Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Padkaart van Are

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 29 November 2016 Aantal woorde: 828 962 Kere gelees 15

Dit word al moeiliker om my fingers te buig. My ringe pas al lankal nie meer nie en kort naels is my voorland. Partykeer lyk die are wat uitstaan op my hande soos ‘n padkaart wat makliker gevolg kan word as die lyne wat sogenaamde palm-lesers so graag wil vertolk.

Die pyn maak dat ek vir ‘n oomblik ophou tik. Pynpille help nie vir carpal tunnel nie. Rus en ys bring ‘n bietjie verligting. Maar soos my mede joernaliste aanhou tik om my, kruip die wete nader dat ek eendag sonder ‘n werk gaan sit as gevolg van ‘n simpel newe-effek van medisyne wat ek moes neem vir ‘n dodelike siekte wat ek onder lede gehad het.

Ek maak my oë toe en probeer ontspan. Dit help nie om kwaad te word nie.

‘Slaap jy lekker?’

My oë skiet oop. Die redakteur staan voor my. Ek sluk swaar.

‘Is jou berig klaar?’

Woorde ontgaan my.

Hy sug en kyk rond.

‘Luister, ek verstaan dat om te skryf ‘n moeilike ding is. Party dae meer as ander. Maar ek kan nie jou spesiale vergunning gee net omdat jy my vrou se beste vriendin is nie.’

Woede en iets anders skiet op in my, maar ek bly stil.

Hy kyk bekommerd na my en loop weg.

My oë brand. Ek hoop dis net van die skerp lig van die rekenaarskerm. Daniël is gaaf genoeg al laat hy my nog partykeer soos ‘n stout kind voel – veral wanneer hy sy kop skud oor my kortverhale wat ek so tussen deur skryf.

Ek het goeie dae wanneer die pyn uit my gewrigte bly, my vingers oor die sleutelbord kan gly en ek vir ure aaneen kan tik en my stories skryf. Dan is daar dae wanneer nie eens Deep Heat enigiets meer doen as om my oë te laat traan nie…

Tog word dit nie ernstig opgeneem nie. Wanneer ek koppies laat val omdat my hande doodeenvoudig net ophou voel het wat hulle doen, word daar gesê dat ek lomper word met ouderdom. Asof om in my middel-dertigs in die een-en-twintigste eeu te wees dieselfde ding is as in die agtiende eeu… Dis dieselfde storie as ek enigiets anders sommer net los. Dis ‘n grap vir almal wat my ken en partykeer lag ek saam: dis makliker as om toe te gee aan die trane wat brand in my oë. Veral wanneer iemand maak asof hulle iets laat val en dan lag asof dit die snaakste ding is wat hulle al ooit gedoen het.

Die wyser flikker op die skerm en ek lees wat ek tot dusver geskryf het. Ek kan die hitte voel wat bou soos my woede uitting probeer kry. Ek kan nie glo dat daar diegene is wat pyn so kan uitbuit nie. Ek kners op my tande en probeer om nie te bewe soos ek verder skryf nie. Tog moet ek my oë vir ‘n oomblik toemaak wannneer ek die foto’s onthou.

Ek klem my hande; die pyn herinner my dat ek nog lewendig is.

Ek weet ek’s nie alleen nie: baie ly. Selfs honde.

Soos die arme diere waaroor ek skryf. Groot honde word die hardste deur artritis getref. En ‘n sogenaamde farmaseutiese maatskappy het dit uitgebuit. Mense wat enigiets sou doen om hul diere te laat ophou ly het baie geld uitgegee. En nou is hul diere dood.

My vingers vlieg oor die sleutelbord soos ek die laaste feite wat ek voor gedelf het in weef. Ek kners op my tande om nie ‘n kreet van pyn vry te laat nie. My vingers en gewrigte brand soos ek tik.

Sekere soorte artritis is oorerflik. Soos Rumotoïde Artritis wat nie net die gewrigte laat pyn nie, maar ook misvorm maak met tyd. Ek vrees die dag wanneer dit saamspan met die carpal tunnel wat ek alreeds het en ek alle gebruik van my hande verloor. Soos so baie vrouens in my familie.

Daar’s geen kuur vir artritis of carpal tunnel nie. Tog neem mense dit nie ernstig op nie. Hulle besef nie hoe geseënd hulle is om die volle gebruik van hul hande te hê nie. Die grapmakers weet nie eens hoe dit voel om met pyn saam te leef en steeds alles te doen wat hulle doen – en partykeer beter – nie.

Ek maak die berig klaar en stuur dit na die redakteur.

My hande is blou en pers soos die are uitstaan. Die pyn is niks – ek het verseker dat die kriminele wat die dood van meer as ‘n dosyn honde veroorsaak het nie ongestraf sal bly nie.

Party dae is dit goed om by ‘n groot nasionale koerant te werk. Ek smeer my hande Deep Heat met tevredenheid en gluur vir die poppie oorkant my wat haar mond oopgemaak het om weer te kla oor die reuk. Sy kyk vinnig weg.

Ek grinnik en maak ‘n nuwe dokument oop om ‘n kortverhaal te skryf wat in my onderbewussyn woed.




TEMAS
8 Kommentaar
  1. Anze

    29 November 2016

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die ‘n Stem vir Gesondheid projek

  2. neels

    29 November 2016

    goed geskryf Ronel

  3. Koekekranka

    30 November 2016

    Og, jy skryf asof jy my wederhelf se pyne fisies kan voel! My dierbare mensie, weet dat ek die diepste, maar diepste van pynmeelewing daagliks saam met my vrou deurmaak. Ons, wat meer gelukkig is, kan nie regtig indink hoe julle lyers ly nie. Ons bede is vir verdra…

    Pragtig aangebied!

    • Ronel Janse van Vuuren

      1 Desember 2016

      Dankie, Koekekranka. Ek het agtergekom dat daar mense is wat pyn afmaak as niks, terwyl dit nes enige ander mediese toestand ‘n mens se lewe beïnvloed vir goed en kwaad.

  4. Viooltjie

    30 November 2016

    Ronel, jy het nou hierdie toestande op ‘n interessante manier benader en ‘n storie geskryf terwyl jy die simptome van die siektes duidelik uitwys. Dis ‘n goeie manier om dit te doen. Kyk net na ‘carpal tunnel’ ~ ek dink die Afrikaans is ‘karpale-tonnel sindroom’ eks nie heeltemal seker of dit een of twee woorde is nie 🙂

    • Ronel Janse van Vuuren

      1 Desember 2016

      Dankie, Viooltjie. Ek het gaan soek na die Afrikaanse vorm van die sindroom, maar kon dit nêrens kry nie.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 96
Kommentaar telling: 265

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 32 gaste aanlyn

Bydrae Totale