Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Papaja en die Morkels

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 2 Augustus 2019 Aantal woorde: 2148 31 Kere gelees 4

Ouma sê die Morkels se moeilik het begin by daai hond, Papaja. Volgens Ouma het Louw Morkel die hond gesteel by ‘n sigeuner karavaan. (Daai karavane wat oornag in ‘n oop stuk veld verskyn, met ‘n plakkaat wat aanbied om jou palm te lees. Volgende week is hulle net so skielik weg. Niemand sien hulle kom nie en niemand sien hulle gaan nie. Daar’s ook nie eers ‘n motorkar wat die ding kan sleep nie.) Die ou sigeuner vrou wou nie die hond aan Louw verkoop nie, toe gaan steel hy hom dieselfde aand nog. Hy wou vreeslik graag die vreemde hond hê want die brak was geel. Nie geel soos ‘n Labrador kammakastig geel is nie. Nee, geel soos in met ryp piesang geel. (Ook dan nou hoekom die hond se naam Papaja was. Dit sou seker meer sin gemaak het om die hond Piesang te noem, maar Louw het altyd gesê jy noem nie ‘n dier na ‘n vrug nie.) Ouma reken die sigeuners het ‘n vloek op Louw Morkel gesit oor dié hond wat hy sommer so gesteel het. Eintlik seker maar Louw se verdiende loon, maar Ouma weet darem nie of ‘n hond al daai pyn en lyding regverdig nie…

Die Morkel gesin het aanvanklik eers uit 9 mense bestaan. Louw, sy vrou Magriet en die 7 kinders. (Ouma sê dis nie dat óf Louw óf Magriet vreeslik mooi was, wat so baie kinders veroorsaak het nie. Dis net dat Magriet vreeslik vrugbaar was – seker maar oordat sy so baie met die kompos in die lande gewerk het. Louw het net sy onderbroek oor die deur gehang, of Magriet het net wind-af van Louw gestaan, dan is die vrou weer verwagtend.) Die 9 van hulle het almal op ‘n halwe hektaar plaas buite Rustenburg gebly, in ‘n 2 slaapkamer huisie. Louw wou vreeslik graag laat aanbou om plek te maak vir die spulletjie, maar hoe meer hy gespaar het, hoe meer kinders het sy vrou gebaar, en die aanbou het net nooit gebeur nie. Louw en sy vrou het natuurlik in die een slaapkamer geslaap, die 6 meisie-kinders in die ander kamer en die seun buite in ‘n tent saam met Papaja.

Die noodlot het eerste vir Magriet loop haal. Ouma sê as dit nie so tragies was nie, was dit dalk snaaks. Magriet het kaasstokkies vir die jongste se verjaardag gemaak. Dis nou daai blokkies kaas wat deur ‘n tandestokkie, saam ‘n gherkin of ‘n suur uitjie, gesteek word. Jy kry hulle by enige Afrikaner partytjie – kômmen of nie. Magriet loop so met die skinkbord kaasstokkies, wat in onderstebo halwe lemoene gesteek is, toe Papaja voor haar inhardloop en Magriet neerslet. Reg bo-op die dosyne stokkies. Dit reën kaas, gherkins en suur uitjies in die Morkels se huis, en Papaja is net te bly. Weke daarna haal hulle nog kaas en gherkins van die gordynkappe af. Gelukkig – of eerder ongelukkig – het Magriet die val oorleef. Die verjaardag partytjie moes maar afgestel word, want die kinders moes die res van die dag sit en tandestokkies uit Magriet trek. Die probleem is dat Magriet toe nou vol dosyne en dosyne klein gaatjies was. In haar gesig, in haar keel, in haar bors, in haar derms – orals! Elke keer as sy water of iets drink, dan spuit die vloeistof by al wat ‘n gaatjie was uit – Magriet het glo nes ‘n gieter of ‘n stort gelyk as sy ‘n glas water drink. Uiteindelik is Magriet dood van die dors, want sy kon geen vloeistof inhou nie. Op haar einde was sy droëer as ‘n Ouma-beskuit (die wat jy in die winkel koop, nie my Ouma s’n nie). Louw het vir Magriet ‘n drukkie probeer gee, toe verkrummel Magriet in ‘n duisend stofdeeltjies en waai by die venster uit. Maar nie voordat die jongste kind, Allettaa, wat aan asma gely het, ‘n teug van Magriet se stof inkry nie. Allettaa se bors slaan bot toe, en die kind slaan 5 minute later ook dood neer.

