Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Ouma se ridder

Deur Ela
Datum gepubliseer: 18 Maart 2019 Aantal woorde: 846 220 Kere gelees 3

Ouma se ridder
Sanet staan besluiteloos: die sypaadjie wat om die park loop, of die kortpad deur die park? Sy weet haar ma sal glad nie daarvan hou dat sy deur die park loop nie, want soos alle ma’s glo sy dat die park nie veilig is vir ’n meisiekind alleen nie. Maar Sanet is regtig nie lus om vandag ver te loop nie. Sy wil vinnig by haar ouma uitkom, sodat sy nog vroegdag weer by die huis kan wees. Sy en Wimpie het vanaand ’n afspraak en sy moet nog besluit oor ’n rok en haar hare was.
Met haar stuitige rooi keps op haar nog rooier hare en die mandjie met eetgoed vir ouma, glip sy vinnig by die voordeur uit voordat Ma nog ’n keer kan preek oor die parkie.
Die parkie is hierdie tyd van die oggend heerlik koel. Die plantegroei staan geil en kleurvol. Sanet verluister haar aan die pragtige voëlgesang. Ai, dit is darem heerlik om hier te kan rondstap in plaas van om in ’n bedompige lesingsaal te sit! Jammer die vakansie is so kort.
“En toe, Ounooi, as jy so diep ingedagte is? Waar is jy op pad heen?”
“Môre oom Pieter, ek is op pad na Ouma toe. Sy voel blykbaar nie te lekker nie.”
“En nou stap jy sommer deur die parkie. Ja toemaar, ek weet hoe jou ma hieroor voel. Nou toe, stap maar vinnig, ek sal ’n ogie hou. Moet nie net afdraai van die paadjie nie, hoor!”
Sanet knipoog vir oom Pieter. Die dierbare ou omie is al so deel van die parkie. Sy pensioenwerkie is om parkopsigter te speel. Sy kan net dink dat dit ’n heerlike werk is om heeldag tussen die plante en blomme te krap en vroetel. Eintlik kan sy nie vir oom Pieter “oud” noem nie. Vir sy ouderdom lyk hy nog baie goed. Sy kan net dink hoe hy in sy polisie uniform moes gelyk het: fors en sterk.
Sanet is so in haar eie gedagtes verstrengel dat sy nie die vreemde man by die hoek van die eerste skakelhuisie raaksien nie. Ouma se huisie is die derde een in die ry van ses. Vandag is nie een van Ouma se bure op die stoep nie.
Sanet klop aan haar ouma se voordeur en draai sommer die knop.
“Ouma, waar is Ouma?”
“Hier, kindjie, ag ek is so bly jy het gekom. Ma het gesê sy stuur medisyne. Die ou bors is nie lekker nie. Maar ons gaan eers tee drink.”
Sanet gooi haar rugsak argeloos op die toonbank neer. Kort voor lank is Sanet en haar ouma druk in gesprek. Die teekoppies se gerinkel en hulle stemme sweef deur die klein huisie. Nie een van hulle hoor die voordeur oopgaan nie.
“Nou ja, sommer twee vlieë met een klap. Nee, staan maar stil, dan sal julle nie seerkry nie. Ek soek nie moeilikheid nie, net geld en ja, gee maar die selfoon en die horlosies ook. Julle ringe, haal af. Toe-toe, moenie my laat wag nie.” Die man in die deur van die klein kombuisie is klein gebou, maar die lewensgrootte pistool in sy hand is dreigend op hulle gerig.
Sanet haal gedwee haar horlosie en ringetjie wat Wimpie vir haar gegee het, af en plaas dit op die toonbank. Dan help sy vir Ouma.
“Toe, julle beursies, haal dit ook uit.” Hy beduie met die pistool in hulle rigting.
Sanet trek stadig haar rugsakkie nader. Sy het die beweging by die deur agter pistoolmannetjie gesien. Sy loer onderlangs na Ouma. Ouma moet tog nie nou iets verkeerd sê of doen nie! Maar Ouma krap met ’n bleek gesig en bewende hande in haar handsak.
“A nee a, wat het ons hier?”
Oom Pieter se stem bulder deur die klein kombuisie. Pistoolmannetjie swaai verskrik om, maar oom Pieter is te vinnig vir hom. Hy gryp die man se gewrig en gee dit ’n skerp draai. Die man gil van pyn en laat val die pistool. Oom Pieter skop die pistool dieper die kombuis in. Terselfdertyd gryp hy die man se ander arm en hou dit agter sy rug vas.
“Nou wag ons maar. Die polisie sal nou hier wees. Dit sal jou leer om by onskuldige mense se huise rond te dwaal.”
Die man probeer loskom, maar oom Pieter hou hom stewig vas. Binne oomblikke kom ’n jong polisieman ingestorm.
“Ai, dankie oom Pieter, ons soek al lank na hierdie mannetjie. Dag Tante, juffrou.”
Die polisieman boei vir pistoolmannetjie en lei hom by die huisie uit.
“Ai, Pieter, dankie. Ek weet nie wat sou gebeur het as jy nie hier aangekom het nie.” Ouma gaan staan ewe skugter teenaan oom Pieter.
“Ai, Annetjie,” na-aap oom Pieter vir Ouma. “Hoe sal ek dan nou kan wegbly? Gelukkig was hier vandag ’n goeie rede waarom ek vir ’n tweede keer kon kom tee drink!” Sy guitige glimlag laat Ouma bloos. Dan knik hy vir Sanet.
’n Lig gaan ineens vir Sanet op. Sy grinnik. So, dan was oom Pieter eintlik ’n wolf in skaapsklere!




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    19 Maart 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek

  2. Kiekies

    21 Maart 2019

    Mmmm stoute ou man.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 9
Kommentaar telling: 2

Drie bundels gepubliseer, verskeie verhale en essays in gesamentlike bundels, verhale gepubliseer in Vrouekeur en Kuier  

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 71 gaste aanlyn

Bydrae Totale