Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Plengoffer – Eduard Smith

Deur Eduard Smith
Datum gepubliseer: 13 Junie 2019 Aantal woorde: 109 58 Kere gelees 3

Ken julle die plengoffer
wat aan die bodem van my glas kleef:
daar skarrel asems in klein korrels
teen die buitewand
wat in plaste niks versamel lê.
‘n Losspel vandag
maak groot treë weg
van die opening
in die bottel
wat kurkloos vir volmaak(theid) wag.

Soos ons lewe en laat leef
hang goeie voorneme
meters lap en pluiings wit
teen duinesand
in ‘n wind wat lê, lê én wag.

Ken jy die drankoffer
wat ek nat gesluk
en keelvol verorber het:
my deel versuip
aan vergifnis soek –
edog nie, daar skarrel asems alleen
in klein korrels teen die buitewand
wat in plaste níks versamel lê.

© Eduard Smith




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Moderator

    19 Junie 2019

    plengoffer s.nw., plengoffers. (verhewe) Drankoffer: ‘n Drinksessie is begin deur suiwer wyn as plengoffer uit te giet ter ere van die huisgode (F. Smuts in D.J. Opperman: Gees, 1968, 66). ‘n Sumeriese priester bring ‘n plengoffer, vermoedelik van soetwyn (A.P. Brink: Dessertwyn, 1974, 8 — byskr.). Die gebruik van wyn behou ‘n seremoniële karakter, en ‘n maaltyd is met ‘n plengoffer begin (Lant., Apr. 1982, 28)

    ‘n Plengoffer begin die seremonie, dus sal dit nie aan die bodem klou nie, maar eerder aan die kant.

    S1R2 (Leesteken): ‘n Verduideliking of direkte rede volg ná die dubbelpunt, dus is dit verkeerdelik hier gebruik. Oorweeg eerder ‘n aandagstreep? Dit vestig die aandag op verdere inligting.

    S1R3 (Woordkeuse): Korrels herinner aan sand dalk dan eerder borrels aangesien die digter die alliterasie wil laat voortleef …

    S1R5 (Woordkeuse): Daar is nie ‘n woord soos plaste nie, dit is plasse.

    Strofeverdeling: “‘n Losspel …” kan eerder ‘n nuwe strofe wees, aangesien dit nie verband hou met die eerste deel van die strofe nie.

    Taal: Jy maak nie groot treë nie. Jy gee groot treë.

    “… wat kurkloos vir volmaak(theid) wag …” maak glad nie sin nie. Sodra jy ‘n gedeelte van ‘n woord as ‘n parentese wil plaas, moet die volle woord se dele in die reël inpas, wat nie hier die geval is nie.

    Strofe 2:

    Woordkeuse: Goeie voornemens (voorneme is wanneer jy van goeie voorneme is om iets te doen, jou voornemens is dan goed).

    Strofe 3:

    Woordkeuse: “Verorber” word eerder met kos as met drank geassossieer. As jy keelvol is, is jy nie meer lus daarvoor nie, dus maak die woordkeuse nie heeltemal sin nie.

    Leestekens: Weer eens die dubbelpunt wat verkeerd gebruik word. ‘n Vraagteken sal die retoriese vraag versterk.

    Die laaste drie reëls het presies dieselfde kommentaar as in Strofe 1.

    Is daar ‘n spesifieke rede waarom jy “edog” gebruik in plaas van net “dog”?

    Dit bly elke digter se keuse of hy die raad aanvaar of nie.

    Die gedig is uniek en voorwaar iets anders!