Die tweede jongste kind het hulle Ma se dood seker die moeilikste gevat. Alleta. (Ouma praat my deurmekaar en ek vra haar, is Aletta nie dan nou net dood nie? Ouma verduidelik toe, nee, dit was Allettaa, hierdie is Alleta. Na die derde meisiekind, toe besluit Louw en Magriet om maar al die meisies ‘n variasie van Aletta sal noem, want so hoef sy net een keer te roep, dan sal amper almal kom. En dan hoef hulle, as ouers, nie so baie name te onthou nie.) Alleta, gebreek deur haar ma se dood, was skaars ‘n bloedjie van 2, toe het sy haar aan paraffien oorgegee. Op drie het sy gom en hoesstroop gesnuif. Op vier het sy by ‘n kers sit en teken – hoog op DDT – toe Papaja teen die tafel stamp, die kers omval teen Alleta en Alleta met ‘n kortstondige, helder bol vlamme verdwyn tot ‘n hopie as. Al die paraffien waarin sy haar brood gedoop het, het haar hoogs vlambaar gemaak. Ten minste het sy nie soos haar Ma by die venster uitgewaai toe sy klaar is nie.

Die derde jongste, Aleetta, was tragies deur ‘n haai opgeëet. Sien, dit was die tyd van Die Groot Droogte langs die kus. Die see het begin opdroog en ver teruggetrek. Al die seevis het maar, om te oorleef, met die riviere langs die binneland in geswem. Al wat ‘n haai was is ook die binneland in, natuurlik agter hulle kos aan. (Ouma sê jy kon vir jare na die droogte nog snoek vang in Hartbeespoortdam.) Aleetta was, met Papaja agter haar aan, op pad kafee toe om vir Louw twak te gaan koop. Papaja gewaar toe so waar as wragtie ‘n dolfyn daar in die Hexrivier. Die hond is opgewonde die water in, en Aleetta méér opgewonde agterna, want sy’t al gehoor die ryk mense swem so saam die dolfyne in Mosambiek. Dit was op die ou einde nie ‘n dolfyn nie, maar ‘n witdoodhaai. ‘n Honger een. Hulle het net Aleetta se Crocs gekry na die tyd.

Die vierde een, Aleta, is doodeenvoudig deur ‘n haas dood gepik. Dalk nie, só eenvoudig nie. Aleta was doodonskuldig besig om wasgoed op die draad te hang, toe Papaja aan die blaf gaan, so ent die veld in. Oordat daar so ‘n plaag van seeslange was besluit Aleta om maar eerder te gaan kyk, want net-nou is dit ‘n seeslang wat vir Papaja wil pik. Toe sy egter daar aankom, toe sien sy dis ‘n hasie.
“Los die arme hasie, jou ou simpel hond!” Was Aleta se laaste woorde.
So ent weg was ‘n seeslang. Die seeslang het die hasie oomblikke vroeër gepik. Wat meeste mense nie weet nie, is dat seeslange die gevaarlikste gif in die hele wêreld het, maar omdat hulle in die see bly, en mense nié, is niemand nog ooit deur ‘n seeslang gepik nie. Die arme hasie vas egter vol seeslang gif. In sy bloed, in sy brein, in sy spoeg – hy was basies ‘n gifhasie. Toe Aleta buk om die hasie op te tel, toe byt hy vir Aleta. Uit selfverdediging, natuurlik. Aleta het dit darem terug gemaak tot by die huis en was ordentlik genoeg om eers die wasgoed klaar op te hang, voordat sy morsdood omgekap het.

Net ‘n week daarna, toe Louw besig was om die lande te ploeg, toe hardloop Papaja voor die trekker in. Louw het uitgeswaai vir die geel gevaarte, van die trekker afgeval en homself basies met die trekker die lande ingeploeg. Die lande was vir jare daarna baie vrugbaar op daardie plek, want Louw het baie bemesting gemaak toe hy sien die ploeg gaan oor hom loop…

Toe was daar net 3 Morkels oor. Tegnies gesproke. Aletta (wat weens omstandighede toe die jongste was) het die patroon begin raaksien, haar koffertjie gepak, en een aand die nag in verdwyn sonder om eers koebaai of niks te sê vir niemand nie. Veral nie vir Papaja nie. Met die dat sy ‘n gesonde 16 jaar oud was, het sy nie te lank duimgegooi voordat ‘n trok-bestuurder haar opgelaai het nie. Niemand weet wat verder van haar geword het nie. (Magriet Junior – die oudste van die Morkels – het jare later ‘n poskaart van Charlize Theron gekry. Charlize wou net weet wie leef nog. En spesifiek of leef Papaja nog. Dit was vir Magriet Junior bietjie vreemd, maar nie die vreemdste ding wat sy al op die plaas gesien het nie.)
Louw Junior, die enigste seun tussen die kinders, se gedagtes was elders. Louw Junior het homself al op 12-jarige ouderdom ontdek. Hy’t ook baie van die volk se seuns en sy skoolvriende wat kom oorslaap het oor die jare, ontdek. In sy tent. As die ligte af was. Na sy Pa se dood toe het hy uiteindelik die vrymoedigheid gehad om uit die kas te klim. (Nie dat die tent ‘n kas gehad het nie, so kom ons sê maar hy het die vrymoedigheid gehad om uit die tent te klim.) Hy was 18 en lus vir leef en om die wêreld te ontdek – nie net homself en sy geskokte maatjies in sy tent nie. Louw Junior het nes Aletta in die middel van die nag verdwyn. Hy het darem vir Magriet Junior ‘n briefie gelos: “Ek is lus, Ousus, so ek moet gaan. Pasop vir Papaja. Lief vir jou. L.J.”
Meneer de Beer wat L.O. vir die matriek seuns gegee het, het dieselfde nag verdwyn, maar sonder om ‘n briefie vir sy vrou te los.

