Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Papierpos

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 25 April 2018 Aantal woorde: 986 395 Kere gelees 5

Papierpos, deur Stephan Uys

Ag ek verlang soms so na die dae van regte pos wat jy persoonlik by die huis afgelewer gekry het, of by posbusse in die dorp moes gaan afhaal het. Ek wil nou nie al die pad in die verlede teruggaan na die dae van my oupa se oupa nie. Toe was lugpos mos ʼn duif met ʼn papiertjie aan sy voet vasgemaak. Spoedpos in daardie dae was daardie selfde duif met ʼn valk op sy gatatorie. Nee o weë, laat die voëls maar met rus, ek wil net so twintig of dertig jaar terug gaan in tyd… na die dae van regte papierpos en posseëls, van lank wag en versigtig oopskeur. Van versigtig toevou en in die laai bêre vir later se herlees en weerlees. Dis na daai dae se pos wat ek verlang!
Daar was niks lekkerder vir my as jong verliefde klong om ʼn welriekende briefie in die pos te vind, of om as grenssoldaat (dit het maar gegeld vir enige troep) ʼn briefie van die huis af te kry nie. Al moes jy dalk met ʼn paar armstote daarvoor betaal, was die brief altyd die sweet werd, behalwe nou as dit vir daardie ander kêrel met die naam “Dear John” bedoel was. Ek onthou goed hoe ʼn mede-grensvegter toentertyd ʼn lekker dik brief op die grens ontvang het; maar ek bedoel ʼn rêrige oorgewig brief! Die man het amper van sonsopkoms tot sonsondergang gehardloop om die voorreg te verdien om daardie lywige brief te mag oopmaak. Toe hy die brief uiteindelik ontvang so net voor sononder, het hy dit sommer daar voor ons almal begin oopskeur, met ons wat nuuskierig oor sy skouer loer. Daar was ʼn menigte foto’s in daardie koevert; foto’s van hom en die mooi meisie wat hy sy hart en siel op verloor het. Saam met die foto’s was daar ook ʼn kort en bondige briefie wat daarop neerkom dat sy ʼn ander en beter kêrel op universiteit ontmoet het en dat daar nie plek in haar koshuiskamer was vir twee kêrels se foto’s nie. Hy moes nou maar asseblief plan maak om die foto’s te bewaar. Daardie aand het hy die donkie se vuur aangesteek met party van daardie foto’s. Ons het die hele week, en nog ʼn dag of twee van die volgende week lekker warm gestort terwyl hy die donkie gestook het met daardie foto’s. Ja nee, oor daai ‘Dear John’ briewe kan ek baie skryf, maar ek dink ek bly eerder maar stil oor hulle.
Ek wens so my seuns en dogter kan die lighoofdigheid en hartkloppings ervaar wat ek ervaar het as ek daardie pienk koevertjie wat liefderyk met hartjies versier was, uit die posbus uitgehaal het. Hoe het ek geweet daardie briefie is vir my? Die reuk! Het julle al vergeet van die parfuum wat so mildelik op die briefie gedrup en ingesmeer is? Ek het geweet daar is ʼn brief vir my die oomblik as die posman (nee, hy was nie my pa nie… altans, ek glo nie so nie) sy sak by die posbus oopgemaak het. Daardie reuk het my aan my neusgate posbus toe gesleep. Jy het die manne jammer gekry wat sulke welriekende briewe op die grens gekry het. Hulle het gewoonlik eers so ʼn paar kilometer van die grens op ʼn vinnige drafpas gaan verken alvorens hulle die lekker-ruik briefie met bewende vingers mag oopgemaak het.
Toe ek begin studeer het Ouma vir my ook gereeld ʼn brief gestuur. Ek verwonder my tot vandag toe nog dat die Suid Afrikaanse Posdienste dit kon regkry om haar skrif te ontsyfer. Toe ek haar eerste brief aan my oopgemaak het, het ek net daar en dan bo alle twyfel geweet ek is nie ʼn aangenome kind nie, want ek en Ouma het dieselfde krap gekry om mee te skryf. Daar binne in Ouma se koevert was daar ook altyd een van daardie krap-en-wen kaartjies wat jy by die poskantoor kon koop. As jy die regte ding oopgekrap het, het jy ʼn kontant prys op die plek gewen. Ouma se kaartjie was altyd reeds gekrap – seker net om te kyk of ek nie straks gelukkig genoeg was om te wen nie.
Daardie dae moes blomme dit ook erg ontgeld, want tussen briewe was daar gans te veel tyd om “he loves me, he loves me not” saam met die onskuldige blommetjies te speel. Voor jul nou aanneem dat my pinkie straks skuins staan, ek het nie daardie speletjies gespeel nie. Ek het die ander een gespeel – “she loves me, she loves me not”, en gewoonlik het ek darem gewen. Okay, ek erken ek het aanhou speel tot ek gewen het!
In ieder geval, ek dwaal af. Vandag begin jy ongeduldig op jou lessenaar met jou vingers trom as iemand sê hul het vyf minute terug vir jou ʼn “e-pos” gestuur, en jy het nog niks ontvang nie. Weg is die dae van die spanningsvolle afwagting. Weg is die dae van daagliks posbus toe stap om te kyk of die langverwagte brief nie straks daar is nie. Weg is die dae van papier-liefde wat harte regoor Suid Afrika en selfs van regoor die wêreld met mekaar verbind het. Al wat ek deesdae in die pos kry, is die vervlakste rekeninge! Dit wil my voorkom dat die Dokters, die Banke, Prokureurs, Tandartse, E-Toll, Jan Taks en die Mediese Fonds se geldinsamelaars darem een ding in gemeen het – hulle glo nog vas in papier pos.
As ek die hopie rekeninge so deurgaan, wens ek so Ouma was nog saam met ons. Dit sal darem so lekker wees om nog net een van haar hiërogliewe te kon oopmaak en ontsyfer! Ek dink ek sal sommer nou vir my drie kinders elkeen ʼn papier briefie skryf en in die pos gooi. Ek wonder net of mens nog posseëls nodig het vandag, of stuur die Poskantoor ook vir jou ʼn rekening aan die einde van die maand?




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 100 gaste aanlyn

Bydrae Totale