Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Praat ons van Páásfees?

Deur Ano
Datum gepubliseer: 27 April 2018 Aantal woorde: 1178 427 Kere gelees 5

Is énigiets nog relevant in die tyd waarin ons leef? Elkeen volg die pad soos dit vir hom/haarself reg voel. Meestal. Weet nie of dit uiteindelik reg of verkeerd is nie, maar die blote feit dat ons nie meer so gebonde is aan voorgeskrewe reëls wat deur wie-weet-wie uitgedink is nie, is alreeds ’n stap in ’n goeie rigting. Ek hou nogal daarvan dat ek vir myself mag dink!

Waaroor ek geweldig dankbaar is, is dat die kerk in Suid-Afrika as sedebewaker nie meer so baie insette in die algemene publiek se doen en late het nie. Daarmee bedoel ek glad nie dat ons maar sedeloos kan leef nie, maar die idee van “as jy iets op ’n ander manier doen as wat ek dit doen, is jý verkeerd”. Ons het maar min genade met mekaar en ek sal net saggies fluister dat daar waar mens dit die minste verwag (onder diegene wat as Christene bekend wil staan), is veroordeling dikwels die luidste. Oe-hoe! Aanbid nou net op ’n ander dag of op ’n ander manier, of dra anderste klere, dan is jy die Moeder van alle sondaars!

Sedert die kerk nie meer so ’n groot stem in die regering het nie, tesame met die koms van die internet, kan die mense aansienlik vryer aanbid op ’n tyd en plek waar hulle hulself ook al sou bevind.

As Christen is dit dikwels vir my ’n groot verleentheid – doring in die vlees eintlik – dat dit so “OK” is om soms ‘n groter struikelblokke in ’n ander se pad te wees as wat ons goeie saad wil saai. Daar is altyd uitsonderings en dit is dalk ook maar net my eie krom perspektief. Miskien omdat ek dikwels aan die ontvangkant van daardie *&%@# vroom mense se idees is. Net een van ons vier sibbe voel dit is nie nodig om ’n ander se uitleef van sy geloof te veroordeel nie. En daardie een het al geleer om so vêr moontlik uit die ander se pad te bly. Soos ’n heerlike 1000+ km vêr… Dan hoef ons mekaar net nou en dan op ’n foto te sien voor ons die laai weer vinnig toedruk.

’n Lewensveranderende omstandigheid het miskien nie my geloof as sodanig beïnvloed nie, maar verseker het dit die manier waarop ek na die kerk se voorgeskrewe reëls en regulasies kyk, totaal en al verander. Soveel so dat ek op ‘n tyd my deelname aan die kerk ondersoek het. Soms wonder ek waarom ons sekere goed tydens die erediens doen en of dit ooit nog ’n verskil maak? Maar omdat daar altyd soveel nuwe mense tot bekering kom, sal die uitlig van sekere bybelse gebeure waarskynlik altyd relevant wees. Immers was ekself ook lank gelede in daardie posisie. Ek moes ook maar leer van die hoe, wat, waar en hoekom. Dalk het ek uiteindelik my baba sokkies ontgroei, maar dit het ook beteken dat die dowwe bril van my gesig afgeruk is.

Relevansie gaan dus veel meer oor hoe jy as persoon oor iets sal voel, eerder as wat die gedagtes van die groter gemeenskap sou wees. Maar ek begin al hoe meer met skewe oë na die nuutste vreemde gebruike in ons stoere boere-kerk te kyk. Dit voel so al asof ons weer begin terugkeer na die ou Rooms Katolieke gebruike waarteen Martin Luther op 31 Oktober 1517 in Wittenberg met soveel waagmoed geprotesteer het. Was dit uiteindelik alles verniet? Tree ons nou in hierdie moderne eeu netjies terug na daardie tyd?

Ons het nog nooit van simbole gebruik gemaak nie en die vreemdheid daarvan laat my binneste ietwat kriewel. Skielik is daar vreemde geleenthede waarin ons kerse sal aansteek en ’n gebed daarmee saam sal opsê. HuH??? Of jou naam op “Christus se hande” gaan skryf. Ek verstaan die simboliek daarvan, maar dit beweeg my nie veel om daaraan deel te neem nie. Miskien omdat ek nie ’n mens is wat ou van groot vertoon en uitbasuin van my doen en late nie. Immers weet ek mos my naam is met bloed in Sy handpalms ingegraveer. Ek hoéf dit nie ten aanskoue van almal weer te doen nie. (Nie asof ek dit vir die eerste keer moes doen nie, in elk geval!) En ek kan my voortande wed dit gaan ’n jaarlikse instelling word. Sug. Of toe te laat dat iemand my hande was. Ek verstaan ook die simboliek daarvan. Maar nee, dit is OK – los my net uit asb. Toe ons kennis kry dat ons net by een spesifieke ingang mag ingaan, het ek en Hubby albei gese dat dit een diens is waarheen ons nie sou gaan nie, want as jy in daardie drukgang is, sal groepsdruk jou waarskynlik dwing om deel te neem aan iets waaraan jy dalk nie sou wou nie. En ek was reg.

Die Via Dolorosa is seker ’n mooi gedagte. (Via Dolorosa beteken “Deur mens te word, het Hy gely, ook vir my” en word uitgebeeld deur verskillende ‘stasies’ wat op spesifieke gebeure in Christus se lewe wys wat ten tye van Sy leidings pad gebeur het. https://www.gotquestions.org/Via-Dolorosa.html Ek verstaan dit, maar wil nie noodwendig by die verskillende “stasies” gaan stilstaan en die voorgeskrewe aksie daar beoefen nie, soos om ‘n stukkie brood te eet, ‘n glasie wyn te drink. ‘n lindjie aan ‘n boomtak te bind, ‘n spyker in ‘n kruis te kap, of wat ookal nie. Ek wil ook nie tydens diepe introspeksie en ten aanskoue van vele ander, my sondes daar gaan uitsnik nie. My privaatheid voel ernstig bedreig, maar erken nou net dat jy NIE daaraan deelgeneem het nie, dan is die hel op sewe stasies los! Nou moet jy ook net please en explain sodat jy nie sal hoor dat jy nou (al weer) op die duiwel se voorstoep te speel nie.

In sommige se gedagtes het ek seker al ’n bankie op daardie stoep. Naamplaatjie en al!

Maar ek wonder ook of Hemelvaart nog enigsins van belang is? Dit word nie meer gevier nie, nie eens met ’n spesiale diens of ’n vermelding op ’n spesifieke dag nie. Dit gaan so stil-stil verby en om eerlik te wees sal ek op die almanak moet tel om te sien wanneer dit herdenk sou moes word.

In Mei-maand se Lig Tydskrif lees ek dat sommige hartseer voel omdat daar ’n hemelvaart plaasgevind het. Jesus het ons verlaat … oh, dit is so hartseer! Indien dit nie gebeur het nie, dan was Jesus mos maar net soos enige ander mens en het Sy geboorte en kruisiging geen jota of tittel se verskil aan die res van ons sterflinge gemaak nie. Dan is ons Christelike geloof ook waardeloos.

Ek weet net nie meer nie. Daar is vele, véle mense wat nie hul voet in die kerk sit nie, maar ’n diep en vaste geloof het. En dan is daar mense wat week na week die banke vuurwarm sit, maar wat jou na jou asem laat snak sodra die kerkdeur agter hul toeslaan. Kyk hoe lekker oordeel ek ook nou!




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    28 April 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2018 – Paasfees projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 86

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur.... HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015)Guppy en Anderste Stories (2018)vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 86 gaste aanlyn

Bydrae Totale