Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Projek uitslae Augustus 2019 – Wilde wind projek

Deur Anze
Datum gepubliseer: 10 Desember 2019 Aantal woorde: 4851 237 Kere gelees 3

WENNERS
GEDIGTE:

GOUD
WENNER: No. 15 – Carma Shaw met Oor Kannaland waai ’n winterwind
2 DE: No. 16 – Anzé Bezuidenhout met Vreugde in blou

SILWER
WENNER: No.14 – Marieta McGrath met Grond
2 DE: No. 19 – Caren Kearley met Maanengel
3 DE: No. 20 – Caren  Kearley met Gestroop

BRONS
WENNER: No. 7 – Charles Skeen (©Teárlach) met Mistig
2 DE: No. 5 – Morne du Preez met Storm
3 DE: No. 2 en No. 12 – Charles Skeen (©Teárlach) met dit is gedoen EN Amanda Meyer De Meillon met Wilde Weste Wind

GORREL
WENNER: GEEN

ARTIKELS
WENNER: GEEN

RUBRIEKE
WENNER: GEEN

VERHALE
WENNER: No. 4 – Riaan Palmer met Krisjan Visser maak ‘n plan
2 DE: No. 3 – Lynne Lexow met Wilde winde
3 DE: No. 5 – Amanda Meyer De Meillon met Oupa se borrelwind blaps

Baie geluk aan hierdie 11lede!

KOMMENTAAR
1.Winter-nag

soos die nag oopskeur
word donker tussen die
sterre en die maan uitgestrooi
val die stilte oor die berge
dof en ver om die donker te voltooi

soos die donker wen
sal ek jou drome herken
met die stap van die nag
bo or die donker sterrenag

ons staan in die roerlose straling
tussen die donker dinge
waardeur ons lewens gaan
saam tot die laaste flikering
voor ‘n nuwe dag opstaan

Kom ons lees weer die opdrag:
Enigste rym is halfrym m.a.w. alliterasie en assonansie;
Tema: wilde wind
Jy het korte mette gemaak van die rym instruksie met besondere goeie, gepaste en funksionele alliterasie. Jy het egter klei getrap deur endrym in sekere reëls in te sluit.
Moet ek jou daaroor diskwalifiseer? Ek wil nie graag nie, maar ek moet konstant wees in my krit. Dit tel dus punte teen jou.
Dan, die tema. Ek weet die opdrag sê letterlik of figuurlik, maar ek kan nie ‘n enkele verwysing, hoe klein ookal. in jou vers merk nie.
Verder is daar ‘n heilige koei: spelling!
“Bo-oor”, “flikkering”
Indien ‘n skrywer met woorde boer, en dit die enigste gereedskap is om die storie te verbeeld, dink jy nie dat korrekte spelling die begin en einde van dit behoort te wees nie? ‘n Digter wat spelling afskeep is NIE ernstig oor die kuns van poësie nie.

2.dit is gedoen

in die omte van my duin
het ek gefilosofeer en gedroom
my gees het behoorlik gesweef
gedagtes het woorde geword
woorde het gedigte gemaak
gedigte het stories vertel
party word gelees
ander vergeet
gedoen
maar
nie
volbring

Jy het op ‘n paar plekke van halfrym gebruik gemaak.
Die eerste sin het my effe herinner aan die teenwoordigheid van wind, maar as dit nie vir die “duin” verwysing was nie sou ek dit moeilik kon raak lees.
Ek hou van die tipografie wat ook dalk effe na winderigheid kan verwys.
Jou vers is bondig en baie lekker om te lees.
Mooi gedoen.

3.Tussen ons

Jy is die wind
wat woes deur my waai
tussen winters’blare
het ek jou gevind

In ‘n woud
so bitter koud
het jy in my hart
weer ‘n vuur laat brand

Jy is my drome
wat dwarrel-warrel
in die hemel se blou
my lag, my huil en vreugde

Die opdrag is dat jy van halfrym gebruik moet maak, waar jy bietjie klei getrap het.
Halfrym beteken dat ons van alliterasie en assonansie gebruik moet maak. Jy het met “dwarrel-warrel” die opdrag nagekom maar in die 2de strofe het jy van endrym gebruik gemaak wat dus buite die spektrum van die opdrag geval het.
Verder, “wintersblare” het nie die afkappingsteken nodig nie.
Tipografies sal jou vers mooier vertoon indien jy die 2de en 3de kwatryne sonder hoofletters begin. Indien jy egter jou vers met ‘n hoofletter begin behoort dit met ‘n punt te sluit.

