Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Resensie: Die rolprent MONSIEUR LAZHAR

Deur Toom
Datum gepubliseer: 6 November 2019 Aantal woorde: 943 20 Kere gelees 2

MONSIEUR LAZHAR, die film

Op ‘n Donderdag gedurende die groot pouse hang ‘n onderwyseres haarself in haar klaskamer aan haar blou serp op. In die hoofstad van Quebec, Montreal (sê ,Mong-reál’ of,Mô-reaal’). Die elfjarige seuntjie wat melkdiens het, sien haar deur die glasvenster van die geslote deur en alarmeer dadelik die onderwysers, wat noodmaatreëls tref. Die kinders word huistoe gestuur, en tot Maandag moet alles gereël word sodat die kinders weer skooltoe kan kom: Die mure word geverf, ‘n psigologin word gevind, maar geen onderwyser nie.
In dieselfde stad is ‘n asielsoekende Algeryn, ‘n man wie se vrou en kind gedood is nadat hy gevlug het – vooruit, om vir hulle die pad te baan. Hy doen aansoek om die vakante pos, en, omdat sy niemand anders kan kry nie, neem die skoolhoof hom in diens sonder om alte noukeurig na sy kwalifikasies te kyk.

[MONSIEUR LAZHAR; r: Philippe Falardeau; d: Mohamed Fellag, Sophie Nélisse, Emilien Néron, Danielle Proulx, Brigitte Poupart, Evelyne de la Chenelière; Kanada, 2011; 94 minute]

Dis nie ‘n film oor pedagogiek, metodiek of didaktiek nie, dis nie ‘n opvoed­kundige film wat ons iets oor skole en kinders wil bybring nie. Ook nie ‘n vergelyk tussen sisteme nie. Ofskoon alle resensies wat ek gelees het betoon dat ‘n onderskeid tussen Algerynse en Kanadese metodes sou bestaan en dat die Algeryn „met ongewoonlike metodes” iets in die klas bewerkstellig het (wat die inheemse Kanadese miskien nie sou reggekry het nie?). Die man ís nie ‘n onderwyser nie, en wat hy doen, doen hy uit herinnering aan sy eie skooltyd, intuïtief, per abuis of omdat hy dit gisteraand nagelees het. Sy enigste „opvoeding” is die feit dat sy vrou ‘n onderwyseres was. (Aan al die dames wat hier lees: Hoeveel vertel jy jou man aan die einde van die skooldag as julle eindelik tyd het om te ontspan? Kan jou man môre jou klas, jou les oorneem op die basis van dit wat jy hom vertel? En aan die mans met omgekeerde voorteken, dieselfde vrae.)
Bachir Lazhar (Fellag) is waarskynlik veertig, vyftig jaar oud en het die laaste jare ‘n restourant bedryf. Hy ly daaronder dat sy gesin en ander bewoners van hul huis ‘n dood in die vlamme moes sterf, want hy self was die eintlike doel van die aanslag. Sy storie word nie deur die owerheid geglo nie, en dis moontlik dat hy „afgestoot”, deporteer gaan word. Hy ly daaronder dat die owerhede hom te eniger tyd in die hel kan terugstuur, dat hy magteloos is. Dit word nie gesê hoekom hy om hierdie pos aansoek gedoen het nie. Feit is, hy is frustreerd, het niks om te doen nie. En is dit nie wonderbaar om iets in die al hoe kouer wordende herfs te kan doen nie? Die kinders het hul onderwyseres lief gehad, en sy vir hulle, maar sy het ander probleme buite die skool gehad, ook met haar man. Die lewe was eenvoudig teveel vir haar. Dit alles weet ons nie as ons in die saal intree nie, en dit kom in stukkies en brokkies langsaam in die loop van die verhaal uit.
In die (professionele) resensies word gedurig van die „traumatiseerde” kinders gepraat, maar een van die meisies kry die blinke ingewing, taamlik na aan die einde, dat dit die volwassenes is wat getraumatiseer is. En so is dit ook.
In ‘n steriele moderne skoolstelsel, waarin die „deelnemende partye” hulle polities korrek soos in ‘n diplomatiese of mark-georiënteerde verhandeling moet hou, het ‘n volwasse vrou dit gewaag om te buk en haar arms om ‘n treurige kind te lê. Hy het geskrik en haar weggestoot en geskree dat hy nie gesoen wou word nie. By elke geleentheid skerp die skoolhoof die kollegas in dat niemand ‘n kind durf aanraak nie, ook nie om te liefkoos of troos nie. Eers reg nie slaan nie. Almal oorweeg eers voor hulle praat, uit vrees dat hul woorde in ‘n geregshof teen hulle aangewend kan word.
En dit alles weet en verstaan Bachir die Algeryn en die kinders nie. Maar die kinders speur dat ‘n volwassene met hulle hier praat, wat nie slegs die senseerde weergawe bied van dit „wat hulle mag hoor”, dit „wat goed vir hulle is” nie. En Bachir merk dat daar iets onuitgesproke in die klaskamer leef…
En dáárom handel die verhaal: Van mense wat ly en bemerk dat andere ook ly, en probeer om mekaar se smart te versag; nie probeer om te troos nie, maar om te begryp hoekom.
Natuurlik bars die borrel eendag en dit word taamlik chaoties in die klaskamer. Natuurlik kom die swendel aan die daglig en Bachir moet mooi vra om die laaste dag te mag onderrig, om die huiswerk van sy laaste les af te rond, om totsiens te mag sê. Hulle durf sý huiswerk verbeter, en hulle doen dit in koor, spelfoute, grammatika, alles. Maar hulle weet wat hy wil sê, in sy selfgeskrewe fabel van die skoenlapperpoppie wat aan die tak van ‘n olyfboom hang en ongeduldig wag om te ontpop – en daar kom ‘n woeste brand deur die tuin geblaas. . . In die laaste toneel buk Bachir as ‘n huilende kind by hom kom troos soek, en hulle omarm mekaar.
Die film se storie handel om die onopregtheid van die moderne opvoeding, van die ysige, nie-kind-geregte manier om kinders intellektueel en uit die hoë, uit die verte te bedien soos ‘n TV of outomatiese garagedeur.
Die film is ‘n reëlregte aanklagte teen die onmenslike behandeling van kinders deur volwassenes wat gansegaar glad niks van kinders weet nie.
Vyf sterre.

2012…c];o)…………………………………………………….-©-………………………………………………………..)o:[>…tje




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 200
Kommentaar telling: 198

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 163 gaste aanlyn

Bydrae Totale