Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Op reis: Dag 5; George (nogsteeds)

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 27 Maart 2019 Aantal woorde: 393 243 Kere gelees 5

Tannie Olla is ingekleur. Haar vel is amper donkerbruin en haar hare net voor swart.
Dit is nie al van Tannie Olla wat ingekleur is nie. Haar plat plattelandse Afrikaans gaan haal sy met draaie doer in die ou Kaap. Haar aksent verfraai en verfrommel met sy sêgoed in sy suiwerste mees bedoelde letterlike gebruik.
Dit is kuns. Dit moet wees. Die onskuldige onnadenkende saamsnoer van woorde wat in geen ander konteks of by geen ander gebruiker enige sin of verwant sou hê nie. Dit is rou. Dit is suiwer en dit is, soos sy self vir my gesê het “woorde vanuit die hart”.
Ek was net vir ’n paar uur in die Klein Karoo. Ons het vlugtig gaan wyn drink (’n bottel) uit kartonglasies en net gou die droë lug gaan inasem. Kos by verskillende stalletjies geproe en sommer net ligvoets op die dag gedans.
Dit is toe ek vir Tannie Olla ontmoet. Met haar koedoe-KKNK hemp waar sy by die ingang van die tent gesit het. Ek ‘eye’ al heel dag daardie hemde. ’n Regte, outentieke herinnering wat ek kan saamvat en wegdra en self dra. Iets wat vinnig-vinng die atmosfeer van die droë jolige Karoo by my sal ophelder wanneer ek terug is in die stad.
Dit het as ’n grappie begin. Maar Tannie Olla het nog ’n hemp gehad en die fees is mos verby. Van haar kollegas het dit verkoop maar sy kon nie. Weereens was dit ’n saak van die hart. Sy kon dit nie oor haar hart kry nie. Sy het geskerts oor sweet en vuil maar ek het haar verseker my wasmasjien kan alles skoonmaak. Eintlik wil ek haar nie uit die hemp uit was nie. Haar goedheid en opregtheid, haar mooi menswees en haar suiwer weergawe van ons taal. Die taal wat ek lief het.
In my agterkop het ek vlugtig na Langenhoven gesoek; het my gedagtes hom vereer. Ek het onthou van die pêrel wat nooit sal vergaan nie want ons het hom lief.
Die pad terug was vol liedjies. ’n Stop op die pas om ’n foto te neem en toe ry die liedjies met ons huis toe.
Ons drink nou stadig wyn. Die vuur brand lui in die agtergrond. Tussen gesels is daar goeie Afrikaanse komedie, die Bee Gees en baie woorde om nog baie bladsye vol te maak.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 21
Kommentaar telling: 7

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 101 gaste aanlyn

Bydrae Totale