Toe was Magriet Junior alleen op die plaas. Die 2-slaapkamer plaashuisie het vir haar massief gevoel. Leeg. Eensaam. Net sy. En Papaja.
Sy’t een middag die haelgeweer uit die kluis gehaal en die veld ingestap. Papaja aan haar sy. Sy’t gestap tot by die 6 grafte, ‘n handvol veldblomme gepluk en ‘n blommetjie op elke grafsteen gesit.
“Sien jy wat het jy gedoen, Papaja? Daar lê hulle. Louw Morkel. Magriet Morkel. Allettaa Morkel. Alleta Morkel. Aleetta Morkel. Aleta Morkel. Morsdood. Party van hulle lê nie eers hier nie. Hulle is stof en as in die wind. Of haaikak.”
Papaja het net sy stert gewaai.
“Is dit wat jy wou gehad het? Nét oordat my Pa jou by daai vrou gevat het? Is dit nou my beurt? Gaan jy my nou doodmaak?”
Magriet Junior het diep in die hond se geel oë gekyk. Opsoek na iets. Redes.
“Nee.”
Magriet Junior skrik so groot sy trek per ongeluk die haelgeweer se sneller, en skiet ‘n tarentaal dood wat doodonskuldig in die stof loop en wei het.
“Papaja? Kan… kan jy praat…?” Vra sy geskok.
“Nee.” Die Dood stap tot by Papaja en vryf die geel hond se ore. Papaja waai sy stert opgewonde. “Magriet Junior Morkel.” Die Dood se stem was diep en vreesaanjaend en mooi. “Papaja het niemand doodgemaak nie. Hy is dalk die lompste hond en die grootste ongeluksvoël op die planeet aarde, maar hy het niemand doodgemaak nie.”
Magriet Junior het moedeloos in die gras gaan sit. “Maar…” Sy’t gesukkel om te verstaan.
“Magriet Junior Morkel. Mense gaan dood. Party kry kanker. Party word so oud dat hulle móét doodgaan. Ander mense verdor tot stof en waai weg in die wind. Maar dit beteken nie die res moet ophou leef nie. Jy sê ‘A-nee-a Ma, klim af van die tafel af, ons moet hier eet!’ en jy vee die stof van die tafel af. Jy loop nie die veld in met ‘n haelgeweer nie. Jy staan op en jy leef. Nou. Dis al wat jy het.” Die Dood het met ‘n teerheid gepraat, al was sy woorde kwaai.
“Dit is al wat ek het.” Antwoord Magriet Junior saggies.
“Is jy hier vir my?” Vra sy na ‘n lang stilte.
“Nee. Ek is hier vir Papaja. En om so bietjie met jou te klets.” Antwoord die Dood.
“Kan Papaja asseblief nog bietjie by my bly? Ons het hom almal so gehaat oor al die dood… Hy’t nooit liefde geken het nie.”
Die Dood krap Papaja se maag. Papaja se agterbeen begin spring dat dit lyk of hy ‘n onsigbare fietsie ry.
“Papaja kan bly vir nog so bietjie. As dit beteken dat jy die haelgeweer gaan bêre, kan hy met die grootste liefde bly.” Sê die Dood in sy esoteriese dreuning van ‘n stem.
“Met die grootste liefde.” Beaam Magriet Junior Morkel.

* * *
Ouma wys opgewonde na die TV. “Kyk!”
Op die kassie is nog ‘n episode van kykNET se Megaboere. ‘n Formidabele boerevrou stap deur rye mielies wat lyk of dit vir altyd aanhou tot verby die horison. Die vrou verduidelik aan die aanbieder hoe sy ‘n halwe hektaar plaas so vrugbaar geboer het, dat dit nou ‘n 5,000 hektaar plaas is. Langs haar hardloop ‘n geel hond. Nie geel soos ‘n Labrador kammakastig geel is nie. Nee, geel soos ‘n ryp papaja.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 52 gaste aanlyn

Bydrae Totale