Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Op reis: Dag 4; George (weer)

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 27 Maart 2019 Aantal woorde: 338 252 Kere gelees 6

Vandag het dit nie gereën nie, maar dit was koud. Ek het laat gelê en nie gaan draf nie want dit is wat kuiers tot 03:00 en gemaklikheid aan ’n mens doen.
Die dag was sommer net rustig en gemaklik met ’n middagslapie êrens na ’n vinnige ete by knus klein restaurantjie ingewerk.
Nog half deur die slaap is ons na ’n braai toe. Kaapse mense vanuit boeredorpe in die Vrystaat. Gerat met rooiwyn in my glas en ’n melktertslukkie elke nou en dan het die aand baie vinnig baie lekker geraak en was die moegheid gou vergete.
My pen wou sommer net aant skrywe gaan. Staaltjies en verhaaltjies, name soos Gert Eiers en Oom Jan Kaalvoet en die dinge waarmee plaaskinders hulself besig hou het my verbeelding aangegryp en my gedagtes het stories ver agter digte rye mielies en stofpaaie gaan uithaal.
En natuurlik was daar baie lag. Lag vir mense en hulle dinge, lag vir sê-goed, lag vir kattekwaad en stout wees. Lag vir menswees.
Ek het nuwe waardering vir ons land en sy mense. My mense. Die mense wat eintlik maar net wil bestaan. Kinders wat wil speel. Koshuisseuns wat in die lanbouskool se melkkanne swem en studente wat springhase as miniatuur kangeroes aan Australiërs verkoop. Boere wat sorgeloos kon kuier op hulle eie plase om vure gepak met hulle eie brandhout. Dieselfde boere wat lam gelê word deur droogtes en dan weer met baie geloof opstaan en voort beur. Ons het gepraat oor skolesport en rugby. Gestry oor spanne en plek-plek aan ons eie kinders en opvoeding geraak.
Die aand was lig. En Afrikaans, met pap en vleis en sous. Dit was een van daardie aande wat ons nie musiek in die agtergrond nodig gehad het of selfoonliggies deel was van die geselskap nie. Ons was gewees. In die oomblik. Teenwoordig. Daar. Ons het nie veel uit die toekoms gaan haal of ons daaraan gesteur nie, net gaan haal uit gister, al die mooi en al die pret en al die lag.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 21
Kommentaar telling: 7

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 75 gaste aanlyn

Bydrae Totale