Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 4

Deur neels
Datum gepubliseer: 15 Februarie 2017 Aantal woorde: 2293 470 Kere gelees 7

HOOFSTUK 4

Tiny gaan stort eers gou voor hy fietsloods toe stap, sy blik op die draer vasmaak en die pad vat huis toe waar sy mense vir hom wag. Die lug is bewolk en Tiny weet dit gaan begin reën deur die middag en as dit vannag reën gaan dit n moeilike rit wees vanaand, veral teen die Bosrand bank uit want dan is die spore nat en glyerig, ware kragmeting tussen mens en natuur.

By die huis stop hy om die hek oop te maak en sommer in dieselfde tyd Maureen se netjiese blomtuin in te drink en die netjies gesnyde grasperk te beskou voordat hy sy fiets gaan bêre, sy blik afhaal en in die kombuis instap waar Maureen hom teen haar vasdruk, sy ore n slag knibbel, soen en fluister: “My ou groot Tiny is by die huis en ek gaan nou gou vir ons ontbyt maak. Jy is seker al vaal van die honger.

Na n stewige ontbyt gaan klim hy in die bed maar hy is skaars in die bed of die kamerdeur glip oop en Cathy kom sit by hom op die bed met n ernstige trek op die gesig. Dit is skoolvakansie en is die kinders by die huis.

Tiny voel sommer dadelik op hierdie Saterdagmore aan dat sy dogter iets ernstigs op die hart het, dit is nie haar gewoonte om by hom in die kamer te kom sit nie en sy is duidelik senuweeagtig. Hy beskou haar aandagtig, donkerkop, soos haar ma, n beeld van n meisie. Tiny het al spottend genoem dat hy dink hy binnekort n dubbelloop haelgeweer gaan nodig hê om vryers af te skrik. Dit is dan wanneer Maureen vir hom groot oë maak: “En as Paddy n haelgeweer gehad het wat dan. Dan was ek nie vandag met jou getroud nie en jou ma sou lank moes sukkel om al die haelkorrels uit jou boude uit te kry”.
Dan kom dit: “Pa, ek wil vanmiddag saam met n vriend gaan fliek. Ma het gesê ek moet vir pa kom vra en as pa sê ja kan ek gaan, seblief my ou pa, dit is n mooi prent”.

In sy hart glimlag Tiny maar al weet hy van die vriendskap met Anton, lyk hy heel ernstig toe hy vra: “En wie is hierdie vriend as ek mag vra? Hy het seker n naam en wat doen hy vir n lewe of is dit een van die matriekseuns”.

Nou is Cathy erg senuweeagtig: “Pa sy naam is Anton de Beer, pa ken mos sy pa, hy is n stasieinspekteur op die stasie en Anton is n stasievoorman op Featherstone hier buite. Dit is my vriendin, Marcel se ouer broer”..

Pas is snaakse goed en skielik is sy Cathy net te jonk na sy sin vir n uitganery: “Cathy, jy is nog te jonk, nou eers st 8.”

Seker haar ma wat haar voorgesê het dink hy toe sy hom uitboul: “Ma was st. 9 toe sy pa ontmoet het en st 8 is maar net een jaar jonger pa, asseblief pa. Anton is maar net twee jaar ouer as ek en pa is vyf jaar ouer as ma”.

Tiny gee die stryd gewonne en stem in en nadat sy hom amper opgevreet het storm sy die kamer uit om die nuus met haar ma te gaan deel, pa het ja gesê.
Voor Tiny aan die slaap raak gaan sy gedagtes jare terug toe hy nog by Maureen vlerk gesleep het. Hy het net op n stadium besluit dat hierdie skelm kuiery nie verder gaan werk nie en dat hy die bul by die horings moet pak en met Paddy gaan praat en hom vra of hy vir Maureen kan kom kuier. Hy en Maureen was toe al baie erg oor mekaar en was nou al op die soene steel stadium. Sy het maar altyd weggeglip as Paddy al slaap om hom te sien. Die probleem was net dat dit maar min gebeur het en dat daar soms dae verby gegaan het wat hulle mekaar nie sien nie. Dan was daar die risiko dat Paddy kan agterkom dat daar iets tussen hom en Maureen is en die hel sal laat losbars.

Hy het goed met Paddy oor die weg gekom en na drie maande het hy die moed bymekaar geskraap om met Paddy oor Maureen te praat. Hulle wil tog ook kuier en uitgaan sonder dat hy gedurig oor sy skouers moet loer. Hy het dit nie met Maureen bespreek nie en het op sy eie besluit dat daar met Paddy gepraat sal moet word voordat hy hulle vriendskap ontdek sodat hy bewus daarvan is.

