Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RESENSIE: 7 dae in Entebbe, die Film

Deur Toom
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2018 Aantal woorde: 799 325 Kere gelees 2

7 dae in Entebbe, die Film

Dit baseer op ‘n ware begewenheid: In Junie 1976 kaper lede van die Volksfront vir die Bevryding van Palestina en van die (duitse) Revolusionêre Sel (RAF) ‘n passasiersvliegtuig van die Air France, vlug 139 van Tel Aviv na Parys, en ontvoer dit na Entebbe, die lughawe van Uganda. In die geweldsame „Operation Thunderbolt” bevry ‘n spesiaalkommando van die Israelse leer die passasiers en bemanning.

ʘʘʘ

[7 Tage in Entebbe (Dt)/ 7 Days in Entebbe (orig.); 2018; USA/GB; regie José Padilha met Daniel Brühl, Rosamund Pike, Eddie Marsan e.v.a.; vanaf 12; 107 min.]

ʘʘʘ

Dis die kaal skelet van die ontvoerng. In ons storie is dit eerder die verhaal van die twee Duitsers, Brigitte Kuhlmann en Wilfried Böse [Pike en Brühl], en die Arabiere is meer of minder statiste of randfigure, ofskoon dit eintlik ‘n arabiese operasie was. Hulle wou die israelse regering dwing om veertig Palestyne uit die tronk vry te laat. Onder die passasiere was 83 Israelse staatsburgers. Die Israelse regering het prinsipieel nie met terroriste verhandel nie, en die premier, Jitzak Rabin bevind hom toe in ‘n penarie want sy ministers, veral die verdedigings­minister Sjimon Perez, dring daarop aan om die politiese probleem op militêre wys op te los. Rabin moet natuurlik aan die verlies van lewens en die groter wêreldpolitiese dimensies van so ‘n aksie dink.

Die film rol in sewe hoofstukke van die een dag na die volgende voort. Dit dek taamlik omvattend wat op elke dag afgespeel het en vertel in terugflitse van die voorbereidings insluitend die opleidingskamp in die arabiese woestyn, asook die politiese motivering van die Arabiere en die Duitsers, ‘n bietjie oor die internasionale politiek van die tyd. Dis inderdaad die vierde of vyfde film met hierdie tema wat uitgekom het, en mens kan vra, hoekom nogeen?

Want dis ‘n speelfilm, nie ‘n „Doku” nie. Aan die feite word nie getorring nie; die filmemakers het diep en deeglik nagevors, in argiewe en ook by oog­getuies. Maar daar is die privaatgesprekke, die uiting van wense en angste, van die glo, die vaste geloof in ‘n beter wêreld (wat natuurlik nie opgeteken is nie) wat die draaiboekskrywers uitgedink het, maar wat skynbaar ongeveer die ware gevoelens van die deelnemers daarstel. By voorbeeld: „Hoekom Air France?” Want die Arabiere het geglo dat die Fransmanne die Israelis met wapens versorg het – en moontlikerwys die atoombom wou verskaf.

Veral „Bonnie” Böse word portreteer as iemand wat hoop in die toekoms koester. Die onlangse duitse verlede verafsku het: Hy word woedend wanneer hy sien hoe die Arabiere die Jode uitsonder, „selekteer”. Dis ‘n begrip wat juis die Duitsers by juis die Jode slegs ‘n paar jaar tevore uitgeoefen het. En hy wil niks daarmee te doen hê nie. Brigitte Kuhlmann sê, sy ook nie, maar as dit so is, dan liewer Nazi speel – dit kon andersins hul eie koppe kos.

ʘʘʘ

Regiseur Padilha het betoon dat hy nie kant gekies het nie, maar slegs ‘n dramatiese daarstelling wou bied van hoe dit afgeloop het. Dit is dus hoe­genaamd nie ‘n verheerliking van geweld of ‘n pleidooi vir die inset van wapens nie. Dit geld as ‘n klassieke politdrama in die styl van die sewentiger jare. So verander die film se blikwinkel gedurig van die kabinetsittings, tot die ontvoerders, die geisels, die oefenterrein heen en weer. Dis ook nie ‘n looflied oor die moedige optrede van „ons helde” nie. Dit maak dat die rolprent waarskynlik nie in Israel getoon gaan word nie.

ʘʘʘ

Hier is ‘n interessante en werksame werktuig van die regie: Die handeling word onderstreep deur sware, ritmiese volksmusiek (op maksimale luidsterkte) en word ook nog onderbreek deur ‘n dansopvoering. Terwyl die bevrydingsaksie afloop, vind in ‘n dansteater ‘n daarstelling plaas met die tradisionele Pessag-lied „ Echad Mi Yodea”. Gedurende die probetyd loop die israelse leer se voorbereidings vir die aanval, waarby die geweerskote byvoorbeeld met die slagtuig se slae weeergegee word. Ook die gedreun van die militêrvliegtuie wat onder die radar deurvlieg word „getoonset” deur die teatermusiek. Die musiek word al hoe wilder en die spanning styg tot ‘n crescendo wanneer die opvoering en die israelse aanval gelyktydig plaasvind.

Wat beteken die Paasfees vir die Jode? In die film sit die dansers in ‘n sirkel, word saam met die musiek al hoe wilder en trek stuk vir stuk hul oumodiese klere uir en staan in onderhempie en boxerbroekie daar. Ek ken nie die teks van die lied nie, maar dit kom geweldig oor. Die dans skyn asof dit iets met die volk se bevryding te doen het.

ʘʘʘ

‘n Interessante tema, ongewoonlik maar interessant daargebied en besonders goed gespeel. Een enkele ou haartjie in die sop: Die verklarende ondertitels wat te klein en onduidelik is, flits te gou verby.

Anders, perfek, sou ek sê: Vyf sterre.

©17e.Oktober2018……………ʘʘʘ…………………………….tje




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Kiekies

    30 April 2019

    Hoor-hoor!!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 202
Kommentaar telling: 199

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 90 gaste aanlyn

Bydrae Totale