Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Ouma en Blik Bettie

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 13 Julie 2020 Aantal woorde: 2392 54 Kere gelees 1

Ek het doodonskuldig my ma vertel van die fliek, Christine, wat ek die vorige aand gekyk het, toe Ouma uit die kombuis gestoom kom en my ‘n klap teen die oor gee. Nou as Ouma jou aan die kant van jou kop bykom en jy sien dit nie kom nie, dan hóór jy eers die klap-klap voor jy besef wat aangaan. Dis natuurlik die geluid van Ouma se plathand teen jou oor, gevolg deur die oor aan die ander kant wat ook ‘n klap geluid maak soos die momentum jou kop swaai. Vir ‘n toeskouer is dit natuurlik vreeslik amusant. Nie soseer vir die ontvanger van die dubbel-klap nie.
Ouma het darem die ordentlikheid gehad dat jou ore ophou suis voor sy met jou begin praat.
“Jy praat nie van daai goed in die huis nie!”, het Ouma spierwit, maar in geen onduidelike terme, gesê en sonder verduideliking op haar hakke gedraai en is weer die kombuis in.
Toe ek uiteindelik by my sinne kom het ek met waterige oë vraend vir my ma gekyk, wat net haar kop geskud het. Haar oë ook waterig, maar van die lag en nie van pyn soos myne nie.

Vir dae het ek gesit en wonder waaroor Ouma nou nie wil hê ons moet oor “Christine” praat nie. Christine is natuurlik ‘n fliek wat gebaseer is op ‘n Stephen King boek wat gaan oor ‘n motorkar wat deur bose magte ingeneem word en hoe die kar dan mense vermoor.
Ek het om Ouma begin draai soos ‘n lam vlieg, maar darem ook op ‘n veilige afstand. Ouma was dalk ‘n groot boertannie, maar so rats soos ‘n hottentotsgot en glad nie minder dodelik nie.
Uiteindelik het sy ophou knie aan die bol wit deeg en my aangegluur.
“Wat wil jy hê?” Het sy gevra en met ‘n ondeundheid in haar oog gemik in my rigting.
“Hoekom mag ek nie oor daai fliek praat nie, Ouma?” Het ek senuweeagtig gevra nadat ek seker gemaak het die tafel en ‘n paar stoele is tussen my en haar.
Sy het my stil aangekyk, so al asof sy gestaan en meet en pas het of sy my gaan kan bykom. Uiteindelik het sy haar kop laat sak en weer begin knie, die tafel al kreunend onder haar klaarblyklike eindelose krag.
“Want dis ernstige sake daai. ‘n Motorkar wat vervloek is.” Ouma het ingedagte oor die plaaswerf getuur. Uiteindelik het sy gewys na die wrak wat agter die hoenderhok gestaan het. “Daai Blik Bettie is só motorkar. Vervloek deur die duiwel homself.”
Ek het gekyk waar sy wys, alhoewel ek presies geweet het waar “Blik Bettie” gestaan het. Nie dat ek meer geweet het as die feit dat Ouma na die wrak verwys het as “Blik Bettie” nie. Ek het dit nog nooit bevraagteken nie. Dit was net só. Blik Bettie was die wrak van ‘n 1924 Model T Ford bakkie. So nou en dan het ‘n verdwaalde hoender met ‘n kekkel en ‘n kô-kô-kô ‘n eier op die wrak se voorsitplek gelê, en jy kon maar weet sonder om te kyk, dat daai eier vrot was. Selfs al was hy sopas gelê.

Dit was nie nodig om meer uit te vra nie. Ouma sou vertel op haar tyd en haar manier.

