Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Resensie: DIE LAASTE VOETGANGER, die film

Deur Toom
Datum gepubliseer: 21 Mei 2019 Aantal woorde: 984 184 Kere gelees 3

RESENSIE: Die laaste Voetganger
[Hersiene, verbeterde, GELDIGE uitgawe]
Gottlieb Sänger is ‘n gemoedelike oujongkêrel van so veertig, vyftig. Hy werk as argivaris by ‘n tydskrif-redaksie. ‘n Rustige lewe midde-in die grootstad met al sy geraas en gedreun en anonimiteit. Probeer hy elkgeval. En hoe bly is so ‘n mens as die verloftyd aanbreek. Eindelik, eindelik kan hy rêrig wegbreek en ‘n staptoer deur die vrye natuur onderneem – moedersielsalleen soos die Duitsers sê. Ander mense soek hul vermaak op volgepakte strande, in klubs en kroeë in die „vakansie-oorde”, ‘n ander woord vir plekke waar die eienaars volkome wettiglik jou vir alles wat jy wil hê teveel laat betaal. Jy en duisende andere.
Daarheen gaan hy nie-ofte-nooit nie. Hy gaan stap deur die ongerepte natuur, aan die bolope van die Ryn, in die berge in, deur die Swartwoud tot hy na ‘n paar weke anderkant in die „beskawing” weer uitkom.
___≤Ω≥___
[Der letzte Fußgänger, D., 1960 met Heinz Erhardt en Christine Kaufmann in die hoofrolle, boek en regie Wilhelm Thiele.]
___≤Ω≥___
Op pad na die suide ry hy graag trein – eerste klas want hy moet vris en vars by sy uitgangspunt aankom – en daar begin reeds hierdie jaar se awontuur.
Op dieselfde stasie in Hamburg klim ‘n opgeskote jong meisie op en kom in dieselfde oorvol kompartement. Hy help haar met haar bagasie en die meisie se ouma roep hom na buite in die gang. Sy sê hy lyk soos ‘n ordentlike heer „van die ou skool” en of hy ‘n ogie hou op haar kleinkind, wat ‘n lang reis na haar kosskool in Switserland voorhet. „Ouma, jy moet afklim, die trein ry netnou weg!”
Hierdie kleinkind is sestien en wil nie soos ‘n baba behandel word nie. Sy stel haarself voor as Christine Cornelius, Comtesse van Iets-of-Anders „Maar almal noem my Kiki,” en beweer dat sy oral in die wêreld omgekom het, „Driekeer na Australië,” sê sy. Dan stap sy saam met een van die jong mans uit die kompartement na die eetsalon.
In Baden-Oos klim Gottlieb uit en sê vir haar dat sy braaf na haar skool toe moet ry. As hy voor die stasie sy rugsak gemaklik regskuif, verskyn sy skielik en sê dat sy nog nooit in die „Spielhalle” van Baden-Baden was nie. Sy draai hom gou genoeg om haar pinkie en, voor jy jou kom kry, sit hulle in die wêreld­beroemde dobbelsaal. Netsogou is hulle platsak en staan buite op die straat. Sy wil saam met hom stap en hy is magteloos. Hy het nog ‘n paar mark „yster­rantsoen” en hulle kan pos restant geld na hulle volgende doel laat oorplaas.
Dis nie dat hulle nie stap nie. Dit doen hulle ja, en sing daarby deur die heerlike landskap. Maar waartoe hierdie klein skelmpie in staat is, van hoender steel en braai op die plaas waar hulle op die hooi in die skuur oornag het, studente aanlag wat hulle in hul motortjie saamneem, tot duimgooi sodat hulle deur ‘n wasegte arabiese sjeg afgesleep word met sy amerikaanse agtsilindergedierte. . . En lieg! Kiki vra haar kosskoolvriendin om briewe aan ouma te skryf dat sy goed aangekom het, dat sy in die skool hard werk en sovoort. Sy self skryf in die naam van haar ouma dat sy bedlêerigsiek is en dat sy ‘n bietjie later skooltoe kom. As Gottlieb dit ervaar weet hy nog minder wat om te doen. Buiten om haar ‘n spaarbuksie te gee om „’n Groschen (tien pfennig) vir elke leuen wat jy losgeword het” in te gooi.
So kom hulle deur die landskappe stuk vir stuk vorentoe.
Tot die bom ontplof: Gottlieb het al sy vakansiefoto’s aan sy vriend die fotoredakteur gestuur om ontwikkel te word. Hulle word sonder sy kennis saamgestel in ‘n groot foto-artikel in die tydskrif se vakansienommer. En nou? En wat gaan die ouma sê? En die skool eers? En nou?
___≤Ω≥___
Heinz Erhardt was ‘n groot duitse „Komiker” voor maar veral ná die tweede wêreldoorlog. Die mense het na die grys tyd, die gruwelike tyd hierdie soort van ligte ontspanning nodig gehad. Hulle het gesmag na kleur en musiek en lag. En dit het hy hulle gebring- Hy het seker oor die dertig films gemaak, die eerstes in s/w, en gesing en geskerts en gelag. Hy was op die toneel, in kabaret, op die radio, in die tv, oral. Sy naam het beteken, vrolikwees: Lag – ook vir jou self – vergeet die swaar tyd agter jou, kyk moedig in die toekoms.
Goedhartig was hy. Ek is nie bewus van ‘n film waarin iets waaragtig boos was nie. Buitendien was hy ‘n digter, „’n spreukeklopper” soos die Duitsers sê met ‘n flink tong, net soos Kiki s’n, ‘n Kwinkslaevervaardiger sou ons kon sê. ‘n Bietjie soos ‘n mengsel van Frikkie Burgers en Jamie Uys: Eers die ronde Frikkie en dan die skugterne Jamie met die skewe glimlaggie (met ‘n porsie sagmoedige Neelsie bygemeng) en het meestens die rol van die goedige neef of oom of later oupa gespeel. Hy het waarskynlik in sy lewe net een rol gespeel: Die rol van Heinz Erhardt. En dit goed.
Dis waarlik nie ‘n uitsekende juweel van die kinematiese kuns nie, slegs ‘n uiters mooi vervrissende verhaaltjie vir ‘n koue, nat Saterdagnamiddag. En dit was waarskynlik ook so bedoel.
Drie groot bloeiende sterre. ✽✽✽
___≤Ω≥___
[Toe ek ‘n paar jaar gelede by die huis was, het my boetie en skoonsussie vertel van „daai Afrikaans films uit oorsee” wat hulle op die tv graag gesien het. Êrens moet hulle nog wees. Wie het hulle? Wie het die kopiereg? Ster films? Kyknet?
Dit is werklik skatte om te koester. Sien julle dit nog geleentlik? Ek onthou dat ek toentertyd in die bioskoop sommige films met vertaalde klankbaan — reeds in die sestigs — gesien het, byvoorbeeld met Heinz Erhardt of Romy Schneider.
Kyk of iemand dit weer kan opdiep.]
___≤Ω≥___
©21e.Mei2019……….◄]:o(.✽✽✽.(o;Þ………………………..tje




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 196
Kommentaar telling: 193

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 115 gaste aanlyn

Bydrae Totale