Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Pieter die Pou

Deur Palet
Datum gepubliseer: 10 Januarie 2019 Aantal woorde: 519 94 Kere gelees 3

Pronk-pronk loop hy oor die werf, met sy stertvere in die lug. Geen reëls, ‘n baie gelukkige pou van wie almal in die buurt hou. Mens hoor sy geskree van vêraf, maar wanneer my suster sy naam roep kom hy aangehol-vlieg, vir ‘n lekker handvol kos. Pieter is eintlik die bure se pou, maar voor verlede jaar is die wyfie deur sy honde doodgebyt, en Pieterjie is nou alleen. Hy slaap ook in die nag in my suster hul se erf, hoog bo in ‘n boom agter die tennis baan.

Soms deur die nag hoor jy hom, sy krete trek deur die stilte van die nag. Dalk is dit ‘n roep na sy maat, of sommer net om koning te kraai in die buurt. Vandat sy stert halfpad uitgegroei is, sprei hy hom kort-kort oop en maak so paar sierlike draaie in die rondte. Dis voorwaar ‘n mooi pou, waar hy sit in die son op die muurtjie blink sy vere soos ‘n extravaganza van fleur. Vir vroeë Christene was daar morele lesse te leer deur die voorkoms van Poue. Die honderd oë op hul sterte, was ‘n simbool van geestelike leerders se vermoë om die gevaar raak te sien wat die mensdom aan die einde inwag. Die harde skree, was die vreesagtige stem van leerders wat sondaars gewaarsku het oor hul einde in die hel en die harde vlees van die Pou, het herinner aan leerders se onvermoë om deur die vlamme van vleeslike begeerte beinvloed te word.

Poue verteenwoordig trots, skoonheid, waaksaamheid, onsterflikheid en volkomenheid. Poue word bewonder vir hul vermoë om in die verlede, hede en toekoms te sien. Wat ons help om die verlede af te skud en die ware skoonheid van ons eie individualiteit, selfrespek en -vertroue te verhoog.

Pieter, het egter met Kersfees net verdwyn. Stil is sy skree, en hy word gemis. Vir nagte kon my suster nie slaap, bekommerd oor Pieter se verdwyning soos mis voor die son. Dit is ‘n hartseer gedagte dat hy dalk gevang is deur iemand, of dalk nog ergter dood is. My suster se man besluit toe om met die buurman te gaan praat wie se pou dit eintlik is, en hy word meegedeel dat Pieter in ‘n hok gesit is oor hy die mannetjie eend aanval. Pieter het besluit dat hy nou vrou wil vat, en die eerste beste opsie was toe die wyfie eend.

Die gedagte dat hy nou agter tralies sit was egter minder aangenaam, en my suster se man besoek weer vir ‘n tweede keer die buurman. Die volgende oggend hoor my suster ‘n vreeslike geskree, benoud of bly van die pou af. Hy is vrygelaat, en binne minute vlieg hy oor die muur na sy vryheid. Almal was baie bly om hom weer te sien, vir die hele dag op Nuwe jaar het Pieter op die trappe gesit by hul agterdeur. Hy was so bang dat hy weer op hok gesit gaan word, en my suster hul nie weer gaan sien nie. Intussen is almal nou opsoek na ‘n wyfie vir hom, sodat die mannetjie eend vreesloos kan leef.




  • TEMAS
    5 Kommentaar
    1. Anze

      Januarie 10, 2019

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2019 projek

    2. Toom

      Januarie 10, 2019

      Beste Pieter,
      beste wense vir jou toekoms; mag jy ‘n goeie hen vind.
      En beste wense vir jou buureend.
      ‘n Raad, as ek mag: Bly weg van die buurwyfies,
      dit kan nog erger wees as ‘n paar dae op hok!
      GvT

    3. Papillon

      Januarie 11, 2019

      Baie mooi en interessant. Ek geniet jou skrywe!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 323
    Kommentaar telling: 338

    Waar die see en die horison ontmoet, sal die gedruis van die oseaan in die suis van die wind stil raak.. Dis hier waar my drome my woorde in die binnekant van my siel kom lӗ  

    INK E-formaat tydskrif

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 22 gaste aanlyn

    Bydrae Totale