Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Projek uitslae Julie 2019

Deur Anze
Datum gepubliseer: 4 Desember 2019 Aantal woorde: 7728 181 Kere gelees 2

WENNERS:

GEDIGTE: BRONS
WENNER: Nr. 26 – Seirdna (Andries Fourie) met My huis
2de : Nrs 21 en 1 (21) – Sierdna (Andries Fourie) met Sintuie & (1) Morne Du Preez met Vuur
3de : Nr 11 – Driekie Grobler met Verstilde eggo

GEDIGTE: SILWER
WENNER: Nr. 7 – Marieta McGrath met Vergelegen
2 de : Nr. 24 – Caren Kearley met Retoriese Ruimtes
3 de : Nrs 15 en 23 – (15) Marieta McGrath met Die dui fen die doop & Caren Kearley met Ek wens ek kon skryf soos ek droom

GEDIGTE: GOUD
WENNER: Nr. 27 – Carma Shaw met Toe ek ‘n kind was
2de : Nr. 28 – Carma Shaw met ‘n Oomblik se wonder
3de : Nr. 30 – Die somer sal weer kom – Anzé Bezuidenhout

GORREL
WENNER: Nr. 2 – Driekie Grobler met Dankbaar vir my lewensreis

Die standard in die Prosa afdelings, oor die algemeen is baie swak. Selfs swakker as wat ek kan onthou. Dit is asof die deelnemers nie werklik hul beste lewer nie, en net enige sub-standaard skryfstuk inskryf vir ‘n teenwoordigheid. Enige skryfstuk wat onder 60% behaal word nie oorweeg vir ‘n toekenning nie, al is dit ook die enigste inskrywing. Ek weet nie hoe ons die standaard in hierdie afdelings gaan verbeter nie. Die digafdeling is geheel ‘n ander storie.

RUBRIEKE
Geen wenner
ARTIKELS
Geen inskrywings

VERHALE
WENNER: Nr. 6 – Riaan Palmer met Lucy leer loop
2de : Nr. 7 – Riaan Palmer met In die begin

Baie geluk aan hierdie 8 lede

Kommentare

1.Vuur (Brons)

Blitse flits oor die hemelwydte
die donker storm brom en bars
soos ‘n kraak deur die hemelswese
bos in vlam opvonk

so die helder gloei
uit die donker koue
vrees en angs
se gluur gelok

met stok gepik en paai
aan ‘n rooi-groen vlam
die grot en man
tug met vuur.

Persoonlik dink ek dat jy baie slim omgegaan het met die tema, deur eers die oorsprong van vuur in die eerste strofe, dan die erkenning en respek wat daarvoor ontwikkel is. Jou laaste strofe dui vir my nie nét op die bemeestering van die vuur nie, maar ook met die klem op tug, wat dan deur mense gebruik is deur die eeue om straf uit te deel. Jou vers is besonders skerpsinnig ontwikkel en baie slim gepen.
Ek sou tog gebruik gemaak het van ‘n paar leestekens, en veral in die eerste strofe, wat sterk sou kon bydrae om die liriese dimensie van die strofe te verhoog.

Blitse flits oor die hemelwydte – (Lang aandagstreep vir ‘n rus / afwagting)
die donker storm, (komma vir rus) brom en bars
‘n kraak deur die hemelsfeer (‘soos’ oorbodig)(hemelswese??)
Laat bos in vlam opvonk (‘laat’ ingevoeg)

só het die helder gloei, (‘só’ beklemtoon/’het’ ingevoeg/komma)
uit die donkerkoue (‘donkerkoue’ een woord)
vrees en angs
se gluur gelok

met stok gepik en paai
aan ‘n rooi-groen vlam; (; vir ‘n dramatiese afwagting)
die grot en die man (herhaal die, dit help met die ritme)
tug met vuur.

Met ‘n paar leestekens, klem en herhaling op die regte plekke kan die toon van jou hele vers verander in ‘n uitdrukkende klimaks.
Jou vers bly egter, sou jy die veranderinge insluit of nie, vir my ‘n produk van goeie en slim skryfwerk.

2.Staal (Brons)

Eers brand die stok
toe delf yster uit klip
van vuur se lek

en grot het ‘n skadu
van homself geword
so geboorte te gee

die middeleeue,ceasar
die franse revolusie
en iron man

of sou ek sê Ozzy
se elektriese-kitaar
se staal snaar

Ek beoordeel die inskrywings naamloos, maar hierdie vers is so nou in ooreenstemming met die inskrywing “Vuur” dat ek sommer sonder behoorlike inligting aanneem dit is deur dieselfde persoon geskryf.
Ek vind dieselfde “tekortkominge” hier. Die gebruik van leestekens help werklik om die lees daarvan te vergemaklik. Dit is natuurlik nie die werk van die digter om voorsiening te maak vir die “maklik lees” nie, want dit mag dalk indruis teen die oorspronklike missie of intensie van die gedig, maar sonder om die indruk van die vers te verander, kan rusposes, wat deur leestekens bereik word, daartoe bydrae. Enjambiese verse is ook ‘n belangrike versvorm, en ek wil nie deur die klem op leestekens te sit enigiets wegneem daarvan nie. In sekere gevalle egter is dit belangrik.
Kriptiese versvorm is ook ‘n kuns opsigself, en kan geslaagd wees, maar in hierdie eval voel ek dat sekere lidwoorde en self selfstandige naamwoorde die vloei en die ritme sou kon aanhelp. Hoe sien ek die vers?

Vir eers brand die stok,
toe delf yster uit klip
van vuur se lek;

die grot het ‘n skadu
van homself geword
om so geboorte te gee

die middeleeue, Ceasar,
die Franse revolusie
en Ironman

of sou ek sê: Ozzy
se elektriese-kitaar
het van staal ‘n snaar.

3.Kuber-kielose(Brons)

Vierkant naak-psigose
kuber-kielose
soos tuberkielose se spoeg…
google ons uit,
uit oor sosiale netwerk
gids en zits
ons om en om met ‘n muis terug na die grot
terug na napoleon
na die vuur wat
staal uit spoeg
tot…
en met
ons ruimte
vlug.

Die gevaar met spelling is, indien dit verkeerd is, maak dit selfs die slimste en mooiste gedigte vaal.

