Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Oud word is nie vir sussies nie

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 20 Mei 2019 Aantal woorde: 329 185 Kere gelees 3

Ek loop doelgerig uit die kamer. Oppad na….. ag hel, wat nou weer? Dit moes wraggies nie belangrik gewees het nie. Ek sou dan darm onthou het. Ek skakel die ketel aan en glip twee snye brood in die rooster. Ou Douw se koffie aroma kom draai sy vinger diep in my sinusholte. Ek sluit my oë in vol waardering daarvan.

Die heup pla vanmore weer. Ek loer skelm na die vollengte spieël in my kas. Die rokkie sit net laag genoeg om beskaafd te wees. Hoog genoeg om liewer soos ‘n dame te moet buk. Vir ‘n ouma oor vyftig glimlag die beeld nog heel toepaslik terug na my. Ek glip die swart hakkies vinnig aan my voete. Speels swaai ek om en loer oor my skouer. Die slag wat volg laat die wêreld op sy as in trurat
inskop. Uitgestrek soos ‘n wafferse voorhuis zebravel. Ja wat het jy gedink Ouma? Hakke is vir tieners en tannies. Oumas met heup probleme en vleisigheid om die boude hoort nie op hakke nie. “Ek’s OK”, skreeu ek, net ingeval iemand dalk “worry”.

Die hakkies verdwyn stil stil na die agterkant van die kas. Sal maar skafliker, tog moderne, enkelstewels aantrek. Ek steek tong uit vir die grynslag vanaf die spieëlbeeld op die kas se deur. Stoot hom net hard genoeg toe om ‘n punt te bewys. Swerkater. Duiwelskind. Verraaier. My gekneusde ego sanik in stilte toe ek die kombuis binne waggel. Almal is druk besig met niks. Vra nie eens of ek die val oorleef het nie. Hap net groot stukke roosterbrood om hulle monde besig te hou. Die duiwel dans in elkeen se oë.

“Jis, gaan ma so kerk toe?”. Ek ruk my ruggie regop. “Wat is fout daarmee?” “Nee Jis, ma lyk nogal mooi vir ‘n ou tannie”. Die son skyn helder deur die kombuis venster. My gekneusde ego genees binne sekondes. Wie het gesê Oumas mag kwansuis nie mini rokkies dra nie?




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    20 Mei 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek

  2. Kiekies

    21 Mei 2019

    Ja WIE HET?
    Heerlik gelees!!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 31
Kommentaar telling: 18

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 57 gaste aanlyn

Bydrae Totale