Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Pastoriekind

Deur Gerda-Marié
Datum gepubliseer: 29 September 2019 Aantal woorde: 940 81 Kere gelees 2

Die kerkklok lui 07:45. “Lanie wil hê ons moet oor ‘n uur in die kerk wees,” sê Mamma van Rooyen. Teen 08:30, ‘n halfuur voor kerk, is al vier van die gesin aangetrek, gevoed en prim en proppers vir die erediens – en dit sonder n gedreig en n geskree!

Maar dit is waar die vrede opgehou het.

Mamma sit tierlantyntjies voor die preekstoel en beopdrag Pappa om bokse en papiertjies by die ingange te sit vir ‘n projek. Hendré ry met n speel trekker die liturgiese ruimte vol en klim op-en-af die trappies na die preekstoel terwyl Mamma met die lap en lint wat sy het probeer mooi maak. Sussie kyk intussen wat sy alles in haar mond kan pas en sedert sy kan kruip en teen goed op staan, is die wêreld vir haar tog te interessant…

Eindelik is Mamma en kroos in die moederskamer voordat die moeder se jil die gewyde atmosfeer verder verontrief. Hendré beïndruk deur almal wat die vertrek binnekom met ‘n groet en ‘n wuif – veral die meisietjies waarvan die jongste skaars nege maande is en die oudste amper twee jaar. Hy kan n regte charmer wees en dan het hy boonop potblou oë en n bril wat hom supercute laat lyk.

Maar toe klim sy pa op die preekstoel en die oulike knapie verander in enigiets van n dinosourus tot n draakvermorsselaar. Tussendeur die rumoer en vuil kyk van Mamma na seun, bedel hy met sy knipperende blou oë kos by die tannies. Gelukkig sê hy elke keer dankie en Mamma sien maar weer oor, want iets van sy maniere blyk sigbaar te wees. Sy is seker pastoriekinders is die stoutste en uitbundigste sodat die ander mense nie so sleg hoef te voel as hul kinders die dag aanjaag nie.

Iewers tydens die preek, boots Boetie Iron Man na. Die drie meisietjies en sy eie sussie is in gedrang. Ná vele vrugtelose waarskuwende en kwaai kyke wat selfs pasgemelkte melk suur sou laat woord, pluk Mamma haar seun uit tussen die banke. Sussie skree so hard sy kan. Die dekselse prop/fopspeen is by die huis besef die vrou met skok en selfverwyt, maar Boetie moet nou eers onder vier oë gekry word buite die kerkdeur. “Pappa. I want my pappa!,” skree die klonkie sonder skaamte so hard hy kan.

Pas terug na ‘n tranedal in die moederskamer, sê Boetie kliphard “ek moet piepie”. Bevrees dat hy mag reg wees, die nood te groot is en net duskant die deur in die openbaar sal doen, gryp Mamma die trommeldik doeksak en die baba. Boetie se arm word ook weer amper uit lit geruk. “Kom!,” beveel sy. Die ouderling by die deur wat wag vir die dominee se amen is merkbaar geskok toe driekwart van die Van Rooyens by die moederskamer uitstorm. “Noodgeval. Hy moet piepie,” verduidelik Mamma, maar die klein twak het nog wragtig tyd om vir die oom te vra wat die rondloper bokke oorkant die straat doen. “Hulle is stout,” antwoord die lang oom. Hy wil nog ‘n gesprek met die oom aanknoop deur nog ‘n vraag toe sy ma hom weer aan die arm pluk. “Ek dag jy het n piepie?” snip sy. “Kom Boetie, toilet toe”.

Boetie ruk hom los en sprei sy arms. Die grasperk laat toe dat hy in ‘n denkbeeldige vliegtuig verander. “Hendré! Toilet toe!”. Met n dreigement van geen televisie gaan hy ongestoord op sy tyd toilet toe en doen sy ding. Mamma kook soos n gasketel – lank, aanhoudend en raserig. Buite begin mense in groepies versamel of na hul voertuie beweeg. Terwyl sy na Pappa, wat die sleutel het, soek, vra ‘n lidmaat mevrou dominee wie se kind so geskree het. ‘Mag ‘n mens jok?’ wonder sy en kyk kwaai na Boetie wat die ‘ek-sal-jou-kry-jou-klein-wetter-kyk ontsnap.

Gedurende die Groot Gesoek, sien oudste sy pad oop na die pastorie en word Mamma amper in die kerk toegesluit. Eindelik sien sy haar Dierbare Eggenoot waar hy rustig, hande in die sakke met n boer praat – onbewus van sy stoute kinders. Op pad roep Mamma Die Onmoontlike. Uitasem en uitgeput vra sy die boer: “Wil julle nie n gratis handlanger hê vir indiensopleiding nie asseblief? Anders is dit kinderarbeid en vandag kan julle ons mannetjie gratis vat. For you special price,” loof sy haar byna vyfjarige se dienste uit.

Die boer wys Mamma se aanbod van die hand tot haar teleurstelling. Gedurende die geflopte onderhandeling het Boetie die boer se spaarwiel, wat agteraan die Jeep vasgebout is, met spoeg en sy hande skoonmaak. Hy draai na die geselskap, loop glimlaggend na sy pa en smeer sy stowwerige, vuil hande aan Pappa se swart pak af. Mamma het genoeg gehad en wil haar besige kinders huistoe vat. Sy vra vir Pappa die sleutel. “Dis in die doeksak. Jy het dit al die tyd by jou gehad”. Mamma se metertjie wil oorkook.

Verleë en vies loop sy met Pappa se besige, luid kinders huistoe. Sy lees vir Boeta die leviete voor hy die huis betree en sê hoe sy optrede haar laat voel. “Jy maak Mamma se hartjie seer as jy nie luister nie”.
Die blouoogseun kyk haar in die oê en sê doodernstig: “Jesus will fix it and put sparkles on it. Ek is baie lief vir jou, Mamma.”
Mamma se hart smelt, maar is ook in twee. Sy is so lief vir Boeta en is van harte bly hy is kreatief – iets wat sy nooit wil onderdruk nie – maar heng, dit kom teen n prys, besef sy opnuut voordat sy Boeta met sy oopgespande arms nadertrek en teen haar vasdruk.

© Gerda-Marié van Rooyen, September 2019




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    30 September 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2019 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 12
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 107 gaste aanlyn

Bydrae Totale