Jy het gestruikel met die spelling van “Tuberkulose” en daarom is jou titel ook verkeerd. Jy kon natuurlik Kuber-kulose gebruik het, en dit sou jou aanbieding geensins benadeel het nie, inteendeel.
Die ellips in die derde sin is funksioneel maar in die 12de is dit oorbodig.
Eiename, soos hier, “Google” en “Napoleon” sal gewoonlik met hoofletters geskryf word. “Google” egter, in hierdie geval word as ‘n werkwoord aangewend en daarom kan ‘n kleinletter gebruik word. Napoleon moet egter ‘n hoofletter hê.
Indien jy ‘n woord uit ‘n ander taal gebruik, soos “zits” hier moet dit in kursief geskryf word. Indien die funksie nie beskikbaar is nie, soos op sekere webwerwe en met uitgeoekte sagteware, moet jy dit aan die einde van die sin aanteken, nl. [kursief], in hakies natuurlik.
Indien jy ‘n akuut klem op die “mét” in lyn 13 sit, sal jy merk dat die toon totaal verander. Jou vers is goed en slim ontwikkel.

4. Posbus? (Brons)

Posbus?
Wat is jou posadres?
Ekskuus?
Wat is jou adres waarheen ek die brief moet stuur?
Brief?

In elke dorp was daar ‘n poskantoor,
Hierdie adres was belangrik , die mense wat daar gewerk het , het ‘n belangrike funksie verrig;
Dat die brief, rekening, lekkerny pakkie na die korrekte adres gestuur word..
Verskillende koeverte met elkeen sy eie spesifieke seël.

Kan jy dit nie eerder e-pos nie?
Dit is makliker en vinniger!

Daar is ‘n effe nostalgie in jou vers. Hoe heerlik was dit nie om ‘n briefie in die pos te kry nie.
Ek wonder of ek moet voorstel dat die eerste strofe van jou vers in aanhalingstekens geskryf word? Ek is in twee kampe hieroor. Dit mag dalk die strofe meer orden. Dit laat ek egter in jou hande om self hieroor te besluit.

Ek verstaan die inhoud van jou vers en dat jy dit op ‘n storietrant wou aanbied, maar hier is die uitdaging: het jy bereik wat jy beplan het? Ek, persoonlik, die vers as kripties en meer as ‘n verslag eerder as ‘n gedig.

Indien sekere gedeeltes as dialoog aanegebied is dink ek tog dat dit ‘n verskil sou maak.

Ek hou egter van die idee wat jy probeer ontwikkel het, end at jy die tema goed omarm het.
Klein aanpasings sal die vers vir seker meer suksesvol maak.

5.Lewe (Brons)

wyn van lewe is pyn
uit blou-bloed-are
ween daar skare
hael wat plof
in harde stof

essensie van lewe is pyn
uit gryskop breinstof
gedagtes wat ontplof
geformuleer oor jare
hande met blou are

Ek interpreteer ‘n ondersoek in die wêreld van Dimensie, waar jy die siekte van Alzheimers verwoord? Indien ek korrek is sluit dit mooi aan by die tema van “verloop van tyd”.
Ek lewer dus kommentaar asof my interpretasie korrek is. Indien dit nie is nie, maag die voorstelle steeds van waarde wees.
Omdat dit ‘n siekte van degenerasie is, is dit dus belangrik dat die digter die toon van agteruitgang moet beklemtoon. Hoe sou so iets in ‘n vers bereik word? Deur die metrum te manipuleer, die spoed te varieer en die ritme aan te pas. As eerste wenk, sou die gebruik van leestekens om pouses te skep, die aangewese leiding te wees. Kom ek interpreteer jou vers:
wyn van lewe is pýn; [akuut klem op pyn, dan rus met ‘n ;]
uit blou-bloed-are
ween daar skare
hael wat plof, ontplofplof [herhaling van “ontplof” kan bydrae]
in harde stof

essensie van lewe is pyn
uit gryskop breinstof
gedagtes wat ontplof, plof – [herhaling en aandagstreep vir lang rus]
geformuleer oor jare
in hande met blou are [enige lidwoord sal hier help]

Alles is slegs voorstelle en die aanwending daarvan is geheel tot jou diskresie.

11.Verstilde eggo (Brons)

êrens tussen gister en nou
het die streel van die klankharp
se eggo verflou
die vermanings dof en stil geword
met ‘n onmag
om denke (vredevol)
in woorde uit te stort

die roep van ‘n pou
se trillings verslap
tot slegs ‘n beduidenis
van vae onthou

daar waar onreg paar
het valsheid geknal
die suiwer van môre se wil
ontbeen
(voos gestroop)
in rou geskal

en al wat oorbly
is verdorde, vergete drome
van ‘wat eens was’
wat stelselmatig fragmenteer
tot stof en as.

Die inhoud hiervan is besonders in die verwoording van die menslike kondisie.
Voor ek egter oor die skerpsinninge inhoud met jou praat, kom ons kyk na die tegniese.
Indien ‘n vers met ‘n kleinletter begin, soos joune doen, moet dit sonder ‘n punt afgesluit word. Jy bied ‘n enjambiese wers aan, maar ek dink die inhoud souk on baat met ‘n meer gestruktueerde vorm.
Die inhoud vra vir pouse, donker en ligter tone en nie ‘n ruslose lees daardeur nie. EK gebruik jou eerste strofe om so ‘n aanslag uit te wys:
êrens tussen gister en nou
het die streel van die klankharp
se eggo verflou – [lang aandagstreep, ‘n ruspose]
die vermanings het dof én stil geword [het ingevoeg vir ritme/klem op én]
met ‘n onmag
om denke (vredevol)
in woorde uit te stort
Kan jy sien, met ‘n paar veranderinge hoe die metrum aangepas word en die “ernstige” toon van die vers verskerp word?

In die tweede strofe sou ek “verslap” met ‘n ander woord vervang, enook “geknal” in die derde strofe. Dit word slegs gebruik om met “geskal” te rym. Vra jouself: hoe knal valsheid?

‘wat eens was’ het nie die aanhalings nodig nie, en indien dit sou, sou jy van die [“ “] gebruik gemaak het.
Dit is ‘n sterk gedig, wat baie goed verwoord is. Kyk gerus of jy met die krit saamstem.

