Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Pa en die maanhaar

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 13 April 2019 Aantal woorde: 1011 229 Kere gelees 4

Pa en die maanhaar, deur Stephan Uys

Kyk, as jy boer is vakansies mos skaarser as hoendertande. Ek het reeds vyf hoendertande gevind voor pa ons een jaar Kruger Wildtuin toe vat vir ʼn vinnige wegbreek. Omdat niemand kon weet hoeveel hoendertande daar lê voor die volgende vakansie nie, koop Ma ʼn mik-en-druk kameratjie om ons kosbare herinneringe op film vas te lê.

Ai, vir plaasklonge is dit net te lekker in die wildtuin. Ons slaap laat want die kamp se hekke maak eers vyfuur oop. Daar is ook niks koeie om eers te melk of eiers om uit te haal nie. Ons klim net in die kar, sit terug en verstom ons aan al die wilde diere wat ma op film verewig. Ja, my ma het oornag ontaard in ʼn wafferse fotograaf. Sy laat pa heen-en-weer ry, dwars oor die pad trek en skuins parkeer – alles net om die perfekte “skoot” te kry. Pa is maar te gewillig, want die vreugde op haar gesig wanneer sy die perfekte “angle” kry kan nie met geld gekoop word nie. So met die foto-nemery leer ma die kameratjie se werkinge beter verstaan. Pa wil nie foto’s neem nie en sy hou haar kennis vir haarself. Later sou Ma dit bitterlik berou.

Jy weet, as daar nou ʼn dier is wat mense lok soos vars beesmis vlieë lok in ʼn melkstal, is dit leeus. Pa belowe twintig sent aan die een wat eerste leeus sien. Sulke rykdom was ongehoord in ons huis en ons sien leeus agter al wat bos of boom is. Elke keer is dit net lang gras en elke keer laat sak ma die kamera teleurgesteld terug op haar skoot. Pa begin later knorrig raak, maar twintig sent is twintig sent en ons bly grasse en goete sien, en pa bly stop en soek.

Pa sien die leeus eerste. Skaars twintig meter van die pad af is ʼn allemintige groot leeu-gesin, tesame met hulle aangetroude familie, besig om onder ʼn boom vergadering te hou. Ma is in ekstase; hier is haar kans om die koning van die oerwoud in ʼn rare familiefoto te verewig. Daar is net een klein probleempie, die leeus hou indaba aan pa se kant van die kar. Sy is nog besig om instruksies te gee oor hoe pa die kar vir haar moet parkeer toe dinge begin verkeerd loop vir haar fotosessie.

Daar is iets wat ek net nie kan verstaan nie. Jy sal vir ure na ʼn koedoe of rooibok staar en niemand gaan jou kom pla nie, maar sien nou net ʼn leeu se stert raak en dis asof die bostelegraaf dit aan al wat ʼn wild-kyker is proklameer. Pa wil nog die kar in trurat sit toe trek ʼn kar agter ons in. Hy is besig om na eerste oor te skakel toe ʼn bakkie hom voor vasparkeer. Pa mik en meet, maar daar is geen kans vir omdraai nie; die leeus sal moet gekiekie word soos die kar staan, of ma nou daarvan hou of nie. Ma sug hartverskeurend, maar dan skop die fotograaf in haar in en sy begin haar lyf in die kar rondgooi opsoek na die perfekte skoot. Ma is later sopnat gesweet, maar sy kry net nie die regte posisie nie. Geïrriteerd stop sy die kamera in pa se paar boerehande en beduie hy moet foto’s neem. Pa raak sommer bleek en bewerig. Hy kan sien hoe belangrik hierdie foto vir ma is en van foto’s neem weet hy nog minder van af as van ballet. Ma gee ʼn kits les in die kuns van mik-en-druk fotografie en pa begin deur die oop venster aan te lê leeus se kant toe.

Dis toe dat die situasie werklik gevaarlik raak. Ma sê nie vir pa die lens laat alles baie verder lyk as wat dit werklik is nie. Pa, in sy senuagtige toestand, merk ook nie dat die leeus heelwat verder van die kar af lê wanneer hy deur die lens kyk nie; hy is maar net te dankbaar toe hy uiteindelik die leeus deur die klein lensie raaksien. En met die leeus se raaksien gebeur met pa wat vroeër ook met ma gebeur het – daardie kameratjie verander hom in ʼn oogwink van Boer na Fotograaf. Pa hang naderhand halflyf uit die venster op soek na die perfekte skoot. Sy entoesiasme trek die groot maanhaar se aandag en Baardman kom stel ondersoek in.

Ma is die eerste een wat pa waarsku. Pa is nie bekommerd nie, want die reuse maanhaar is nog myle van hom af weg. Sy ongeërgdheid maak dat ek daardie dag iets leer oor die verband tussen afstand en toonhoogtes. Ek sê jou, met elke tree wat daardie leeu gee, styg ma se stem met twee oktawe. Pa steur hom steeds niks aan ma se histerie nie; die leeu is mos nog ʼn goeie tien meter weg van hom af. Teen hierdie tyd is ma se super-sopraan stem al besig om die motors om ons se gloeilampe te bars. Dis eers toe die ander bestuurders paniekerig begin toeter blaas dat pa sy kop van die kamera af oplig en die groot maanhaar vol in die gesig kyk.

Nou gebeur baie dinge alles tegelykertyd. Pa gooi homself terug in die kar, maar in sy haas stamp hy sy kop. Hy gee ʼn woord wat iets te doen het met weerlig en smyt die kameratjie in my skreeuende ma se rigting. Sy ander hand draai die venster so vinnig toe dat Baardman se snorbaarde daarin vasknyp word. Ma is nou hees geskree en sy klink soos ʼn werfgans wat stoom afblaas. Die leeu is nie gelukkig met pa nie en loop brom-brom twee keer om die geel Datsun terwyl hy aan al die modderskerms byt. Met sy ongelukkigheid uitgewerk kom loer Baardman weer deur die venster. Pa en Baardman kyk mekaar lank in die oë terwyl ma steeds histeries hyg.

Ek weet nie, ek kon my verbeel, maar ek is byna seker ek het ʼn glimlag op ou Baardman se bakkies gesien toe hy rustig omdraai, sy been teen die voorwiel lig, en toe terugstap na waar sy familie wag.

©Stephan Uys 2019/04/09




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    16 April 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek

  2. Ano

    20 April 2019

    Hahahaha!!

  3. Kiekies

    22 April 2019

    Demmit hoe hees is ek ook nou. Ek het my so ingeleef…hehehe!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 141 gaste aanlyn

Bydrae Totale