Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Pappa, koffie – is dit ʼn Dreyer ding!

Deur Marsofine
Datum gepubliseer: 1 Desember 2019 Aantal woorde: 957 21 Kere gelees Hou van

“Pappa, vanoggend terwyl ek so besig is om my moerkoffie in my dompelkoffiepot voor te berei, sien ek jou gesig skielik duidelik voor my. Jou leeragtige, songebruinde, geplooide gesig, jou flets blou oë, laggend. Ek sien hoe jy my vraend aankyk. So met ʼn vraagteken in jou oë. Ek besef dat daardie vraagteken die vraag inhou – ‘my kind wat maak jy? Dit ruik soos koffie? Maar daardie kontrepsie waarin jy dit maak verstaan ek glad nie.’
ʼn Glimlag het om my mond homself kom tuismaak met ʼn warm goed-voel-gevoel. Ek het my beker koffie geskik. So beker in die hand oppad na my kamer het ek bly glimlag en gewonder wat jy wie so lief was vir jou koffie oor die ontwikkeling in koffie maak metodes sou kwyt raak.
Van my laaste herinnering aan jou, het vlak in my hart kom nestel. Jy ʼn man wat nie net bedags byna elke uur ʼn koppie koffie geniet het nie, maar ook saans met jou vrekvryestaal Stanley koffiefles kamer toe is. Jy was ʼn man wat geen ander drinkgoed, soos ons Namakwalanders dit noem, geniet het nie. Nie water, koeldrank, wyn, bier of selfs tee nie. Koffie, dit was jou gekose drinkding. Of dit nou twee en veertig grade of twee grade was.
Die enigste ding wat jou van koffie geïrriteer het, was wanneer jy koffie gemaak het en die kettel moes uitspoel. Dan het die koffiemoer so hardnekkig in die wasbak bly klou. Dan het jy vererg dit gespoel en gespoel. Maar altyd was daar die bittereinder paar moertjies wat net nie wou wegspoel nie. Wat was jou vreugde groot toe die koffiesakkies op die mark gekom het.
Skoon opgewonde het jy daardie eerste kan koffie gemaak met die sakkies, en ewe kordaat die sakkies agterna in die vullisdrommetjie laat val. Met ʼn ‘wha-la, dit is mos nou makliker’. Jy het daardie selfvoldane uitdrukking op jou minsame gesig gehad, van ʼn man wat sy grootste probleem oorkom het.
Dit is wanneer ek besef het, jy sou dalk van die dompelkoffiepot idee gehou het, maar van die agterna se skoonmaak definitief nie. Al wat ek ter verdediging daarop te sê het pappa, is: “Jy sou die legio van verskillende geure koffies wat jy daarmee kon drink so verskriklik geniet het.”
Op soveel warm dae het ek al aan jou woorde gedink as ek jou gevra het “hoe kan pappa op so ʼn warm dag koffie drink, dit maak mens net nog warmer!” “Nee, my kind jy het dit daar heel mis. Dit werk so, jy moet warm goed drink as dit so warm is, dan koel jy van buite af as jy sweet.” Natuurlik het dit nie toe sin gemaak nie en maak nou nog nie sin nie, tog bring dit steeds ʼn glimlag om my mond.
“Pappa, net so tussen ons, ek dink koffie drink is oorerflik! Ek hoor jou luidkeels lag oor daardie stelling van my. Ek kan dit bevestig . . . ek drink net so graag koffie soos jy, en swart. Nog verder het ek ʼn seun wat net so koffie mal is soos ons albei. Hoe verklaar jy dit as dit nie oorerflik is nie?”
Ek sien jou glimlag, met daardie uitdrukking op jou gesig – regtig my kind, regtig, luister na jouself.
“Anders is dit seker ʼn Dreyer-ding. Ek het ʼn paar maande gelede nog ʼn Jasper Jurie Dreyer Nieuwoudt raak geskryf. Al is sy van nou nie Dreyer nie, hardloop die koffie ook dik in sy are. Pappa sou dit so geniet het om hom te ontmoet. ʼn Namakwalander in murg en been, is die oom van my. Hy is nou van sy oumagrootjie se kant af familie van ons, sy was ʼn nooi Dreyer en van daar sy name. Net soos ons vrek hy oor familie, en oor die Dreyers. Hy het my terug gevat op ons spore, daar waar pappa my geneem het toe ek maar net nege jaar oud was. Terug na die familie plase in die Namakwaland, ons het oom Johannes en Hondjie se grafte gaan kyk, daar op Dikdorings rondgeloop. So in my geeste oog het ek oom Johannes, pappa en Hondjie op die stoep sien sit met die bekers koffie. Die tannie sien uitkom en so onder die kappie uit hoor vra ‘julle eet hier vanmiddag Jasper, dit is maar net kerrieafval en koring’.”
“Magtig, suster, dan is dit mos koningskos, definitief eet ons hier,” hoor ek jou antwoord.
“Hy het my na die kleinseun van oom Johannes, Jaspertjie, wat die plaas geërf het geneem. ʼn Aangename man, so bietjie ouer as ekself. Definitief ʼn Dreyer, dit kan jy aan sy praat hoor.
Oom Jasper het my ook al die plekke waar ons aangery het om koffie te drink, gewys. Verder het hy my vertel van die mense waar ons was toe ek ʼn dogtertjie was. Die Goosens van Soebatfontein, sy eie oompie Mias Nieuwoudt wat die ou winkeltjie gehad het, oom Jaap Dreyer se plaas. So het ons hulle een vir een bespreek, telkens gestop, koffie gedrink en van die ou dae gepraat.
Ons het vir byna ʼn week elke aand tot byna twaalfuur gesels oor die Dreyers en Namakwaland, ons was net nie op Baievlei nie.
Pappa die jare het verby gevlieg van toe ek sestien was en jy ons so onverwags verlaat het vir die hemel. Nou is ek byna sestig, dankbaar en gesond. Ek het in oom Jasper ʼn tweede pa-Jasper gevind, nooit sal hy jou plek kan inneem, maar dit is die naaste wat ek aan jou sal kom, hierdie dierbare mens. Soveel dinge het in my lewe gebeur, maar een ding bly staan, ek bly nog mal oor koffie, net soos jy. Telkens as ek daardie dompelkoffiepot so afdruk en die geur van die vars koffie kry, dink ek aan jou en jou groot liefde vir koffie en vir my.”