Jou inhoud is egter boeiend en ek dink jy het die emosies mooi oorgedra.

4.Die frekwensie van gees

Daar is soms
spiraal frekwensies van ons gedagtes
wat in die diepste denke
van ons gees
vrede vind
in die wildste wind
veerlig stil vlieg
kalm toe oë
storms bedaar.

Kom ons begin by die mees opvallende: “toe-oë” sal in hierdie geval gekoppel word.
Ek wil voorstel dat jy punktuasie oorweeg na “vrede vind”, maar selfs daarsonder lees die gedig funksioneel enjambies.
Punktuasie sou dalk ook funksioneel aangewend kan word in die laaste drie sinne.
Ek hou van die kragtoertjie deur baie te sê in ‘n klein spasie.

Wel gedaan.

5.Storm

Ek is ‘n storm
diep toegesluit
in die verlate vlaktes
binne my

Ek is ‘n storm
warrel-wind oor
die uitgedorste holtes
binne my

Ek is ‘n storm
wat branders breek
en name vergeet
binne my

Ek is die storm
binne my.

(Ek wil ‘n voorstel maak: )
Ek, ‘n storm
diep toegesluit
in die verlate vlaktes
binne my

Ek, ‘n storm
warrel-wind oor
die uitgedorste holtes
binne my

Ek, ‘n storm
wat branders breek
en name vergeet
binne my

Ek is die storm
binne my.

Kyk of jy dalk saam stem dat die weglaat van die lidwoord en vervanging met ‘n komma, die klimaks teen die einde van jou gedig versterk word. Die herhaling in die kwatryne lei tot ‘n behoorlike volta wat dan “ontplof” in ‘n pragtige klimaks. Die halfrym opdrag is mooi uitgevoer met assonansie nl.
“verlate vlaktes”, “uitgedorste holtes” en “breek…vergeet”

Welgedaan. Oorweeg gerus die voorstel.

6.Vuisvoos

skakerende strale verlig die blindes se vuisvoosheid en
verdoem die voortvarendes tot ‘n dieper duisternis
onder verpletterende verwarring van ‘n onheilspellende onderwereld,
stry die mensdom teen asemnood, tot die dood berusting bring

hoe lank gaan die genadelose gemartel die kinders kwets,
of verligting verlangsaam in ‘n skyn van glansende glorie,
onder die edel elemente van die kritiek van die kerk en die
witgepleisterde grafte van gemors ?

tot lank nog ; tot in ewigheid ; tot die perde horings kry ;
tot wanneer die vlugvloue voels die weerwolwe met hul
tande verskeur en die aarde bemes met hul beendere

tot die berge bewe en uit hul vaste vestings val
en in die bloedbevlekte soutsee instort…
tot die Here kom my ou… !!

Ek dink jou vers sal daarby baat indien jy hier meer woordekonomies omgaan. Jou sinne is lank en swaar met oorbodige en onnodige woorde.
Dit is ‘n fyn kuns om genoeg weg te gee in jou verse en genoeg terug te hou sodat die leser selfs ‘n verbeeldingsvlug kan neem. Kom ons kyk gou na die eerste strofe, met voorstelle:

skakerings verlig die blindes se vuisvoosheid;
voortvarendes verdoem tot dieper duisternis
verward in ‘n onheilspellende onderwêreld
stry die mensdom teen asemnood
tot die dood berusting bring

Ek het die strofe met 6 woorde gesnoei sonder om die betekenis daarvan die te verander. Lang sinne is baie moeilik om ritmies te bemeester. Daar is nie rigiede reëls aangaande nie. Die digter moet maar op eie intuïsie staat maak.
As jy na ‘n gedig en die bou daarvan kyk as ‘n resep, dan is dit belangrik om die bestandele hard en duidelik te noteer maar dat die metode hoe om die resep te volg kan in die hande van die leser gelaat word. As jou bestandele reg is, kan basiese digkennis die leser genoegsaam lei om die volle betekenis en die sukses van jou werk te smaak.
Oordoen, oorsê en oorvertel is drie belangrike idees wat jy ingedagte kan hou as jy verse bou.
Gesels gerus met my per inboks by InkModerator.