Oorle’ Oupa Johan was nou nie besonder ryk nie. Prakties. Netjies. ‘n Jentelman. Vriendelik. Maar nie ryk nie. So was die 1930’s mos maar moeilike tye vir almal. Geld was daar nie. Net leë mae en kinders met gate in hul kerkskoene. Oupa het besef dat hy plan sou moes maak, anders het al 6 die Van Staden kinders van die hongerte heengegaan. ‘n Mens kon dalk redeneer dat daar genoeg kinders was om dalk maar een of drie af te staan. Maar mens raak glo geheg aan die kleingoed. Of so beweer Ouma. Oupa het toe maar by die bank gaan aanklop vir ‘n lening en drie van die kinders as waarborg afgeteken. ‘n Week later het Oupa uiteindelik die twintigste eeu betree en dié Model T Ford op ‘n vendusie gekoop, wat sy plaas sou red en help om die kinders se mae minder te laat gôr.

Daar was onmiddellik waarskuwingstekens dat alles nie pluis was met die Blik Bettie nie. (Oupa was trots Afrikaans, en het geweier om die kar ‘n “tin Lizzie” te noem.) Sommer daar by die vendusie is Oupa ‘n duim kwyt. Die jonges van dae het geen idee hoe gelukkig hulle dit het met moderne motors nie. In dáárdie dae het jy nie net ingeklim, ‘n sleutel met ‘n tjôrro- tjôrro gedraai en weggery nie. Nee, dit was ‘n tweemansaak om ‘n Model T aan die gang te kry. (Of ‘n een man en een vrou saak in Oupa en Ouma se geval.) Die een persoon moes binne die motor sit om knoppies te druk en hefbome te trek, terwyl die ander een voor by die neus ‘n slinger moes draai. Smoorder trek, draai die slinger en op die regte oomblik, as die klik-klik ‘n klak-klak word, moet die brandstofpedaal getrap word. (Dit is dan ook hoe jy weet of ‘n man lief is vir sy vrou – afhangende van wie buite die slinger moet draai en wie binne sit en wag. Oupa was lief vir Ouma, so Ouma het vinniger leer bestuur as Oupa.) Wat niemand vir Oupa gesê het nie, is dat jy die slinger moet draai met net jou linkerhand, want as die klik-klik ‘n klak-klak word, kan daai slinger terugswaai en ledemate afhaal. Dit was ook hoekom Oupa toe nou maar moes leer om die pyp met sy linkerhand vas te hou, en die twak met sy regterduim te stop.

Soos die tweetjies ry van die hospitaal af terug plaas toe, toe kom die volgende teken. Aanvanklik het die motorkar se enjin ‘n egalige klak-klak-klok geuiter soos dit geduldig die wapad aangedurf het, maar op ‘n stadium toe slaan die enjin oor in wat maar net kan beskryf word as ‘n kakofonie van klanke.

Ouma raak stil asof sy iets probeer onthou wat nét buite haar geheue rondloop. Ek het my asem opgehou in afwagting dat Ouma die kakofonie vir my kan demonstreer. Asof sy uit ondeundheid of moedswilligheid my afwagting wou uitrek, gaan sy aan sonder ‘n demonstrasie.

Om dié klank te verstaan, moet jy die geskiedenis van die motor verstaan. Toe Oupa Johan besef – of eerder aanvaar – die onheil bly in die kar het hy begin navorsing doen. Genoeg dreigemente en genoeg geklingel van munte het Oupa uiteindelik by At Vanne Merwe, die vorige eienaar van Blik Bettie, uitgebring. Nie dat At Vanne Merwe veel te sê gehad het nie, want hy was reeds dood. Toe gaan gesels Oupa maar met die Vanne Merwe weduwee. Volgens die Vanne Merwe antie het At Vanne Merwe se pa die Model T Ford in 1924, uit die boks uit, gekoop. At Senior Vanne Merwe het ook daarop aangedring om die motor self uit die boks uit te ry op Durban se hawe. At Senior Vanne Merwe het staan en skree op die mense om versigtig te wees met die krat. Sy laaste woorde “Ek sweer as daar ‘n krappie aan my motorkar is gaan ek by jou kom spook!”, het skaars stil toe die hyskraan se tou reg bo At Senior Vanne Merwe breek, en met ‘n oorverdowende kardoef, hom in ‘n plat rooi morsige spul verander. Die Ford het nie ‘n skrapie opgehad nie. Dieselfde kon nie van At Senior Vanne Merwe gesê word nie. Die motor het egter ‘n vreemde klankie bygekry wat die egalige klak-klak in ‘n effense onegalige klak-klak-kardoef verander het.