©Marsofine Krynauw
30 November 2019




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 10

Op 16 jarige ouderdom het ek begin dig nadat ek my Pappa skielik aan die dood afgestaan het, hy was my enigste ouer, my anker, en my vriend en my verlies  het my geïnspireer om my emosies vas te lê op papier. Die lief en leed van my vriende en verdere verlies van my seuntjie David op 4 maande wat my deur die jare telkens aangehelp het om my hand aan die pen te slaan en my gedagtes op papier vas te lê. Die lewe wat sommer net met my gebeur het en die genade van my hemelse Vader dat ek dit kon omsit in woorde. Het ook op skool ‘n groot liefde vir poësie gehad, en my grootste liefde was RAKA van NP van Wyk Louw. Met die aansporing van my Afrikaanse onderwyser, Mnr Niewoudt, het ek net nog ‘n groter liefde ontwikkel vir die digkuns en gedigte en die ontleding daarvan. My liefde vir die natuur as ‘n Namakwaland se blommekind en verder deur die besonderse vrou wat die enigeste ma is wat ek geken het Tannie Ellie aangespoor is deur haar eie liefde vir blomme en haar pragtige tuine.  Totdat ek in 2017 besluit het om dit te waag om in te skryf vir die ATKV Pluimpies.  En my nominasie vir ‘n toekenning het my laat begin droom oor my eie bundel.  Daarna het ek Heleen Malherbe van Malherbe Uitgewers elektronies ontmoet, saam met Marietjie Espach het sy die bundel van alle Namibiese skrywers en digters uitgebring Stemme uit Namibia 1 waarin daar van my gedigte opgeneem is. 2018 het ek weer besluit om in te skryf vir die ATKV Pluimpies en eers nadat ek gehoor het ek is weer genomineer vir ‘n toekenning, het ek geweet nou is die tyd om met die wêreld te deel wat uit my pen vloei en hopenlik sal dit mense wat dit lees inspireer en sal hul hulself kan vereenselwig daarmee. Dit sal ‘n bundel wees geskryf in verskillende lande op my reise met my werk, oorspronklik op servette in restaurante, op kasregister strokies, op enige papier met ‘n skoon strokie op daardie oomblik wat die woorde begin waai en later oorgeskryf in een van die vele joernale wat sommer net so ongeerg oral in my huis lê vir wanneer die woorde vloed my brein oorstroom. Dank aan Willem Woes wat die visie gehad het om die WOES webtuiste, platform vir Afrikaans, te begin en die geleentheid aan mense soos ek met ‘n droom in my hart en woorde wat waai, te gee om blootstelling en kommentaar van mede versie skrywers te gee om te groei en te leer van mekaar, want sonder WOES sou ek nooit bly skryf het nie. Dan Heleen Malherbe van Malherbe Uitgewers, wat my droom verwesentlik het, en Wooorde wat Waai, my digbundel ‘n werklikheid gemaak het vir al haar raad en bystand met die samestelling van die bundel.  Heleen is regtige die ‘Fairy Godmother’ vir sovele skrywers en digters en verdien die grootste eer en dank. In die laaste helfte van 2018 het ek my hand aan kortverhale gewaag en dit was van die begin af ‘n sukses storie.  Intussen is ek aangemoedig om Afrikaanse Fiksie te skryf en het tot op datum 3 manuskripte wat goedgekeur is deur Malherbe Uitgewers en in die proses is om voorberei te word vir druk. Dig en skryf is my passie en ek dank my Vader dat ek dit kan doen.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 105 gaste aanlyn

Bydrae Totale