7.Mistig

pikante, dekadente visgereg
sag soos sy geweef in diep blou see
so laai die miswolke op oor die baai
met dagbreek is sigbaarheid min
stadig blaai sonstrale daardeur
open die baai soos ‘n boek
met bladsye van ragfyn
strale oranje lig
wat woorde
in kleure
verf

Jy het mooi keuses gemaak om die halfrym te inkorporeer. Ek neem aan die “blaai” is ‘n metafoor vir wind en dit is vir my mooi.
Ek hou van die besonders en heerlike assonansie. Die tipografie is ook mooi en dit is asof die gedig kragtig eindig met die losstaande woord.
Die inhoud van jou gedig is werklik deurdag en lieflik.
Baie geluk.

8.Treurende windjie

Die wind treur deur die gleufies sy eensaam gesang.
Word so een met my verlore verlang.
Sny koud en diep tussen gleuwe en vlaktes.
Heg soos hakkies aan my verdiepte gedagtes.

Roep deur oop spasies sy verlore geween.
Trek my nader aan my eensaam alleen.
Blaas deur die lug met sy asem van ys.
Laat ‘n rilling deur my liggaam ruis.

Jou geween oor die aarde is verlore verdriet.
Hoor wat ek sê, jy huil verniet.
Maak maar jou woning in my siel so geroes.
Hier is alles reeds droog en verwoes.

Ek wonder waarom jy besluit om elke sin met ‘n punt te sluit. Dit hinder die ritme. Dit sou beter gewees het indien jy dit enjambies aangebied het.
Ek wil nie aan jou gedig krap nie aangesien ek dit nie wil verander sodat dit nie meer jou eie is nie.
Jy het gehoor gegee aan die halfrym opdrag en aan die tema.

Ek sal hierdie gedig graag weer onder oë wil kry as jy daaraan geskaaf het.
Die inhoud het ongelooflike potensiaal en met die hulp van ritme en metrum kan dit omskep word tot ‘n uitstaande vers.

10.Storm’wolke

Soos ‘n
warrelwind
stormwind
het jy al die emosies
in my oopgeruk

Net om weer
my met wilde gedagtes
heen en weer te slinger
…nog ‘n keer het ek weer probeer

maar jy’t my met ‘n gevoel van
bitter-seer
se reuse golwe
wat deur my gemoed skree, agter gelaat

Waarom skryf jy jou titel met ‘n weglatingsteken? Elisie word slegs ingespan indien ‘n klank of klankgreep uitgelaat word ter wille van ritme ensovoorts, bv. “elk’ in plaas van elke”
Die tweede strofe kan funksioneel sonder ‘n hoofletter begin.
Jy het gehoor gegee aan die halfrym opdrag met “heen en weer” en “keer het ek weer”.

Die personifikasie waar golwe skree is vir my vars en mooi.
Ek wonder of die woordkeuses in die laaste strofe egter die beste keuses was.
Ek hou egter van die inhoud en die gedig beskik oor potensiaal.

11.Huil

Huil maar liewer liewe kind
strooi jou swaarkry op die droë stof
van vergange vestings
en soos ‘n skroeiskerm teen die son
lok jy daarmee ‘n lowergroen
skouspel van sierade
met patrone van laplande
teen weergalose wolklose hemele
in skemerskadus
wat jou tragedies toedraai
in kantlose katoen
en wegbêre
tot more..

Dit is ‘n emosionele vers by die intrapslag. Daar is ‘n paar woordkeuses wat ek dalk sou aanpas, nl. “vergange” wat eerder “vergane” kon lees en “tragedies” eerder “tragies”. Die ellips aan die einde van jou vers het spesifieke funksie en word altyd as 3 […] punte aangetoon. Dit skep spanning en onsekerheid wat dus die vers ooplaat vir interpretasie.
Ek dink jou vers sluit in sekerheid en vind dus die gebruik daarvan nie funksioneel nie.
Punktuasie in die gedig is afwesig en myns insiens vir seker nodig.
Die inhoud is egter opwindend en met die regte veranderinge kan dit ‘n spogwerk wees.

