Titel: Oor Kannaland waai ’n winterwind
Deur Viooltjie
(goud)
Klein Karoo
jou winterwind
kom middernag aan’t lewe
waai woes alom die Gamkaberg
skop stof op in die droë loop
waar Tierkloof tussen kranse gang
sy ruk aan bossies en aan bome
sy maak amok in die donker uur
tier haar woede
en versteur die vrede
sy sis en suis oor dorre velde
teister skaap en hond en hoenderhaan
stroom wild om klipmurasies
wat nog hoopvol
in leë vlaktes pryk
Kannaland
jou winterwind
vlaag oor kranse en deur klowe…
maar smôrens ween sy
al hoe sagter
tot sy stil word in haar sterwe
© Carma Shaw
15 Augustus 2019
4:35
Seirdna
Baie mooi gedig!
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2019 projek
Kiekies
Alweer wel gedaan!