  2. Eduard Smith

    19 Junie 2019

    Beste Moderator
    Baie dankie vir jou tyd en breedvoerige terugvoer. My diepste waardering vergesel hierdie terugvoer.
    1. ‘n Plengoffer het geheel niks met die tydsgleuf van ‘n maaltyd, en of seremonie te doen nie, maar is eerder ‘n rituele uitgieting van vloeistof, selfs graan of rys ens. as ‘n offer aan die gode ter herdenking aan die dood. Vanuit Ou Grieks “spondai” / Latyn “Libatio” en Engels “Libation”. Hierdie titel, en die insluiting by die vers sinspeel juis op die offer wat gebring is ter herdenking van ‘n verhouding wat gesterf het.
    2. Die dubbelpunt is gebruik aangesien dit ‘n retoriese vraag is, en myns insiens dan nie om ‘n vraagteken vra nie.
    Wat na die dubbelpunt beskryf word is vir seker ‘n verlenging / uitbreiding op die gebeurlikheid in die eerste 2 reëls. Ek vind dus die dubbelpunt nie nét nodig nie, maar geheel funksioneel.
    3. Korrels is ‘n growwe verwysing van iets wat glad behoort te loop, maar nie het nie, en het nie noodwendig betrekking op die “vloeistof” in die glas nie. ‘n Plengoffer is ‘n storting / uitgieting en daarom is die klem op wat buite, eerder as binne die glas plaasvind.
    4. Plaste is nie noodwendig ‘n moderne weergawe van die woord nie, maar verskeie bronne erken dit steeds as aanvaarbaar. Selfs in die geval van akademiese toutrekkery, kan die skrywer op die argument van digterlike vryheid staat maak.
    5. U kommentaar dat “‘n Losspel” ‘n volgende strofe moet inlei, het meriete, maar die opmerking dat dit niks met die voorafgaande te doen het nie, is bloot net nie waar nie. Die Losspel is ‘n beskrywing wat in en om die glas plaasvind. Ek verkies om dit so te hou ter wille van tipografie.
    Dan verder, u is korrek, mens gee groot treë, maar in hierdie geval is dit die “losspel” (personifisering) wat die groot treë maak. Dit maak in my redenering sin.
    6. Parentese: volmaak(theid) in hierdie geval, ook bekend as die hakies, is om is in of aan te voeg. Ek sou graag die verwysing/reël in die WSR wou sien wat hierdie verbied. U terugvoer sal waardeer word.
    7. Ek begryp die “goeie voornemens” argument, maar lees weer die sin. Goeie voorneme hier nét omdat dit deur die woord “meters” gevolg word en dus moeilik lees as “voornemens meters”. Ek dink nie dit is noodwendig taalkundig verkeerd nie.
    8.  Verorber word met kos geassosieer, beslis. Maar vinnig drink, wat sou dit gebruiklike woord dan wees?
    Verder, ek stem, en moes eerder “keel vól” as twee woorde gebruik het.
    9. Die debat rondom die laaste strofe, bly dieselfde in my punt no. 1.
    10.  Edog, is ‘n pragtige woord. Effe verouderd, maar het sonder twyfel ‘n plek in ons pragtige taal.

    Baie dankie vir u tyd.
    Ek vertrou my kommentaar is bevredigend.

    Groete
    Eduard

  3. Moderator

    20 Junie 2019

    Beste Eduard

    Baie dankie vir jou deeglike terugvoer. Ek hou daarvan om ook die digter se kant te hoor, omrede digkuns op verskeie maniere geïnterpreteer kan word.

    1. Die woordkeuses “korrels” en “verorber” saam met die aangewende konteks van die plengoffer maak nou baie meer sin. Dankie vir jou uitbreiding.

    2. Ek volstaan met “gee” i.p.v. “maak” – dit het ook poëtiese waarde en skep halfrym in jou versreël:

    “gee groot treë weg” (jy hoef dus nie my persoonlike voorstel te aanvaar nie)

    3. Wat die gebruik van die parentese aanbetref: ek beskou dit as ‘n “dubbelspel” met ‘n woord. Die versreël moet sinvol kan lees met én sonder die parentese. Kyk wat gebeur wanneer ‘n mens die parentese weglaat:

    “wat kurkloos vir volmaak wag.” – Met die eerste lees kan verwarring plaasvind; “volmaak” het twee betekenisse: “om vol te maak” (wat ek glo jou bedoeling hier is) en dan “om volmaak te wees” (wat jy weergee met die parentese – volmaaktheid).

    Dis baie fyn woordespel, maar aan die ander kant: hoekom moet jy dit vereenvoudig sodat jy nie ‘n leser verwar nie? Die leser kan mos self sin probeer maak. (Dankie dat jy my aan digterlike vryheid herinner het – die lewe is te kort vir ‘n digter om rigied te wees.) Glo jy sal nou beter verstaan wat ek oorspronklik hier vir jou wou uitlig.

    4. Oor die dubbelpunt: jy mag dit so gebruik (ek was weer eens rigied), want uitbreiding op ‘n retoriese vraag kan ‘n stelling word, dus is die vraagteken nie nodig nie.

    5. Ek hoor graag jou terugvoer n.a.v. my voorstel hieronder:

    “Soos ons lewe en laat leef
    hang goeie voornemens;
    meters lap en pluiings wit”

    Deur “voornemens” te gebruik saam met ‘n kommapunt wat as weglatingsteken in die plek van “en” dien.

    Ek moet dan my kommentaar afsluit deur vir jou dankie te sê – jy het my laat besef dat ek net so buigbaar soos die digter moet wees.

  4. Eduard Smith

    21 Junie 2019

    Baie dankie vir jou besondere bemoeienis met ons werk.
    Jou voorstelle, na oorweging, maak sin en ek gaan vir seker aandag gee.
    Ek sal die weergawe redigeer en indien jy eendag weer verby loop, loer gerus.

    Jou werk en betrokkenheid word werklik waardeer. Jy is dierbaar.

    Baie dankie
    Eduard

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 24
Kommentaar telling: 46

Laat ek in stilte trap voor die deur waar jy jou woorde berg, soveel so, dat as tyd verloop, jy die sagtrap as vriendskap en die stilte as goedkeuring sal ervaar.  Laat my woorde jou vertel wie ek is.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 98 gaste aanlyn

Bydrae Totale