12.Eenvoud (Brons)

modder trapsels tussen tone
troebel water uit fontein se borrel
kleilat oorloë wat gewen moet word
hartseer by eerste bok se verglaasde oë
flinkheid by ontbyt tafel met pap en kaiings
vermurwe hart na eerste nooientjie se klapsoen
lam lyf na hoogste sprong oor “taro” die luislang
lekker sny van winter lug deur moeë longe
pompende adrenalien van vinnige draf
druppel traan na laaste kluit oor kis
tot ons weer sien my seun
tot ons weer sien my pa
skim van voordag lig
saam met bosbok
se bravade blaf
tinktinkie
vroetel
stemmetjie
in die ruie gras

Ek ervaar die gedig enigmaties. Dit voel asof die enjambiese styl die gedig ontneem eerder as om by te dra.
Die ontbreking van lidwoorde, waar dit werklik nodig is, kan steurend wees vir die uitgesoekte leser.
Onthou dat selfstandige naamwoorde soos “modder” en “trap”, waar trapsels ook ‘n selfstandige naamwoord is, indien die een die ander een beskryf, dit ‘n byvoeglike naamwoord word, en dus saamgevoeg moet word, nl. “moddertrapsels”. Dieselfde gaan vir “troebelwater”, “kleilat-oorloë”, “ontbyttafel” en “winterlug”. Jy het dit reggedoen met “druppeltraan”.
Kom ons krap bietjie aan jou gedig se begin en sien watter voorstelle, al dan nie, kan bydrae tot ‘n sterker gedig.

waar moddertrapsels tussen tone, en
troebelwater uit fonteine borrel,
kleilat-oorloë wat gewen moet word
Met ‘n paar nodige bywoorde, lidwoorde en leestekens kan jou gedig versterk word. Onthou, jou gedig is ‘n “storie” en nie ‘n kriptiese verslag wat in telegramformaat aangebied behoort te word nie. In hierdie geval sou ek wegdoen met kripsie.
“Vermurwe” behoort “vermuwwe” te lees. Muf (selfstandige naamwoord), muwwer *, muwwerste* (*byvoeglike naamwoorde / bywoorde).

Soos die horlosie pols, tik, tak, tik, tak, so lees jou vers en alhoewel dit mooi inpas by die tema, sou ‘n sagter, volronde en ritmiese vers die emosies sterker kon verwoord.

14.Afgryslik (Brons)

oor my duin waai daar baie wolke
wolke van verandering, en wolke wat reën
wolke van verdagmaking en goedkoop sensasie
wolke van sand in die droogte wat oogseermaak tref
wolke van gedagtes wat sweef soos meeue wat kos soek
wolke van mense wat naweek kom hou in die somer
wolke van rook uit kaggels in die winter maande
wolke wat afgryslike koue dae saambring
wolke wat mens laat dink en wonder
wolke wat jou hart verlam laat
wolke wat jou liggaam vries
wolke wat maar net wolke is
wolke wat jou lewe verbeeld
wat verby vlieg voor jou oë
en voor jy weet wanneer
is dit vergane gedagtes
en slegs geheue
wolkies

Daar is baie potensiaal in hierdie gedig. Herhaling (refrein) in poësie is ‘n heerlike gereedskapstuk om klem te plaas, maar, dit moet funksioneel wees. In jou vers is dit geheel onnodig want, sonder die herhaling maak die gedig totaal sin en verloor jy geen klem nie. Inteendeel dink ek dat die vers sterker oorkom daarsonder. Sien my voorbeeld hieronder.

oor my duin waai daar wolke,
wolke van verandering, van reën,
verdagmaking en goedkoop sensasie –
wolke van droësand wat oogseermaak tref,
van gedagtes wat sweef
(soos meeue wat kos soek)
van mense wat naweek kom hou in die somer,
van rook uit kaggels in die wintermaande;
wolke wat afgryslike koue dae saambring,
wat mens laat dink en wonder,
wat jou hart verlam laat,
jou liggaam vries;
wolke wat maar net wolke is,
wat jou lewe verbeeld,
wat verby vlieg voor jou oë
en voor jy weet wanneer,
is dit vergane gedagtes
en slegs geheue
wolkies

Die laaste twee sinne sou ek ook verander, maar ek gaan hiermee volstaan. In die huidige vorm eindig die vers stomp.

16. Tyd (Brons)

Sweef my hand geluidloos
net bokant end van grashalms,
waar hul wiegend
in westewind dans.

Suis die klank van leegte
‘n melancholiese wysie
van ongevraagde verlange,
onbekende nastolgie.

Waai my eens linnewit rok
‘n patroon teen my lyf.
Afgeëtste beeld
teen die goud van ra.

Loop ek in stilte
na die einde van my tyd.
Terwyl leemtes agter my vergader
om eensaamheid te terg.

Die vers ontsluit ‘n menigte moontlikhede en potensiaal, maar die woordkeuse en aanbieding is nie bo verdenking nie.
Het jy gepoog om van inversie gebruik te maak, of ‘n blote kriptiese aanbieding? Wat is die doel van poësie? Dit, en ander mag dalk sterk van my verskil, is ‘n beperkte paletspasie waarop die skrywer die meeste sê met die minste woorde, MAAR, die vloeibaarheid in digkuns is belangriker as ‘n meet en pas genre om streng woordekonomies te wees. Lid- en voegwoorde is belangrik, want so bewerk jy die regte metrum en voldoen jy aan selfopgelegde ritmiese voorskrifte. Kom ons bekyk slegs jou eerste strofe ter ondersteuning van my kommentaar:

My hand beweeg geluidloos
(Inversie is slegs funksioneel as dit help met effek en rym//
‘n hand sweef nie, maar beweeg eerder)
net bokant grashalmente,
(twv ritme en vloei)
waar hul wiegend
in die Westewind dans.
(Die lidwoord help met ritme hier//
Eiename altyd met hoofletters)

20.Die wind kind (Brons)

Sy was die wind kind
uit die kamer van die boom
sonder aarsel sonder skroom
draf sy weer werk toe

hierdie keer vir oulaas weer
met ‘n nuutgevonde hoop
om kos vir haar kind te koop
haastig om te help

selfoon gereed om te laat weet
in haar hand…
maar aan die ander kant
van die swart pad

wil sy wees; nou wees
maar sy kyk nie
hoe dit bo lyk nie
sy gee weer die eerste tree

asof sy wasgoed was
klere stryk
of die vloer blink vryf
ken sy nie stadig nie

dis finaal; sy is kom haal
die groen ambulans se sirene
roerlose gebreekte bene
haar wasem op die ruite

vanuit stof, lewe in stof
het sy ons gewys
hoe die mens sy skepper moet prys
wat diens waarlik was

die gewemel in die hemel
is vir die eregas
uit die boomkamer se as
as sy in haar rusplekkie indraf

met haar voete op n nuwe roete
vry van koue en vrees
sagkens en knoes in Sy gees
…vir ewig

