Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Op reis: Beplanning

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 14 Maart 2019 Aantal woorde: 532 43 Kere gelees Hou van

Oor 8 slapies pak ek my kar. Ek alleen. Dan sal ek agter die stuur inklim en die sleutel draai. Die enjin sal aangaan met sy gewone brul. Die “rat” sal gemaklik van “P” na “R” gly (ja, ek ry ’n outomatiese kar, moenie my judge nie) en dan sal die wiele draai. Ek weet dit is agteruit. Op daardie oomblik is ek nog in die motorhuis en dit is hoe ek daar moet uit.
En dan, wanneer Stoffie in “D” is, is dit ons en die langpad, wyd en oop en uitgstrek vir kilometers aan een.
Ek weet nie werklik hoe ek daaroor voel nie. Ek is beslis bang. My hart kom maak draaie in my keel en wil-wil my asemhaling versper. Maar ek is ook opgewonde. Reis en ontdekking was nog altyd iets wat my ten sterkste aangetrek het. Ek wil sien en ek wil voel en ek wil ervaar. Aan die een kant voel ek soos ’n wildsbok wat vanuit noue aanhouding ontsnap, aan die ander soos ’n mak lam wat nie bestand is teen die roofdiere buite die veiligheid van die kraal nie.
My voorgenome avontuur laat my gedagtes vlugtig by die titel van die bekende roman en fliek Eat, Pray, Love draai. Ek weet nie regtig of dit verband hou nie; ek het nooit die boek gelees of die rolprent gekyk nie. As ek my eie titel vir hierdie reis moes kies sou dit wees: “Ry, wyn en kuier”.
Ek wil ry. Ek wil ry tot die pad op raak of my oë moeg raak. Ek wil ry en sien. Ek wil sien hoe ons land verander het. Ek wil sien hoe ek verander het …
En dan wil ek proe. Die vrug van die arbeid van dit wat uit hierdie land gelewer word. Wyn, en bier, en whiskey en al die kosse. En ek wil kuier. Ek wil sien wie hier bly en wat hulle doen. Ek wil weet waar hulle vandaan kom of hoeveel generasies al op een plek bly. Ek wil die stories hoor wat hulle kan vertel met die lag en huil en die seer en die bly. Die verliese en die oorvloed.
Miskien wil ek net van my eie gevoel af wegry. Dalk dink ek dat ek met elke myl afstand kan plaas tussen my en die dinge wat my pla. Dalk kan ek wegkom van my eie seer, my pyn, my eie stryd wat ek dag in en dag uit moet voer. Miskien bly dit agter, raak dit vergete en word dit stil-stil begrawe.
Dalk vind ek myself. Maar ek is nie weg nie. Dalk onthou ek net weer myself. Die ek wat êrens hier binne bly en soms vergete raak tussen kinders en skole en mense wat in my lewe is. Dalk is ek net beter toegerus as ek terug kom.
Iemand vra aan my waarvoor ek bang is. Die onbekende. Die alleen. Die oopmaak en ontvanklik wees. Die deel. Ek voel kwesbaar en kaal, uitgelewer aan ongekende elemente. Tog is dit hierdie goed wat my juis opgewonde maak. Dit is wat my hart vinniger laat klop en my met opwinding vul. In my onsekerheid is ek tog seker.
Ek wil ry.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. Kiekies

      Maart 15, 2019

      Mmmm dit klink absoluut salig! En ons wil alles hoor as jy terugkom. Elke detail!

      • Johnell

        Maart 17, 2019

        Ek vat my rekenaar en my kamera saam! Ek gaan elke dag skryf en plaas! 🙂

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 3
    Kommentaar telling: 4

    Onderwyseres in Afrikaans

    INK E-formaat tydskrif

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 16 gaste aanlyn

    Bydrae Totale