternaald opkruip na 20 k.m.p.u toe. Op die voetplaat raas en rumoer dit soos die meganiese stokers die vraatsige vure voer met die roggelende injekteur wat die ewe vraatsige ketel van water voorsien met die geblaf deur die skoorsteen wat hierdie klanksimfonie afrond.

Die klim teen die Bosrand bank begin in alle erns maar bly die spoedmeter naald op 20 k.m.p.u terwyl die weerlig op die die blou ysterklip in die rante vasslaan. Hulle is besig om tyd te verloor en voel dit soos n ewigheid voor Tiny die eerste tussenbloksinjale in sig kry, groen, maar die stoomdruk is besig om te val en die spoedmeternaald sak na 15 k.m.p.u toe. Tiny begin bekommerd raak dat hulle sal gaan staan en dit kan fataal wees want dan sal hulle moet vrag verdeel en die vrag in twee stukke Bosrand toe sleep en dit kan n groot vertraging op die hele treindiens meebring.
Die stoker sal moet terugloop om n klomp trokke se handremme vas te draai, hy sal moet knalpatrone op die spoor gaan sit agter die stuk wat agterbly en dan die koppelaars tussen die middelste trokke losmaak. Nadat hulle die voorste deel ingesleep het moet hulle losmaak, met die lokomotiewe terugkom om die tweede deel te kom haal. Dan moet die stoker weer die knal patrone gaan afhaal en die handremme losdraai. Wanneer hulle dan weer in die stasie kom moet die twee stukke weer aanmekaar gesit word.

Tiny se gedagtes gaan n paar oomblikke terug na sy stokersdae toe dit menigmaal gebeur het dat hulle teen die bank moes uitgebunk word. Dit is wanneer n lokomotief agterop hulle teen die bank moes help uitstoot. Veral in die winter het dit baie gebeur want dan is die trokke se askaste koud en stram tot hulle warm word. Tiny moet egter sy aandag vinnig terugbring na 3205 toe. Die voetplaatmanne sal vir jou vertel dat n stoomlokomotief n siel het en dit is toe Tiny met 3205 begin praat; “Kom my meisie ons gaan nie hier bly staan nie, kom gee nog meer ons kan dit doen”. Wonderbaarlik asof sy verstaan begin die stoomdruk effens klim en die spoemeternaald sak nie verder nie. Die tweede tussenblok is ook groen en amper n uur na hulle vertrek kom Bosrand se sinjale in sig, die stryd is gewen. Die stoomdruk begin egter weer gevaarlik sak en besluit Tiny om op Bosrand te stop sodat hulle weer ordentlik kan stoomdruk opbou. Toe hulle Bosrand intrek gee hy n kort fluit voor die seinhuis om die stasievoorman se aandag te trek. Hy wys vir hom hande in die lug en kom hulle in die stasie tot stilstand. Die stasievoorman plaas die verteksinjale op gevaar terug en trek vir n ander trein langs hulle verby. Tiny en Peet gebruik die blaaskans terdeë om weer ordentlik stoom op te bou en is hulle weer reg vir die pad toe die trein wat by hulle verby is op Geneva aankom. Genadiglik het dit ophou reën ook.
Nou begin dit meer na normaal terugkeer en storm hulle Geneva en Holfontein stasies deur Hennenman toe waar hulle n ordentlike lokostop gaan maak. Hulle moes op Bosrand vuur skoonmaak maar kon nie die klinkers en die as laat uitval nie en dit moet nou gedoen word. Hulle het baie kole gebruik teen die Bosrandbank uit en moes Kosie nou die eerste slide in die kolewa trek omdat die voorste kole opgebruik is. Dit is n lang lokostop op Hennenman maar verloop die rit voorspoedig tot op Virginia waar hulle weer loko vat en terugstaan vir 3AF, die Johannesburg Kaapstad passasierstrein. Hulle staan vir 7707, die postrein ook terug om verby te kom maar is hulle slaggereed toe die sinjale uiteindelik vir hulle opgaan.

Virginia-Welgeleë is ook n stywe bank en is die nadeel dat jy dadelik begin klim en dus n dooie wegtrek vanuit die stasie het. Dit het weer begin reën en herhaal die Bosrandbankdrama homself Welgeleë toe en verloor hulle nog tyd soos hulle die bank teen 20 k.m.p.u uitkruip. Tweede slide word getrek want hulle gebruik baie kole.

Dit word n moeilike rit maar haal hulle Bloemfontein toe die lig die grou Oosterkim verlig. Die koleposisie is nie goed nie en toe die rangeerder hulle losmaak vra Tiny om aangegee te word vir die loko, hulle sal moet gaan kole vat anders gaan hulle Kroonstad nie haal met die terugrit nie.