Kom ons kyk na ‘n paar funksionele aanpassings wat jy hieraan kan maak.
Laat ek eerstens sê, die inhoud van die vers is baie interessant. Die beelde is “anders” en nie oombliklik, op die oog-af duidelik nie. Ek interpreteer die windkind as iemand wat energiek en besig was. Met daardie beeld kan ek vereenselwig en maak die gedig vir my persoonlik sin. Dit is natuurlik nie die werk van die digter om elke beeld duidelik as lepelvoer aan te bied nie, en dat die lese rook ‘n plig het om dit self te interpreteer.
“Windkind” kan heel funksioneel saamgevoeg word. Die reël aangaande:
Indien twee selfstandige naamwoorde, soos in die geval van “wind” en “kind”, waar die twee mekaar beskryf, is die raadsaam om dit eerder te kopppel. Byvoeglike naamwoorde en selfstandige naamwoorde verwar nie. Slaan dit bietjie na. Dit sal help.
Kom ons gesels bietjie oor ritme en metrum in ‘n aanbieding. Metrum (die donker en lig, harde en sagte klanke) en ritme (die vloei) word ‘n belangrike deel van ‘bn gedig omdat dit die leser lei op die “voorgestelde” pad van die gedig, soos die skrywer dit bedoel. Verbeel jou altyd jy skryf ‘n gedig in opdrag vir iemand om dit hardop voor te lees. Jy het geen gesprek met die leser nie, en hy/sy kry geen leiding van jou nie. Al die leestekens, rusposes, aksente ens. is dan die enigste gereedskap wat die voordraer het om jou gedig korrek en suksesvol aan ‘n gehoor voor te dra.
Dit kan jy bewerkstellig deur op belangrike en nodige plekke leestekens te gebruik.
Ek dink die idee agter jou gedig is goed end at dit baie oor baie potensiaal beskik.

Gebruik van my voorstelle indien jy dit goeddink.
Dankie vir jou deelname.

21. SINTUIE (Brons)

hoor jou in die windjie
sien jou in die son
dink jou deur die donker
van ‘n veraf dig kokon

roer jou met die reëntjie
vang jou in die dou
wens jou uit die wonde
van ‘n wêreld grys en grou

proe jou in die luggie
sluk jou uit die see
weet jy voer ‘n duisend
liggies met jou mee

stuur jou in die storm
vat jou uit die vuur
eis jou in ‘n dagdroom
wat vir ewig duur

ruik jou in die bloeisel
beleef jou in die blom
van ‘n langverwagte somer
wat dalk my pad langs kom

Met die eerste oogopslag, lees die gedig lig en aards. Ek vind die inhoud egter diep en leersaam.

Die inhoud is keurig aangebied en die volgehoue gebroke rympatroon in die kwatryne is werklik funksioneel en treffend.

Jou gedig is keurig versorg en ek kan nie met al die kennis in die wêreld enige kritiek hierop gelewer kry nie.
Ek het nét een voorstel en d it is dat jy “digkokon” as ‘n koppelwoord aanbied.

Welgedaan.

26.My huis (Brons)

daar’s krake in die koepel
en skemer in skarniere
van geheime deure
in die mure
van my huis

daar’s geluide in die geuwels
en kankers in die kelders
van vergete dieptes
orals elders
in my huis

daar’s skadus in die solder
en husse in die hoeke
van stowwerige stories
in ou boeke
(26 VERVOLG)
in my huis

maar daar’s lig in die laning
want jeuglik jonk in jare
pronk blou bloed van die vader
deur hul are
in my huis

Die Alliterasie in jou vers is treffend, opwindend en heerlik ritmies.
Jy het ‘n besonderse aanleg vir poësie as hierdie die maatstaf is waaraan jou werk gemeet kan word.
Daar is ‘n sterk karakter van enumerasie in jou vers met opmerkbare en interessante metafore .
Ek hou in besonder van die herhaling aan die einde van jou kwintette. Daar is ook ‘n besonders en opmerklike wending in die laaste kwintet.

Jou vers spreek seker elk en ander aan, want dit is nie net bloot emosioneel nie maar neem ook die “menslike toestand (kondisie)” onder die loep.
Die toon en tempo is sagkens en raak.
Die uiterlike konstruksie van jou vers is deurdag en netjies. Die algemene aanbieding is boeiend.

Baie geluk met ‘n besonderse vers.

31.Kook en geniet (Brons)

Nog regte ergte boerebeskuit
uit ouma se kombuis
die heerlikste mosbolletjies
en karringmelk skons

Piesang muffins
met ‘n knippie neutmuskaat
wat mens nooit in die steek laat
en roosterkoek wat buite bak op die kole

Gemmerbier, vetkoeke
met rosyne
al die watertand lekker resepte
‘n onthou in lank terug se reis

Sin 1: Ek neem aan dit moet lees: “regte egte”?
Kwatryn 1, reël 4: “Karringmelkskons” moet een woord wees. Die maklikste manier om die reël te onthou is: indien twee selfstandige naamwoorde as een konsep gebruik word, maw, indien hulle mekaar beskryf, word dit altyd ‘n koppelwoord. Lees bietjie op oor die verskil van selfstandige- en byvoeglike naamwoorde.
Dieselfde geld vir Kwatryn 2, reël 1: “Piesangmuffins”

Ek wonder of die enjambiese aanbieding van jou vers funksioneel bydra tot ‘n sterker gedig en of ‘n paar leestekens nie konstruktief steun kon bied nie? Ek kan nie namens jou besluit nie, maar ek lees die vers lomp daarsonder.

Dit is ‘n heerlike nostalgiese vers wat meeste Afrikaanse leser terug sal neem na hul kindertyd.

32.Verlore drome (Brons)

Al die opdraandes en afdraandes
stofpaaie en teerpaaie
die reis van die lewe
soms vol sinkgate ander kere glad

Al die waardevolle lesse
dit al’s van lank terug
het ‘n verskil gemaak
van wie jy vandag is

My gebedtjie toe ek ‘n kind was
“Dankie Liewe Heer
maak my hartjie rein en teer”

Vandag het my gebed verander
want vandag se drome
het tussen die gisters
se verlore tyd stil geraak

Daar is enumerasie in die vers, enjambies aangebied met 3 kwatryne en een tersiene.
Die gedig maak my nie in besonder opgewonde nie, want dit voel effe geyk te wees. Die laaste kwatryn het egter baie potensiaal, en kan maklik ontwikkel word tot ‘n sterk gedig.

Terwyl jou vers enjambies aangebied word kan jy oorweeg om nie nuwe strofes met hoofletters te begin nie. Dan verder, indien ‘n gedig met ‘n hoofletter begin, MOET dit sluit met ‘n leesteken wat gewoonlik en mees funksioneel,‘n punt is. Dit is ‘n digreël wat nie verbreek mag word nie.

Jou gedig maak nie ooglopende foute nie, maar die onderwerp en inhoud is holrug.

Dankie vir jou deelname.

SILWER

6.Tydstryd (silwer)

Tikkel tokkel stap tyd verby
verbrokkel die hede om jou en my
Ure word dae wat fragmenteer
maande en jare disintegreer

Donshael jare
vlieg soos bokhael verby
en passant nog ʼn dag
nog ʼn dekade opsy

Onder bouvalle van verlore tyd
lê goue geleenthede weggesmyt;
verbeurde kanse afgelag –
môre is mos nog ʼn dag

En wanneer tyd kom skertsend lag
omdat jy dit so nietig ag
dan wonder jy vol selfverwyt;
“hoe maak ek op, hoe wen ek tyd?”