12.Wilde Weste Wind

Wanneer die weste se winterwind
speel-speel aan jou rokspant pluk
kom loer hy kamtig parmantig
onder jou soomlyn in,
‘n hand op jou hoed
terwyl weste wind
giggel en lag,
plesierig, prettig
sy aandag verskuif;
katjie kierang van die baan
dans hy oral met jou saam
terwyl jy rieldans
om rok en hoed te red
waai weste wind warrelend weg
om
sy
volgende
slagoffer
te
gaan terg.
Oorweeg die openingslyn so:
“Wanneer die winterwind uit die weste…”

Die herhaling later van “weste” en “wind” en “hoed” is vir my oorbodig en kon suksesvol of weggelaat of vervang word.
Die ligte, amper komiese toon in die gedig is heerlik en lig.

Ek wonder oor die tipografie wat jy aangewend het teen
die einde van jou vers? Dra dit by tot die algehele wind tema
of het jy ‘n ander rede waarom jy hierop besluit het?

Jy het die halfrym opdrag mooi bemeester deur van alliterasie
gebruik te maak. Ek hou van die inhoud van jou vers. Ek vind
dit gemaklik aards en heerlik lig. Die ritme is ook heerlik.

13.Siel vasgevang

grenslose eindige vernietiging
vasgevang tussen tralies
bedink in ysverweerde sel
tussen yster en mure
‘n laaste groet kom aan einde

wat besiel denke aandadig
aan nog een in lewe vasgevang
ploeter voort asof niks gebeur
maar tussen vier mure
‘n laaste besluit oorgegee

‘n besluit is geneem en uitgevoer
stof tot nadenke gryp iemand
aan ‘n laaste grashalmpie
maar tog verniet gee hy oor
die stryd gewonne verby

vreesbevange lyk sy oë
uit wil hy uit maar deel ook
dieselfde vier mure aandadig
aan nog ‘n siel vasgevang
in sy eie stryd van verlossing

te laat het die besef gekom
‘n lewe op die spel aan selfvernietiging
word ‘n eiewysige besluit die laaste
groet aan ‘n yskoue sel
‘n vreesaanjaende ewige stilte

kom stof tot nadenke ‘n sielestryd
wat voorlê vir tog so baie
aandadig in die hole van die nag
uitvaagsels hou hul vasgevang
in ‘n greep van ‘n lewe sonder niks

Hierdie gedig van jou het soveel vleis om die bene dat dit vir die leser baie moeilik is om na behore sin te maak uit die inhoud. Die aanbieding is onaangenaam kripties en blyk asof dit ‘n versameling woorde is wat in ‘n skudvleis gegooi is, en gehoop is op die beste uitkoms.
Die leser is vanaf die eerste sin totaal verward as gevolg die vele konsepte, tekort aan nodige lid- en bywoorde.

Dit is asof jy van die eerste na die tweede en dan verder na die derde persoon verwissel sonder dat dit gemotiveerd of ordelik is.

Daar is ‘n gebrek aan alliterasie en assonansie soos die opdrag vereis en verder lees ek ook nie die tema-opdrag raak in jou aanbieding nie.

Ek sal jou baie graag wil help om hierdie gedig te redigeer. Stuur vir my ‘n inboks na InkModerator op die INK webwerf. Ons gesels dan verder.

22. Augustus Wind

Wind
Augustus- jou stoute kind,
Voor ons ons oë kan uitvee kom jy met die wind…
Alles deurmekaar, roep jy bestuiwing se eksemplaar;
Nou staan my hare alweer soos ‘n vals noot op ‘n kitaar.

Waai wind waai..
Laat al die dromers se gedagtes rondswaai!
Neem ons na die volgende seisoen,
Met Perlemoen , vars vroeë oggende en jou pienk vat-soen.

(Ek stel voor soos volg: )

Augustuswind, jou stoute kind,
voor ons ons oë kan uitvee kom jy en waai
al’s deurmekaar, gebeur bestuiwing hier en daar
én my hare alweer soos ‘n vals noot op ‘n kitaar.

