
Woorde: 497
Vyf en vyftig jaar gelede! Dit is ʼn leeftyd, Pappa! Dit is toe die vrou wat haar my ma genoem het, jou met twee klein kindertjies agtergelaat het. Agtergelaat het vir ʼn ander man!
Dit het jou letterlik en figuurlik tot nugterheid geskok. Meteens het jy, ʼn man wat maar lekker diep in die bottel kon kyk, gesit met ʼn seuntjie van sewe en ʼn dogtertjie van vier. Wat nou? Hou nou gemaak? Hoe moes jy, ʼn man wat ʼn lewe maak van ʼn bou werkie hier en ʼn bou werkie daar, na twee klein kindertjies om sien?
Dit was oorweldigend! Jou hart was gebreek, meer nog, jou kindertjies was moederloos. Meteens het jy besef, die drank moet gaan, dadelik. Jy moet nugter vir jou kinders wees. Jy het ook besef, alleen sal jy dit nie kan doen nie, want vandag werk jy hier en môre daar. Daar was die Vader weereens goed vir jou en het jy jou getroue oudste suster gehad. Sy was maar te gewillig om te help.
Sy was kinderloos, en daarby net so lief vir ons, soos jy, Pappa. Vinnig het julle twee dinge in plek gekry: om ons versorg en geborge te kry. Om die verlies van ʼn moeder wat die een oomblik daar was en die volgende oomblik uit eie keuse weg, so sag as moontlik vir ons te maak.
Jy het gewerk, jou hande deur, jou vel verbrand, om vir ons te sorg. Terwyl tannie Ellie ons oorlaai het met liefde, gekoester het en vertroos het in jou afwesigheid. Maar niks kon ons vreugde elke naweek wanneer jy huis toe gekom het, beskryf nie. Van vroeg namiddag af het ons al die pad dopgehou. Ons vreugde was volmaak as jy uit die voertuig klim van die persoon wat jou ʼn geleë gegee het.
So het jy gewerk om ons te versorg, en naweke ons oorlaai met liefde, met stories en met jou lekker lag. Jy het so hard gewerk dat jy net nadat ek skool toe gegaan het, jou eie bou besigheid begin het.
Pappa, en dit is waar ek begin het om vir jou triomfboog, na triomfboog in my hart te bou. Jy was my held, my eerste liefde, my maat, my steunpilaar.
Toe ek ʼn tiener word en Ouboet weermag toe is, het ek gereeld naweke by jou in jou groot nuwe huis gaan kuier. Dan het jy my met musiek vermaak. Het ons saam gedans en saam gelag. Saterdae het ons dorp toe gegaan, om saam koffie te gaan drink by die kafee. Jy het my selfs geneem om klere te gaan koop, raad gegee oor wat mooi is vir jou.
Te gou het die doodsengel aan jou deur kom klop, hopeloos te gou. Net na my sestiende verjaarsdag, op Kersdag, is jy onverwag weg van ons.
Pappa, nou 43 jaar later, bou ek steeds triomfboë in my hart vir jou en bly jy steeds my held! Gister met jou verjaarsdag, het ek weer vir jou ʼn triomfboog gebou!
29 Maart 2020
Marsofine Krynauw
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2020 – Triomfboog projek
morne du preez
Hartseer mooi, maar in jou triomfboog sal jou vader bly.