Omdat die motor nog nie in die testament opgeskryf was nie, het die oudste seun, Karel Vanne Merwe die motortjie geërf. Vreeslik opgewonde laat hy ook nie op hom wag nie en beland per trein, perd en uiteindelik te voet op die hawe om die motor uit die boks te ry. Maar in al die chaos en opgewondenheid het niemand vir Karel die twee-hand of twee-man reëls geleer nie. Karel het voor die groot krat gaan staan en sonder om twee keer te dink die slinger gedraai. (Of selfs sonder om een keer te dink.) Die enjin het met ge-klik-klik en na sommer ‘n halwe draai ge-klak-klak-kardoef, Karel se arm by die naat afgehaal en sommer bo-oor Karel gery met ‘n onseremoniële doef-doef-eina. Karel het net daar bly lê. Die motortjie het dit tot by die hawe se hek gemaak voordat dit weer tot rus gekom het. Sonder ‘n stamp of ‘n stoot. Gelukkig was At Senior Vanne Merwe se oorblyfsels (of is dit nou skraapsels?) nog nie huis toe gestuur nie, en kon hulle Karel saam in dieselfde boks, huis toe pos.

Volgende op die lys van erfgename was die dogter ene Ena Vanne Merwe. Sy het – vreemd genoeg – vreeslik senuweeagtig geraak oor die idee van die motortjie, en die Ford verkoopsman oortuig om die gedoente op die hawe te gaan haal. Die verkoopsman het natuurlik al die reëls van een arm en twee mans geken, en sonder verdere insidente die motor van die hawe tot op Vaalwater gery. Hy het egter nie ‘n woord aan Ena gesê oor die ritmiese klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-dreuning van die enjin nie.

Dit was omstreeks dieselfde tyd wat Ena begin gemaklik raak het met die Model T, wat daar ‘n Skotsman langs haar ingetrek het. Dit vat ook geen verbeelding om te weet wat volgende gebeur het nie. Die Skotsman het dag in en dag uit op sy doedelsak geblaas dat die hele Vaalwater aanvanklik gedink het dat daar ‘n trop brandsiek skape – wat van die noot af blêr – in die Skotsman se huis was. Ena moes gedurig oor die muur hang en gil en soebat vir bietjie stilte, maar hetsy dit nou moedswilligheid of doofheid was, het die Skotsman nooit einde gekry aan die blasery nie. Niemand is seker wat presies gebeur het daardie Sondagoggend net na drie nie. Die Sersant raai dat Ena se kop uiteindelik uitgehaak het van al die van-die-noot-af geblêr. Sy’t in die Ford geklim en regdeur die Skotsman se sitkamer muur gery. Sersant meen die Skotsman moes opslag, met ‘n laaste ba-toet in die doedelsak, die tydelike met die ewige verwissel het. Bewyse op die toneel dui egter daarop dat Ena die Skotsman met haar ukelele gesteek het, net om seker te maak sy blaas is klaar…
Ena is toe nou maar in die malhuis op Nylstroom opgeneem, en At Vanne Merwe – die jongste van die Vanne Merwe gesin – het die Ford op Vaalwater gaan haal. So het At met die Model T (minus een koplig) klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet al die pad van Vaalwater tot op Ellisras gery.

