Module 1
Geen persoon kan ‘n ander leer om te skryf nie. Skryf is ‘n hartsding wat kriewel van diep binne-in die skrywer (digter) en uitloop op papier. As jy hierdie enigste reël toepas is die stryd half gewonne. Dit is belangrik om skryf- en digreëls na te kom, natuurlik, maar die liefde vir jou taal, die vers van siel en die probeer en faal, weer probeer en probeer tot jy slaag is in myns insiens die hoeksteen van ‘n goeie digter.
Ek behandel graag namens die bestuur van www.ink.org.za weekliks ‘n paar aansporings rigtingwysers en reëls vir die wat wil saam leer. Ek leer ook saam soos ons aangaan want al die kennis in nêrens op een plek in pag nie, en daarom sal interaktiwiteit waardeer word. Gesels saam, vra vrae, maak bydraes en op so ‘n wyse kan en gaan ink.org.za vir almal ‘n suksesvolle interaktiewe platform wees.
Kom ons begin in hierdie uitgawe met Elemente van Poësie, Rymskemas, Vorm en Diksie.
Versleer / Versboulee (Prosodie)
Metrum
Prosodie is die studie van metrum, ritme en intonasie (modulasie van die stem by praat; stembuiging) van ‘n gedig. Ritme en metrum verskil, hoewel dit nóu verwant is. Metrum is die bepalende vasgelegde patroon van ‘n vers (soos ‘n jambiese pentameter), terwyl ritme die eintlike klank is wat volg uit ‘n versreël. Prosodie kan gebruik word om meer spesifiek te verwys na die skandering van versreëls om metrum te toon.
Ritme (Toontaal)
Die metodes wat gebruik word om poëtiese ritme te verkry verskil tussen tale en digterlike tradisies. Tale word dikwels beskryf as in besit van tydmate wat eerstens vasgelê word deur aksente en sillabes, afhangende van hoe ritme vasgestel word, hoewel ‘n taal deur meer as een benadering beïnvloed kan word. Japannees is ‘n mora-ritmiese taal. Lettergreep-ritmiese tale sluit Latyn, Katalaans, Frans, Leonees, Galicies en Spaans in. Engels, Russies, Nederlands, Afrikaans en grotendeels Duits is aksent-ritmiese tale. Wisselende intonasie beïnvloed ook hoe ritme waargeneem word. Tale kan steun op toonhoogte soos Vediese Sanskrit of Antieke Grieks, of op toon. Toontale sluit Sjinees, Viëtnamees, Litous, en meeste Niger-Kongo tale in.
Metriese ritme behels meer algemeen die presiese ordening van aksent of sillabe in herhalende patrone binne ‘n versreël wat ‘n versvoet genoem word. In moderne Engelse verse onderskei die patroon van aksente algemeen die versvoete, dus word ritme wat op metrum gebaseer is in tale soos moderne Engels en Afrikaans, meestal gevind in die patroon van swakker en sterker beklemtoonde sillabes (alleen of uitgelaat). Met die klassieke tale, aan die anderkant, is die metriese eenhede dieselfde maar vokaallengte bepaal die metrum eerder as wat aksente dit bepaal. Oudengelse digkuns maak gebruik van metriese ritme bepaal deur ‘n wisselende aantal sillabes met ‘n vaste aantal sterk aksente in elke versreël.
Die vernaamste stylfiguur van Hebreeuse Bybelse poësie, onder meer meeste van die psalms, is parallelisme, ‘n retoriese struktuur waarin opeenvolgende versreëls mekaar weerspieël in grammatikale- of klankstruktuur asook veronderstelde inhoud, of al drie. Parallelisme leen homself tot antifoniese of roep-en-antwoord optredes, wat versterk kan word deur intonasie. Daarom steun Bybelse poësie minder op versvoete om ritme te bewerkstellig, maar skep eerder ritme deur die groter klankeenhede van versreëls, frases en sinne. Sekere klassieke poësievorme, soos Venpa uit Tamil, besit rigiede grammatika (tot die punt waar dit as konteksvrye grammatika uitgedruk kan word) wat ritme waarborg. In die geval van Sjinese poësie skep toon asook aksente die ritme. Klassieke Sjinese poëtika identifiseer vier tone: die gelyke toon, stygende toon, vertrekkende toon en inkomende toon.