Tikkel-tokkel het ‘n onderliggende boodskap van nie omgee nie. Dit is eintlik slim aangewend. “Ure” in die 3 reël in die 1ste kwatryn kan nie met ‘n hoofletter geskryf word nie, enook “En” in die laaste paragraaf.
In kwatryn 1, 3 en 4 maak jy gebruik van paarrym en in kwatryn 2 van gebroke rym. Het dit deurgeglip of het jy dit so beplan? Daar is nie vasgestelde ryminstruksies in hierdie projek nie, maar dit mag slordig lyk indien jy sonder funksie en rede van jou rympatroon afwyk.

Die herhaling van “hael” in reël 1 en 2 van die 2de paragraaf is vir my effe hinderlik. As jy dit moes gebruik om aan jou rymbeplanning te voldoen kan ek dit lat glip, maar daar is geen werkbare rede hoekom jy op die woordkeuses besluit het nie.

In die laaste paragraaf kan jy die [;] vervang met ‘n [:] aangesien dialoog volg.
Let op idees soos “bouvalle” wat maklik in digkuns geyk kan wees aangesien dit al soveel keer voorheen gebruik is. Soek, ter wille van jou eie ontwikkeling en varsheid na nuwe en opwindende nuwe woorde om ou geykte sentimente te beskryf.

7.Vergelegen (Silwer)

Vergelegen se ingevoerde kamfers
staan al driehonderd jaar onveranderd.
Hulle was maar altyd hier.

Die herehuis ook.
Van der Stel het haar in die lewe gebring –
sorgvuldig, mildelik voorsien deur die VOC –
maar later verwaarloos, selfs onteer
deur die kitsch van ‘n Ier, gelukkig
dat Lady Phillips haar twee eeue later restoureer
tot volle glorie langs die kamfers.

Die slawelosie, daarenteen,
(vierhonderd-en-tagtig vierkante meter
vir meer as tweehonderd mense)
het lankal verdwyn.
Op ‘n warm middag is hier net kinders wat in die bosse lag.

Terloops, Nelson Mandela het hier geslaap
in een van die kothuise
en langs die oeroue kamfers gestaan,
asof geen kamfers ooit hier gegroei het nie.

Die innerlike bou van die gedig is onoortroffe. Die stemming is nostalgies en geskiedkundig. Ek beny altyd die skrywer wat ‘n storievers met sorg en keur kan skryf en en boonop histories korrek is.

Ek hou baie van die kort en bondige sinne aan die einde en begin van die eerste en tweede strofe. Dit trek dadelik die aandag en boei die leser. Dit is baie slim beplan en suksesvol uitgevoer.

Ek is totaal in lof vir hierdie werk van jou en het werklik nie ‘n enkele voorstel vir verandering nie.

Baie geluk met ‘n besonderse en onoortroffe vers.

8. ex re et ex tempore (Silwer)

“ESCALATOR – UP
FIRST FLOOR: PHARMACY AND TOYS”

Bondel-bondel oplig en gly
staalblokke soos ure verby

In my kindertyd het ek gedog
(en veerplant is mos bog)
‘n trappie kan jou sleep
diep weg in jou moer
daar onder die vloer,
as jy nie jou litte roer
en oor die boonste
gryp-gryp tandjies hop
om speelgoed te gaan kry!

Nou klou ek met die opgaan al
die rubberreëling so styf vas
dat my armpotjie uitruk
soos ek daar vassteek,
bang om die eerste wikkeltree
te mis en trek my voete mee
of laat my skandelik val –
dan kom ek dalkies nie betyds
by my bestemming … die apteek.

Dit is slim om tyd wat verloop, en dus ouderdom met ‘n roltrap te verbeeld. Ek dink die inhoud van jou vers is sorgvuldig.

Ek kan voorstel dat jy nie die uitroep gebruik aan die einde van die tweede strofe nie, enook dat jy die slot so effe aanpas om die klimaks te vergroot.
My voorstel aangaande:
“dan kom ek dalkies nie betyds
by my nuwe bestemming,
die apteek, uit nie.”
Die dubbelontkenning in Afrikaans is ‘n moet, en daarom sou ek voorstel, of jy nou my voorstel aanvaar al dan nie, dat jy wel hieraan gehoor sal gee.

Ek hou van die manier waarop jy die verloop van tyd in jou gedig aanpsreek en dit gemaklik onder die knie kry.

Jou tema hinder egter. Verwys dit nie na ‘n oomblikke uitspraak van ‘n regter nie? Miskien kan jy my leiding gee hoekom jy hierop besluit het. Kommunikeer gerus via direkte boodskap.

Jou gedig is suksesvol en voldoen aan die voorgeskrewe kriteria.

9. Die nes is leeg (Silwer)

sy’s ingenestel op my skoot –
net drie en die sneeuste
syste sagste soenste
haartjies streel my mond

die warm van haar kop
en sekondes stil se woelwater
deurstraal en grond
my ganse wese,
is in my hart geëts

nou’s sy nie meer drie nie,
maar meer as dertig
en tussen drie en dertig
is daar ‘n derde van ‘n leeftyd

sy is nou groot

ek kan haar nie vashou
in my veiligheid,
bly bowendien faal

kan nie meer my eie vreug
en vandag se brood
uit haar lewenshitte haal Dit is ‘n heerlike, nostalgiese gedig.

Jy het in paar strike getrap. Kom ons kyk daarna:
1. Die dubbelontkenning in Afrikaans is ‘n moet. Jy mag nie né teen “nie” in ‘n sin gebruik nie. Een volg altyd die ander. As voorbeeld: “kan nie meer my eie vreug
en vandag se brood
uit haar lewenshitte haal nie.”
Jy het die korrek gedoen in die derde strofe.
2. Die gebruik van leestekens is so belangrik in poësie dat dit vir my soms grens aan die enigste evangelie. Tog, bly dit natuurlik belangrik dat ons dit funksioneel aanwend, en dan verder, die regte teken op die regte plek. Punktuasie het ‘n spesifieke belangrike funksie binne die konteks van die gedig. Kom ons kyk spesifiek na die aandagstreep. Dit word gewoonlik gebruik om die gedagte wat volg te beklemtoon, maar die reël is ook dat dit gewoonlik kontras aandui. DJ Opperman gebruik dit so:
“maar die tarentaal sit stom
op haar nes vol eiers – my hart broei
oor die stad: glas, sink, beton.”
Ek dink jy het dit geslaagd gebruik.

Ek hou van jou gedig, maar stel voor dat jy so effe hieraan skaaf.
Baie dankie vir jou deelname.