At Vanne Merwe was ‘n wiskunde onnie by die hoërskool. At Vanne Merwe was ook maar net man. At Vanne Merwe is bo-op ‘n sestienjarige meisietjie (wat na skool gebly het vir ekstra klasse), agterop die Ford dood, waar dit parkeer was onder ‘n boom op die rugbyveld. Hy’s dood sommer so sonder klere. Klaarblyklik het hulle alles behalwe wiskunde gedoen. Of ten minste het hulle wiskunde verkeerd gedoen. Sy hart kon nie byhou nie. Pleks dat At Vanne Merwe maar eerder wiskunde gedoen het.
Die Vanne Merwe antie het daardie selfde dag wat sy ‘n weduwee geword het sommer alles wat At Vanne Merwe besit het op ‘n veiling verkoop.

So eindig Oupa Johan met dié Blik Bettie op. Daar was geen manier dat Ouma iemand kon bekruip in dié motor nie, want daai ge-klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg kon jy ‘n plaas myl ver hoor aankom. Die Model T het inderdaad die plaas help red. Groente kon vinniger, alhoewel meer raserig, by die mark gekry word as met die donkiekar. Ouma het vinnig al Blik Bettie se nukke en grille verstaan en Oupa het geleer om sy bek te hou en net saam te ry. En met een hand te slinger. Maar soos die lot dit wou hê (of bloot net die feit dat Oupa en Ouma so vrugbaar was?) raak Ouma weer swanger en kon sy naderhand nie meer goed genoeg knyp om met die Model T oor die sinkplaatpad dorp toe te ry nie. Oupa moes toe nou maar die hele motorry besigheid oorneem so op sy eie.

Die Model T het nie eers ‘n dag gewag voor sy haar kans gewaag het nie. Oupa het die slinger gedraai – met een hand – en die klik-klik het net bly klik-klik. Oupa het weer gedraai en weer gedraai, sonder enige teken van sukses. Sy humeur het al hoe meer begin suur word, en uiteindelik heeltemal kop verloor en die slinger met twee hande vasgevat. Daar was net een klik en toe ‘n klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg. Gelukkig het Oupa nie meer ‘n duim gehad nie, anders was die duim af. Die motortjie het gesien sy’t gemis en sonder om te aarsel plan B uitgevoer en op Oupa afgejaag. Oupa het in ‘n stofwolk omgeswaai en begin hol met Blik Bettie agterna. Ouma het die spulletjie uit die kamervenster dopgehou en besef vandag is daar moord op die werf. Oupa het al glyende oor die los klippe, hakende deur die roostuin en bloeiende deur die rotstuin gevlug vir sy lewe. Hy het die sigsag metode probeer, maar Blik Bettie het bloed geruik en saam ge-sig as Oupa ge-sig het en saam ge-sag as Oupa ge-sag het. Oupa se asem het egter vinniger opgeraak as Blik Bettie se petrol. Oupa het neergesak en vir oulaas met heimwee gedink aan sy geliefde vrou en al die kinders (nie dat hy by al die kinders kon uitkom nie, want daar was te min tyd en te veel kinders om aan te dink). Net voor Blik Bettie vir Oupa met ‘n klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg kon trap, toe skiet Ouma vir Blik Bettie reg op die neus met die ou sanna.

Ouma en Oupa kon nooit saamstem oor Blik Bettie se laaste klanke nie.
Oupa Johan het gesê hy’t gehoor klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg-petwang-psssst.
Ouma dring daarop aan dat sy gehoor het klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg-petwang-fokmy.

Wat dit ook al was, dit was Blik Bettie se laaste woorde en laaste poging tot moord. So gelaat staan en so gelos. En van daai dag af praat jy nie oor duiwelsbesete karre op die plaaswerf nie. Want Ouma gaan vir jou moer.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    14 Julie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2020 – Klanknabootsing projek

  2. Ano

    16 Julie 2020

    Whahahahaha!
    :-)))))))))

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 38
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 74 gaste aanlyn

Bydrae Totale