Waai wind waai
laat al die dromers se gedagtes rondswaai!
Neem ons na die volgende seisoen,
met Perlemoen , vars vroeë oggende en jou pienk vat-soen.

Selfs die laaste twee sinne het aanpassing nodig, maar ek is nie seker wat jy met “vat-soen” bedoel en of jy van fatsoen praat nie.

Jy maak nie werklik van halfrym gebruik nie en op twee plekke in die gedig is enkel volmaakte rym. Dit is dus nie getrou aan die opdrag nie.
Jy het gehoor gegee aan die tema-opdrag. Jou gedig, ten spyte van my omvattende kommentaar en redigeringsvoorstelle het baie potensiaal.

SILWER

9. Somoya

Dit is die lentebries
wat my hartsnare roer
as sy die winter sonder onweë
al vêrder en vêrder
die grasveld in-sjoe,
na ‘n koue plek vêr hiervandaan
waar miswolke droewig
om ‘n ewe mismoedige
wintermaan draal

Maar dis jý Somoya
– die wilde wind –
wat die passie in my aanroer
wanneer in voorskou
van ‘n strorm-simfonie
jy die hemel elektries
met silwer verblits
terwyl jy jou asem
die somer inblaas

Dit is ‘n heerlike lees gedig met ‘n lieflike ritme.
Daar is ‘n paar dingetjies waarop jy egter moet let. Spelling, veral as taal juis die gereedskapstuk is waarmee jy jou gehoor moet betower, is van kardinale belang. Daar is geen verskoning vir spelfoute nie: “Storm-simfonie”

Halfrym is skraps.

Jy het gehoor gegee aan die tema opdrag en oor die algemeen het jy ‘n heerlike ritmiese gedig met genoegsame stof tot nadenke.

Ek hou van jou vers, en as dit nie vir die spelfout was nie, sou jy triomfeer as een van my gunstelinge in hierdie projek.

14.Grond

daar is nou niks meer wat die grond terughou nie
die wind was nog nooit so wild soos nou nie
sê my ma toe ek bel uit die Kaap
die sand staan op soos mis
en skuif in vlae onbetrokke treine
tussen plaas- en werkershuise deur

my ma sê dis die ergste droogte
in veertig jaar
ek is skaars veertig
my trauma is ‘n kleintydfoto
die wind daarin fluit sand
wat soos rooi ribbes lê

die bure glo nie in klimaatsverandering nie
sê sy maar sy weet ons lewe in die eindtyd
en as ek, my broer, my suster nie kom boer nie
verkoop ons die grond
waar my oupagrootjie eerste die diep waters raakgeboor het

ek vra of daar niks is wat die grond terughou nie
die wind was nog nooit so wild soos nou nie

Dit het tyd geword dat ‘n gepaste woord in Afrikaans ontwikel word vir WOW!

Dit is sonder twyfel een van die heel beste verse wat ek in ‘n dekade gelees het. Dit aards en eerlik. Dit is vir seker ‘n wengedig.

Jou gebruik van asyndeton in die sin “en as ek, my broer, my suster nie kom boer nie” is opvallend en pragtig aangewend.

Jy maak gebruik van halfrym en eksplisiete denotasie.

Die struktuur van jou gedig is ook slim met ‘n prysenswaardige begin wat dan aan die einde as ‘n volta aangewend word.
Ek wil die gedig oor en oor lees, want dit is suiwer, onoortroffe en lieflike kuns.
Baie geluk met hierdie vers. Jy mag met reg trots wees daarop.
Hierdie vers het die hoogste punte in jou afdeling, ooit, verwerf.

17. DAAR IS ‘N WILDE WIND WIND WAT WAAI

daar’s ‘n wilde wind wat waai
my siel onrustig, deurmekaar
in rigtings ver verwyder
na wanhoop van die lewe se ashoop

daar’s ‘n wilde wind wat waai
deur hartstog en verdriet
van verlies lankal verlore
in donker grotte versteek en afgesonder

daar’s ‘n wilde wind wat waai
soos die opskop van ‘n hings
ongetem, los en vry
in groen weivelde met sy God versoen

Lees weer hierdie sin van jou: “in rigtings ver verwyder
na wanhoop van die lewe se ashoop”
Maak dit vir jou sin? Hoe verwyder ons na wanhoop?
Die drie kwatryne lees asof hulle totaal losstaande van mekaar ontwikkel is en asof hulle nie aan mekaar verband hou nie.