Die formele patrone van metrum wat in moderne Engels gebruik word om ritme te bewerkstellig domineer glad nie meer kontemporêre Engelse poësie nie. In die geval van vrye vers word ritme dikwels gerangskik volgens losser eenhede van kadans eerder as reëlmatige metrum. Robinson Jeffers, Marianne Moore en William Carlos Williams is drie belangrike digters wat die idee verwerp het dat reëlmatige geaksentueerde metrum kritiek is tot Engelse poësie. Jeffers eksperimenteer met geveerde ritme as ‘n alternatief tot geaksentueerde ritme.
Met die Westerse poëtiese tradisie word metrums gebruiklik gegroepeer volgens ‘n kenmerkende versvoet en die aantal voete per versreël. Die getal versvoete in ‘n reël word beskryf deur Griekse terminologie: byvoorbeeld tetrameter vir vier voete en heksameter vir ses voete. Gevolglik is “jambiese pentameter” ‘n tipe metrum wat bestaan uit vyf versvoete per reël, waarin die dominerende versvoet die “jambe” is. Die stelsel is oorspronklik vanuit antieke Griekse poësie deur digters soos Pindarus en Sapfo aangewend, asook die groot tragedieskrywers van Athene. Soortgelyk bestaan “daktiliese heksameter” uit ses versvoete per reël, waarvan die dominante voet die “daktilus” heet. Daktiliese heksameter is die tradisionele metrum van Griekse epiek, waarvan die oudste bestaande voorbeelde die van Homeros en Hesiodos is. Jambiese pentameter en daktiliese heksameter is later deur ‘n hele aantal digters gebruik, insluitende William Shakespeare en Henry Wadsworth Longfellow onderskeidelik. Die mees algemene versvoete is:
HomerosJambe – een swak beklemtoonde sillabe gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde sillabe (bv. bewaar of gejaag)
trogee – ‘n sterk beklemtoonde sillabe gevolg deur ‘n swak beklemtoonde sillabe (bv. dogter, skaakmat)
daktilus – ‘n sterk beklemtoonde sillabe gevolg deur twee swak beklemtoonde sillabes (bv.moddervet)
anapes – twee swak beklemtoonde sillabe gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde (bv. appelkoos, anargie)
spondee – twee betoonde sillabes (bv. spon-dee)
pyrric – twee agtereenvolgende onbeklemtoonde lettergrepe (skaars, gewoonlik gebruik om ‘n daktiliese heksameter af te sluit)
Daar is ‘n wye reeks name vir ander soorte versvoete, tot ‘n choriamb, ‘n vierlettergrepige versvoet met ‘n beklemtoonde sillabe gevolg deur twee onbeklemtoonde sillabes afgesluit met ‘n beklemtoonde sillabe. Die choriamb is afgelei uit sekere antieke Griekse en Latynse digkuns. Tale wat van vokaallengte of intonasie gebruik maak eerder as, of addisioneel tot sillabiese aksente in die vasstelling van die metrum, soos Osmaans of Vedies, het dikwels konsepte soortgelyk aan die jambe en daktilus om algemene kombinasies van lang en kort vokale te beskryf.
Elk van die verskillende versvoete het ‘n sekere “hardklop” alleen of in kombinasie met ander versvoete. Die jambe is byvoorbeeld die mees natuurlike vorm van ritme in die Engelse taal, en lewer algemeen ‘n subtiele stabiele vers. Nederlandse poësie maak ook meeste van die jambe gebruik en dit is baie algemeen in Afrikaanse poësie. Die skandering van metrum toon meestal die basiese of fundamentele patroon wat die vers onderlê, maar toon nie die variërende grade van beklemtoning , die verskillende toonhoogtes en sillabe-lengtes nie.
Daar heers ‘n debat oor die nut van veelvuldige verskillende “versvoete” in die beskrywing van metrum. Robert Pinsky argumenteer dat hoewel die daktilus belangrik is in klassieke vers, gebruik Engelse daktielusverse dit baie ongereeld en kan dit beter beskryf word met patrone van jambes en anapeste, versvoete wat hy meen natuurlik is in die taal. Werklike ritme is aansienlik meer ingewikkeld as die basiese geskandeerde metrum wat hierbo beskryf word, en baie geleerdes het al gepoog om stelsels te ontwikkel wat die komplekse sisteem kan skandeer. Valdimir Nabokov toon aan dat bo oor die normale patroon van beklemtoonde en onbeklemtoonde sillabes in ‘n versreël, ‘n aparte patroon lê van aksente wat volg uit die natuurlike toonhoogte van die gesproke woorde, en stel hy voor dat die term “scud” (vaart, vlug) gebruik word om te onderskei tussen onbeklemtoonde aksent en beklemtoonde aksent.
