Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Op reis: Dag2; Beaufort-Wes

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 24 Maart 2019 Aantal woorde: 751 269 Kere gelees 4

Vandag was lank. Alhoewel die rit minder uitputtend was, is ek vanaand teen die teer —wou selfs al omkap toe ek in die restaurant gesit en smul het aan my lam, slaai en rooiwyn.
Dit is die tweede hoofete in ’n ry wat ek ‘n gedeelte van ‘n skaap verorber … ek sal weer môre die vet gaan af draf, ek is met vakansie en ek kan nie hoender of bees in die karoo eet nie … môre sal ek swaai na volstruis …
Vandag was spesiaal. Ek het heelpad gesing sonder om enige dinke te dink en toe ry ek reg in ’n donderstorm in die Karoo in. Dit is asof ek God se liefde in sy heel suiwerste vorm ervaar het, so asof die water vanuit die hemel my verbind het met elke dankbare hart van elke paar deurgeskaafte knieë. Dis al hoe ’n mens vir reën kan bid; op jou knieë. Dis een van daai smeke wat nooit werklik ophou nie …

Eintlik moet ek begin by die begin … Vanoggend was ek 06:00 uit die vere. Tekkies aan en af in die pad. Die pad om Boshof is blykbaar 5km. Dit is rustig en skoon en grond. Ek dink die mense met honde het my gevloek; draf is duidelik nie ’n ding in Boshof nie.
Ek het elke paar minute gaan staan om af te neem wat my brein verder as my oë wil onthou. Ek het gaan kyk hoe lyk Die Rooidakskool. Daar het heimwee en verslaentheid my vir ’n oomblik oorweldig. My oupa was skielik nie meer die stadstessourier en gesiene AB-lid en volkspele-leier soos wat ek hom geken het nie, maar ’n klein tingerige seuntjie wat as plaasbywoner brandhout vir mieliepap moes ruil en die uitmergelende koue van die Vrystaat in die winter moes verduur.
Maar dit was net ’n oomblik. Die man in die pad het my aandag afgetrek en ek het verder gedraf. Deur strate waar daar nog net plek-plek teer was en huise wat dekades gelde al verf moes gekry het.
Dit is hoe vervalle lyk. Dit is hoe vergete lyk. Dit is hoe armoede en honger en dors lyk.
Die kerkdiens was aangenaam. Ek het uitgesien daarna want ek onthou Andreas en sy preke. Die kuier by hulle so lekker. Ek kon nog altyd van hulle af iets saamneem waarmee ek my lewe kon toerus.
Die kerkmense was almal warm. Oumas, dieselfde ouderdom as my ma, wat om Gerda-Marie se baba gekloek het en my met ewe veel hartlikheid ontvang het. Boeretannies. Hulle weet van veilings en plant en slag en kos maak vir baie mense. Hulle deure staan oop en hulle harte ook. Daar was ook vanoggend ’n ander vreemdeling behalwe ek. ’n Oom wat met sy Bybel en sangboek skuins voor ons gesit het. Aan die rooi leer en verblykte brons kon jy sien dat dit nie net ’n Sondag-Bybel is nie. Hy was alleen. Andreas het later kom sê dat dit die nuwe hoof van die myn is. ’n Grys oom. ’n Eensame oom. ’n Skaam en teruggetrokke oom. Ek kon nie help om te wonder nie. Tog was dit vir my mooi hoe hy in die vreemde aan sy geloof vasklou. Ek doen dit ook. Dalk is dit hoekom die oom by my spook.

Vanaand is ek moeg. Eerder agv twee nagte se min slaap as van iets anders. Vandag was nie ’n dink-dag nie. Ek het my oorgegee aan die musiek en die pad. Vandag was ’n ‘in-die-oomblik’-dag.
Ek het ’n by Beaufort-Wes ingery en besluit ek gaan hier slaap. My oë was seer en die moeg het reeds teen 16h00 aan my lyf kom sit. Ek het ’n gastehuis opgespoor en die tannie het my verwys na ’n oulike restaurant. (Óórkant die Spur.) Ek dink die plek se naam is 4 Skape. Dit is baie oulik. Ek het ’n glas wyn gedrink en halfpad deur my ete gesukkel om my oë oop te hou.
Dit was lekker. Dit was lekker om op my eie te wees sonder om iemand te soek. Dit was lekker om my te kon oorgee aan die oomblik en kon ingee in my moegheid.
En môre gaan ek draf. Vroeg gaan ek dam se kant toe sodat ek kan sien hoe dit lyk. Vroeg wanneer Beaufort-Wes net aan my sal behoort en ek die kuns en die geskiedenis soos my eie sal kan aanvoel. Vroeg; wanneer ek uitgeslaap nuwe energie vir die dag opbou. Vroeg; wanneer dit net ek en God is.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 22
Kommentaar telling: 7

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 94 gaste aanlyn

Bydrae Totale