Toe hulle in die loko kom is dit n hele deurmekaarspul want al meer treine begin laat loop en die roosteropsteller het al sy dae om treinpersoneel te herrangskik soos bedryf die diens herskeduleer. Tiny en Jan oorweeg om dalk maar rus te vat, dit was n uitmergelende nag, maar besluit daarteen, hulle is moeg en wil huis toe gaan. Tiny is ook bekommerd oor Maureen want hy weet sy sal haar weer dood bekommer want hulle moes alweer halfpad Kroonstad toe gewees het en hier sit hulle nog in Bloemfontein loko.
Na n uur, wat hulle gou ge eet het en n vinnige uiltjie geknip het, kry hulle die lokomotiewe terug van die loodsman af en kan hulle uitbel terrein toe om n vrag leë steenkooltrokke te gaan hak. Met n vrag van 800 vir 160 asse sal die terugrit n droom wees. Hulle gaan net met 3205 terug want Jan kry ook n vrag leë trokke en werk dus n aparte trein.

Die terugrit is n droom want vir 3205 is hierdie vrag kinderspeletjies in vergelyking met verlede nag se vrag. Dit het opgehou reën en die son breek kort kort deur die wolke. Teen 80 k..m.p.u word huis toe gejaag en blits die stasies verby. Hulle moet net n slag terugstaan vir 438, die Port Elizabeth Johannesburg passasiers om verby te kom. Dit is n moeë spannetjie wat uiteindelik twee uur die middag afteken en teken Tiny vir die Allanridge passasierstrein af.

By die huis wag n bekommerde Maureen hom in want hy moes lankal in gewees het maar haar kommer word vervang met groot blydskap toe sy hoor dat sy darem vannag saam met haar man in n bed sal slaap, dit gebeur min.

Sy is dit egter gewoond want n spoorwegvrou het ook maar n eie unieke lewenswyse van ongereëlde ure, net soos haar man.
Die kinders is ewe bly om hom te sien en is Anton ook daar. Hy vertel vir Tiny dat die Bethlehem lyn ook maar n moeilike nag gehad het. Ten spyte van dodelik moeg wees kuier hy eerder saam met sy mense, die geleentheid daarvoor is ook min genoeg. Hy sal maar vanaand vroeg gaan inkruip.

Dit is toe Tiny sien hoe Cathy en Anton handjies vashou wat hy skielik besef dat sy dogter besig is om groot te word, sy is nie meer die dogtertjie van n jaar of wat terug nie en dit is toe hy vir Jannie vra: “Janneman het jy dan nie n ou meisietjie in jou lewe nie, daar is seker n paar meisies in jou lewe”.

Cathy is die een wat antwoord: “Nee pa hy het net een ding op sy brein en dit is weermag toe volgende jaar. Machoman het nie tyd vir meisies nie”.

Tiny het nog nie heeltemal vrede gemaak met Jannie se weermagplanne nie maar besluit hy hy is nie nou lus vir n redenasie nie en bly liewer stil. Al wat hy besef is dat hy n groot deel van die vreugde van sy kinders groot maak gemis het en niks ooit daarvoor sal opmaak nie.

Die res van die middag kuier hulle rustig saam tot Anton groet om te gaan regmaak vir werk. Net daarna skep Maureen vir hulle in en geniet hulle n slag n aandete op normale tyd. Nadat die skottelgoed gewas is pak Maureen gou Tiny se blik vir die volgende skof, Allanridge toe is n lekker kort rit en behoort Tiny vroeg terug te wees.

Net voor hulle aan die slaap fluister Maureen in Tiny se ore: “Ek ruil jou vir niks en niemand nie. Jy is my hele lewe. Siende dat Jannie weermag toe gaan dink jy nie ons kan die gespaarde geld gebruik vir huis koop nie”.

Maureen se vraag laat Tiny n paar oomblikke ver terug dink. Tye was so anders toe hulle jonk was en is hulle getroud net nadat Maureen klaar met skool was en was sy deur al hierdie jare net goed vir hom, sy verdien dit.
Sy was amper klaar met skool, hulle het op Geneva gestaan vir n kruising, toe Paddy hom eendag vraend aangekyk het en reguit gevra het: “Sonnyboy, what is your intentions with Maureen when she finished school?”.

Tiny het gevoel die aarde skeur onder hom oop en die hemel val op hom want Paddy het erg befoeterd geklink. As hy nou verkeerd antwoord en Paddy smyt hom af is dit ver om te loop huis toe maar moet hy antwoord.

Toe besluit hy, nou of nooit: “Sir, I love her and I am sure she love me to, and with your permission I want to marry her”.

Maureen het baie by hulle ook in die huis gekom en weet hy sy ouers is baie erg oor haar en daar sal nie probleme aan hulle kant wees nie, maar hierdie befoeterde ou man, mens weet nooit wat in sy kop aan gaan nie. Kuier is een ding maar trou is darem n perd van heeltemal n ander kleur.

Paddy het hom lank sit en aankyk en hom toe geantwoord: “Well sonnyboy then you better ask her, get married and get over with it. You are a good boy and I know my Maureen will be in safe hands with you. You must just promise me that you will look after her. If you ever leave her, belief me, even if I am dead I will ask st. Peter to send me back to earth to kill you”.
Die teenoorgestelde trein het intussen aangekom en het die stasievoorman die tablet gebring en het hulle pad gevat sonder dat hulle verder gepraat het.