10. Rondte vir rondte (Silwer)

Die een ou spoor was groot
en die ander spoor was klein –
hul strompel hygend langs mekaar,
so swaar op teen die duin.

As uitasems bo uitkom,
gaan hul rollend saam afgly
tot amper onder in die see –
gedaan en moeg gestry.

Tot bo is dit tien tree
en dan weer twintig terug.
Só lank geoefen hierin

en die sand bly glibberig.

Interessante inhoud. Die gebruik van die aandagstrepe is vir my nie gepas nie. Ek herhaal weer, soos in ‘n vorige kommentaar: Punktuasie het ‘n spesifieke belangrike funksie binne die konteks van die gedig. Kom ons kyk spesifiek na die aandagstreep. Dit word gewoonlik gebruik om die gedagte wat volg te beklemtoon, maar die reël is ook dat dit gewoonlik kontras aandui. Ek stel die volgende voor:

Die een ou spoor was groot
en die ander spoor was klein;
hul strompel hygend langs mekaar
swaar op teen die duin.

As uitasems bo uitkom,
gaan hul rollend saam afgly
tot amper onder in die see,
gedaan en moeg gestry.

Tot bo is dit tien treë
en dan weer twintig terug.
Só lank geoefen hierin
en die sand bly glibberig.

Die laaste sin, op sy eie maak nie meer impak as wanneer jy dit insluit by die laaste paragraaf om nog ‘n kwatryn te vorm nie. Dit maak jou tipografie ook eenvormig. Ek het klein veranderinge voorgestel, waarna jy kan kyk.

15.Die duif en die doop (silwer)

Die duif stryk neer.
Sy fladderstrompel, maak haar vere glad.
‘n Tikkie purper glim.
Haar krop vol akoestiek,
haar kop wat wieg soos konings in prosessie,
trap sy rond
van sekerheid –
was sy op my dak,
of ‘n gladde beeld van klip,
sou haar kloutjies hoorbaar klik
en gly,

maar ek hoor net gedempte skares staar na
daardie duif –
‘n vlag
op die Man van rots se kop.

Die Jordaanwater drup.

Wolkloos donder die hemel.

Jy neem die leser na ‘n spesifieke periode (‘n gebeurtenis) in tyd. Jou gedig is vir my interessant alhoewel jou punktuasie keuses ‘n paar uitdagings bied. Kom ons kyk saam daarna.
Die eerste drie sinne word gesluit met punte. Ek vra myself, waarom sou jy op dit besluit het? Is die tweede sin nie beskrywend van die eerste nie?
Kyk my voorstel aangaande:

Die duif stryk neer,
fladderstrompelend maak sy haar vere glad.
‘n Tikkie purper glim.
Hierdie klein verandering maak ‘n groot verskil.

Dan verder wil ek een voorstel maak:
maar ek hoor net gedempte skares staar na
daardie duif –
wat ‘n vlag word
op dié Man van rots, se kop.

Jou gedig is vars, en bring die gebeurlikhede van die verlede in lyn met jou “allerdaagse” bestaan. Dit is nie ‘n maklike gedig om te verstaan nie, maar dan weer, is dit nie jou plig om te skryf sodat almal moet nie.

Ek dink jy het baie talent, en gaan met toewyding nét beter word.

17. Die Sirkel is Voltooi (Silwer)

ek by Hom en Hy bý my
lángs my – Hy leer my loop
wankel-kleuter-treetjies
Hy gaan die pad vooruit
so veeg Sy Grootsheid oor my

ek by Hom en Hy lángs my
soos ek die bakens omloop
tienertraantjies
grootmensbaantjies
vrou word – ma word – groot word – oud word
so veeg Sy Wysheid oor my

ek by Hom en Hy ín my
tik-tik, tik-tik, so ritmies
genade wyster bloedrooi
soos die hartklop binne my
so veeg Sy Gees oor my

ek by Hom, Hy reik na my
die laaste opdraand – die laaste uur
ek lig my arms op na Hom
na waar my Maker vir my wag
en Hy dra my in Sy arms huis toe

Ek vind dit altyd moeilik om gedigte met ‘n godsdienstige tema behoorlik te krit, vir net een spesifieke rede: die skrywer ervaar dit as ‘n aanval op sy/haar geloof.
Ek gaan dus oppervlakkig hierop reageer en net die akademiese uitwys om so ‘n situasie te vermy.
Die aandagstrepe in die 2 de strofe is nie funksioneel nie. Ek sou ander punktuasie oorweeg.
3 van die 4 strofes is kwintette en dan is die ander een ‘n sestet? Ek dink vir netjieser tipografie kan jy oorweeg om dit ook na ‘n vyf reëlige strofe te verander.

Ek kan die inhoud nie krit nie soos ek hierbo genoem het. Dit is jou hartsaak en ek weerhou my.

Die vers voldoen egter aan die voorskrifte vir ‘n deurdagte en keurige aanbieding.

18. Onoorwonne – Die dag toe apartheid gesterf het (Silwer)

Die winterson het fier
oor die ou Transvaal geskyn
in drie en sestig duisend harte
het die Shosholoza epies refrein

Laag oorhoofs, dreunend in die lug
oorverdowend deur die atmosfeer
ʼn Jumbo Jet, voor stolpunt in vlug –
om heldemoed te motiveer
“Go Bokke” op sy pens gegrif

Ewe asemrowend, die klimaks daarna
toe Madiba durf in springboktrui
wense van welslae
aan die spankaptein oordra

En later onoorwonne
sou die reënboogvolk seëvier;
verenig om apartheid
– verpulwerd –
op ʼn hellevaart te stuur

Interessante vers.
‘n Paar voorstelle:
In die eerste kwatryn sou ek die “die” voor Shosholoza weglaat.
In die 2de strofe (kwintet) sal ek “Jumbo Jet” met “Boieng” vervang. In dieselfde strofe is die aandagstreep nie funksioneel nie en sal die strofe beter vloei sonder punktuasie.
Ek sou persoonlik strofe 2 deur 4 met kleinletters begin, end an die vers sluit met ‘n punt. Dit is ‘n spelreël dat indien ‘n vers met ‘n hoofletter begin dit met ‘n punt sluit.
Ek hou van die tipografie met die afwisseling van kwintet en kwatryne.

Ek hou van jou vers.
Welgedaan.

19.Tyd in ‘n bottel (Silwer)

x
die
warmte
van ‘n huis
vol liefde, waai
heuningsoete tyd in
druppels goud en blink
bymekaar om te bewaar
in ‘n groot can fruit bottel
om eendag op ‘n reëndag
as mens jou vingers doop
in die taai-soet stroop
te smul aan soet
onthou

.
Dan, “canned fruit” sou die korrekte gebruik wees.
Die herhaling van soet aan die einde vn die gedig is onnodig en kan maklik genoeg met ‘n pragtige sinoniem vervang word.