Metriese patrone
Verskillende tradisies en genres in poësie is geneig om verskillende metrum te gebruik, en dit strek van die Shakespeariaanse jambiese pentameter en Homeriese daktiliese heksameter tot die anapestiese tetrameter wat in heelwat kinderrympies gebruik word. ‘n Hele aantal variasies tot die gevestigde metrum is egter algemeen, deels om klem te plaas op ‘n gegewe versvoet of -reël en deels om vervelende herhaling te voorkom. Die aksent in ‘n versvoet kan byvoorbeeld omgeruil word, ‘n sesuur (pose) kan bygevoeg word (soms in die plek van ‘n versvoet of aksent), of die finale versvoet in ‘n versreël kan ‘n vroulike afsluiting gegee word om dit te versag of vervang te word deur ‘n spondee om dit te belig en ‘n harde stop te bewerkstellig. Sekere patrone (soos die jambiese pentameter) neig om redelik algemeen voor te kom, terwyl ander patrone, soos die daktiliese heksameter, hoogs ongereeld voorkom. Reëlmatigheid kan tussen tale verskil. Bykomend ontwikkel verskillende patrone dikwels instinktief in sekere tale, sodat, byvoorbeeld, jambiese tetrameter in Russies gewoonlik reëlmatigheid reflekteer in die gebruik van aksente om die metrum te versterk, wat nie, of tot ‘n baie klein mate, in Engels en tale soos Nederlands en Afrikaans voorkom.
Sekere algemene metriese patrone, met belangrike voorbeelde van digters en gedigte wat dit gebruik, sluit in:
Jambiese pentameter (John Milton in Paradise Lost, William Shakespeare in sy Sonnette)
Daktiliese heksameter (Homeros, Ilias; Vergilius, Aeneis)
Jambiese tetrameter (Andrew Marvell, To His Coy Mistress; Aleksander Poesjkin, Jevgeni Onegin, Robert Frost, Stopping by Woods on a Snowy Evening)
Trogeïese oktameter (Edgar Allan Poe, The Raven)
Aleksandryn (Jean Racine, Phèdre)
Rym, alliterasie, assonansie
Rym, alliterasie, assonansie en konsonansie is metodes vir die skep van herhalende klankpatrone. Dit kan in ‘n gedig gebruik word as onafhanklike strukturele elemente, om ritmiese elemente te versterk, of as ornamentele elemente. Dit kan ook betekenis dra apart van die herhalende klankpatrone wat reeds geskep is. Geoffrey Chaucer het byvoorbeeld swaar alliterasie gebruik om te spot met Oudengelse verse en om ‘n karakter as argaïes in te kleur.
Rym word saamgestel uit identiese (“harde rym”) of soortgelyke (“sagte rym”) klanke aan die einde van versreëls of voorspelbare posisies binne versreëls (“interne rym”). Tale wissel in die verskeidenheid van hulle rymstrukture; Italiaans het byvoorbeeld ‘n ryke rymstruktuur wat handhawing van ‘n beperkte rymstruktuur deur ‘n lang gedig toelaat. Die rykdom in rymstruktuur is die gevolg van reëlmatige vorms van woorduitgange. Afrikaans en ‘n taal soos Engels met onreëlmatige woorduitgange is nie so ryk in rym nie. Die mate van verskeidenheid in ‘n taal se rymstrukture is ‘n bepalende faktor in die vasstel van poëtiese vorme wat algemeen in daardie taal gebruik word.
Alliterasie is die herhaling van konsonante aan die begin van twee of meer woorde wat direk, of met kort intervalle, op mekaar volg; of die voorkoms van dieselfde letter in geaksentueerde dele van woorde. Alliterasie en assonansie speel ‘n sleutelrol in die samestelling van vroeë Germaanse, Noorse en Oudengelse digvorme. Die allitererende patrone van vroeë Germaanse digkuns kombineer metrum en alliterasie tot ‘n vername deel van hul struktuur, met die metriese patroon wat dan bepaal wanneer die luisteraar kan verwag om alliterasie teë te kom. Dit kan vergelyk word met ‘n ornamentele gebruik van alliterasie in meeste moderne Europese poësie, waar allitererende patrone nie formeel is nie of deur volledige stansas gedra word. Alliterasie is veral handig in tale met ‘n minder ryke rymstruktuur. Assonansie, die gebruik van ooreenstemmende vokaalklanke binne ‘n woord eerder as ooreenstemmende klanke aan die begin of einde van ‘n woord, is algemeen gebruik in skaldiese digkuns, maar strek terug tot die Homeriese epiek. Konsonansie kom voor waar ‘n konsonantklank regdeur die versreël herhaal word sonder dat die klank alleenlik aan die voorkant van die woord geplaas is. Konsonansie wakker ‘n meer subtiele effek aan as alliterasie en is sodoende minder bruikbaar as ‘n strukturele element.