Hy het sy kans goed afgewag en het hy een oggend, toe hulle op Bosrand uitgestaan het vir n kruising, met Paddy gepraat. Sy redenasie was as Paddy hom afgooi is dit nie so ver om te loop huis toe nie. Hy het vir hulle tee gemaak, Paddy het net tee gedrink, en toe n slag gesluk en toe begin praat.

“Sir, there is something I want to discuss with you. I am seeing Maureen for some time now and I want your permission to visit her and take her out”, het Tiny afgerammel en hom gereed gemaak vir die ergste.

Die tyd van wonderwerke gaan nie verby nie en tot sy verbasing het Paddy hom sit en bekyk en nie n woord gesê nie, wil die man hom dan nie hoor nie.

Na wat soos n ewigheid gevoel het en hy net wou moed opgee, hy gaan nie weer vra nie, het Paddy hom geantwoord: “You are not n bad boy sonny. I am not stupid and know about you and Maureen and I also wondered when you are going to talk to me about her. You can come and visit her and take her out but believe me, if anything happens to her I will kill you with my bare hands, that is a promise”.
Tiny kon sy ore nie glo nie, Paddy sê ja en hy lewe nog. Gelukkig het die teenoorgestelde trein net ingekom en het die stasievoorman sy lewe gered toe hy die tablet gebring het en hulle die pad moes vat huis toe.

Hy sal nooit die verbasing op Maureen se gesig vergeet toe hy later in die dag haar die nuus kom meedeel het dat haar pa gesê het dat hy vir haar kan kom kuier nie. Sy het arme ou Paddy omtrent opgevreet van dankbaarheid.

Met n glimlag raak Tiny aan die slaap en skrik vieruur die middag wakker van die donderweer se gedreun en die reën wat op die dak neersif. Sy eerste bekommernis is hoe gaan Cathy by die huis kom want sy is seker met die vriend fliek toe. Hy vlieg met n spoed uit die bed uit op en moes Maureen hom seker gehoor het want sy kom die kamer binne. Op sy vraag vertel Maureen hom dat Cathy en Anton met sy ou Mini karretjie weg is en dat sy hulle enige oomblik terug verwag, Anton moet ses uur aan diens wees.

Tiny is net aangetrek en sit hy en Maureen in die kombuis, lekker warm en gesellig voor die koolstoof, toe die Mini stop en die twee deur die reën huis toe hardloop om in die kombuis te kom. Cathy stel Anton aan haar pa voor en Tiny laat sy oë oor die jong mannetjie gly. Netjiese seun, net soos sy pa wat jy altyd in sy uniform deur n ring kan trek. Anton gesels n paar oomblikke met Tiny, sê dankie dat hy en Cathy kon gaan fliek het en vra dan om verskoon te word, hy moet ses uur aan diens gaan en moet hy huis toe om te gaan klaarmaak vir werk.
Tiny moet in sy hart erken dat hy nogal van die mannetjie hou. Vir n oomblik dink hy daaraan dat die stasievoormanne op die enkellyne dit ook nie altyd maklik het nie, veral in hierdie reënweer, want hulle moet ook gedurig in die reën uit om met kruisings tussen die treine tablette weg te vat vir die treine wat hulle vir kruisings uitgekeer het.
Op sy vraag waar Jannie is hoor hy dat Jannie by n vriend is en seker ook nou enige tyd huis toe sal kom. Tiny is nie onnodig streng op sy kinders nie maar hy glo daaraan dat hy en Maureen ten alle tye moet weet waar hulle is..

Tiny vra vir Maureen of die roepman al sy briefie gebring het om hom vir sy trein te waarsku waarop Maureen bevestigend antwoord, hy is nege uur aan diens vir 4897 Bloemfontein toe. Die trein se nommer verraai hom, dit is n dubbelvoorspan vrag mielies vir Buffalohawe, swaar vragte, en weet Tiny dat die Bosrand bank weer alles uit hulle gaan uithaal vanaand.

Intussen hou dit op met reën en kom Jannie ook tuis en net daarna sit hulle aan vir aandete. Dit is een van Tiny se groot plesiere in die lewe as hulle op n normale tyd kan aansit vir ete want dit gebeur min, meeste van die tyd is hy op die pad of moet hulle op n onmoontlike tyd eet voor hy gaan werk.

Na ete word die skottelgoed gewas en kuier hy saam met Maureen en die kinders terwyl Maureen sy blik begin pak.