Jy sluit die vers deur “hom” met “sy God versoen” te laat. Ek as leser weet nie of jy van die wind, die hings of die spreker in die vers praat nie.
Die gedig benodig werk.

18. Hy was toe ook bad news

Hy het my gefriend request,
my eerste liefde,
op facebook –
sy gesig na veertig jaar
‘n agteroorskopskok
van seer en dwarrels en bloei
van waar en wat, hoekom,
van onthou en wat kon wees –
ons vier dekades vloei,
versmelt so bittersoet
met my hart se steeds
bekende gloed.

Maar so ewe diskreet,
het hy aan my fondasies
stadig maar seker weer gekalwe,
my weerloosheid getroef,
totdat ek onthou hy was
vroeër reeds ‘n boef –
wat my wanpersepsies
laai om sy onthalwe
my met ‘n meesterhand
net nog meer wou speel
en my stem nou heel
verstik sou laat.

Hy was toe óók bad news

Hy het my gefriend request,
my eerste liefde,
op facebook –
sy gesig na veertig jaar
‘n agteroorskopskok
van seer en dwarrels en bloei
van waar en wat, hoekom,
van onthou en wat kon wees –
ons vier dekades vloei,
versmelt so bittersoet
met my hart se steeds
bekende gloed.

Maar so ewe diskreet,
het hy aan my fondasies
stadig maar seker weer gekalwe,
my weerloosheid getroef,
totdat ek onthou hy was
vroeër reeds ‘n boef –
wat my wanpersepsies
laai om sy onthalwe
my met ‘n meesterhand
net nog meer wou speel
en my stem nou heel
verstik sou laat.

Indien die webwerf dit sou toelaat sal jy dan natuurlik kursiewe letters gebruik om in engels te skryf. Die akute beklemtoning op “ook” in jou titel kan ook oorweeg word.
Ek hou van jou aards eerlike vers wat vir die leser insae gee in die stryd van ou en nuwe liefde wat nie altyd tot voordeel van die eie psige is nie. Jy het die “storie” mooi gedeel. Jy het mooi van halfrym gebruik gemaak soos die opdrag vra maar ek het effe gesukkel om die titel opdrag in jou werk raak te lees.

19.Maanengel

Dis koud in ons kamer
die wind waai stil deur die huis
dis al Augustus in die Boland
en die skepping se stof
hang buite tussen Peperboomblare
en die oop ruimtes in my kop

ek is soms nog jy of ons
my gedagtes vertak verder
deur die donker gange van ons stil woning
versink ook in die immer-alleen
wat soos spoke om ons hang
verby die leerbanke en geelhout tafels
– so sonder om lewe hier raak te lees

jy draai terug en stap tot skuins voor gister
na die warm skadus van jou mensgrot
wat soos wolke aan jou skouers klou
ek staar na die groen maanmot
in die vensterbank voor my
hy dartel van bo na onder
– vas teen die glas-
en ek wonder
of sy maan
hom later
sal mis

Dit is ‘n aangrypende vers wat die leser van die staanspoor innooi om deur die huis, wat hier vir metafories verwys na die mens, sy kondisie, sy hart en sy plek in die heelal. Ek mag verkeerd wees. Jou vers is besonders ontwikkel waar die leser deur die huis, wat dan as koud, leeg en leweloos gesien kan word; dan verder vertak dit en brei uit na gedagtes maar verloor steeds nie die metaforiese koudheid nie, deur na die tafels en spesifiek na die “leerbanke” te verwys.
Die laaste strofe spreek die lewe self aan, sku in skaduwees maar steeds tasbaar genoeg vir die leser om insae te kry in die toestand van die narrator se binneste. Die insluiting van die maanmot wat skoonheid maar ook ontwykendheid kan voorstel. Jou tipografie is interessant en die halfrym opdrag is mooi nagekom.
Ek hou van jou vers wat heerlik lees en nuwe en vars metafore insluit en ontwikkel.