Rymskemas
In baie tale, insluitend moderne Europese tale en Arabies, gebruik digters rym in vaste patrone as ‘n strukturele element vir spesifieke poëtiese vorme, soos ballades, sonnette en rymende koeplette. Die gebruik van gestruktureerde rym is egter nie universeel nie, selfs nie binne die Europese tradisie nie. Heelwat moderne poësie vermy tradisionele rymskemas. Klassieke Griekse en Latynse poësie maak ook nie van rym gebruik nie. Rym betree Europese digkuns gedurende die Hoë Middeleeue, deels onder die invloed van Arabies in Al-Andalus (moderne Spanje). Arabiese digters gebruik rym breedvoerig sedert die eerste ontwikkeling van literêre Arabies in die sesde eeu, soos byvoorbeeld hulle lang, rymende qasida’s. Sekere rymskemas het geassosieer geraak met ‘n spesifieke taal, kultuur of tydperk, terwyl ander weer in gebruik geneem is regoor tale, kulture en tydperke. Sommige vorme van poësie dra ‘n vaste en goed gedefinieerde rymskema soos die Chant Royal of Ruba’i, terwyl ander vorme weer veranderlike rymskemas besit.
Meeste rymskema word beskryf deur letters wat ooreenkom met die rympare, dus as die eerste, tweede en vierde versreëls van ‘n kwatryn met mekaar rym en die derde versreël nie, word gesê dat die kwatryn ‘n “a-a-b-a” rymskema besit. Hierdie is die rymskema wat byvoorbeeld in die rubaiyat-vorm gebruik word.[68] Net so word ‘n “a-b-b-a” kwatryn (wat bekend staan as “omarmde rym”) gebruik in vorme soos die Petrarkaanse sonnet. Sekere soorte van die meer ingewikkelde rympatrone het hul eie name ontwikkel, apart van die “a-b-c”-konvensie, soos die ottava rima en terza rima.
Vorm
Poëtiese vorm is meer buigbaar in moderne en post-moderne digkuns, en is voorts minder gestruktureerd as in vorige literêre tydperke. Baie moderne digters vermy herkenbare strukture of vorme, en dig in vrye vers. Poësie word steeds van prosa onderskei deur sy vorm, en agting vir basiese formele strukture van poësie sal selfs in die beste vrye vers gevind word — al is heelwat gedoen om sulke strukture te vermy. Net so kan gevind word dat selfs met die beste poësie in die klassieke style geskryf, daar wegbeweeg is van die streng vorm vir beklemtoning of effek.
Onder die vernaamste strukturele elemente wat in digkuns gebruik word, is die versreël, die strofe of vers, en groter kombinasies van strofes soos canto’s. Soms word ook van ‘n breër visuele voorstelling van woorde en kalligrafie gebruik gemaak. Hierdie basiese eenhede van digvorme word dikwels gekombineer in groter strukture wat poëtiese vorme of poëtiese modusse (sien volgende afdeling) genoem word, soos die sonnet of haikoe
Versreëls en stansas
Gedigte word dikwels opgedeel in versreëls. Die reëls kan gebaseer word op die getal metriese versvoete, of kan rympatrone aan die einde van die reëls belig. Versreëls kan ook ander rolle vervul, veral waar gedigte nie in ‘n formele metriese patroon geskryf is nie. Verder kan versreëls ook bewoorde gedagtes in aparte eenhede opdeel, vergelyk of kontrasteer, of ‘n verandering in toon uitlig.