Ek hou van die tipografie van jou gedig, en wil my effe verstout deur ‘n moederbors daarin te sien. Is dit dan nie die eerste soet wat ‘n pasgeborene ervaar nie. Indien dit so beplan is, is dit baie slim en skerpsinnig.

Die inhoud van die gedig is soet en nostalgies. Let asseblief op die klein jakkalsies want dit maak op breek ‘n gedig.

23. Ek wens ek kon skryf soos ek droom (Silwer)

daar was ‘n draak in my droom
gisteraand na die dertiende uur
toe die nag sy donker begin oprol

hy het vuur oor my gespoeg
ek het in angs roerloos in my bed gelê
en gewens dat ek kon skryf soos ek droom
vreesvol, sielloos, geesvoos en bebroke
met ‘n malse honger wat waansinnig
soek na sinvolle sentimente
iewers tussen lewe en dood

ek het gewens dat ek myself in ‘n koma kon skryf
dat tyd kon stilstaan, soos dit soms in drome doen
en dat woorde ewig uit my kon bloei

dat ek minder sou droom oor oordeelsdae
en meer kon skryf oor dinge
wat diep in my ontwaak Kyk na my voorstel aangaande jou gedig:
‘n draak in my droom
gisteraand na die dertiende uur,
‘wyl die nag sy donker begin oprol

hy het vuur oor my gespoeg,
ek: in angs roerloos in my bed gelê
en gewens dat ek kon skryf soos ek droom –
vreesvol, sielloos, geesvoos en gebroke
met ‘n malse honger wat waansinnig
soek na sinvolle sentimente
iewers tussen lewe en dood

wens dat ek myself in ‘n koma kon skryf,
tyd stil kon staan, soos dit soms in drome doen;

dat ek minder sou droom oor oordeelsdae
en dat woorde ewig uit my kon bloei –
dat ek meer kon skryf oor dinge
wat diep in my ontwaak

Ek verstaan dat jy die vers enjambies wou aanbied seker om die gevoel van vloei, soos in ‘n droom te illustreer. Ek dink tog dat daar epiese oomblikke in die gedig is wat geaksentueer moet word deur van gepaste punktuasie gebruik te maak.
Ek hou werklik baie van jou gedig. Die titel is treffend en het my van meet opgewonde gehad. Oorweeg die vernaderinge indien jy wil.

24. Retoriese Ruimtes (Silwer)

Buite die sfeer van my binnedenke
verstaan ek dat tyd relatief om alles hang
soos ek en jy en ons bestaan
en alles wat stelselmatig elke sekonde vergaan

alom die kern van veranderende winde
wat hulself eeuloos herhaal
selfs saam met my wens dat ons dieper kon wees
as net gedagtes, vel en been
veral as tonge goud spin in hul eie strale

soos daardie keer
toe jy ritmies om my ruimtes kon rank
verby my lyf en verstand
maar noudat dinge skielik dimensioneel dragtig raak
wonder ek weer oor tyd
en ons bestaan
se laaste sielsnaam.

Ek hou veral van hierdie gedeelte in jou vers:
“soos daardie keer
toe jy ritmies om my ruimtes kon rank
verby my lyf en verstand
maar noudat dinge skielik dimensioneel dragtig raak,
alhoewel die hele gedig stof tot nadenke is.

Ek hou van die introspektiewe toon waarin die skrywer (narrator)met ‘n sielsgenoot praat sonder dat die leser met opset weet dat dit werklike dialoog is al dan nie. Die laaste sin in die tweede strofe
“veral as tonge goud spin in hul eie strale”
maak vir my minder sin en is amper lomp oorbodig. Jy as skrywer sal natuurlik die sentiment daarvan beter begryp.

Ek het een klein voorstel ten opsigte van die slot van jou gedig:
“maar noudat dinge skielik dimensioneel dragtig raak
wonder ek weer oor tyd
én oor die laaste sielsnaam
van ons bestaan.”
Dit voel so vir my beitjie sterker.
Jou gedig is werklik mooi met besonders vars beelde.

Welgedaan.

25.Nagdenkers (silwer)

hoekom die donker altyd
die abrupte verdelig van tyd
minderwaardig sal laat lyk
weet mense soos ek ook nie

vraagdun verhale speel daagliks af
tussen mense, dinge, natuur
emosies, die heel gebroke
en die half geheeldes

almal lewe asof tyd geen einde ken
maar saans in die stilte van selfsoek
wonder mens oor wonderlike werklikhede
wat realiteite dalk kan oorgrens
en brue bou na ‘n vreemde toekoms

dit was pikduister toe jy my laatnag bel
my kop was nog in lallaland;
ek het eers gedink ek droom
toe ek jou stem in my oor neerlê
en ek was dankbaar
dat geen môre of gister
daardie oomblik ooit sal kan vervang nie,
want nou weet ek die slotsom van alles
is in jou hart uitgekerf.

Moet dit nie eerder so lees
“die absurde verdeling van tyd” nie?
Abrupte en verdelig??

‘n Woordorde voorstel in jou laaste strofe soos volg:
“dit was pikduister toe jy my laatnag bel
my kop was nog in lallaland;
ek het eers gedink ek droom
toe ek jou stem in my oor neerlê
[was ek dankbaar]**
dat geen môre of gister
daardie oomblik ooit sal kan vervang nie,
want nou weet ek die slotsom van alles
is in jou hart uitgekerf.”
Ek sou ook dalk “uitgekerf” verander na net “gekerf”.

Jou gediginhoud is vars en lees heerlik.

29.Oorbegin (Silwer)

die wenstreep
word ‘n doodloopstraat
wat wyd was word te nou
agter word nou voor, en voor
‘n holderstebolder agterstevoor
groot nou onbenullig niks
commonsense raak nonsens
dak word vloer en vloer gee pad
die klok versnel in agteruit-rat
‘n nimmereindegende reis
met ‘n onseker padkaart
wat nie al die afdraaipaaie wys
soos mens uit jou foute leer
word jou spore telkens omgekeer
nes jy gekom het koers jy terug
terug tot by die eerste uur
terug tot by
die wegspringplek

Die enkambiese aanbieding met slegs een kaomma in die ele gedig maak dit vir my baie moeilik om te lees. Die herhaling van “nou” is ook aie steurend.
Kyk na my voorstel:
“die wenstreep
word ‘n doodloopstraat;
wat wyd was word te nou
agter is voor, en voor
‘n holderstebolder agterstevoor,
groot meteens onbenullig niks
kennis word nonsens
dak word vloer en vloer gee pad
die klok versnel in agteruit-rat
‘n nimmereindegende reis
met ‘n onseker padkaart
wat nie al die afdraaipaaie wys
soos mens uit jou foute leer
word jou spore telkens omgekeer
nes jy gekom het koers jy terug,
terug tot by die eerste uur –
terug tot by die wegspringplek”

Myne is slegs voorstelle, maar om hierdie gedig verstaanbaar aan te bied sal jy van selektiewe punktuasie gebruik moet maak. Orde in digkuns is nie ontneming van vryheid nie. Jy kan jou eie stem behou en méér so as jy by die basiese beginsels van digkuns hou. Jy skryf vir ‘n gehoor en daarom moet jy die lesers tegemoet kom deur die leesbaarheid van jou kuns te vergemaklik.