20.Opregtheid

Niks is meer soos gister nie
dink ek; met die maligheid van my eie saligheid
voor ek ontsnap na ‘n ongekende ewigheid
gee my dan eerder terug
aan alles wat ek gehad het
voor jý my pad kom teer het
met liedjies en lagstories
oor jou onverklaarbare liefde
wat Suidoosters kon opruk
of ligtorings leeg sou laat lyk

want ons is nou elkeen alleen
en ek sê weer
om asem te haal
maak soms opreg seer

Kom ons kyk gou eers na ‘n paar akademiese oorwegings.
Die woord “malligheid” (wat jy verkeerd gespel het met slegs een “l”) is ‘n volksmond woord en die beter Afrikaanse keuse is malheid. Malligheid is nie verkeerd nie, en jy kan dit met graagte gebruik, maar let dan daarop dat jy dit reg spel.
Die gebruik van “teer” in lyn 6 pla. Jy het nie die woord nodig vir halfrym nie so ek dink daar is beter keuses beskikbaar. Kom “vul” het kom as een so moontlikheid.
Jy maak gebruik van sulke mooi metafore soos “suidoosters laat opruk” en “ligtorings leeg sou laat lyk. Dit voel egter vir my bietjie dun om die been en jy kan die funksioneel ontwikkel sonder om woordoorbodig te word.
Jy maak gebruik van halfrym soos die opdrag vra.
Jy het gehoor gegee aan die tema opdrag.
Onthou, indien ‘n gedig met ‘n hoofletter begin MOET dit met ‘n punt sluit.
Jou gedig lees maklik en ritmies.

21.Gestroop

De moer in is maklik –
die adrenalien is goed,
maar dit word vinnig
en seker uitgewoed
tot net die seer
sinneloos
skeur deur
my gemoed.

Ek het gefaal en
kan niks fix –
heel te lig bevind,
want jy kan nie, het nie,
wil nie meer
jou hart aan myne bind.

Jou woorde, my drome
is in total abandonment
vir ewig verfrommel,
verdraai deur die wind.

Ek staan alwéér
radeloos, verlate,
klein soos ‘n kind.

Jou gedig begin interessant maar dan betree jy die slagyster van geykte, deurtrapte digkonsepte wat hierdie leser al tot vervelens toe gelees het. Om in die liefde verlaat te wees sal altyd ‘n ou konsep wees maar dit vat ‘n besonderse digter om dit nuut en vars aan te bied, maar dit kan gedoen word. Jy het in my mening nie daarin geslaag nie.

Jy het ook nie genoegsaam aan halfrym in jou vers aandag geskenk nie.

GOUD

15.Oor Kannaland waai ’n winterwind

Klein Karoo
jou winterwind
kom middernag aan’t lewe
waai woes alom die Gamkaberg
skop stof op in die droë loop
waar Tierkloof tussen kranse gang

sy ruk aan bossies en aan bome
sy maak amok in die donker uur
tier haar woede
en versteur die vrede

sy sis en suis oor dorre velde
teister skaap en hond en hoenderhaan
stroom wild om klipmurasies
wat nog hoopvol
in leë vlaktes pryk

Kannaland
jou winterwind
vlaag oor kranse en deur klowe…

maar smôrens ween sy
al hoe sagter
tot sy stil word in haar sterwe

Dit is ‘n heerlike gedig wat ritmies speel met die halfrym opdrag. Die inhoud is tasbaar ontwikkel en die beelde lewe in die geestesoog van die leser.
Die vers word mondig in die 21 ste lyn tot ‘n heerlike sagte,windstil sterwe.

Jy het die gedig besonders ontwikkel en dit is duidelik dat elke woord met sorg gekies, oorweeg en geplaas is.

Daar is iets besonders aan die lieflikheid van ‘n vers wat met natuurbeelde speel en dan die leser bederf met ‘n bepeinsde en grandiose grootsheid. Die beelde lewe in jou vers. Dit is ‘n heerlikheid.

Welgedaan.

16. Vreugde in blou

deur die duisende Judasse
wat my pad sou kruis
het ek die opregtheid
van die reën geruik
waar dit op die windasem
skoppelmaai sou ry;

vrees het gesteier
die wind het orkane gedraai
skadu’s het gesmeek
om ’n nuwe verbond te smee
onder druppels van vergifnis

nou lê my vreugde in blou geraam
skaats dit saam
tussen soetgras en besembos
op die stem
van ’n sagte Somerswind

Ek wil bietjie verwyl by hierdie gedig. Vergun my asseblief.
Jy skryf ‘n 3 strofe vers; begin met ‘n sestet, en volg dit op met twee kwintette.

