Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Op reis: Dag 3; George

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 27 Maart 2019 Aantal woorde: 649 113 Kere gelees 4

Gisteroggend het ek ontwaak vanuit ’n koper katel. Ek het bietjie gelê maar opgestaan toe ek die son tussen die wolke sien deurkruip. Met my tekkies aan het ek die dorp gaan verken, eers net met ’n stywe stap en toe het ek teen ’n gemaklike pas begin harloop.
In dieselfde straat as die gastehuis het ek verby die polisiestasie gehol. Die polisieman het buite in die straat gestaan, sy hande om ’n geel blikbeker gevou. Die reuk van sy soet, melkerige boeretroos wou-wou my terug na my ketel verlei. Hy het vriendelik gegroet. In Afrikaans. En elke hier-en-daar-mens by wie verby gedraf het daarna. Selfs diegene wat stadig in skedonke verby my kom kruip het oppad na die res van hul Maandag toe.
Die dorp was gelukkig nog redelik stil. My bene het my verby erwe met lae mure en sanderige voortuine geneem. Gras is skaars in Beaufort-Wes; hier en daar ’n groen vierkant wat deur ’n boorgatmens aan die gang gehou word om jou te herinner dat daar darem nog iets te drinke in die kraan sal wees.
Ek het net gedraf tot by die leë dam. ’n Klipstapel/monument wat gelê is in 1971 afgeneem en toe weer terug met dieselfde pad na die gastehuis. Almal het my nogsteeds gegroet. Ek dink selfs ’n dief sal stop, groet en dan verder inbreek. Ek wou graag ’n mooi foto van myself neem met die woorde “Beautiful in Beaufort-Wes” maar my draf-gesiggie wou nie saamwerk nie.

Met my vertrek vanuit Beaufort-Wes ek ligter gevoel. Selfs mooi. Ek het my selfie gekry. En toe is dit ek en my musiek.
Gert Vlok Nel se woorde het weggewaai en Saarkie se “Ai my lam” (redelik ironies so in die Karoo) het my egergiek nader getrek. Daarna het die foon se speellys vasgehaak by Jo Black en al sy snitte vir my uitgeryg. Maar dit was goed. Dit het my siel gevoed en ek het so ry-ry my eie konsert in die kar gehou.
Teen Klaarstroom was my eie stroom te sterk en moes ek aftrek. Daar is nie ’n petrolstasie nie. Die kerk is toe en natuurlik die skooltjie ook. By die winkeltjie het ek benoud vir die tannie gevra vir ’n badkamer maar die dorp is so klein, sy gaan huis toe as sy ’n nood het. Ek is toe maar by die hotel in. ’n Juweel in die Karoo (nie die badkamer nie, die hotel). Skoon en mooi en beslis ’n slaap werd as ek weer daar verby gaan. En vriendelik ook —almal het kom waai toe ek ry, selfs mense wat ek in my 10 minute van stop nie eers gesien het nie.
Daarna was dit Meiringspoort. Jo Black het so deur die kronkels deur plek gemaak vir Koos Doep. Ek het die speellys laat begaan en die berge en poësie met nuwe waardering ingeneem. En natuurlik het ek by die waterval gestop. En amper ’n Ingilsman verdrink. Dit het gegil en geskree en almal se rus verstoor terwyl ons eintlik net die skoonheid van die natuur wou besigtig. Of miskien was ek net moeg … of iets …
En toe is ek fort. Deur die ander dorpies, gestop by die stoppe en gery by die rye en uiteindelik op die pas net voor George. Daar tref die winter my. Mis en reën en koue. Ek het voort gebeur soos ’n goeie Voortrekker (in my beskutte voertuig) maar tog uiteindelik koud en nat (en honger) aan die houtdeur in George kom aanklop. Skielik was alles warm. Die koffie, die die gin, die hamburgers en later die sjampanje en nog later die Shiraz en die pizza … Dit was warm van binne. Dit was borrel en gesels en opvang en kuier en onthou. En BAIE musiek. Van Adam Tas tot by Dollie Parton en terug na Koos Kombuis.
Ek het geweet as ek die volgende opstaan gaan my kop seer wees …




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 13
    Kommentaar telling: 4

    Onderwyseres in Afrikaans

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 2,985 gaste aanlyn

    Bydrae Totale