22. My honger (Goud)

sou my gedagtes maar obsessief
kon spartel en baklei
verby die Swart hond
wat in my woed en stry
die vrese wat my onderkry

kon ek maar skryf
soos ek voel en dink
sou my woorde spirale draai
in die oseaan se eb en vloed
sodat ek hierdie honger binne my
tot versadiging kon laat gedy

Die gedig is duidelik en sluit sterk.
Die idee van “swart hond” is geyk, en miskien nie in poësie nie, maar tog in die algemene skrywersgilde.
Ek dink die meeste lesers sal mooi verstaan waaroor die gedig handel.
Die kwintet en dan ‘n sestet, wat aanvanklik lyk soos ‘n beplande rympatroon en dan weer nie.

Die gedig is egter verstaanbaar. En dit lees lekker.

27.Toe ek ‘n kind was (Goud)

stuur vir my ’n dagbreek uit die Vrystaat
’n vyfuur-in-die-oggend
se breek-my-hart-so-mooi

en stuur die eerste goue strale
wat grasvelde verroes tot byna rooi
*
ek sit hier in ’n kamer, ek kry chemo;
Simonsberg (soos altyd) in my sig
*
maar soms verlang ek net
na Vrystate en vlaktes –
die bloekoms, die murasies langs die pad;
windpompe en koppies in die verte
en skape agter grensdraad
in dik woljasse toegeknoop
wat gedienstig deur die
daeraad se vroegste sonskyn loop

stuur vir my ’n sonop uit die Vrystaat
’n vyfuur-in-die-oggend
se breek-my-hart-so-mooi

want ek hunker na die dae toe ek kind was –
toe oggendstonde kon verroes tot byna rooi

Dit is beeldende kuns sonder ‘n tasbare, harde stuk graniet. Die innerlike bou, die tipografie, die woordkeuses, die emosie, die kunssinnigheid en die produk as geheel is doodeenvoudig net superb.
Dit is ‘n onoortroffe stuk Afrikaanse skoonheid.
Ek kan maklik lieries raak hieroor.
Die raakbare verlange en verbeeldende “vyfuur-in-die-oggend se breek-my-hart-so-mooi’ breek my as leser se hart langs dieselfde lyne, net so epies en nét so mooi.

Jou kuns staan uit en jou talent skree in fanfare.

Welgedaan.

28. ’n Oomblik se wonder (Goud)

Ek het omgedraai
en na die see gekyk
(rigting Melkbosstrand) –
daar waar oeroud mosselskulp
versplinter het tot sand.
En soos eens
het die silwer dag weer aand geword
en die water – vlam en vuur;
toe meeue bo die branders klim
…toe vermiljoen die skemeruur.

En stil het ek bly wonder:
Sal daar eendag (millennia van nou)
weer ’n vrou, nét hier
op dieselfde plek kom staan –
hier waar lig en skadu
beurt’lings oor die aarde wals.
En sal sy (soos ek)
ook wonder oor die wonder
van dit als?

Die gedig is aangrypend. Die manier waarop jy ‘n weg voorberei vir die leser om end-uit, tot by ‘n uitdruklike klimaks, te wandel in en om en deur jou eie kop met behulp van die beelde wat so voelbaar is, is omvangryk.

Jou punktuasie is foutloos. Die struktuur van jou gedig is magies en die inhoud draal in die leser lank na die laaste klank weggesterf het.

Jou talent is besonders.
Dankie vir ‘n pragtige vers, en, dat ek daarin kon deel.

30. Die somer sal weer kom (Goud)

My ink het swart modderspore gelaat terwyl my smeking gewag het op beloftes van ñ nuwe dag.

Die Sabbat het geruisloos
verby gesluip;
ñ loflied versteen in sout

en die son –
die son het skuiling gaan soek teen die aanslag van die wind
tóg, iewers deur die nag
het die aarde se as
tien grade teruggeskuif,
reg onder die glimlag van die maan
want daar, dáár het die vyekoek genesing van Bo gebring –
nou jubel my wese opreg
as ek by die tempelpilare vertoef

en ek wéét –
die somer sal weer kom.

*2 Konings 20

Die sagte verwysing na Hiskia se verhaal in jou vers is slim.
Die gedig is pragtig. Die beelde is ryk, lieflik en mooi.

‘n Opvallende en pragtige gedig. Ek het geen kritiek of voorstelle hier nie.

Welgedaan.

GORRELS
1.My kattekinders (882 woorde) – Dankie vir jou deelname.
2,Watter ons is in jou pond? – Ek dink jy het ‘n belangrike onderwerp, geheel sensitief aangeroer. Ek het jou skrywe lieflik en komies gevind.

RUBRIEKE
Loop saam, loop saam deur die lewe
(51) Spelling: Hanover Straat
Snelskrif en “Shorthand” is een en dieselfde ding.
Let op punktuasie.

Dankbaar oor my lewensreis – Dankie vir jou deelname
ARTIKELS Geen

VERHALE
Markdag – Dankie vir jou deelname
Die mis – Die storie is verwarrend. Die leser sal nooit weet waaroor die effere gaan sonder nodige leiding en bekendmaking en behoorlike karakter ontwikkeling nie.
Draakplaag – Dankie vir jou deelname
Die een wat weggekom het Dankie vir jou deelname
Genesis II Dankie vir jou deelname
Lucy leer loop – Interessante storie. Jy kan dit gerus ontwikkel in ‘n volwaardige kortverhaal
In die begin – Interessant

Ink moderator




TEMAS
2 Kommentaar
  1. morne du preez

    5 Desember 2019

    Dankie ink moderator jou wysheid en kennis dra ek altyd op hande en waardeur die tyd wat U spandeer om ons voorleggings te lees en ontleed.

  2. Viooltjie

    5 Desember 2019

    Baie dankie, Inkmoderator, vir al jou tyd en werk wat jy aan ons skrywes spandeer. Dit word opreg waardeer.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 240
Kommentaar telling: 2708

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 65 gaste aanlyn

Bydrae Totale