Versreëls word dikwels in stansas gegroepeer en word gedenomineer volgens die aantal versreëls in so ‘n stansa. Daarom is ‘n versameling van twee reëls ‘n koeplet, drie reëls ‘n terset, vier reëls ‘n kwatryn en so aan. Die reëls kan onderling ooreenstem deur ritme of rym, of ook nie. ‘n Koeplet kan byvoorbeeld uit twee verseëls bestaan met identiese metrum wat rym of twee versreëls wat alleen deur ‘n gemeenskaplike metrum gebind word.
Sekere gedigte kan verdeel word in versparagrawe, waarin normale rym met vaste rympatrone nie voorkom nie, en deur poëtiese toon, in plaas van’n versameling van ritmes, alliterasies en rym vasgelê in paragraafformaat, vasgestel word. Baie Middeleeuse gedigte is in versparagrawe geskryf, selfs al is gereelde rym en ritme gebruik.
In heelwat poësievorme is stansas onderling aaneengeskakel, sodat die rymskema en ander strukturele elemente van een stansa die van die opeenvolgende stansas bepaal. Voorbeelde van aaneengeskakelde stansas sluit die gazal en villanelle in, waar ‘n refrein (of in die geval van die villanelle, refreine) bepaal word in die eerste stansa en dan herhaal in die daaropvolgende stansas. Verwant aan die gebruik van aaneengeskakelde stansas, is daar ook die gebruik om tematiese dele van ‘n gedig te skei. So byvoorbeeld word die strofe, antistrofe en epode van ‘n ode dikwels onderverdeel in een of meer stansas.
In sommige gevalle, veral langer formele poësie soos sekere vorme van heldedigte, word stansas volgens streng reëls saamgestel en dan gekombineer. In skaldiese digkuns besit die dróttkvætt-stansa agt versreëls, elk met drie “verheffings” wat verkry word deur alliterasie en assonansie. Bykomend tot twee of drie alliterasies het die onewe versreëls gedeeltelike rym van konsonante met verskillende vokale, en nie noodwendig aan die begin van die woord nie; die ewe versreëls besit interne rym en vaste sillabes (nie noodwendig aan die einde van die woord nie). Elke halfreël het presies ses sillabes, en elke reël eindig in ‘n trogee. Die ordening van dróttkvætts volg heelwat minder streng reëls as die samestelling van die individuele dróttkvætts.
Visuele voorstelling
Visuele digkuns
Selfs voor die koms van die drukpers het die visuele voorkoms van poësie dikwels bygedra tot betekenis of diepte. Akrostiese gedigte dra betekenis oor in die eerste paar letters van reëls of deur letters in ander spesifieke plekke binne die gedig. In Arabiese, Hebreeuse en Sjinese digkuns speel die visuele voorstelling van fyn kalligrafiese gedigte ‘n belangrike rol in die algehele effek van baie gedigte.
Met die koms van drukkuns verkry digters groter beheer oor die massavervaardigde visuele voorstellings van hul werke. Visuele elemente word ‘n belangrike deel van die digter se gereedskapskis en heelwat digters maak van visuele voorstelling gebruik vir wye en uiteenlopende redes. Sommige modernistiese digters maak die plasing van individuele reëls of groepe reëls ‘n geïntegreerde deel van die gedig se samestelling. Met tye komplimenteer dit die gedig se ritme deur visuele sesure van verskillende lengtes, of skep jukstaposisies met die uitlig van betekenis ten doel, dubbelsinnigheid of ironie, of selfs net om ‘n esteties aangename vorm te skep. In sy mees ekstreme vorm kan dit lei tot konkrete poësie of asemiese skryfwerk.
Diksie
Poëtiese diksie behandel die manier waarop taal gebruik word, en dit verwys nie net na die klank nie, maar ook die onderliggende betekenis en die se interaksies met klank en vorm. Baie tale en poëtiese vorme besit heel spesifieke poëtiese diksie, tot met ‘n punt waar unieke grammatika en dialekte spesifiek vir digkuns gebruik word. Registers in poësie kan wissel van streng toepassing van gewone spraakpatrone, soos voorgetrek in meeste laat 20ste-eeuse prosodie, tot hoogs sierlike gebruik van taal, soos in Middeleeuse en Renaissance-digkuns.
Poëtiese diksie kan retoriese middele soos vergelykings en metafore gebruik, asook stemtone soos ironie. Aristoteles skryf in die Poëtika dat die grootste ding by verre is om ‘n meester van die metafoor te wees. Sedert die opkoms van Modernisme verkies sommige digters ‘n poëtiese diksie wat die retoriese middele onderbeklemtoon, en poog in stede daarvan na die direkte voorstelling van dinge en ondervindinge en die verkenning van toon. Aan die anderkant druk surrealiste weer retoriese middele tot hul limiete en maak geredelik gebruik van katachrese.