By die staanspoor doen jy die opdrag van halfrym gestand met heerlike alliterasie “deur die duisende Judasse”
Jy vergelyk die “rugstekery” van ‘n Judas met die opregtheid van die reuk van reën. Dit is mooi personifikasie.
Die is interessant dat jy gebruik maak van ‘n bepaalde lidwoord om na die “windasem” te verwys asof dit ‘n metafoor behoort te wees vir iets of iemand anders. Dit bly vir my interessant.
Die volta in jou vers begin baie eerder vir my in die eerste sin van die eerste kwintet maar die werklik ommekeer gebeur in die laaste strofe.

Die inhoud is besonders.

Jou gedig is werklik besonders. Dit lees heerlik en ritmies.

Welgedaan.

GORREL GEEN

RUBRIEKE

1.Hou styf vas

Dankie vir jou deelname. Let daarop dat jy die konstruksie van jou skryfstuk beplan, en nie onsamehangende inligting verskaf nie. Om humoristies te skryf is baie moeilik en daarom kan minder woorde met meer trefkrag ‘n beter impak hê. Let asseblief op spelling want dit is dié belangrikste wapen in jou arsenaal as jy ‘n skrywer is. Dit is ononderhandelbaar.

ARTIKELS

1.SA Nuus

Dankie vir jou deelname. Ek het dit humoristies gevind. Let asseblief op spelling en die gebruik van afkortings (soos Jhb) is geheel en al nét luiheid. Jy sal nooit in ‘n tydskrif sien dat joernaliste of skrywers so skryf nie. Jou skryfwerk is spieël wat jy ophou vir die leser om jou te sien en sulke slordige skryfwerk laat nie ‘n goeie indruk nie.

2.Wilde perd van Afrika

Spelling is die mees belangrike wapen in die skrywer se arsenaal. Dit is belangrik om daarop te let dat selfs nie een spelfout deurglip nie. Dit is in my opinie ‘n onvergeetlike fout. Ek krit nie eens skrywes waarin ek selfs ‘n enkele een opmerk nie.

3.Gee, gee, gee

Dankie vir jou deelname

VERHALE

1.Mountain Splendour Oord

Die verhaal is nie ten volle ontwikkel nie. Die tydsloop is nie vloeiend nie. Die sinskonstruksie is baie swak. Punktuasie ontbreek. Indien jy aan ‘n uitdaging deelneem met 600 woorde as afsnypunt behoort jou storie en die karakters vinnig maar akkuraat ontwikkel te word. Hierdie verhaal is te lywig om in 600 woorde te vertel en daarom maak jy die onvermydelike foute.

2. Voet in my hart

Sinkonstruksie? Spelling? Woordkeuses soos “brode met bestellings” wat “brode op bestelling” moet lees.
Punktuasie ontbreek.
Die verhaal spring tussen gedagtes en gebeure dat die leser die storie verloor. Hierdie verhaal skort behoorlike karakater ontwikkeling en aandag.

3.Wilde winde

Dit is ‘n mooi menslike verhaal alhoewel die sinkonstruksie op sekere plekke aandag skort. Ek het lekker hieraan gelees. Die storie is met min woorde mooi ontwikkel.

4. Krisjan Visser maak ‘n plan

Dit is ‘n heerlike storie, hoe wolhaar ookal. Ek het heerlik hieraan gelees en dit was die moeite werd om hier te vertoef. Baie dankie vir die heerlike vermaak.

5. Oupa se borrelwind blaps

Heerlike menslike storie. Soms word die glipsies beloon.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Amanda

    17 Desember 2019

    Baie dankie vir die terugvoering. Dit word opreg waardeer. Ek maak aanpassings. Die tipografie raak verlore wanneer ek die gedig hier plaas. dit is veronderstel om die wegwaai van die wind te simboliseer. Die woorde loop skuins van links na regs asof die wind dit wegwaai.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 257
Kommentaar telling: 2864

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 69 gaste aanlyn

Bydrae Totale