Hy voel dit is tyd om met sy kinders oor hulle toekomsplanne te begin gesels en kom Jannie eerste aan die beurt toe hy vra: “Janneman het jy al besluit wat jy na matriek gaan doen. Ons moet nou besluit dat ons kan begin beplan en ons hierdie laaste jaar wat voorlê alles kan uitvind en reël”.

Jannie is n besonder skrander seun wat baie goed doen in die skool en Tiny koester hoë verwagtings van hom. Die gevolg is dat Jannie se antwoord hom bietjie skok: “Ek gaan weermag toe pa. Ek kan deur die weermag ook verder leer, ek gaan in elk geval opgeroep word vir militêre diensplig en wil daar bly nadat my diensplig voltooi is en dit n loopbaan maak”.

Paddy was baie lief om vir Jannie oorlogstories uit die Noorde te vertel en kon ook maar lekker lieg en aandik terwyl oupa Meiring nie aangesluit het en dus oorlogstories kon vertel nie. Oupa het gereken die tweede wêreld oorlog was die Engelse se oorlog en het niks met ons uit te waai gehad nie.

Hy het hom gewoonlik vreeslik vervies as Jannie hom oorlogstories vra want oupa Meiring was lid van die Ossewa Brandwag maar min het dit geweet.

Tiny weet goed dat hulle niks daaraan kan doen as Jannie opgeroep word nie maar hy sal darem wou sien dat Jannie eers uitstel vra tot hy klaar op universiteit is. Dit kan sy loopbaan net n groot stoot gee.

Tussen hom en Jannie onstaan n lewendige redenasie wat amper op n rusie eindig toe Cathy opmerk: “Dit is beter om eers te gaan leer Jannie”.

Hy snou haar af: “Ek is nie so slap soos sekere mense wat stokers en stasievoormanne word om diensplig te omseil nie. Ek sal my plig teenoor my land doen soos baie ander jong manne nou doen”.
Cathy weet goed dit is op Anton gemik want daar is grade soos stokers en stasievoormanne wat vrystelling kry omdat daar n groot tekort in hierdie grade is. Tiny kan in Cathy se oë sien dat Jannie se woorde haar nou seergemaak het, en kom hy tot haar redding: “Hulle doen ook hulle plig teenoor die land. As hulle nie daar was nie sou die treindienste tot stilstand gekom het en dan het die ekonomie in duie gestort en wat dan. Dit sou die ondergang van hierdie land gewees het en dus n sagte teiken vir oorname vir ons vyande geword het. Ons land moet paraat op alle gebiede wees”.

Jannie wil egter dinge nou op n punt dryf: “Pa, ons is die laaste blanke bastion in Afrika en ons moet ons land verdedig. Pa is seker reg, die manne wat uitstel kry is seker noodsaaklik om die wiele aan die rol te hou maar die manne wat gaan veg is ook net so noodsaaklik om die vyande weg te hou”.

Teen hierdie redenasie het Tiny nie werklik n antwoord nie. Dit het intussen opgehou reën en gaan staan hy op die voorstoep om die lug te beskou. Die lug is toegetrek en die wolke swaar. Na Bloemfontein se kant toe speel die weerlig aanhoudend teen die horison af. Tiny weet dit gaan n moeilike rit wees want die spore gaan nat wees en die vrag sal nie n ligte vrag wees nie.
Maureen kom staan by hom en sit haar hand onder sy arm deur: “Tiny dit is vir my ook net so swaar maar ons kan nie vir die kinders besluit nie. As Jannie wil gaan moet ons hom laat gaan, dit is sy keuse my man”.

Tiny antwoord haar nie, in sy hart voel hy nie baie gelukkig oor Jannie se besluit nie. Dit is nie waarvoor hy homself afgesloof het deur lang ure te werk en hom en Maureen afgeskeep het nie. Hy het dit gedoen om vir sy kinders n toekoms te verseker, nie om hulle bos toe te stuur nie.
Hulle staan nog so toe die roepman se fiets voor die hekkie stop om Tiny te kom waarsku vir sy trein: “Oom Tiny, nege uur aan diens vir 4897 Bloemfontein toe”, sê hy en stap op stoep toe dat Tiny die roepboekie kan teken.

Hy en Maureen gaan in, die kinders is reeds kamers toe en gaan sit hy en Maureen by die kombuistafel, woordeloos vanaand want Jannie se besluit lê swaar op Tiny se gemoed.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 214
Kommentaar telling: 1107

Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 73 gaste aanlyn

Bydrae Totale