Allegoriese stories staan sentraal tot die poëtiese diksie van heelwat kulture, en was prominent in die Weste gedurende die klassieke tye, die laat Middeleeue en die Renaissance. Esopus se fabels wat al herhaaldelik in digkuns en prosa weergegee is sedert dit die eerste keer opgeteken is in 500 v.C., is moontlik die rykste enkele bron van allegoriese poësie deur die eeue. Ander belangrike voorbeelde sluit in die Roman de la Rose, ‘n 13de-eeuse Franse gedig, William Langland se Piers Ploughman in die 14de eeu en Jean de la Fontaine se fabels (beïnvloed deur Esopus s’n) in die 17de eeu. Eerder as om ten volle allegories te wees, kan ‘n gedig egter simbole of allusies bevat wat die betekenis of die effek van sy woorde verdiep sonder die samestel van ‘n volledige allegorie.
Ander sterk elemente van poëtiese diksie is moontlik die gebruik van duidelike beelde vir effek. Die jukstaposisie van onverwagse of onmoontlike beelde is, byvoorbeeld, ‘n spesifieke sterk element in surrealistiese poësie en die haikoe. Duidelike beelde word dikwels versterk met simboliek en metafoor. Heelwat poëtiese diksie maak gebruik van herhalende frases vir effek, of ‘n kort frase (soos Homeros se “die wyn-donker see”) of ‘n langer refrein. Die soort herhaling kan ‘n somber toon by ‘n gedig voeg, of deurtrek wees van ironie soos die konteks van die woorde verander.
BRONNELYS
Pinsky 1998, p. 52; Fussell 1965, pp. 20–21; Schülter, Julia (2005). Rhythmic Grammar. Walter de Gruyter, 24, 304, 332; Yip, Moira (2002). Tone, Cambridge textbooks in linguistics. Cambridge University Press, 1–4, 130. ISBN 0-521-77314-8. ;Fussell 1965, p. 12; Jorgens, Elise Bickford (1982). The well-tun’d word : musical interpretations of English poetry, 1597–1651. University of Minnesota Press, 23. ISBN 978-0-8166-1029-7.; Fussell 1965, pp. 75–76 ; Walker-Jones, Arthur (2003). Hebrew for biblical interpretation. Society of Biblical Literature, 211–213. ISBN 978-1-58983-086-8. ; Bala Sundara Raman, L; Ishwar, S; Kumar Ravindranath, Sanjeeth (2003). “Context Free Grammar for Natural Language Constructs: An implementation for Venpa Class of Tamil Poetry”. Tamil Internet: 128–136. ; (1995)In Brogan, TVF: The Princeton handbook of multicultural poetries. Princeton University Press, 86. ISBN 978-0-691-00168-5. ; Hartman, Charles O (1980). Free Verse An Essay on Prosody. Northwestern University Press, 24, 44, 47. ISBN 978-0-8101-1316-9. ; Hollander 1981, p. 22 ; Corn 1997, p. 24
Corn 1997, pp. 25, 34 ; Annis, William S (Januarie 2006). “Introduction to Greek Meter”. pp. 1–15 Aoidoi. ; “Examples of English metrical systems”. Fondazione Universitaria in provincia di Belluno. URL besoek op 10 December 2011. ; Fussell 1965, pp. 23–24 ; Kiparsky, Paul (September 1975). “Stress, Syntax, and Meter”. Language 51 (3): 576–616. ; Thompson, John (1961). The Founding of English Meter. Columbia University Press, 36. ; Pinsky 1998, pp. 11–24 ; Pinsky 1998, p. 66 ; Nabokov, Vladimir (1964). Notes on Prosody. Bollingen Foundation, 9–13. ISBN 0-691-01760-3. ; Fussell 1965, pp. 36–71 ; Nabokov, Vladimir (1964). Notes on Prosody. Bollingen Foundation, 46–47. ISBN 0-691-01760-3. ; Adams 1997, p. 206 ; Adams 1997, p. 63 ; “What is Tetrameter?”. tetrameter.com. URL besoek op 10 Desember 2015. ; Adams 1997, p. 60 ; James, ED; Jondorf, G (1994). Racine: Phèdre. Cambridge University Press, 32–34. ISBN 978-0-521-39721-6.
