Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Oupa pa en die denneboom Silwer (699 woorde)

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 17 November 2020 Aantal woorde: 696 19 Kere gelees 1

Vir die wat my nie ken nie, ek het ‘n groot fobie. Daardie vet boepens mannetjie met die rooi jas en die paashaas. Nee, nie ‘n fobie nie, ‘n renons. Elke haartjie in my nek vlieg penorent wanneer daardie twee dit in my rigting waag.

“Wyk satan, terug warmplek toe met jou.”

Ek besweer hulle met alles in my. My arme kleinkinders dink seker hulle ouma is mal.

Oupa-pa was half-Jood. Dit maak my seker kwart Jood. Jode vier Chanukah, nie Kersfees nie. Soms val die twee so mooi saam in een week. Miskien volg ek oupa-pa se tradisie en maak penning poeding. So lekker stroopsoet doekpoeding vol geldstukkies. Wonder of mens vandag se munte kan vertrou? Netnou vergiftig ek die huismense met een of ander metaalvergiftiging. ‘n Vyf rand is ook niks meer werd nie. Sal maar in Oupa se versameling moet inklim, dalk is een van die ou pennings ietsie werd en kan die een wat hom raakbyt darm meer as ‘n toffie daarmee koop. Hoop net nie iemand breek ‘n tand nie, dan gaan ek meer as ‘n penning moet opdok.

So was dit dan ook die jaar toe ma Joey besluit sy wil opsluit ‘n kersboom hê. Ons was nie arm nie, net minder bevoorreg as die meeste ander kinders in die omgewing. Ons was ook meer kinders in die huis as die normale gesin in die omgewing. Tussen die oudste en die jongste was daar ‘n twintig jaar verskil. Dus het die kleinkinders ook soos orrelpypies die huis vol gesit. Almal het in spanning gewag om die uitslag op ouma Joey se versoek te hoor. Oupa-pa het, soos ek, ook glad nie vat aan ‘n kersboom gehad nie. Jeremiah 10 vers 3 waarsku ons dan juis teen die gebruik daarvan. Ewenwel, ma Joey wen toe, of miskien was dit al die klein gesiggies wat so na oupa-pa gestaar het wat hom die byltjie laat slyp het. Gewapen met sy vlymskerp byltjie en ralleigh fiets vaar oupa-pa die strate in.

Ons kon die straatbrakke blokke vêr hoor blaf. Dit was al laatmiddag en al die kinders en kleinkinders het onder die peerboom op oupa-pa sit en wag. Soveel opgewondenheid was nog nooit weer in Potch se geskiedenis opgeteken nie. Oupa-pa was al in sy sewentigs. Fietsry was sy lewe en die naaste wat ons klomp Meyertjies aan ‘n motorkar gekom het, was wanneer die ouer kinders uit Johannesburg kom kuier het. Oupa-pa trap daardie ralleigh fiets met mag en mening. Agter hom, vasgemaak aan sy inkopiedrarak sleep hy ‘n 10 voet lange denneboompie. Die hele Van Riebeeck straat se honde tou keffend agterna. Oupa-pa skreeu al van ver af dat ons die hek moet oopmaak. Ons klap die groot ou plaashek neffens ‘n klein foxterrier se neus toe en draf langs oupa-pa na die agterdeur. Die brakke knor en tjank nog ‘n rukkie voordat hulle druipstert huiswaarts begin keer. Hulle loop in groepies van vier en kef en grom onder mekaar oor hierdie vreeslike gevaarte wat hulle nou ontglip het.

Dan begin die groot intog na die voorhuis. Ma Joey weet dis beter om nou nie ‘n woord te uiter nie. Tog hoor jy haar sagte brom wat klink soos begraafplaas, toegesluit en simpel boom. Tel ons klompie mos daardie elle lange boom regop. Dis net dennenaalde en sandsleepsel vanaf die agterdeur, oor ma se mooi mat, tot in die hoek van die voorhuis. Die ou boompie buig nederig in aanskoue van al die kindergesiggies hier voor hom, dalk ween hy oor sy ontydige verwisseling van staanplek. Ma Joey skud haar skouers reg. Die toppie van die den wieg beskuldigend heen en weer voor haar. Dan hang sy die Davidster met oorgawe aan die wiegende punt. Vir die eerste (en die laaste) keer was daar ‘n dubbelgevoude denneboom in die Meyers se huis. Dit was ook die laaste keer wat daar penniepoeding gemaak was. Oupa-pa moes hard rug klap toe een van die kleinkinders aan ‘n tand en ‘n penning tegelyk verstik.

NS: Niemand het ooit gevra waar die ou pasellaboompie vandaan kom nie. Oupa-pa het daardie geheim met hom graf toe geneem. Ma Jo het ook nooit weer vir ‘n boom gevra nie.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 59
Kommentaar telling: 30

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 51 gaste aanlyn

Bydrae Totale