Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Pasop wat jy oopmaak

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 25 April 2018 Aantal woorde: 1012 461 Kere gelees 2

Pasop wat jy oopmaak! deur Stephan Uys

So ʼn paar aande gelede lê ek en rondrol in my bed. My oudste kry die volgende dag sy Matriek uitslae en slaap het net so spoorloos verdwyn soos my salaris elke maand doen. Die vrees dat ek dalk nog ʼn jaar gaan skoolfonds moet betaal vir die jongman maak dat my maagspiere onwillekeurig saamtrek terwyl ek rusteloos rondrol. Liefie het ʼn uur of wat gelede haarself opgeruk vir my rusteloosheid en haar rus en heil in ʼn ander kamer gaan soek, terwyl ek alleen die kruis van ouerskap en Matriek uitslae moet dra. Maak wat ek wil, die slaap bly my ontwyk. Ek tel skape so ver in die duisende in dat ek naderhand moet begin kuilvoer inkoop en soutlek uitsit om al die skaap kos te gee en gesond te hou. Dit laat my maagspiere nog meer saamtrek, want ekstra weiding is mos duur. Net voor ek twee skaaphonde koop om te help met die skape se aanjaag, kom versteur ʼn muskiet my tellery. Ek spring dankbaar uit die bed, want om skaap te tel raak ʼn ingewikkelde storie na vierduisend. Ek loop kry die gif in die kombuis en spuit my kamer dat dit skoon mistig is van die gif. Hier by ons kry jy mos net raakskiete, die verpestings by my huis mis mos nie één enkele skoot nie. Toe die mistigheid bietjie wegtrek, pof ek my kussing vir die soveelste keer op. Liefie het ons geregistreer om ʼn telefoniese kennisgewing te kry sou Ouboet sy jaar slaag. Daar sal egter geen boodskap wees sou hy in die hek vasduik nie, en dit raak nou al naby aan middernag. Ek het ook (net vir die wis en die onwis) twee botteltjies kalmeer goete aangeskaf vir die kêrel se ma, sou die nuus minder positief wees. My foon lê langs my bedkassie en herlaai, elke nou en dan kyk ek of ek dalk nie die sms gemis het wat die vreugdevolle tyding bring dat Ouboet sy Matriek geslaag het nie. Ek lê nog so in vrees en bewing toe my foon ʼn onaardige geluid maak hier langs my kop. Ek skrik die bietjie slaap wat ek gehad het heel uit my gestel uit. Opgewonde gryp ek in die donkerte na my foon. Met bewende hande probeer ek tevergeefs om die eenvoudige lyntjie te trek op die skerm sodat ek toegang kan verkry tot die skatkis van informasie aan die anderkant van daardie blou skermpie. Uiteindelik, nadat ek ʼn blaas op my wysvinger veroorsaak het, gaan die wêreld van kommunikasie en tegnologie vir my oop! Ek is ietwat verbaas (en sleg teleurgestel) om te sien dat dit ʼn boodskap van ʼn “Facebook vriendin” is, en nie iets vanaf die Onderwys Departement nie.
Ek besluit ek het niks beter om te doen nie, en ek maak haar “Messenger” boodskap oop. Nou moet ek eers verduidelik:
1. Dit is nou al so net na middernag.
2. My vingers bewe van vrees of opgewondenheid oor my kind se prestasies – ek is nog nie seker watter een skuldig is nie.
3. Ek is nie vertroud met Facebook se Messenger diens nie; ek het Whatsapp baie meer onder beheer.
4. My oë sukkel nog om in die donker op die skerm gefokus te kry.
5. My gedagtes is by Matriek en skoolfonds, nie by Facebook en sulke geite nie.
Met vergunning van Martie van Deventer Booysen (wat ek sover ék weet nog nooit eers met ʼn teleskoop raakgesien het nie), plaas ek hier die eerste ding wat ek toe in my brose toestand lees.
“Ieder en elk is nie perfek
jy wat dink jy is, moet dink
elke dag ervaar ons dit
jy wat dit dink, jy maak seerder as seer
net een is perfek, God ons Vader
perfek”
Ek skrik skoon my water en ligte weg! Verbouereerd en verward stuur ek my gedagtes in alle windrigtings in om informasie bymekaar te maak oor hierdie boodskap wat my so aangluur op my foon se skerm. Wat sou die vrou se rede wees vir hierdie aggressie? Wat het ek aan die arme vrou of haar spruite gedoen of gesê wat my hierdie wraakspraak op hierdie vroeë oggenduur op die hals gehaal het?
My hart klop so hard in my borskas, my ore begin sommer te pyn. Ek haal twee keer diep asem en lees die boodskap versigtig oor. Ek is soos ʼn wafferse Sherlock Holmes opsoek na moontlike leidrade wat verskans kan lê tussen die woorde van aggressie en openlike haat, toe die volgende boodskap my in ʼn nog donkerder diepte intrek: “Ek het dit in 2 min geskryf”
Liewe Hemel! As die vrou hierdie vredesverterende boodskap in net twee minute geskryf het, wat gaan sy vir my sê as sy nou eers ʼn paar uur daaroor geperkoleer het? My hand gaan onbedaarlik aan die bewe en my hart kry sommer twee krampe. Liefie het al menigmaal my gewaarsku dat my groot mond my nog eendag in die sop gaan laat beland, sy het egter ʼn substans genoem wat sop eers word nadat dit deur die liggaam verwerk is en dan uitgeskei word, maar ter wille van ordentlikheid gebruik ek maar eerder die woord sop. Die enigste goeie ding van hierdie onbedekte dreigement is dat ek heeltemal vergeet het van Matriek uitslae en toekomstige skoolfonds!
Ek steek ʼn bewende vinger na my foon se skerm; ek is amper bang die foon hap na my as ek aan hom raak. Versigtig druk ek op die skerm en scroll verder ondertoe. Deur die newels van my vrees begin daar ʼn flou vlam van hoop deurskemer. Dalk… net dalk, is hierdie ʼn gedig, en nie haatspraak nie. Ek vryf my oë totdat al die slaap uit is en ek mooi kan fokus, dan lees ek die skrywe ʼn paar keer stadig en versigtig deur. Ek raak al sekerder van twee dinge: eerstens is ek na telkemale se herlees nou redelik seker dat die skrywe aan my wel ʼn gedig is, en tweedens besluit ek terstond dat hierdie nuwerwetse gedigte sonder enige eindrym ʼn totale onding is wat van die aardbol af moet verwyder word. Dit is skrywes soos hierdie wat fyngevoelige mense soos ek se slaap sleg befoeter!




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Ano

    27 April 2018

    whawhawha! Soooo dankbaar daardie tyd het reeds in ons huishouding gekom en gegaan.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 47 gaste aanlyn

Bydrae Totale