Corn 1997, p. 65 ; Osberg, Richard H (2001). “’I kan nat geeste’: Chaucer’s Artful Alliteration”,In Gaylord, Alan T: Essays on the art of Chaucer’s verse. Routledge, 195–228. ISBN 978-0-8153-2951-0. ; Alighieri, Dante; Pinsky Robert (trans.) (1994). “Introduction”, The Inferno of Dante: A New Verse Translation. Farar, Straus & Giroux. ISBN 0-374-17674-4. ; Kiparsky, Paul (Summer 1973). “The Role of Linguistics in a Theory of Poetry”. Daedalus 102 (3): 231–244. ; Geoffrey (1998). Beowulf and old Germanic metre. Cambridge University Press, 64–86. ISBN 978-0-521-59340-3. ; Wesling, Donald (1980). The chances of rhyme. University of California Press, x–xi, 38–42. ISBN 978-0-520-03861-5. ; Menocal, Maria Rosa (2003). The Arabic Role in Medieval Literary History. University of Pennsylvania, 88. ISBN 0-8122-1324-6.
(1996)In Sperl, Stefan: Qasida poetry in Islamic Asia and Africa. Brill, 49. ISBN 978-90-04-10387-0. ; Adams 1997, pp. 71–104 ; Fussell 1965, p. 27 ; Adams 1997, pp. 88–91 ; Corn 1997, pp. 81–82, 85 ; Whitworth, Michael H (2010). Reading modernist poetry. Wiley-Blackwell, 74. ISBN 978-1-4051-6731-4. ; Hollander 1981, pp. 50–51 ; Corn 1997, pp. 7–13 ; Corn 1997, pp. 78–82 ; Corn 1997, p. 78 ; (2004)In Dalrymple, Roger: Middle English Literature: a guide to criticism. Blackwell Publishing, 10. ISBN 978-0-631-23290-2. ; Corn 1997, pp. 78–79 ; (2004)In McTurk, Rory: Companion to Old Norse-Icelandic Literature and Culture. Blackwell, 269–280. ISBN 978-1-4051-3738-6.
Freedman, David Noel (Julie 1972). “Acrostics and Metrics in Hebrew Poetry”. Harvard Theological Review 65 (3): 367–392. ; Kampf, Robert (2010). Reading the Visual – 17th century poetry and visual culture. GRIN Verlag, 4–6. ISBN 978-3-640-60011-3. ; Bohn, Willard (1993). The
aesthetics of visual poetry. University of Chicago Press, 1–8. ISBN 978-0-226-06325-6. ; Sterling, Bruce (13 July 2009). “Web Semantics: Asemic writing”. Wired. URL besoek op 10 Desember 2011. ; Barfield, Owen (1987). Poetic diction: a study in meaning, 2nd, Wesleyan University Press, 41. ISBN 978-0-8195-6026-1. ; Sheets, George A (Lente 1981). “The Dialect Gloss, Hellenistic Poetics and Livius Andronicus”. American Journal of Philology 102 (1): 58–78. ; Blank, Paula (1996). Broken English: dialects and the politics of language in Renaissance writings. Routledge, 29–31. ISBN 978-0-415-13779-9. ; Perloff, Marjorie (2002). 21st-century modernism: the new poetics. Blackwell Publishers, 2. ISBN 978-0-631-21970-5.; (2000)In Paden, William D: Medieval lyric: genres in historical context. University of Illinois Press, 193. ISBN 978-0-252-02536-5. ; The Poetics of Aristotle by Project Gutenberg, p. 22. ; (2007) The Cambridge companion to modernist poetry. Cambridge University Press, 90–96. ISBN 978-0-521-61815-1. ; San Juan, E, Jr (2004). Working through the contradictions from cultural theory to critical practice. Bucknell University Press, 124–125. ISBN 978-0-8387-5570-9. ; Treip, Mindele Anne (1994). Allegorical poetics and the epic: the Renaissance tradition to Paradise Lost. University Press of Kentucky, 14. ISBN 978-0-8131-1831-4. ; Crisp, P (1 November 2005). “Allegory and symbol – a fundamental opposition?”. Language and Literature 14 (4): 323–338. DOI:10.1177/0963947005051287. Gilbert, Richard (2004). “The Disjunctive Dragonfly”. Modern Haiku 35 (2): 21–44. ; Hollander 1981, pp. 37–46