Tiny kon nooit verstaan waarom Paddy skielik so haastig is dat hulle moet trou nie maar het hy dadelik werk gemaak voordat Paddy dalk van plan verander. Hy het Maureen gevra om met hom te trou as sy klaar is met skool, haar pa het klaar ja gesê, en sy ouers sal ook instem dat hulle trou.

Om haar te vra om te trou was darem bietjie anders as handjies vashou en soentjies steel en het hy maar gesukkel om die moed bymekaar te skraap om haar te vra. Toe hulle weer aan diens gekom het wou Paddy eerste ding weet of hy Maureen gevra het. Hy het Paddy n antwoord skuldig gebly.
Paddy hom lank bekyk en toe die hel oor Tiny se kop laat losbars: “Sonnyboy when we are back from this trip you better ask her before I change my mind and throw you of my engine halfway to Bloemfontein and then you can walk back”.

Dit het al gebeur dat Paddy n stoker op hierdie manier aflaai.
Dan moes daar n stoker met n ander trein geruil word of die loko moes n stoker met die eerste trein uitstuur.

Toe hulle terug by die huis gekom het het hy nie gras onder sy voete laat groei nie en het hy Maureen sommer by die skool gekry om saam met haar huis toe te stap. So onder die stap deur het hy haar gevra om te trou maar sy was glad nie tevrede daarmee nie en het sy hom vertel dat hy haar vanaand ordentlik moet kom vra, op die stoep onder die maanlig.

Tiny het toe bietjie gaan slaap en die aand afgesit na Maureen toe om haar te vra. Sy het eers vir hulle tee gemaak en het hulle op die stoep gaan sit. Sy was die een wat naderhand gevra het; “Is daar nie iets wat jy my wil vra nie Tiny”.

Op daardie oomblik het Tiny gewens die aarde moet hom insluk maar het hy Maureen styf teen hom vas getrek en die groot vraag gevra nadat hy sy liefde verklaar het.

Sy het teen hom vasgewoel: “Ja Meiring ek sal met jou trou want ek is net so oneindig lief vir jou”.
Drie maande nadat Maureen klaar was met skool is hulle getroud en deur al hierdie jare was sy daar vir hom. Dit was n stil troue met net die familie op die troue en die klein onthaal daarna. Vir een slag het Paddy geen koste ontsien nie en was Maureen asemrowend mooi in haar wit trourok met die lang sleep. Paddy het hy skaars erken toe hy haar in die gang afbring. Netjies geklee in n nuwe pak klere sou hy nooit kon sê dat dit dieselfde rowwe man is wat hy voor gestook het nie.

Vir die eerste keer in haar lewe na haar ma se dood het Maureen n traan in Paddy O’ Connor se oë gesien toe hy haar sluier lig om haar te soen voor hy haar aan Tiny oorhandig het.
Nadat hulle getroud is het hulle in hierdie selfde huis ingetrek wat hulle die week voor hulle troue gemeubileer het. Paddy het vir hulle n bietjie geld vir n trougeskenk gegee en saam met wat Tiny gespaar het en n bietjie skuld kon hulle aan die gang kom en het hulle hulle huis na hulle smaak ingerig met die jare tot vandag toe.

Sy het begin koeke bak en verkoop vir n ekstra inkomstetjie en staan Maureen bekend as n baas bakster. Baie mense nader haar vir haar bakwerk en verdien sy n goeie inkomste daarmee. Sy het altyd gesê dat n vrou ook haar eie geld moet verdien en nie altyd in haar man se oë moet kyk vir geld nie.

Sy het haar nuwe huis met dieselfde aandag begin versorg soos sy haar en Paddy se huis versorg het en het in haar lewe nog nooit n bediende gehad nie. Sy doen alles self.

Selfs na haar swangerskappe wou sy niks weet van n bediende nie en het Tiny se ma kom help tot sy weer in staat was om haar daaglikse pligte te hervat. Sy het net geglo dat sy nie gaan geld mors op n bediende nie, haar hande makeer niks nie.

Met die jare het hulle egter alles vir Maureen aangeskaf wat nodig is om haar dagtaak ligter te maak, tot n elektriese stoof wat sy maar bitter min gebruik want sy glo dat haar koolstoof n unieke atmosfeer van sy eie skep.

Dit is net Janneman wat soms erg brom oor die koolstoof maar omdat die geyser aan die koolstoof gekoppel is moet die stoof bly en moet hy sorg dat daar vuur is anders is koue water hulle voorland as hulle wil bad en daarvoor het hulle nie kans gesien nie, veral nie in die winter nie.

In die winter het die koolstoof sy groot voordeel, n heerlike warm kombuis wat dan die familie se kuierplek op die koue winteraande is.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 214
Kommentaar telling: 1107

Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 90 gaste aanlyn

Bydrae Totale